Die hemele moet gereinig word

Die natuurlike mens kan “gees” en geestelike dinge nie verstaan nie. Dit is net soos ‘n dier wat geen begrip het van menslike insigte en waardes nie. Die kortpad vir die menslike wysheid is dus om ‘geestelike dinge’ met die natuurlike dinge te vergelyk. Maar God is gees en die gees van God leer egter anders as wat die wêreld se wysheid ons leer (Joh 4:24):

Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk. 1Kor 2:13 

Die geestelike konsep van “hemel” word egter ook as iets konkreets en geografies gesien deur die natuurlike denke in ons. Dit word gesien as ‘n plek wat binne ‘n tyd-ruimtelike fisiese heelal net agter die verste sterrestelsel gevind sal word…”daar bo…daar ver”.

Ons natuurlike gedagtes sien selfs dat God in ‘n (fisiese) plek sit….op ‘n troon…in ‘n tempel…in ‘n plek met goue strate en wit engele wat rondvlieg…alles gebaseer op ‘n natuurlike verwysingsraamwerk wat heeltemal verwronge is.

Die natuurlike wysheid van die mens kan regtig nie ‘geestelike dinge’ sien of aanneem (konseptualiseer) nie – dit frustreer die natuurlike mens geweldig en hy maak dan ook die ‘dinge van die gees van God’ af as dwaasheid:

Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word. 1Kor 2:14 

Wat en waar is die geestelike hemel dan?

Dit is baie nader as wat die natuurlike denke sal kan besef. Jy sal kan “sien” as God jou Sy geestelike insig gee.

Kom ons begin by ‘die begin’ en ons bid die Here om ons oë te open vir Sy geestelike dinge:

In die begin het God die hemel en die aarde geskape. Gen 1:1 

God was daar voor ‘die begin’ van alles. Ja, God was daar voor Hy die hemel geskep het. Dit gooi die natuurlike denke totaal uit. As God die hemel moes maak om in te woon, waar het Hy gewoon voor die ‘begin’ want God het geen begin nie?

Wel, God is gees en Hy het nie ‘n “plek” nodig nie want niks kan Hom ‘bevat’ nie:

Maar wie is in staat om vir Hom ‘n huis te bou? Want die hemele, ja, die hoogste hemel, kan Hom nie bevat nie. Wie is ek dan, dat ek vir Hom ‘n huis kan bou, behalwe om voor sy aangesig offers aan die brand te steek? 2Kron 2:6 

God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid. Joh 4:24

God het die hemel geskep VIR ONS. Hy woon in die hemel om ons daar te “ontmoet”. Ons het dus ‘n hemel nodig waar God Homself en Sy werke aan ons openbaar.

Maar waar het God hierdie ontmoetingsplek, die hemel, gemaak? Paulus gee die antwoord baie duidelik!

Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle WOON nie?  1Kor 3:16 

Ons is Sy tempel….ons is Sy woonplek as Sy gees in ons woon. Dan is ons ook Sy troon waar Hy heers in Sy hemel. Die hemel is dus ‘n geestelike dimensie binne-in ons. Maar voor daardie hemel en die tempel deur God se gees bewoon word, is daar ‘n ander god wat daar heers (soos deur God bepaal):

Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is. 2Th 2:3-4

Daar is dit! Die ‘mens van sonde’ sit eers op God se troon en glo 100% dat hy in beheer is van alles in sy lewe. Hy is ons ou mens wat op selfverheerliking leef -totaal verblind deur sy eie denke en oortuiginge. Hy is die teëstander van God en hierdie mens van sonde moet eers aan ons openbaar word voordat ons hemele gereinig kan word:

Kyk, in sy heiliges stel Hy geen vertroue nie; ja, die hemele is nie rein in sy oë nie. Job 15:15

Die hemel in ons is eers onrein van al die valse denke en oortuigings en moet gereinig word deur God se Woord, Jesus Christus:

Dit was dus nodig dat die afbeeldinge van die dinge in die hemele deur hierdie offers gereinig moes word, maar die hemelse dinge self deur beter offers as hierdie. Want Christus het nie ingegaan in ‘n heiligdom met hande gemaak, ‘n teëbeeld van die ware nie, maar in die hemel self om nou voor die aangesig van God vir ons te verskyn; Heb 9:23-24

Deur God se reinigingsproses word die hemel deur God bewoon en Hy kom sit op Sy troon waar Hy rusplek kry:

So sê die HERE: Die hemel is my troon en die aarde die voetbank van my voete. Waar is dan die huis wat julle vir My sal bou? En waar die plek wat my rusplek sal wees? Jes 66:1 

Hemel is dus ‘n geestelike dimensie binne-in elkeen vir hulle wat dit kan aanvaar. Ons kan dus nie hemel toe gaan nie! Afstand is tog immers ‘n fisiese dimensie. Hemel is waar ons geestelike dinge beleef. Die Skrifte verwys daarna as ‘n mens se “hart” – weereens het dit niks te make met die vleeslike “bloedpomp” in ons borskas nie:

Maar die geregtigheid wat uit die geloof is, sê dit: Moenie in jou hart sê nie: Wie sal in die hemel opvaar, naamlik om Christus af te bring; of: Wie sal in die afgrond neerdaal, naamlik om Christus uit die dode op te bring?  Maar wat sê dit? Naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart. Dit is die woord van die geloof wat ons verkondig:  As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word. Rom 10:6-10

Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken? Jer 17:9 

Maar die dinge wat uit die mond uitgaan, kom uit die hart, en dit is dié wat die mens onrein maak. Want uit die hart kom daar slegte gedagtes, moord, egbreuk, hoerery, diewery, valse getuienis, lastertaal. Mat 15:18-19

Die ‘hemelse dinge’ is ons! Ons is eers aards en vuil – alle aardshede moet ‘gereinig’ word met ‘beter offers’ – deur die hemelse of ‘geestelike dinge’ van God:

Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus. Heb 10:19 

Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens. En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed,sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is. Rom 12:1-2

Deur God se oordeel word ons hemel gereinig en dit is ‘n bloedige proses. Maar vir hulle wat moeg en mat is vir die aardse, is die reinigingsproses van God se oordeel baie welkom:

Met my siel begeer ek u in die nag; ook met my gees in my binneste soek ek U; want as u oordele op die aarde is, leer die inwoners van die wêreld geregtigheid. Jes 26:9

Die bloed van Jesus maak ons gemoed (ons denke) skoon en dit is waarom God se Woord dan ook met bloed vergelyk word – ons praat weereens nie van fisiese dinge soos fisiese bloed nie:

Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde. 1Jn 1:7 

 om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord. Efes 5:26

En ek het ‘n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God. Open 21:3 

God het reeds Jesus as die “bewerker van ewige saligheid” aangewys:

 Hy, al was Hy die Seun, het gehoorsaamheid geleer uit wat Hy gely het; en nadat Hy volmaak is, het Hy vir almal wat Hom gehoorsaam is, ‘n bewerker van ewige saligheid geword. Heb 5:8-9

en saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus. Efes  2:6 

En niemand het opgevaar in die hemel nie, behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, naamlik die Seun van die mens wat in die hemel is. Joh 3:13 

Ons leer God se geregtigheid ALLEENLIK deur Sy “bloedige” of vurige oordeel wat ons hemele reinig! God het belowe dat Hy ‘n nuwe hemel (en nuwe aarde) gaan maak – VIR ALMAL:

Bloedige wonde suiwer die kwaad uit en slae die kamers van die binneste. Spr 20:30

 Want soos die nuwe hemel en die nuwe aarde wat Ek maak, voor my aangesig sal bestaan, spreek die HERE, so sal julle nageslag en julle naam bestendig wees. Jes 66:22

En Hy wat op die troon sit, het gesê: Kyk, Ek maak alles nuut. En Hy het aan my gesê: Skryf, want hierdie woorde is waaragtig en betroubaar. Open 21:5 

En Ek sal julle ‘n nuwe hart gee en ‘n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ‘n hart van vlees gee. Eseg 36:26 

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.

1 Response to Die hemele moet gereinig word

  1. Terug pieng: Temas | "Is en Wat Was en Wat Kom" – die onbekende karakter van Jesus Christus en Sy Woord

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s