Paasfees: nog ‘n kragtige verleiding

Die Skrif waarsku ons om nie weggevoer te word deur “die wysbegeerte en nietige misleiding nie, volgens die oorlewering van die mense, volgens die eerste beginsels van die wêreld”:

Pas op dat niemand julle as ‘n buit wegvoer deur die wysbegeerte en nietige misleiding nie, volgens die oorlewering van die mense, volgens die eerste beginsels van die wêreld en nie volgens Christus nie. Kol 2:8

Paasfees val direk onder hierdie waarskuwing, en soos gewoonlik steur mense hulle nie aan God se waarskuwing nie en volg die “eerste beginsels van die wêreld”. Paasfees se huidige vorm is ontleen uit heidinse praktyke (“die eerste beginsels van die wêreld”) wat dan met Christelike woorde en name ingekleur word om aan dit ‘n soort Christelike vorm en geur te gee. Dit is alles deel van die groot dwaling van die valse Christus wat mense verblind om nie die waarheid te kan sien nie – alles onder God se beheer:

….hy [die antichris / “die mens van sonde”] wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie. En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo, sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid. 2Th 2:9-12

Mense wat hierdie tipe dwaalgeeste volg, doen dit omdat hulle nie van beter weet nie. Ons doen dit almal op ‘n gegewe tyd, en ons is almal skuldig. In ons tyd van geestelike blindheid en onkunde strompel ons voort jaar in en jaar uit. Ons doen dinge omdat ander mense dit doen. Ons doen dinge om in te pas. Ons doen dinge om nie vir ander aanstoot te gee nie. Ons toets dus nie die geeste nie en kan dus nie sien wat agter alles sit en wat die soort feeste dryf nie.

Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan. 1Jn 4:1

Daar is die opdrag…”glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is

Hoe doen ons dit?

Ons toets ‘n valse gees aan een standaard – en die een standaard is die waarheid en dit is die Woord van God wat ons dan ook heilig en verlos van die valse geeste:

Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid. Joh 17:17

Die hele inhoud van u woord is waarheid, en al u regverdige verordeninge is tot in ewigheid. Psa 119:160

Die Waarheid is gesetel in God se Woord. So is die valse geeste gesetel in wat gesê word…in hul woorde. Woorde weerspieël geeste…”Hieruit ken ons die Gees van die waarheid en die gees van die dwaling”:

Hulle is uit die wêreld; daarom praat hulle uit die wêreld, en die wêreld luister na hulle. Ons is uit God; hy wat God ken, luister na ons; hy wat nie uit God is nie, luister nie na ons nie. Hieruit ken ons die Gees van die waarheid en die gees van die dwaling. 1Jn 4:5-6

As ons die Waarheid vind in God se Woord, dan besef ons, soos God wil, om nie die eer van mense te soek nie, maar die eer van God. Die Waarheid laat ons toe om met gesag op te tree teen hierdie valse geeste / valse feeste:

Ook het ons nie eer van mense, òf van julle òf van ander gesoek nie, al kon ons as apostels van Christus met gesag optree. 1Th 2:6

Hierdie sogenaamde Christelike feeste (soos paasfees en kersfees) hou miljoene mense in ‘n geestelike gevangenis. God is egter barmhartig teenoor almal en sal elkeen se geestelike oë oopmaak op die regte tyd, want dit is Hy alleen wat ons tot bekering lei:

Of verag jy die rykdom van sy goedertierenheid en verdraagsaamheid en lankmoedigheid, omdat jy nie besef dat die goedertierenheid van God jou tot bekering wil lei nie? Rom 2:4

As ons dan die geslag van God is, moet ons nie dink dat die godheid aan goud of silwer of steen, die beeldwerk van menslike kuns en uitvinding, gelyk is nie. God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer. Hand 17:29-30

Ware Christene kyk nie neer op hulle wat nog swak in die geloof is nie en hulle wie nie “vaste spyse” kan eet nie. As ons swak in die geloof is, dan kan ons nie reg onderskei wat goed en wat kwaad is nie:

En neem hom aan wat swak is in die geloof, nie om oor sy gevoelens te oordeel nie. Die een glo dat ‘n mens alles mag eet, maar hy wat swak is, eet groente. Hy wat eet, moet hom wat nie eet, nie verag nie; en hy wat nie eet, moet hom wat eet, nie oordeel nie, want God het hom aangeneem. Wie is jy wat die huiskneg van ‘n ander oordeel? Hy staan of val met betrekking tot sy eie heer; maar hy sal staande bly, want God is magtig om hom staande te hou. Rom 14:1-4

Want elkeen wat melk gebruik, is onervare in die woord van geregtigheid, omdat hy ‘n kind is. Maar vaste spys is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei. Heb 5:13-14

Byvoorbeeld, as mens een dag hoër ag as ‘n ander dag, dan is die persoon nog onvolwasse in geestelike dinge want alle dae is gelyk voor God. Sommige sal sê, maar God het tog een dag hoër as die ander gemaak en dan kwoteer hulle hierdie vers uit die ou verbond:

Want in ses dae het die HERE die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, en op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het die HERE die sabbatdag geseën en dit geheilig. Eks 20:11

Maar Jesus was juis veroordeel deur die fisiese Jode omdat Hy die fisiese sabbatdag “ontheilig” het op verskeie geleenthede. Hier is een voorbeeld waar Jesus duidelik sê dat Hy en die Vader het nog nooit ophou werk nie – ook nie op die Sabbatdag nie!

Die man het gegaan en aan die Jode vertel dat dit Jesus was wat hom gesond gemaak het. En hieroor het die Jode Jesus vervolg en probeer om Hom dood te maak, omdat Hy dit op die sabbat gedoen het. En Jesus het hulle geantwoord: My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook. Hieroor het die Jode toe nog meer probeer om Hom dood te maak, omdat Hy nie alleen die sabbat gebreek het nie, maar ook God sy eie Vader genoem het en Hom met God gelykgestel het. Jesus het toe geantwoord en vir hulle gesê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie. Want alles wat Hy doen, dit doen die Seun ook net so. Joh 5:15-19

Fisiese dinge is slegs beelde of skaduwees van dieper geestelike waarhede en dit is wat nie begryp kan word nie. Die ou verbond (en al sy insettinge) is ‘n skaduwee van die nuwe:

Want die wet, wat ‘n skaduwee het van die toekomstige weldade, nie die beeld self van die dinge nie, kan nooit deur dieselfde offers wat jaar na jaar gedurig gebring word, die wat toetree, tot volmaaktheid lei nie. Heb 10:1

So is die sabbatsdag onder die ou verbond niks te doen met dit wat die vleeslike denke daarin wil lees nie. Byvoorbeeld, God was regtig nie moeg toe Hy die eerste sabbatsdag ingestel het nie:

So is dan voltooi die hemel en die aarde met hulle ganse leërmag. En God het op die sewende dag sy werk voltooi wat Hy gemaak het, en op die sewende dag gerus van al sy werk wat Hy gemaak het. En God het die sewende dag geseën en dit geheilig, omdat Hy daarop gerus het van al sy werk wat God geskape het deur dit te maak. Gen 2:1-3

As die Skrif sê dat God “gerus” het op die sewende dag, praat dit totaal van iets anders as die “rus” wat die vlees ken. Kom ons lees weer:

“….op die sewende dag [het God] gerus van al sy werk wat Hy gemaak het.”

Die woorde “al Sy werk” verwys na die ses dag-skepping – alle fisiese dinge was binne daardie ses dae periode geskep. Op dag sewe het God “gerus” van daardie fisiese dinge wat Hy die vorige ses dae geskep het. Die sewende dag beeld dus ‘n TOTALE BREEK tussen dag ses en dag sewe uit – God was “besig” met iets heel anders op dag sewe wat totaal verskil van die voorafgaande dae. In ons reeks studies oor die geestelike betekenis van getalle het ons ook meer uitgevind oor die geestelike betekenis van die getal sewe (kyk na hierdie skakel: https://4windkoinonia.wordpress.com/2016/09/14/die-geestelike-betekenis-van-syfergetalle-7/). Sewe is die nommer van geestelike perfeksie en die nommer ses is die nommer van fisiese onperfeksie – die nommer van die aardse mens en alles in die fisiese wêreld:

Hier kom die wysheid te pas. Wie die verstand het, laat hom die getal van die dier bereken, want dit is die getal van ‘n mens; en sy getal is ses honderd ses en sestig. Open 13:18

Op die sewende dag is God se rus in ons! Dan voltooi Hy Sy geestelike werk wat Hy begin het IN ONS:

So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees. Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike. Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel. Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra. 1Kor 15:45-49

Dit wat God wou hê die sabbatsdag moes voorstel het ook niks te doen om een fisiese dag bo ‘n ander fisiese dag te stel nie. Die sabbatsrus dui die hemelse of geestelike werk van God in ons, wat totaal verskil van die aardse. God sien dus inderdaad elke fisiese dag gelyk omdat dit alles val onder dit wat aards is.

Ons gaan dus in Sy sabbatsrus in as ons kan begin sien dat dit God is wat alles bewerkstellig in ons lewens – eers die aardse en dan die geestelike om ons in perfeksie te maak soos Hy. Ons begin dan afsien van ons ou denke en sterf vir ons vleeslike begeertes en selfgeregtigheid:

Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie. Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel. Efes 2:8-10

Laat ons dan vrees dat, terwyl die belofte om in sy rus in te gaan nog standhou, dit nie miskien sal blyk dat iemand van julle agtergebly het nie. Want aan ons is die evangelie ook verkondig net soos aan hulle; maar die woord van die prediking het hulle nie gebaat nie, omdat dit by die hoorders nie met die geloof verenig was nie. Heb 4:1-2

Dit is hoe ons geestelik sterf vir die eerste beginsels van die wêreld. Deur geloof aanvaar ons die werke van God in ons lewens van begin tot einde en alles tussen-in.

Die wêreld se Paasfees wil Christus se dood herdenk een keer per jaar asof ons nie SAAM met Hom DAAGLIKS moet sterf nie:

Ek sterf dag vir dag, broeders, so waar as ek op julle roem in Christus Jesus, onse Here. 1Kor 15:31

Die historiese Jesus (die “wat was”) is slegs deel van die hele proses om die volheid van Jesus Christus te ken…

Open 1:8 Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde, sê die Here, wat is en wat was en wat kom, die Almagtige.

Open 1:17-18 En toe ek Hom sien, val ek soos ‘n dooie aan sy voete; en Hy het sy regterhand op my gelê en vir my gesê: Moenie vrees nie; Ek is die eerste en die laaste en die lewende; en Ek was dood en kyk, Ek leef tot in alle ewigheid. Amen. En Ek het die sleutels van die doderyk en van die dood.

Dit is ook een van die redes waarom Paulus die kerk in Korinthe sterk aangespreek het want hulle het net Jesus se dood herdenk en nie hul eie dood en sterwe van die vleeslike dinge van die wêreld nie. Jesus het tog immers gesê ons moet ons eie kruis opneem en Hom volg en hoeveel mense kan dit sien?

En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie. Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind. Mat 10:38-39

Die volgende vers is ‘n bestrawing vir hulle wat net Jesus aan die kruis sien en nie hulself saam met Hom sien sterf nie:

want ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde. 1Kor 2:2

As ons net Jesus Christus en Hom alleen as gekruisigde sien, dan is die kruis vir ons persoonlik ‘n bespotting want ons kan nie die dood van Jesus in ons eie lewens toepas nie. Ons dink ons kan net vergifnis pleit (of die bloed pleit soos sommige dit noem) en voortleef in ons sonde. Dit is ‘n valse leer wat Jesus se dood IN ONS EIE LEWE kragteloos maak. Maar vir hulle wat daagliks sterf omdat Jesus IN hulle leef, vir hulle is die kruis die krag van God om die nuwe lewe waaragtig te maak!!!!

Want die woord van die kruis is wel dwaasheid vir die wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God; 1Kor 1:18

Dit is dan ook wat die opstanding uit die dood vir ons beteken. Jesus leef IN ons sodat ons nou kan sterf:

maar ook om ons ontwil aan wie dit toegereken sal word, ons wat glo in Hom wat Jesus, onse Here, uit die dode opgewek het, wat oorgelewer is ter wille van ons misdade en opgewek is ter wille van ons regverdigmaking. Rom 4:24-25

Want as ons, terwyl ons nog vyande was, met God versoen is deur die dood van sy Seun, veel meer sal ons deur sy lewe gered word nou dat ons versoen is. Rom 5:10

Dit was ook dieselfde valse leer van die waarneming van dae (een dag hoër as ‘n ander), maande, tye en jare, wat die kerk in Galasië geteister het. Hulle het ook ‘n sterk berisping gekry van Paulus:

maar nou dat julle God ken, of liewer deur God geken is, hoe keer julle weer terug tot die swakke en armoedige eerste beginsels wat julle weer van voor af aan wil dien? Julle neem dae en en maande en tye en jare waar. Ek vrees vir julle dat ek miskien tevergeefs aan julle gearbei het. Gal 4:9-11

Jesus het wel ongeveer 2000 jaar gelede op ‘n kruis gesterf vir ons sonde:

Broeders, ek maak julle die evangelie bekend wat ek aan julle verkondig het, wat julle ook aangeneem het, waarin julle ook staan, waardeur julle ook gered word as julle daaraan vashou op die wyse waarop ek dit aan julle verkondig het, of julle moet tevergeefs geglo het. Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte. 1Kor 15:1-3

Maar Sy dood is oneffektief as ons daardie fisiese dag nie op ons eie dae in die vlees kan toepas nie! Om Paasfees te herdenk een keer per jaar, en selfs in die vorm waarin dit vandag aangebied word, is om terug te keer na tot die swakke en armoedige eerste beginsels. Die “swakke en armoedige eerste beginsels” van die wêreld neem ons aandag af van Christus en Sy lewe VANDAG en ELKE DAG in ons eie lewens. Dit beroof ons van ‘n OORWINNINGSLEWE IN DIE LEWENDE EN VERESE CHRISTUS:

en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte. 1Kor 15:4

Paasfees laat ons ook afsien om te sterf op ‘n daaglikse basis SAAM met Christus:

Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het. Gal 2:20

Ons sterf elke dag vir die ou mens IN ONSSELF met die hulp van die lewe wat van Christus IN ONS – as Hy in ons woon. As Christus nie in ons woon nie, dan sal ons ons aandag vestig op die dae, maande, tye en jare. Maar as ons ENIGSTE hoop op Christus is vir elke dag om oorwinning in ons lewens te kry oor elke sonde en verleiding, dan leef HY IN ons. Dan steur ons nie aan wat ander mense aanvang nie, behalwe om soos ‘n lig in hul donker op te tree nie:

aan wie God wou bekend maak wat die rykdom van die heerlikheid van hierdie verborgenheid onder die heidene is, dit is Christus onder julle, die hoop van die heerlikheid. Hom verkondig ons, terwyl ons elke mens vermaan en elke mens in alle wysheid onderrig, om elke mens volmaak in Christus Jesus voor te stel; waarvoor ek arbei en stry volgens sy werking wat in my werk met krag. Kol 1:27-29

Om paas-eiers en ingelegde vis te eet gaan ons absoluut NIKS baat in geestelike terme nie. Elke ouer wat die waarheid ken, sal nie vir sy of haar kinders hierdie leuens voorhou nie. Om Jesus se dood een keer ‘n jaar te herdenk getuig maar net van ons eie geestelike insig in Sy dood. Dit getuig ook openlik hoe ons die ander dae van die jaar leef. Die herdenking van Jesus se dood is nie een keer ‘n jaar, of een keer ‘n maand, of een keer ‘n week nie:

Want ek [Paulus] het van die Here ontvang wat ek ook aan julle oorgelewer het, dat die Here Jesus in die nag waarin Hy verraai is, brood geneem het; en nadat Hy gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: Neem, eet; dit is my liggaam wat vir julle gebreek word; doen dit tot my gedagtenis. Net so ook die beker ná die ete, met die woorde: Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed; doen dit, so dikwels as julle daaruit drink, tot my gedagtenis. Want so dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom. 1Kor 11:23-26

“Want so dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom” het niks te doen met ‘n ritueel wat sommige vier met fisiese druiwesap/wyn en (ongesuurde) fisiese brood nie. Maar dit het alles te doen met ons eie lewe en hoe ek elke dag my lewe voor God uitleef. As Christus IN my leef, dan sterf ek elke dag vir my eie sonde soos Hy deur Sy krag en lewe in my dit moontlik maak. Dit is wat “Want so dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom” beteken:

Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het. Gal 2:20

Jesus se dood bring vir ons oorwinning daagliks omdat Hy nou deur Sy lewe IN ons Sy krag vrystel om elke versoeking en sonde te oorwin alhoewel ons soms ook nog struikel:

Want sewe maal val die regverdige en staan weer op, maar die goddelose struikel in die ongeluk. Spr 24:16

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s