Disinformasie

Disinformasie is die doelbewuste weergee van valse of onakkurate inligting wat bedoel is om te beskadig en ander leed aan te doen, en self te bevoordeel. Dit is die doelbewuste misleiding en manupilering van ander se denke en oortuigings, en word veral in politiek gebruik vanaf die hoogste vlakke tot binne in vriende- en familiekringe. Om mense aan ‘n land, ‘n organisasie, groepe of individue gebind te kry, word disinformasie oor ander lande, organisasies, groepe of individue versprei. Dit werk veral goed in tye van oorlogvoering of wedywering met ander.

Disinformasie moet nie verwar word met misinformasie nie. Disinformasie word doelbewus gedoen, en misinformasie word nie doelbewus gedoen nie.

Daar is verskeie maniere hoe disinformasie openlik of subtiel versprei word. Ek gaan egter nie in diepte oor die tipe verleiding op die aardse vlak skryf nie (daar is baie informasie ook op die internet op die vlak beskikbaar). Ek gaan kortliks uitlig hoe disinformasie op die geestelike terrein gebruik word.

Ons almal is verspreiders en ontvangers van disinformasie. Ons almal is op een of ander stadium die afsetter of slagoffer van disinformasie. Ons almal word ook daagliks gebombardeer met disinformasie en dit is belangrik om kennis te neem hoe ons betrokke is – vir hulle wat die waarheid lief het. As ons weet dat ons skuldig is aan die verspreiding of ontvangs van disinformasie, moet ons dit kan sien, erken en bekeer van die kwaad:

Kyk, die hand van die HERE is nie te kort om te help nie, en sy oor is nie te swaar om te hoor nie; maar julle ongeregtighede het ‘n skeidsmuur geword tussen julle en julle God, en julle sondes het sy aangesig vir julle verberg, sodat Hy nie hoor nie. Want julle hande is met bloed bevlek en julle vingers met ongeregtigheid; julle lippe spreek leuen, julle tong fluister onreg. Daar is niemand wat aanklaag in geregtigheid en niemand wat ‘n regstryd voer in waarheid nie; hulle vertrou op nietigheid en spreek valsheid, met moeite gaan hulle swanger en baar onheil. Jes 59:1-4

Ons weet dat God alle goed en alle kwaad geskep het, en ook dan in beheer is van alle goed en alle kwaad vanaf die skepping daarvan. Die Hebreeuse woord vir die kwaad is “ra”. Kom ons kyk na ‘n paar verse waar die woord voorkom:

Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; buiten My is daar geen God nie; Ek omgord jou, hoewel jy My nie geken het nie, sodat hulle kan weet van die opgang van die son en van sy ondergang af dat daar buiten My geeneen is nie; Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil [“ra”] skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen. Jes 45:5-7

En die HERE God het allerhande bome uit die grond laat uitspruit, begeerlik om te sien en goed om van te eet; ook die boom van die lewe in die middel van die tuin, en die boom van die kennis van goed en kwaad [“ra”]. Gen 2:9

Alles het die HERE gemaak vir sy doel, ja, ook die goddelose vir die dag van onheil [“ra”]. Spr 16:4

Ons sien reeds in Genesis 3 hoe God die goddelose gebruik word “vir die dag van onheil” wat na ons aardse dae verwys. Hier sien ons ook die eerste keer hoe disinformasie saamgestel en gebruik word:

Maar die slang was listiger as al die diere van die veld wat die HERE God gemaak het. En hy sê vir die vrou: Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie? En die vrou antwoord die slang: Van die vrugte van die bome in die tuin mag ons eet, maar van die vrugte van die boom wat in die middel van die tuin is, het God gesê: Julle mag daarvan nie eet nie en dit nie aanroer nie, anders sal julle sterwe. Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie; maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken. Gen 3:1-5

Die slang is ‘n tipe van Satan wat God geskep het om die meester van disinformasie te wees….”van die begin af”. Satan is geskep om die vader te wees van hulle wat disinformasie en leuens versprei:

Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was ‘n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ‘n leuenaar is en die vader daarvan. Joh 8:44

Kyk na Satan se modus operandi en hoe hy te werk gaan om disinformasie te versprei tot vandag:

…..Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie; maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken.

Daar is twee dele in die woorde van die slang: een deel is die waarheid en die ander deel is die leuen. Dit is die bestanddele van alle leuens en disinformasie – leuen + waarheid! Die grootste gewig en invloed is egter op die leuendeel.

Hier is die leuen…..

Julle sal gewis nie sterwe nie….

Die leuen is tot vandag in omloop en ALMAL val daarvoor. Almal wil die dood vryspring. Wie ken jy wie regtig glo dooie mense is regtig dood….ek meen om regtig morsdood te wees is nie iets wat algemeen geglo word nie. Baie glo dooie mense is of in die hemel nou of hulle brand in ‘n hel. Ander glo weer sommige dooie mense se siele dwaal rond en kan mee kontak gemaak word. Hulle is dus nie regtig dood nie – hulle bestaan voort in ‘n ander vorm. Alles leuens. Hier is die waarheid wat min mense kan ontvang:

Want die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie, en hulle het geen loon meer nie, want hulle nagedagtenis word vergeet. Hulle liefde sowel as hulle haat, ook hulle naywer, het lankal verdwyn, en hulle het vir ewig geen deel meer aan alles wat gebeur onder die son nie. Pred 9:5-6

(Lees gerus die artikel oor wat gebeur as ons sterf by die skakel)

Wie glo dat Jesus regtig dood was na Sy kruisiging voor Sy opstanding op die derde dag? (Lees gerus by die skakel wat mense alles glo waar Jesus was toe Hy dood wasLees ook of die mens ‘n onsterflike siel is of het….by die skakel of hier by die skakel).

Tog is die vereiste om gered te word die geloof dat Jesus regtig dood was en “uit die DODE” opgestaan het, want dit gee die grondslag hoe ons ons eie dood en opstanding sal sien:

As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word; want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding. Want die Skrif sê: Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaam word nie. Rom 10:9-11

en as Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof nutteloos, dan is julle nog in julle sondes; dan is ook die wat in Christus ontslaap het, verlore. As ons net vir hierdie lewe op Christus hoop, dan is ons die ellendigste van alle mense. 1Kor 15:17-19

As ons kan glo dat God regtig alle DOOIE mense lewend kan maak, dan sal ons nie beskaam word nie want die waarheid maak ons vry van die dood:

Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede, omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie. En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie. Rom 8:6-8

Die groot ironie is dat alhoewel die leuen in die slang se woorde algemeen geglo word, word die waarheid wat hierdie subtiele slang gebruik het, NIE geglo nie!!! Hier is die waarheid in die slang se woorde:

…..God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken.

‘n Beter vertaling van hierdie woorde in Afrikaans sou wees….

…..God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God SAL WORD deur goed en kwaad te ken.

Daar staan die waarheid en MIN kan dit glo. God self erken dat dit die waarheid was wat die slang gespreek het in hierdie woorde:

Toe sê die HERE God: Nou het die mens GEWORD [die werkwoord dui meer op die begin van ‘n PROSES] soos een van Ons deur goed en kwaad te ken.  Gen 3:22a

BAIE glo nie dat ons “ALMAL in Adam” soos God SAL WORD deur Jesus Christus ALLEENLIK nie:

Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word; maar elkeen in sy eie orde: as eersteling Christus, daarna die wat aan Christus behoort by sy koms. Daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het. Want Hy moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het. Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood. Want Hy het alles aan sy voete onderwerp, maar wanneer Hy sê dat alles onderwerp is, is dit duidelik dat Hy uitgesonder is wat alles aan Hom onderwerp het. En wanneer alles aan Hom onderwerp is, dan sal ook die Seun self Hom onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal kan wees. 1Kor 15:22-28

BAIE glo dat die eerste Adam reeds soos God was by sy skepping:

En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip. Gen 1:26

Min mense word die oë gegee om werklik te kan sien en te kan onderskei dat God GEES is en die mens VLEES (STOF).

God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid. Joh 4:24

En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword. Gen 2:7

Jesus antwoord: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie. Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees. Joh 3:5-6

Gees en vlees is NIE dieselfde nie. Vlees is die eerste stap in die PROSE$ om SOOS GOD TE WORD! “Laat Ons mense maak na ons beeld” dui die doel aan waarom God mens gemaak het en die doel word bereik deur ‘n proses van wedergeboorte. Ons glo almal aanvanklik die leuen dat die stofmens reeds soos God was in die begin – perfek en dat hy nooit veronderstel was om te sterf nie! Dit is ‘n leuen! Ons word soos God en die eerste stap is “deur goed en kwaad te ken”. Wedergeboorte is noodsaaklik in die hele PROSES – om van ‘n vlees-skepsel (wat die kwaad voorstel) OMSKEP te word in ‘n gees-skepsel (wat die goed voorstel)! Vir die wat die skeiding tussen kwaad en goed kan sien is die volgende woorde van Jesus baie insiggewend toe Hy op die aarde IN VLEES was:

En ‘n sekere owerste vra Hom en sê: Goeie Meester, wat moet ek doen om die ewige lewe te beërwe? En Jesus antwoord hom: Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie behalwe een, naamlik God. Luk 18:18-19

Vlees is nie goed nie! God is gees! God is goed! Jesus sou eers “op die derde dag” “klaar” wees, wat dui op Sy geestelike opstanding – om weer soos God in gees te wees. Ek kwoteer Jesus se EIE woorde voor mense sê ek praat godslasterlik:

En Hy het vir hulle gesê: Gaan vertel daardie jakkals [Herodus]: Kyk, Ek dryf duiwels uit en maak gesond, vandag en môre, en op die derde dag is Ek klaar [Grieks: teleioō = perfek]. Luk 13:32

Selfs as mense tot bekering kom word dieselfde leuen net verfyn. Aan gelowiges word vertel dat die proses van wedergeboorte tot ‘n geestelike persoon ook oombliklik voltooi is by hul eerste bekeringsgebed, en dat hulle dan die dood nie sou sien nie! Wat ‘n leuen wat ons almal op ons eie tyd voor val. “Niemand” gaan die geestelike koninkryk van God in sonder om deur ‘n proses van baie beproewinge en verdrukkinge 

en die siele van die dissipels versterk en hulle vermaan om in die geloof te bly deur te sê: Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan. Hand 14:22

En die tempel het vol rook geword uit die heerlikheid van God en uit sy krag, en niemand kon ingaan in die tempel voordat die sewe plae van die sewe engele voleindig was nie. Open 15:8

Satan gebruik selfs God se woorde en stel leraars aan om miljoene mense van hierdie leuen te oortuig dat God se geestelike werk in ons voltooi word in ‘n oogwink:

En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ‘n engel van die lig. Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke. 2Kor 11:14-15

Satan is baie suksesvol om mense te oortuig dat as hulle Jesus se Naam aanroep dat hulle die dood en die kruis gaan systap:

Want die woord van die kruis is wel dwaasheid vir die wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God. 1Kor 1:18

Die leuen is dus om te glo ons gaan “gewis nie sterwe” deur ons eie kruis as dwaasheid te sien en dit weg te wys.

God het juis die kruisdood vir Jesus uitgekies om aan ons te toon dat die ‘n PYNLIKE en TYDSAME PROSES neem om die nuwe lewe deelagtig te word!!!

So sê Jesus oor diegene wat hierdie pynlike en tydsame kruisdood as dwaasheid sien deur die disinformasie wat hulle versprei en en glo:

En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie. Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind. Mat 10:38-39

Die hele Waarheid oor die proses om soos God te word kom in “die hele inhoud” van God se Woord voor, en ons moet aanvaar dat ons van elke woord leef (ons ervaar dus alles wat die hele Skrifte van praat):

Die hele inhoud van u woord is waarheid, en al u regverdige verordeninge is tot in ewigheid. Psa 119:160

Maar Hy antwoord en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan. Mat 4:4

Alles is gelyk vir almal: een en dieselfde lot is daar vir die regverdige en die goddelose, vir die goeie en die reine en die onreine, en vir hom wat offer en vir hom wat nie offer nie, die goeie ewe goed as die sondaar, vir hom wat sweer ewe goed as vir hom wat bang is vir ‘n eed. Pred 9:2

Kan jy sien hoe hierdie leuen van die slang in die tuin van Eden nog steeds aan jou verkoop word? Is jy nog steeds deel van die verspreiding of ontvangs van die tipe disinformasaie oor God of Sy VOLLEDIGE werk in ons en Sy doel met hierdie skepping? Net die waarheid kan mens vrymaak van enige vorm van disinformasie wat ons self pleeg en waaraan ons verbind is:

En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak. Joh 8:32

Om ‘n klein bietjie waarheid te vat en dit met die leuens te meng, is om doelbewus disinformasie te verprei. Om God se Woord te gebruik binne ‘n lewe vol leuens, is disinformasie wat ons almal duur te staan kom:

Want as iemand meen dat hy iets is, terwyl hy niks is nie, mislei hy homself. Maar laat elkeen sy eie werk op die proef stel; en dan sal hy grond vir roem hê alleen wat homself betref en nie wat die ander betref nie. Want elkeen sal sy eie pak dra. Maar laat hom wat in die Woord onderwys ontvang, meedeel van alle goeie dinge aan hom wat onderwys gee. Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai. Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai; maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe maai. Gal 6:3-8

Want ek betuig aan elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boek hoor: As iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is. En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is. Open 22:18-19

Vlees en sy saad het altyd selfsugtigheid as grondslag  – dit wil self verheerlik en bevoordeel….maar dit is alles tydelik en kortsigtig!

Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie. 1Kor 15:50

En die werke van die vlees is openbaar, naamlik owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid; afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap; afguns, moord, dronkenskap, brassery en dergelike dinge, waarvan ek julle vooraf sê, soos ek al vroeër gesê het, dat die wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërwe nie. Gal 5:19-21

 

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s