maar in die dae van die stem van die sewende engel, wanneer hy met die basuin sal blaas, dan is die verborgenheid van God volbring, soos Hy die blye tyding verkondig het aan sy diensknegte, die profete. En die stem wat ek uit die hemel gehoor het, het weer tot my gespreek en gesê: Gaan, neem die geopende boekie in die hand van die engel wat op die see en op die land staan. En ek het na die engel gegaan en aan hom gesê: Gee my die boekie. Toe sê hy vir my: Neem en eet dit op, en dit sal jou maag bitter maak, maar in jou mond sal dit soet wees soos heuning. Toe neem ek die boekie uit die hand van die engel en eet dit op, en in my mond was dit soet soos heuning; maar toe ek dit geëet het, het my maag bitter geword. Open 10:7-10
Die “dae van die stem van die sewende engel” word nou in hierdie ‘kerkeeu’ in die lewens van God se uitverkorenes “volbring” (sewe = volbring: hier kry ons ook die geestelike betekenis van die nommer sewe in die Skrifte). Dit beteken dat God aan Sy ware volgelinge Sy volkome Waarheid openbaar. Om die leuens waaraan ons almal glo te ontbloot, is nie ‘n maklike proses nie, want die waarheid is pynlik en min sien kans daarvoor, of eerder, baie min word nou deur God toegerus om dit te kan hanteer. God verwyder egter die “leuendak” vanaf Sy huis nou deur Sy oordeel:
Want baie is geroep, maar min uitverkies. Mat 22:14
En Ek sal die reg tot ‘n riglyn maak, en die geregtigheid tot ‘n skietlood; en die hael sal die leuendak wegruk en die water die skuilplek wegspoel. Jes 28:17
Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is? 1Pe 4:17
Net soos sommige van die fisiese Jode wat tot bekering gekom het en in Jesus geglo het, is daar ook vandag baie wat dink hulle is nie gebind onder die slawerny van leuens nie:
En Jesus sê vir die Jode wat in Hom geglo het: As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels. En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak. Hulle antwoord Hom: Ons is die geslag van Abraham en het nog nooit vir iemand slawediens verrig nie; hoe sê U dan: Julle sal vry word? Joh 8:31-33
Die waarheid word slegs in God se Woord gekry en dit is hierdie waarheid wat ons heilig en verlos van die slawerny van die “eerste dinge” (dit is alles wat aards is):
Die hele inhoud van u woord is waarheid, en al u regverdige verordeninge is tot in ewigheid. Psa 119:160
Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid. Joh 17:17
Die openbaring van die Waarheid, Jesus Christus, is waaroor die hele inhoud van God se Woord gaan:
Jesus antwoord hom [Thomas] : Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. Joh 14:6
Daar is selfs ‘n boek in die Nuwe Testament wat hierdie openbaring in detail uitspel:
Die openbaring van Jesus Christus wat God Hom gegee het om aan sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur, en wat Hy deur die sending van sy engel aan sy dienskneg Johannes te kenne gegee het. Open 1:1
Die boek van Openbaring gaan oor Jesus Christus!
Maar hoeveel besef dit?
Baie mense wil nie die boek lees nie wat dit is skrikwekkende dinge wat daar beskryf word!
Hoe kan al daardie lelike en wrede dinge wat in die boek bekryf word Jesus openbaar?
Ander mense is weer oortuig dat die boek vir die eindtye bedoel is. Dit is nie op hulle van toepassing nie.
Wel, wat mens maak met die boek van Openbaring en hoe ons die inhoud daarvan hanteer, is hoe ons staan teenoor die ware Jesus Christus. Ons weerspieël en verrraai ons eie posisie ten opsigte van die waarheid.
As ons ook kan sien dat die boek ons eie lewens openbaar (“wat gou moet gebeur”…”die tyd is naby”), dan begin die boek sin maak soos ons dan ook die verduidelikings van al die simbole in die boek in die “hele inhoud” van die Skrifte sal ontdek:
Die openbaring van Jesus Christus wat God Hom gegee het om aan sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur, en wat Hy deur die sending van sy engel aan sy dienskneg Johannes te kenne gegee het, wat getuig het van die woord van God en die getuienis van Jesus Christus alles wat hy gesien het. Salig is hy wat die woorde van die profesie lees, en die wat dit hoor en bewaar wat daarin geskrywe is, want die tyd is naby. Open 1:1-3
Vir wie wil hy dan kennis leer, en vir wie wil hy die openbaring verstaanbaar maak? Vir die wat van die melk gespeen, wat van die moederborste weggeneem is? Want dit is gebod op gebod, gebod op gebod, reël op reël, reël op reël, hier ‘n bietjie, daar ‘n bietjie. Jes 28:9-10
Jesus maak die volgende stelling verskeie kere in die boek van Openbaring en Hy wil daardeur ons aandag op iets BAIE belangrik vestig wat van toepassing is op ons:
Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde, sê die Here, wat is en wat was en wat kom, die Almagtige. Open 1:8
Ek is die Alfa en die Oméga, die eerste en die laaste.… Open 1:11a
Hierdie woorde sê dat Jesus ALLES in hierdie skepping bewerkstellig, maar veral in ons eie lewens….van die begin tot die einde. Hierdie woorde is baie hard om te aanvaar vir die natuurlike mens:
Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; buiten My is daar geen God nie; Ek omgord jou, hoewel jy My nie geken het nie, sodat hulle kan weet van die opgang van die son en van sy ondergang af dat daar buiten My geeneen is nie; Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen. Jes 45:5-7
“Die eerste” skepping is gekenmerk deur duisternis en onheil (kwaad). Is God hiervoor verantwoordelik? JA! Die aarde was geskep “woes en leeg” en met “duisternis”!!! Die mens was uit hierdie aarde geskep, soos ook al die dinge wat gebonde is aan die aarde:
In die begin het God die hemel en die aarde geskape. En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters. Gen 1:1-2
En God het gesê: Laat die aarde voortbring grasspruitjies, plante wat saad gee en bome wat, volgens hulle soorte, vrugte dra, waarin hulle saad is, op die aarde. En dit was so. Die aarde het voortgebring grasspruitjies, plante wat saad gee volgens hulle soorte en bome wat vrugte dra, waarin hulle saad is, volgens hulle soorte. Toe sien God dat dit goed was. Gen 1:11-12
En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword. Ook het die HERE God ‘n tuin geplant in Eden, in die Ooste, en daar aan die mens wat Hy geformeer het, ‘n plek gegee. En die HERE God het allerhande bome uit die grond laat uitspruit, begeerlik om te sien en goed om van te eet; ook die boom van die lewe in die middel van die tuin, en die boom van die kennis van goed en kwaad. Gen 2:7-9
Die kennis van die aarde en alle fisiese dinge in hierdie skepping is die kennis van “die eerste dinge”!
Die openbaring of koms van die ware Jesus in ons lewens gaan gepaard met die ontdekkking en ontbloting van die “eerste dinge” in ons eie lewens en dit help ons ook om te besef wat die geestelike toestand van die “eerste dinge” is. Die koms van die ware Jesus ontbloot eerstens ons eie ou “mens van sonde” wat deur baie mense net daar buite (in fisiesie Jerusalem veral) gesoek word. Jesus wys ons egter waar die vyand skuil want hy sit al die tyd in ons eie harte. Hy moet ontbloot word en van God se troon verwyder word:
Maar ons vra julle, broeders, met die oog op die wederkoms van onse Here Jesus Christus en ons vereniging met Hom, om nie gou julle verstand te verloor of verskrik te word nie—deur gees of deur woord of deur brief wat van ons afkomstig sou wees—asof die dag van Christus al daar is. Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is. 2Th 2:1-4
Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie? As iemand die tempel van God skend, sal God hom skend; want die tempel van God is heilig, en dit is julle. 1Kor 3:16-17
Ons almal skend God se tempel want ons gee huisvesting aan hierdie “mens van sonde” in ons. Maar die ontbloting van ons eie “antichris”, ons eie “mens van sonde”, is ook die begin van die grootste ontdekkings van die waarheid. Hoe raak mens ontslae van jouself? Jesus het vir ons die weg gewys:
Jesus antwoord hom [Thomas] : Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. Joh 14:6
En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie. Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind. Mat 10:38-39
en dat julle jul in geen opsig laat afskrik deur die teëstanders nie. Dit is vir hulle wel ‘n bewys van verderf, maar vir julle van redding, en dit van God; omdat dit aan julle ter wille van Christus genadiglik gegee is om nie alleen in Hom te glo nie, maar ook vir Hom te ly. Fil 1:28-29
Om Jesus te volg is die grootste eer wat enigeen te beurt kan val! Daarom moet ons dit met alles wat ons het, omhels. In die proses waar die ou “mens van sonde” ontbloot word, word op dieselfde tyd ook die ware Sion aan ons getoon en God kom woon in Sy ware tempel:
Maar U, o HERE, U bly tot in ewigheid, en u gedenknaam van geslag tot geslag. U sal opstaan, U oor Sion ontferm; want dit is tyd om hom genadig te wees, want die bestemde tyd het gekom. Want u knegte het sy klippe lief en het medelyde met sy puin. Dan sal die heidene die Naam van die HERE vrees en al die konings van die aarde u heerlikheid; omdat die HERE Sion opgebou het, in sy heerlikheid verskyn het, Hom gewend het tot die gebed van wie ontbloot is, en hulle gebed nie verag het nie. Psa 102:14-16
Die stad van God is BY hulle wat die waarheid kan hanteer, soos God dit moontlik maak.
Net soos Johannes op sy verlate en afgesonderde eiland van Patmos (Patmos beteken “plek van my dood”), sal die ware kind van God ook die geestelike Sionstad sien. Dit is as ons die “eerste dinge” ook aan God kan toeskryf, en Hom die eer gee as Hy ALLES van die eerste skepping ook weer uit ons lewens wegneem .
Dan aanvaar ons ook dat al die pyn en lyding wat verbonde is aan die “eerste dinge” is (en was, en sal wees) die moeite werd!
En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ‘n bruid wat vir haar man versier is. En ek het ‘n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God. En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan. Open 21:2-4
Ons oog is op Jesus Christus, die heilige “stad” van God. Hy is inderdaad die begin en die einde van alles wat ons ervaar. Ons moet alle eer aan Hom bring, veral vir die kruis wat ons moet dra. Ons doen dit egter nie alleen nie!!! God gee ons mede-gelowiges wat ook hierdie stad uitmaak en deur dieselfde proses gaan!
Daarom dan, terwyl ons so ‘n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê, die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het. Want julle moet ag gee op Hom wat so ‘n teëspraak van die sondaars teen Hom verdra het, sodat julle in jul siele nie vermoeid word en verslap nie. Julle het nog nie ten bloede toe weerstand gebied in julle stryd teen die sonde nie. Heb 12:1-4
Kyk, Hy kom met die wolke, en elke oog sal Hom sien, ook hulle wat Hom deursteek het; en al die geslagte van die aarde sal oor Hom rou bedryf; ja, amen! Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde, sê die Here, wat is en wat was en wat kom, die Almagtige. Open 1:7-8
Jesus sit op die wolk en Hy woon IN Sy Kinders (geestelik beskryf dit dieselfde konsep) en verwyder al die “eerste dinge” wat ons te lank in slawerny gehou het:
En ek het gesien, en kyk, daar was ‘n wit wolk en een soos ‘n Menseseun wat op die wolk sit, met ‘n goue kroon op sy hoof en in sy hand ‘n skerp sekel. En ‘n ander engel het uit die tempel gekom en met ‘n groot stem geroep na Hom wat op die wolk sit: Slaan u sekel in en maai, want die uur het vir U gekom om te maai, omdat die oes van die aarde oorryp geword het. En Hy wat op die wolk sit, het sy sekel oor die aarde laat gaan, en die aarde is afgemaai. Open 14:14-16