Volgens die raad van Sy wil
(Het die mens ‘n “vrye” wil?)
deur Mike Vinson
(vertaal en aangepas in Afrikaans deur Larry Groenewald)
Deel 2 – Die werklike rede waarom Christus verwerp word
Wanneer ons vra “Hoekom sou mense Christus weier en verwerp”, is die eintlike vraag “Het die mens ‘n ‘vrye’ wil?” Maak mense ‘vrye’ keuses?
Niemand ontken dat ons elke dag keuses maak nie, byvoorbeeld….
“Sal ek hierdie werkoffer of daardie werkoffer aanvaar?”
“Hoe laat sal ek opstaan?”
“Sal ek tyd inruim vir ontbyt?”
“Watter voedsel sal ek kies om te eet?”
“Watter roete sal neem werk toe?”
Ons maak elke dag honderde besluite. Niemand ontken dat ons besluite neem nie. Diegene wat hul uitnodiging na die groot maaltyd (in Lukas 14) geweier het, en diegene wat verkies het om nie die troue by te woon nie (in Mattheüs 22), het inderdaad keuses uitgeoefen. Ons word vertel wat hulle verkies het. Dit is nie debatteerbaar nie.
Maar ons word ook vertel waarom hulle versuim het om hul uitnodiging te aanvaar om die bruilofsmaal van die Lam by te woon. Almal weet dat Israel haar Messias verwerp het. “En toe die owerpriesters en die Fariseërs sy gelykenisse hoor, het hulle begryp dat Hy van hulle spreek” (Mat 21:45). Dit is die leiers van die volk van God wat hier van gepraat word.
Maar dit was nie net die leiers wat hul Messias verwerp nie: “… En die owerpriesters en die ouderlinge het die skare oorgehaal dat hulle….Jesus [moes] ombring” (Mat 27:20). Die skare? Watter skare? Dit was dieselfde menigte wat tevore gesê het “Geseënd is die Koning wat kom in die Naam van die Here” (Luk 19:38). Vers 37 sê: “En toe Hy al naby die afdraand van die Olyfberg kom, begin die hele menigte dissipels God met blydskap te prys met ‘n groot stem oor al die kragtige dade wat hulle gesien het.”
Op een dag het die skare geroep “die Koning wat kom in die Naam van die Here”, en op ‘n ander dag was dieselfde menigte “oortuig [deur die owerpriesters en die ouderlinge] … dat hulle Jesus [moes] ombring.”
Hoe is dit moontlik dat mense so wispelturig kan wees? Uiterlik was dit “… omdat Hy naby Jerusalem was en hulle gedink het dat die koninkryk van God onmiddellik sou verskyn”. Oornag verander die prentjie egter en Christus word gevange geneem terwyl Hy voor hulle in boeie na Pilatus gelei word. Al die kragtige dade wat hulle gesien het en hulle geïnspireer het om te skree dat Hy die Koning is wat kom in die Naam van die Here, het ewe skielik verander en Hy het nie meer so magtig gelyk nie.
Vir die menslike oog is “hy wat ‘n stad inneem” baie meer in aansien as “hy wat sy gees beheers”. God se Woord sê dat net die teenoorgestelde waar is:
Spr 16:32 Die lankmoedige is beter as ‘n held; en hy wat sy gees beheers, as een wat ‘n stad inneem.
Maar dit wat hulle oë gesien het van Jesus is net die oënskynlike rede waarom die skare en hulle leiers Christus verwerp het. Die Skrif gee ons die ware rede. Hier is die ware rede:
Luk 19:41-42 En toe Hy naby kom en die stad sien, het Hy daaroor geween 42 en gesê: As jy tog maar geweet het, ja, ook in hierdie dag van jou, die dinge wat tot jou vrede dien! Maar nou is dit vir jou oë bedek.
Dit is in volledige ooreenstemming met Mat 13:11: “…aan hulle is dit nie gegee…om die verborgenhede van die koninkryk van God te ken nie.” Hierdie “blindheid van Israel” wat na verwys word deur Christus in Mattheus 13 word aangehaal uit Jesaja 6:9-10 en word herhaal in die ander evangelies (Mat 4:11 en Luk 8:10 en Joh 12:40). Ook in Paulus se briewe kom dit voor (Rom 11: 8, ens).
Waarom verwerp Israel hulle Messias? “Omdat…aan hulle is dit nie gegee…om die verborgenhede van die koninkryk van die hemele te ken nie”.
Wie verblind hulle van hierdie belangrike kennis?
Word ons vertel in die “hele inhoud” van die Skrif dat as gevolg van die vrye wil van die owerpriesters en die ouderlinge, en as gevolg van die vrye wil van die skare, dat fisiese Israel hul uitnodiging weier om die bruilofsmaal van die Lam by te woon? Nee, ons word geensins van so iets ingelig nie.
Hier is die waarheid wat aan ons vertel word.
Hand 4:27-28 Want waarlik, Herodes en Pontius Pilatus het saam met heidene en die volke van Israel vergader teen u heilige Kind Jesus wat U gesalf het, 28 om alles te doen wat u hand en u raad vooruit bepaal het om plaas te vind.
Presies hoe ver strek hierdie stelling dat wat gedoen was deur “U hand en U raad vooruit bepaal [was] om plaas te vind”? Word dit wat God besluit om plaas te vind beperk deur die mens se sogenaamde “vrye” wil? Kon Judas, die owerpriesters en die ouderlinge, Pilatus of die menigte moontlik volgens hul eie “vrye” wil gekies het om Christus te vernietig? Sal ons glo wat ‘n predikant aan ons vertel en weier om die woord van God voorrang in ons lewens te gee? Hier is wat die Skrif leer van Genesis tot Openbaring:
Efes 1:9 deurdat Hy aan ons die verborgenheid van sy wil bekend gemaak het na sy welbehae wat Hy in Homself voorgeneem het,
Efes 1:11 in Hom in wie ons ook ‘n erfdeel ontvang het nadat ons vantevore daartoe verordineer is ooreenkomstig die voorneme van Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil,
Is dit onregverdig op hierdie punt om te vra….het die volk van Israel Christus verwerp volgens die raad van hul eie “vrye” wil? Is daar enigiets wat nie volgens die raad van God se wil kan opereer? Is iets te boos om ingesluit te word in “alle dinge”?
Slegs as jy glo dat die lewens van ‘x’ getal mense meer waardevol is as die lewe van Christus wat, God volgens Handeling 4 vers 28, “vooruit bepaal” was om gedood te word.
Al die lewens en lyding van al die manne en vrouens, seuns en dogters van Adam af tot aan die einde, is nie meer waardevol as Christus wat vir hulle sondes gesterf het nie.
Die offer van Christus was deur die raadsbesluit van God geneem. Mense se keuses en dade is eenvoudig gebruik om hierdie doel te bereik.
Ja, ons het ‘n keuse in al die besluite wat ons neem elke dag, maar is dit regtig die gevolg van ons “vrye” wil? Wat gebeur wanneer ons wil in stryd is met “die voorneme van Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil”?
Die antwoord is voor die hand liggend. Daar kan net een ware vrye wil bestaan en opereer waaraan alle ander ondergeskik moet wees. Slegs een wil kan “alles werk volgens die raad van sy wil”. Alle ander besluite word deur daardie een wil bewerkstellig, al kom dit oënskynlik voor of ander skepsels se wil vry is. Daardie wil wat alles beheer behoort aan die Een wat alles beheer – God. Ons sal demonstreer, uit die Skrifte, dat “alle dinge” deur God se wil bewerkstellig word.
Te dikwels lees ons hierdie gelykenisse van Christus en pas dit toe op die godsdienstige leiers van die dag van Christus, in plaas van om dit toe te pas op die Christenskap van vandag en ook op onsself. Wat sê die Skrif oor hierdie houding in ons wat altyd na ander wil wys en die fout daar buite soek (die baba op ander se drumpel te sit)?
1Kor 10:12 Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.
Rom 11:22 Let dan op die goedertierenheid en die gestrengheid van God: gestrengheid oor die wat geval het, maar goedertierenheid oor jou as jy in die goedertierenheid bly; anders sal jy ook afgekap word.
Die punt wat herhaaldelik gemaak word in die gelykenisse is tweeledig:
1) die eerste sal laaste wees, en die laaste sal eerste wees, en
2) baie is geroep, maar min uitverkies (Mat 20:16).
Nêrens in die Skrif word ons vertel dat “baie besluit om na God te kom, maar min besluit om te volhard tot die einde”. Daar word baie gebooie in die Skrif aan ons gegee, byvoorbeeld…
Gen 2:17 maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.
Deu 30:19 Ek neem vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle; die lewe en die dood, die seën en die vloek het ek jou voorgehou. Kies dan die lewe, dat jy kan lewe, jy en jou nageslag,
So ook is die uitnodigings van God ‘n gebod om te kom na die huwelik en die groot onthaal, ens, ens.
Hierdie God, wat vir ons soveel gebooie gee, wil hê dat ons moet weet dat Hy die Skepper is van alles, en dit sluit in die lig en die duisternis, en die goed en kwaad (Jes 45:7). Hy wil hê ons moet weet dat selfs al die beproewinge van Job sy idee was (Job 1:8). Hy is die HERE wie “al die onheil” oor Job gebring het (Job 42:11).
Ja, Adam was gesê om NIE te eet nie. Het ‘n alwetende God gekies om nie te weet wat Adam se keuse sou wees nie? Het Hy gekies om nie te weet wat ons keuses sal wees nie? Ons is tog almal “in Adam”. Wat leer die Skrif gebeur uiteindelik met “almal” wat in Adam?
1Kor 15:22 Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word;
Ons word vertel in die Skrifte dat ons geroep is in Christus “van ewigheid af”, of beter gestel, voor die begin van die wêreld (2Ti 1: 9). God weet dus vooraf die keuses wat Adam en elkeen van ons maak, en ook diegene wat geweier het om die groot maaltyd (in Lukas 14) en die troue (in Mattheüs 22) by te woon!
Israel is afgebreek omdat sy haar Messias verwerp, en tog het Petrus en Johannes en die hele gemeente in Jerusalem gebid “soos een man” (Hand 4:24).
Hand 4:27-28 Want waarlik, Herodes en Pontius Pilatus het saam met heidene en die volke van Israel vergader teen u heilige Kind Jesus wat U gesalf het, 28 om alles te doen wat u hand en u raad vooruit bepaal het om plaas te vind.
Hoekom het die Jode geweier om die bruilofsfees by te woon? Was dit omdat hulle gekies het om ander dinge voor hul Messias te sit? Natuurlik is die soort antwoord die voor die hand liggende, die uiterlike, die stoflike, die vleeslike verduideliking. Tog word ons vermaan om nie die voor die hand liggende antwoord te aanvaar nie. Terwyl dit vir ons voorkom asof besluite deur mense se “vrye” wil geneem word, moet ons weet wat agter die skerms plaasvind (om dit so te stel). Al ons keuses, goed of sleg, word deur die geestelike en skriftuurlike werklikheid verduidelik:
Ons worstelstryd [soos dit voorkom vir ons “vrye” wil] is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die [geestelike] owerhede, teen [geestelike] magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug [in die hemele IN ons]. Efes 6:12.
Tog blyk dit uit ons menslike perspektief wat die owerpriesters en die Fariseërs en “die mense van Israel” gekies het, was volgens hul “vrye” wil om hul Messias te weier en te verwerp.
Die “eerste Adam” in die tempel van God is die antichris (of die “die dier” soos voorkom in veral Openbaring 13) en hy is onwillig om daardie tempel te verlaat (2Thes 2:2-3; Open 13:18; Pred 3:18). Uit sy eie “vrye” wil sal hy nooit erken wat hy is, en hy sal nooit op sy eie opgee op sy valse heerskappy nie.
Terwyl ons dus elke dag keuses maak, het daardie keuses niks te doen met ‘n “vrye” wil nie.
Hoekom het “die mense van Israel…bymekaar gekom…teen u heilige Kind Jesus”? …….om “…alles te doen wat [God se] raad vooruit bepaal het om plaas te vind” (Hand 4:28).
Was dit ‘n unieke situasie wat so belangrik was dat dit God genoop het om persoonlik in te gryp om verseker dat die Satan Judas sou invaar, en Judas vir Christus sou verraai sodat Jesus oorgelewer sou word deur Pilatus om gekruisig te word? Is dit wat “u raad vooruit bepaal het om plaas te vind” beteken? Is dit waar dat God net somtyds stappe neem in die sake van die mensdom, en net af en toe ingryp in mense se lewens, soos met Esau, Farao, Jeremia, Christus se kruisiging, ensovoorts? Is dit wat die Skrif ons leer oor die raad van God?
Efes 1:5 deurdat Hy ons voorbeskik het om ons as sy kinders vir Homself aan te neem deur Jesus Christus, na die welbehae van sy wil,
Efes 1:11 in Hom in wie ons ook ‘n erfdeel ontvang het nadat ons vantevore daartoe verordineer is ooreenkomstig die voorneme van Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil,
As die hare van ons hoof getel is, kan ons glo en aanvaar dat die alwetende God…
wat die harte verhard,
oë verblind,
en die ore toestop deur die “owerhede en magte” tot sy beskikking,
wat elke beproewing en toets veroorsaak,
elke tugtiging en geseling,
en ja, wat veroorsaak dat alles in ons eie harte en gedagtes….dat dit Hy is wat alles in die skepping bewerkstellig “volgens die raad van sy wil”.
Dit is die skriftuurlike waarhede aangaande die omvang van die raad van sy wil. Nêrens leer die Skrif anders nie.
Die feit dat God daarop aandring dat ons rekenskap sal doen van ons eie doen en late, het niks te make met die valse idee dat ons verantwoordelik is vir ons ellendige toestand en aksies.
Dit was die vrye wil van God wat ons geskape het van stof in plaas van gees. Dit is uit Sy hand dat elke persoon naak gebore word in hierdie wêreld wat getuig van ons sondige, sterflike aardse samestelling.
God self neem die volle verantwoordelikheid vir elke verkeerde daad wat ooit gepleeg was (Jes 45:7), selfs die boosste daad van alle tye, die dood van ons sondelose, volmaakte, vlekkelose Verlosser. (Hand 4:28).
Dit alles word duidelik in die volle inhoud van die Skrif gemaak. Sou mens kon verwag dat ‘n regverdige God wat die harte verhard, oë verblind en ore toestop ook voorsiening sou maak vir die redding van al sy skepsele te verwag. INDERDAAD!
Hier is wat die Verlosser self te sê het:
Joh 12:32 En Ek, as Ek van die aarde verhoog word, sal almal na My toe trek.
Vorige artikels in die reeks:
https://4windkoinonia.wordpress.com/2016/04/20/volgens-die-raad-van-sy-wil-deel-1/
Die oorspronklike Engelse weergawe kan HIER gevind word.