W_______ skryf
“Ek sal graag wil weet wat die moontlikheid is dat Jesus se siel na Sy dood by God was, in Efs 4 vers 10 verwys hulle na Hy wat neergedaal het, kon Sy siel na Hom terug gekeer het met sy opstanding . Dankie”
Hallo W_________
Dankie vir die gesprek.
Ons het óf die geloof ontvang om die waarheid te ontvang, óf ons bly vashou aan ‘n leuen. Geloof kom deur die woord van God alleenlik:
Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God. Rom 10:17
Die woord alleen verklaar aan ons hoe God ‘n siel vorm:
En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword. Gen 2:7
Daar is dit – met stof en asem vorm God die mens want dit is ook hoe die mens bekend staan – hy IS ‘n “lewende siel” – dit is sy hele wese as hy op die aarde leef. By die dood word die asem weer uit die stofliggaam geneem – en die mens sterf – die siel sterf. Die asem gaan terug na die atmosfeer en die liggaam na die grond:
In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer. Gen 3:19
dan sou alle vlees tesame die asem uitblaas en die mens sou tot stof terugkeer. Job 34:15
U verberg u aangesig, hulle word verskrik; U neem hulle asem weg, hulle sterwe en keer terug tot hul stof. Psa 104:29
Wie bespeur dat die asem van die mensekinders opgaan boontoe, en dat die asem van die veediere neerdaal ondertoe in die aarde? Pred 3:21
Maar ‘n man sterwe en is magteloos; ja, ‘n mens blaas die asem uit en—waar is hy? Job 14:10
Waar is die mens? ‘n Dooie mens is dood en alle dooies se asem gaan na dieselfde plek – in die atmosfeer. Jesus het net soos ons almal Sy aardse asem uitgeblaas op die kruis en gesterf:
Maar Jesus het met ‘n groot stem geroep en die laaste asem uitgeblaas. Mar 15:37
En toe die hoofman oor honderd wat daar reg voor Hom staan, sien dat Hy so uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas het, sê hy: Waarlik, Hy was die Seun van God. Mar 15:39
Jesus was toe dood en Hy was begrawe. Hy kon nêrens gaan nie. Die Vader is gees en Hy is alomteenwoordig.
God is Gees. Joh 4:24a
God is nie IN ‘n plek nie en al die hemele kan Hom nie bevat nie:
Maar sou God werklik op die aarde woon? Kyk, die hemel, ja, die hoogste hemel kan U nie bevat nie, hoeveel minder hierdie huis wat ek gebou het. 1Kon 8:27
Kom ons kyk na die vers wat jy aanhaal:
Hy wat neergedaal het, is dieselfde as Hy wat opgevaar het bokant al diehemele [meervoud], sodat Hy alles tot volheid kan bring. Efes 4:10
As ons kan sien dat “neergedaal” en “opgevaar” geestelike stellings is, en niks te doen het met die fisiese tydruimtelike nie, dan kan ons ook sien wat Jesus bedoel het toe Hy gesê het aan Nikodémus dat Hy op daardie oomblik “in die hemel IS” toe hy die stelling op die aarde maak:
En niemand het opgevaar in die hemel nie, behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, naamlik die Seun van die mens wat in die hemel is. Joh 3:13
Wel wie kan dit uitwerk as God nie mens se oë oopmaak om te sien waar die hemele is nie. Jesus was IN die hemel toe Hy die stellings op die aarde maak! Hemel is dus nie daar ver soos aan ons vertel word deur die leuenaars nie:
Maar die geregtigheid wat uit die geloof is, sê dit: Moenie in jou hart sê nie: Wie sal in die hemel opvaar, naamlik om Christus af te bring; of: Wie sal in die afgrond neerdaal, naamlik om Christus uit die dode op te bring? Maar wat sê dit? Naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart. Dit is die woord van die geloof wat ons verkondig: Rom 10:6-8
Jesus antwoord en sê vir hom: As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar,en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak. Joh 14:23
As ons dit kan sien en aanvaar, dan sal ook aanvaar dat geen siel kan lewe en rondbeweeg as dit gesterf het nie.
Want die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie, en hulle het geen loon meer nie, want hulle nagedagtenis word vergeet. Hulle liefde sowel as hulle haat, ook hulle naywer, het lankal verdwyn, en hulle het vir ewig geen deel meer aan alles wat gebeur onder die son nie. Pred 9:5-6
Die Vader het wel ‘n kennis van daardie siel en wek dit dan op die bepaalde tyd UIT DIE DOOD op. Dit is presies wat die Vader gedoen het met Jesus en Paulus noem hierdie beginsel van geloof in die Vader se vermoë om ‘n dooie siel weer lewend te maak, as die basis vir ons redding:
As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word; want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding. Want die Skrif sê: Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaam word nie. Rom 10:9-11
As ons glo dat die Vader nie die mag het om ‘n dooie persoon UIT DIE DODE op te wek, dan is ons ONGELOWIG. Niemand kan iemand anders geloof gee as die Vader dit nie aan die persoon SKENK nie:
Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit isdie gawe van God; Efes 2:8
Ek hoop ek was van hulp om die Skrifte uit te wys wat jou kan help om geloof te ontvang om hierdie waarheid oor Jesus se DOOD te kan sien W_________.
Jou broer in die enigste Christus wie dood was en opgewek was deur die gees van die Vader
Larry
Terug pieng: Temas | "Is en Wat Was en Wat Kom" – die onbekende karakter van Jesus Christus en Sy Woord