Volgens die raad van Sy wil (Deel 6)

Volgens die raad van Sy wil 

(Het die mens ‘n “vrye” wil?)

Deur Mike Vinson

(vertaal en aangepas in Afrikaans deur Larry Groenewald)

Deel 6 – Twaalf Voorbeelde van God se Modus Operandi

Voorbeeld # 2 – Die beproewinge van Job

Die meeste van ons is bewus daarvan dat Job ‘n man van groot geduld was. In een dag verloor Job al sy beeste, esels, kamele, skape en almal behalwe een van die dienaars wat vir elke groep versorg, en uiteindelik al sy seuns en dogters wat sterf in die huis van die oudste met net een dienaar wat ontsnap om die slegte nuus aan Job te bring.

Die eerste hoofstuk van die boek van Job is ‘n perfekte parallel wat gebeur het met ons oorspronklike ouers in die tuin van Eden.

Let op die parallelle:

  • Wie se idee was dit om Job op hierdie manier te beproef?

“En die HERE vra vir die Satan: Het jy ag gegee op my kneg Job?” (Job 1: 8).

Dit was die Here wat Satan se aandag op Job gevestig het.

Wat doen Satan op daardie tyd?

“… ‘n swerftog oor die aarde, wat ek deurkruis het” (Job 1: 7).

Waarom doen Satan dit?

“Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind” (1 Pet. 5: 8).

Dit is waarom Satan “…die aarde…deurkruis”. Hy “soek wie hy kan verslind.”

  • Wie se idee was dit dat Adam moes eet van die boom van die kennis van goed en kwaad? Was die boom van die kennis van goed en kwaad Satan se skepping? Nee, God “skep onheil” – dit wat onheilig is (Jes 45:7). Het Satan hierdie boom in die middel van die tuin geplaas en dit so aanloklik vir die oë gemaak dat dit ons ouers sou versoek? Nee, dit was ook “ooreenkomstig die voorneme van [God] wat alles werk volgens die raad van Sy wil” (Efes 1:11). Hoekom, aan die ander kant, was Adam en Eva nie aangetrokke tot die boom van die lewe nie? God het nooit gesê hulle kon nie eet van die boom van die lewe nie. Hoekom het hulle nie van die boom van die lewe geëet nie? Omdat dit “geen gestalte of heerlikheid gehad, dat ons [dit] sou aansien nie, en geen voorkoms, dat ons [dit] sou begeer nie” (Jes 53:2). Wie het die kronkelende slang geskep om ons oorspronklike ouers te versoek om God se opdrag te oortree? “Ék het [God het] die verderwer geskape om te verniel…(Jes 54:16). Die verderwer versoek altyd mensdom – ook die Seun van die mens:

Mat 4:3  En die versoeker het na Hom gekom en gesê: As U die Seun van God is, sê dat hierdie klippe brode word.

1Th 3:5  Daarom, toe ek [Paulus] dit nie langer kon uithou nie, het ek ook gestuur om julle geloof te wete te kom, of die versoeker julle nie miskien versoek het en ons arbeid tevergeefs sou wees nie.

Dit was God wat die slang geskep het om die versoeker te wees om Adam en Eva te verlei in die tuin van Eden. Die hele gebeurtenis het plaasgevind omdat dit God se hand en God se raad was wat alles vooruit bepaal het (Hand 4:28). Ons weet dit is so, want, afgesien van hierdie Skrif hier in Handelinge, is ons ook talle kere vertel dat alles vooruit bepaal word:

2Ti 1:9  wat ons gered en geroep het met ‘n heilige roeping, nie volgens ons werke nie [nie deur ‘n “Vryheid” van keuse nie], maar volgens sy eie voorneme en genade wat ons van ewigheid af [Grieks: “aion” = tydperk = “voor die eeue”] in Christus Jesus geskenk is,

Tit 1:2  in die hoop van die ewige lewe wat God, wat nie kan lieg nie, van ewigheid af [Grieks: “aion” = tydperk = “voor die eeue”] beloof het,

Open 13:8  En al die bewoners van die aarde sal hom aanbid, almal wie se name nie van die grondlegging van die wêreld af in die boek van die lewe van die Lam wat geslag is, geskrywe is nie.

Vra jouself af: Het God reeds geweet “van die grondlegging van die wêreld af”, en voor die wêreld begin het, dat die Lam [Jesus] sou gedood word ter wille van ons sondes? En dat ons geroep en gered sou word met ‘n heilige roeping in Christus? Dan het God sekerlik ook geweet wat ons ouers sou doen met betrekking tot Sy bevel om nie te eet van die boom van die kennis van goed en kwaad? Is God besig om sy eie plan te fnuik toe hy Adam en Eva die opdrag gegee het om nie te eet van hierdie boom? Met ander woorde, het God se plan en doel afgehang van Adam se “vrye wil”, of was dit alles “…ooreenkomstig die voorneme van [God] wat alles werk [insluitende ons keuses] volgens die raad van Sy wil” (Efes 1:11)?

Die Skrif openbaar van Genesis tot Openbaring dat “alles is uit God” (1 Kor 11:12);

“…dit alles [insluitende ons goeie of slegte keuses] is uit God” (2Kor 5:18.); “daar [is] vir ons maar een God, die Vader uit wie alles is” (1 Kor 8:6),  en…..

Rom 11:36  Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.

As die mees gruwelike misdaad van alle tye, die onregverdige moord op die volmaakte Lam van God, deur God se hand en raad vooruit bepaal was om plaas te vind (Hand 4:28), hoekom sou minder gruwelike misdade nie ook wees volgens wat God se hand en God se raad vooruit bepaal het nie? Die waarheid is dat alles gebeur soos God se “hand en [God se] raad vooruit bepaal”.

Kyk hoe ook die eerste hoofstuk van Job die onthulling van hierdie waarheid ondersteun. Dit is nie ‘n ongewone gebeurtenis wat hier beskryf word nie.

Job 1:6  En op ‘n dag toe die seuns van God kom om hulle voor die HERE te stel, het die Satan ook onder hulle gekom.

Let op dit sê nie: “Daar was uiteindelik ‘n dag nie”, of dat “Satan tussen die seuns van God ingesluip het nie”. Dit is nie wat die Skrif leer nie. Dit is waar Satan opereer – voor God. Dit is sy voorgeskrewe en voorbeskikte funksie om te dien as die slingse slang, die Satan, die verleier en versoeker, die duiwel. Satan kom voor God daagliks “en soek wie hy kan verslind.” Hier is die waarheid van die Skrif. Kyk verby die fisiese en glo wat die gees van God verklaar (God se Woord is gees – Joh 6:63). Hier is wat die gees, die Woord van God, openbaar die waarheid is van wat ons werklik te doen mee het:

Efes 6:12  Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug [Strong’s #2032 – Grieks = “epouranios” – die hemel].

“Elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word” is beslis die waarheid (Jak 1:13-14). Die skrifte ontken geensins dat ons deur ons “eie begeerlikhede weggesleep en verlok word” en dat dit inderdaad die “stof” is waarop die “bose geeste in die hemele” teer en hulself voed. Dit alles werk volgens die raad van God se wil.

Wat Jakobus sê is “julle wat nie eens weet wat môre sal gebeur nie” – so dit dien geen doel wat ook al om te sê: “Ek word deur God versoek nie”. Jakobus wil hê ons moet die volgende onthou:

“Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val, omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid bewerk…En as iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word…Salig is die man wat versoeking verdra, want as hy die toets deurstaan het, sal hy die kroon van die lewe ontvang wat die Here beloof het aan die wat Hom liefhet” (Jak 1: 2-12).

Dit is by hierdie aansluitingspunt, nadat ons ingelig is van die absolute noodsaaklikheid vir die gelowige om deur beproewings en versoekings in die lewe te gaan, soos vooruit bepaal deur die soewereine wil van God, voordat ons “die kroon van die lewe ontvang”, reg by hierdie punt word ons die waarheid vertel dat ons nie die soewereiniteit van God se wil as ‘n verskoning kan gebruik om toe te gee aan ons begeertes nie (Jak 1:13 & 14).

Jakobus is net soos Paulus. Onmiddellik nadat Paulus ons inlig dat ons worstelstryd eintlik teen die bose geeste in die hemel is, sê hy: “Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly” (Efes 6:13).

Om te glo en te verstaan dat ‘n “bose gees van die HERE” gebruik word om ons weg te sleep deur ons eie begeerlikheid, neem geensins weg van ons aanspreeklikheid in die hele proses nie. “Laat niemand, as hy in versoeking kom, sê: Ek word deur God versoek nie [en ek kan nie Sy wil weerstaan nie]. Want God kan deur die kwaad nie versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie”. (Jak 1:13). Jakobus sê dat aangesien “julle…nie eens weet wat môre sal gebeur nie” [maar God weet beslis], is dit teen-produktief om so ‘n redenasie te gebruik.

Beide Jakobus en Paulus leer ons om “die duiwel…[te]…weerstaan…en hy sal van julle wegvlug” (Jak 4:7). Die feit dat ons nie God se wil kan weerstaan nie (2 Kron 20:6, Rom 9:19.) is nie ‘n vermaning om te gaan lê en niks te doen nie. “…julle wat nie eens weet wat môre sal gebeur nie” is Jakobus se manier om ons te vertel dat ons altyd moet sê “…as die Here wil en ons lewe, dan sal ons dit of dat doen….”, en ons moet “…die volle wapenrusting van God op[neem]…”, en ons moet ook “die duiwel [weerstaan]”. Met ander woorde, wat Jakobus leer is dat as ons weet dat dit God se wil is wat “more” sal geskied, dan sal ons altyd streef om Sy wil te doen. (Jak 4:15). “…as die Here wil en ons lewe, dan sal ons dit of dat doen….”.

Paulus stel dit so:

Rom 12:21  Laat jou nie deur die kwaad oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.

Jakobus sê ook: “Geloof sonder die werke is dood” (Jak 2:26). In ‘n ander plek sê Paulus weer: “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai.” (Gal. 6:7). Daar is dus geen verskil in die leer van hierdie twee groot manne van God nie. Daar was ongetwyfeld verdeeldheid in die liggaam van Christus, maar dit was nog nooit tussen Jakobus en Paulus nie. Beide van hulle het die soewereine wil van God in alle dinge verstaan.

Jak 4:14-15  julle wat nie eens weet wat môre sal gebeur nie. Want hoedanig is julle lewe? Dit is tog maar ‘n damp wat vir ‘n kort tydjie verskyn en daarna verdwyn.  15  In plaas dat julle sê: As die Here wil en ons lewe, dan sal ons dit of dat doen.

Aan die ander kant, God weet presies wat môre sal gebeur, want Hy is “die begin en die einde, die eerste en die laaste”(Open 22:13).

Hoekom versoekings en beproewinge?

Ons beproewinge en versoekings is nooit vir God se inligting of voordeel nie. Hulle is eerder vir ons eie inligting en voordeel. God is ons Maker:

Psa 103:14  Want Hy, Hy weet watter maaksel ons is, gedagtig dat ons stof is [ons is net ‘n ete vir die versoeker].

Ons beproewinge (wanneer ons weggesleep en verlok word deur ons eie begeertes) wys ons wat ons is:

Jer 17:9  Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?

So, wat was dit wat Job moes sien oor homself? Hoekom het Job sulke groot verliese ervaar, insluitende sy eie kinders (sy liggaam was ook van kop tot tone met pynlike swere oordek)? As Job dan “vroom [Hebreeus: “tâm” – Strong’s # 8535, wat onbesmet beteken] en opreg en godvresend [was] en een wat afgewyk het van die kwaad” hoekom het God die beskutting rondom Job dan weggeneem, en skielik die teenstander gestuur om alles wat Job besit het van hom weg te neem en kort daarna ook Job met “bose swere getref, van sy voetsool tot sy skedel” (Job 2:7)?

Die antwoord op hierdie vraag het met baie meer te doen as net dat ons moet leer van Job se geduld. Die eintlike doel van die boek van Job is om ons te leer dat ons “tâm” (ons vroomheid) niks te doen het met ons “vrye” wil nie. Met ander woorde, wat Job moes leer deur sy lyding, en wat ons ook moet leer, is dat ons eiegeregtigheid soos ‘n besoedelde kleed voor God is (Jes 64:6). Wat voorkom asof ons goeie besluite op ons eie neem, is in werklikheid om te kan sien dat ons “Sy maaksel” is (Efes 2:10), “want U het ook al ons werk vir ons volbring.” (Jes. 26:12).

Wanneer ons op ‘n “vrye morele agentskap” aanspraak maak, dan is ons werke ‘n besoedelde kleed voor God. Wanneer ons erken ons is “Sy maaksel” is, dan weet ons ook dat “U het ook al ons werk vir ons volbring”, en nou kan God ons aanvaar.

Daar is daardie woord “al” (verwysend na “alles”) weereens. Hy “werk alles volgens die raad van sy wil” (Efes 1:11).

Rom 11:36  Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.

Job het dit nog nie besef nie. Job het eintlik geglo dat sy geregtigheid was van homself. Hy het gedink dat hy ‘n goeie man was, want Hy het self gekies om regverdig te wees. Dit was sy gebrek aan begrip dat “alles…uit God”  was (2 Kor. 5:18 en Jes 26:12) wat Job se beproewinge genoodsaak het.

Dit was Job se geloof in sy “vryheid” van keuse; sy “vrye morele agentskap”; dat hy by homself gekies het om die goeie te volg en die bose te weier; dat God hom nie gekies het nie, maar dat hy God gekies het; dit is wat Job so duur te staan gekom het. Hier is die Skrif:

  • Job 34:5-6 Want Job het gesê: Ek is regverdig, en God het my my reg ontneem. 6  Ondanks my reg staan ek as leuenaar; ongeneeslik is my pylwond, en dit sonder oortreding! Dit is die woorde van Job. Elíhu, wat Job kwoteer, was die enigste vertrooster wat die Here nie berispe het vir sy raad aan Job nie. Job het regtig gesê dat hy regverdig is? Ja hy het. Hier is sy eie woorde:
  • Job 27:2 So waar as God leef wat my my reg ontneem het, en die Almagtige wat my siel bitterheid aangedoen het. Job 27:5-6 Dit is ver van my dat ek julle gelyk sou gee; totdat ek die asem uitblaas, sal ek my onskuld nie prysgee nie.  6  Aan my geregtigheid hou ek vas en laat dit nie los nie; my hart veroordeel geeneen van my dae nie.

Die houding het Job duur gekos. Dit sal ons ook duur te staan kom. So lank as ons vashou aan enige aanspraak hoegenaamd, dat ons enigiets hoegenaamd kan bydra tot ons saligheid, dan is ons niks beter as Job nie. Ons word deur genade gered:

Tit 2:11-12 Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn en leer [Grieks: “paideuō” = dissiplineer / tugtig] ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe,

Heb 12:6 want die Here tugtig  [Grieks: “paideuō” = dissiplineer / tugtig] hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem.

[Tugtiging en kastyding (Titus 2:11 & 12, die woord “leer” is eintlik “tugtiging” in die oorpsronklike Grieks, soos ook Heb 12:6 uitwys) kom a.g.v. die geloof en die geloof is nie eens ons s’n nie, “dit is ‘n gawe van God” (Efes 2:8) want “ons is sy maaksel” (Efes 2:10), “sodat geen vlees voor Hom sou roem nie”(I Kor. 1:29)].

Kom ons kom terug na Job: het God saamgestem met Elíhu ?

Job 39:34-35  En die HERE het Job geantwoord en gesê:  Wil die berisper met die Almagtige twis? Laat hy wat God teregwys, hierop antwoord!

Job 40:3 Wil jy [Job] werklik my [God se] reg verbreek, My veroordeel, dat jy gelyk kan hê?

God het nie die blaam  op Satan of op Job se “vrye wil” geplaas nie.

Wat antwoord Job? Het hy teruggeval op sy argumente van “totdat ek die asem uitblaas, sal ek my onskuld nie prysgee nie”; “Aan my geregtigheid hou ek vas en laat dit nie los nie; my hart veroordeel geeneen van my dae nie”? Is dit hoe Job God  geantwoord het toe God aan Job uitwys dat sy geloof in sy ‘vrye morele agentskap’ eintlik God se reg tot oordeel wou verbreek deur Job se goeie keuses volgens sy “vrye wil” en eiegeregtigheid?

Nee. Net soos Saulus van Tarsus, wie se “vrye” keuse daarop gerig was om God se reg tot oordeel te verbreek, het Job ook die lig gesien. Owerhede, magte, en wêreldheersers “in die lug” (in die hemele) was betrokke by Job [en ook Saulus] se “vrye” keuses. In plaas van om die Here te vervolg, het Saulus uit sy eie “vrye” wil erken dat hy blind was en gevra “Here wat wil U hê moet ek doen?” (Hand 9: 6). En Job, uit sy eie “vrye” sal nou antwoord:

Job 42:2-6  Ek weet dat U alles kan doen [insluitend ons keuses en die verharding van ons harte, of ons deur sy tugtiging en kastyding tot die punt bring waar ons sal sê, nie my wil nie, maar U wil geskied] en geen plan vir U onuitvoerbaar is nie.  Wie verberg die raadsbesluit daar sonder kennis? So het ek dan gespreek sonder om te verstaan, dinge te wonderbaar vir my, wat ek nie begryp nie. Hoor tog, en ék sal spreek; ek sal U ondervra en onderrig U my!  Volgens hoorsê het ek van U gehoor; maar nou het my oog U gesien.  Daarom herroep ek en het berou  in stof en as.

‘n “Vroom…opregte en godvresende” mens soos Job het sekerlik tog nie nodig om te bekeer nie. Maar Job het gekom by die plek waat hy kon sien dat sy eiegeregtigheid en goeie dade ‘n besoedelde kleed was (Jes 64:6). Job het besef dat “die HERE het [Sy] geregtighede te voorskyn gebring” (Jer 51:10):

Job 42:2  Ek weet dat U alles kan doen en geen plan vir U onuitvoerbaar is nie.

Dit is die waarheid van die Skrif. Die probleem met hierdie skriftuurlike waarhede is dat dit weerspreek die valse leer van ‘vrye morele agentskap’ wat leer dat God gekies het om nie te weet wat ons keuses sal wees nie. Sy hande is dus vasgemaak, en die verantwoordelikheid vir ons verlossing is in ons eie hande aan die einde van die dag. Die mees kritieke aspek t.o.v. ons saligheid, wat selfs die dood en opstanding van Christus oortref, is ons vryheid’ van keuse, ons “vrye” wil, of so wil hierdie valse leer ons oortuig.

“Vrye” wil is ‘n leuen

Hierdie valse leer verkondig dat God sy Seun in die wêreld gestuur om slegs diegene te red wat self op hul eie ‘n keuse maak om te glo in Christus in hierdie vleeslike lewe. Dit wil verder sê dat as God jou hart verhard, jou oë verblind en jou ore stop om die waarheid te hoor, doen Hy dit a.g.v. ons “vrye” wil keuses om nie die uitnodiging te aanvaar na die bruilof van die Lam. Al die pogings van God om alle mense na Jesus te trek word ongeldig gemaak deur die mens se “vrye wil” – volgens hierdie valse leer. Die denkpatroon sê die volgende: “Dit is as gevolg van die “vrye” wil van mens dat baie geroep is, maar min uitverkies word. Soveel as dit ons hemelse Vader pynig, Sy hande is gebind deur ons “vrye” wil. Dit is alles uit Sy hande geneem deur ons keuses. Die meeste mense sal vir ewig dood bly of vir ewig gepynig word want God het gekies om nie vooraf te weet wat ons keuses sou wees nie. Daarom word dit ook dan verkondig dat ons ewige dood of ewige marteling immers ons eie skuld is, want ons het uit ons eie “vrye” wil gekies om nie die bruilof van die Lam by te woon nie.

Is dit wat Job geleer het as gevolg van al sy beproewinge? Nee, dit is nie die boodskap van die boek Job nie. Hier is Job se eie woorde oor wat God kies om te weet:

Job 42:2  Ek weet dat U alles kan doen en geen plan vir U onuitvoerbaar is nie.

Job stem nou saam met die Skrifte:

Spr 16:1  Die planne van die hart is van die mens, maar die antwoord van die tong kom van die HERE.

Spr 21:1  Die koning se hart is in die hand van die HERE soos waterstrome: Hy lei dit waarheen Hy wil.

Spr 20:24  Die voetstappe van ‘n man hang van die HERE af: hoe sou ‘n mens dan sy weg verstaan?

Jer 10:23  Ek weet, o HERE, dat aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan ‘n man om te loop en sy voetstappe te rig nie.

Waar is daar ‘n plek vir ‘n “vrye wil” in hierdie skrifgedeeltes?

Laat ons teruggaan na Job hoofstuk een, en sien hoe God die Satan beweeg en manipuleer om God se doelwitte in Job se lewe tot stand te bring. Dit is die Here wat Satan se aandag op Job vestig. Satan het nie eerste vir God toestemming gevra om Job te beproef nie. Die doel can die boek van Job is om God se totale soewereiniteit te wys.Dit is die Here wat die eerste na Job verwys:

Job 1:8  En die HERE vra vir die Satan: Het jy ag gegee op my kneg Job? Want daar is niemand op die aarde soos hy nie: ‘n man vroom en opreg, godvresend en wat afwyk van die kwaad.

So die Here self erken dat Job ‘n goeie man is wat God vrees en haat wat verkeerd is.

Die groot fout in Job was sy verkeerde geloof in sy eie vryheid om te kies…”een wat afgewyk het van die kwaad”. Job het die soewereiniteit van God nog nie ten volle verstaan en waardeer nie:

Joh 15:16  Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies en julle aangestel om vrug te gaan dra en dat julle vrug kan bly, sodat wat julle die Vader ook al in my Naam vra, Hy julle dit kan gee.

Joh 6:44  Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag.

Satan het geen twyfel oor die soewereiniteit van God:

Job 1:9-11  En die Satan antwoord die HERE en sê: Is dit verniet dat Job God vrees? Het U nie self hom en sy huis en alles wat hy het, aan alle kante rondom, beskut nie? Die werk van sy hande het U geseën, en sy vee het sterk vermeerder in die land. Maar strek net u hand uit en tas alles aan wat hy het—waarlik, hy sal U in u aangesig seën!

Hoe die Here te werk gegaan om Sy hand uit te strek en alles aan te tas wat Job het?

Job 1:12  Daarop sê die HERE aan die Satan: Kyk, alles wat hy het, is in jou hand; net na homself mag jy jou hand nie uitsteek nie. En die Satan het weggegaan van die aangesig van die HERE.

Hier gaan God in Job se lewe doen wat Hy verduidelik in Jesaja:

Jes 45:7  wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen.

Hoe doen God hierdie dinge? “Strek net U hand uit en tas alles aan” word nie gedoen met God se eie “hand” nie. Nee, dit is nie hoe Hy “alles werk volgens die raad van sy wil” nie (Efes 1:11):

Jak 1:13  Laat niemand, as hy in versoeking kom, sê: Ek word deur God versoek nie. Want God kan deur die kwaad nie versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie.

Hoe kan God aandring op Sy soewereiniteit in alles, insluitend die bose, en tog sê dat Hy niemand versoek nie. Job help ons:

Job 26:13-14  Deur sy asem [Sy gees] word die hemel helder; sy hand het die vinnige slang [die versoeker / die Satan] deurboor [Hebreeus: “châlal” = hanteer / skep / beweeg]. Kyk, dit is maar die uitlopers van sy weë, en wat ‘n fluisterwoord hoor ons maar van Hom! Wie sou dan die donder van sy magtige dade verstaan?

Bose geeste het nie hulself geskep nie – God se hand vorm en beweeg alles – ook die kronkelende slang. Satan is nie ‘n loslopende skepsel wat 99% van God se skepsels steel van Hom – soos baie propageer nie. Satan is ‘n spesifieke ruimte gegee om in te opereer:

Job 1:6-8  En op ‘n dag toe die seuns van God kom om hulle voor die HERE te stel, het die Satan ook onder hulle gekom. Toe vra die HERE vir die Satan: Waar kom jy vandaan? En die Satan antwoord die HERE en sê: Van ‘n swerftog oor die aarde, wat ek deurkruis het. En die HERE vra vir die Satan: Het jy ag gegee op my kneg Job? Want daar is niemand op die aarde soos hy nie: ‘n man vroom en opreg, godvresend en wat afwyk van die kwaad.

Net soos Pilatus, besit Satan ook net mag wat aan hom gegee is deur God:

Joh 19:10-11  En Pilatus sê vir Hom: Praat U nie met my nie? Weet U nie dat ek mag het om U te kruisig en mag het om U los te laat nie?  11  Jesus antwoord: U sou geen mag teen My hê as dit u nie van bo gegee was nie. Daarom het hy wat My aan u oorlewer, groter sonde.

Satan het ook by Judas ingegaan en hom oortuig om Christus te verraai en Hom oor te lewer aan die godsdiensleiers van God se mense van daardie dag (Lukas 22:3). Was Judas bewus van Satan se invloed op hom? Natuurlik nie. Judas, soos so baie van God se mense vandag, het gedink dat hy sy “vryheid van keuse” uitoefen. Judas, soos Adam, en soos ons almal, oefen beslis keuses uit. Soos Adam en almal van ons, sal almal beslis rekenskap vir daardie keuses moet gee en ons sal “skade ly” vir ons werke van “hout, hooi en stoppels” [verkeerde keuses wat sondes tot gevolg het]:

1Kor 3:11-15  Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus. En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels—  elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang;  as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.

Maar nie Adam nie, ook nie Judas nie, en ook nie enigeen van ons oefen “vryheid van keuse” uit nie. Ons keuses is duidelik nie “vry” nie, maar werk alles “volgens die raad van Sy wil” (Efes 1:11).

Al ons keuses, die goeie keuse soos om Christus te volg, en ook ons sondige keuses, soos om Christus te verraai en om lewens te leef wat oorheers word deur die vlees, is almal oorsaaklike keuses – dit word deur God veroorsaak en bewerkstellig. Alles word uiteindelik veroorsaak deur die Groot Oorsaak van alles:

Efes 6:12  Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug [die hemele of denke in ons].

Rom 12:2  En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.

Adam se kanse om die regte keuse te maak as gevolg van ‘n verdigsel soos die ‘vryheid’ van keuse, was omtrent net so skraal soos Judas se kanse om te besluit om nie Christus te verraai nie. Toe Satan in Judas vaar (Lukas 22: 3) was dit nie a.g.v. Judas se “vrye” wil of “vrye” keuse nie, net soos Petrus nie uit sy “vrye” wil besluit het om Christus te bestraf toe Christus Sy dissipels inlig oor die noodsaaklikheid van Sy naderende dood. Christus het nie na Petrus gedraai en hom aangemoedig om beter keuses van woorde te maak nie:

Mar 8:33  Maar Hy het Hom omgedraai, en terwyl Hy sy dissipels aankyk, het Hy Petrus bestraf en gesê: Gaan weg agter My, Satan! Want jy bedink nie die dinge van God nie, maar dié van die mense.

Christus het nie hier gebruik gemaak van ‘n bekende stylfiguur in Sy woorde nie. Christus het geweet dat dit Satan was wat “die dinge…van die mense” bedink het. Dit was Christus self, die Woord van God, wat in die tuin bepaal het dat “stof moet jy eet” (Gen 3:14). Christus het geweet hoe die heelal bedryf word, want die Vader het Hom gebruik om dit te skep en dit te laat opereer soos dit nou is (Rom 11:36). Christus het geweet dat Petrus op daardie oomblik besig was om te verloor, om die “worstelstryd…met bose geeste” in sy denke (sy “gemoed” of sy hemel) sleg te verloor (Efes 6:12).

Petrus moes gebring word tot die punt om dit te sien in homself. Omdat God Petrus voorbeskik het tot barmhartigheid, het Hy hom getugtig:

Heb 12:6  want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem.

Daar was geen tugtiging vir Judas nie, maar eerder ‘n aanmoediging reg uit die mond van ons Verlosser self:

Joh 13:26-27  Jesus antwoord: Dit is die een aan wie Ek die stukkie sal gee as Ek dit ingedoop het. En toe Hy die stukkie ingedoop het, gee Hy dit aan Judas Iskáriot, die seun van Simon. En nadat hy die stukkie geneem het, het die Satan in hom ingevaar. En Jesus sê vir hom: Wat jy doen, doen dit haastig.

Satan het in Judas ingegaan om sy hart verhard omdat Judas nooit op sy eie sou kon doen wat God vooruit bepaal het om te gebeur nie:

Rom 9:16-18  So hang dit dan nie af van die een wat wil of van die een wat loop nie, maar van God wat barmhartig is.  Want die Skrif sê aan Farao: Juis hiervoor het Ek jou laat optree, dat Ek in jou my krag kan toon en dat my Naam verkondig kan word op die hele aarde. So is Hy dan barmhartig oor wie Hy wil en Hy verhard wie Hy wil.

Hoe duidelik is dit nie!

Die mens spog met van sy “vrye” wil en tog weet hy nie eens wat die volgende oomblik gaan gebeur nie:

Jak 4:14-16  julle wat nie eens weet wat môre sal gebeur nie. Want hoedanig is julle lewe? Dit is tog maar ‘n damp wat vir ‘n kort tydjie verskyn en daarna verdwyn.  15  In plaas dat julle sê: As die Here wil en ons lewe, dan sal ons dit of dat doen.  16  Maar nou roem julle in jul grootpratery. Al sulke roem is verkeerd.

Of ons Christus aanvaar of verwerp sal beslis word of ons getrek word na Hom deur die Vader wat deur omstandighede buite ons beheer ons harte sag maak of dit verhard.  Ja, ons maak keuses, maar hulle is nooit vry van “Hom wat alles werk volgens die raad van sy eie wil” (Efes 1:11)

Vorige artikels in die reeks:

https://4windkoinonia.wordpress.com/2016/04/20/volgens-die-raad-van-sy-wil-deel-1/

https://4windkoinonia.wordpress.com/2016/04/21/volgens-die-raad-van-sy-wil-deel-2/

https://4windkoinonia.wordpress.com/2016/05/03/volgens-die-raad-van-sy-wil-deel-3/

https://4windkoinonia.wordpress.com/2016/05/04/volgens-die-raad-van-sy-wil-deel-4/

https://4windkoinonia.wordpress.com/2016/05/05/volgens-die-raad-van-sy-wil-deel-5/

Die oorspronklike Engelse weergawe kan HIER gevind word.

 

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s