Die geestelike betekenis van syfergetalle (3)

INLEIDING

Die Skrifte leer dat God die fisiese wêreld en alles daarin geskep het met talle doelwitte in gedagte. Onder andere, is die fisiese skepping nie daar om ons vir ewig instand te hou nie, maar dien ook as ‘n eerste fase in die proses om soos God “te word”:

Gen 1:26 En God het gesê: Laat Ons mense maak [hierdie werkwoord is vanaf die oorspronklike Hebreeuse woord “âśâh” vertaal en dit is in die  Hebreeus in die onvoltooide vorm geskryf – dit druk dus ‘n handeling uit wat onvoltooid is!!!] na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip.

Gen 3:22 Toe sê die HERE God: Nou het die mens geword soos een van Ons deur goed en kwaad te ken. As hy nou maar nie sy hand uitsteek en ook van die boom van die lewe neem en eet en lewe in ewigheid nie!

Joh 1:12 Maar almal wat Hom [Jesus] aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam [Sy ware leer] glo.

Die fisiese skepping is ook daar gestel om ons te help om die “geestelike dinge van God” te kan verstaan – “deur die geloof”:

Heb 11:3 Deur die geloof verstaan ons dat die wêreld deur die woord van God toeberei is, sodat die dinge wat gesien word, nie ontstaan het uit sienlike dinge nie.

Rom 1:20 Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie.

Getalle (syfergetalle) fassineer die mens want daar is ‘n nuuskierigheid in die mens om dieper of hoër betekenisse te vind vir dinge in en rondom hom. God het wel groot geestelike betekenis vir ons opgesluit in getalle. Baie mense het hul eie betekenis gekoppel aan getalle deur die wysheid van die wêreld te gebruik. Maar elke kind van God weet dat slegs die Skrifte, soos vervat in die Bybel, die ware betekenis van alles, ook van getalle, vir ons weergee. Die Skrifte alleenlik bevat die hele waarheid oor enige onderwerp “onder die son”, en ons word gewaarsku om nie buite hierdie goddelike raamwerk te gaan as ons na die waarheid soek nie.

Psa 119:160 Die hele inhoud van u woord is waarheid, en al u regverdige verordeninge is tot in ewigheid.

Joh 17:17 Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid.

1Kor 4:6 Hierdie dinge, broeders, het ek [Paulus] op myself en Apollos toegepas om julle ontwil, dat julle aan ons kan leer om nie te dink bo wat geskrywe is nie, sodat julle nie die een ter wille van die ander opgeblase sou wees teen ‘n derde nie.

Ware geestelike of goddelike insigte kom van die Vader deur Sy Woord, Jesus Christus [TWEE getuies]:

Mat 16:15-17 Hy [Jesus] sê vir hulle: Maar julle, wie sê julle is Ek? 16 En Simon Petrus antwoord en sê: U is die Christus, die Seun van die lewende God. 17 Toe antwoord Jesus en sê vir hom: Salig is jy, Simon Bar-Jona, want vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie, maar my Vader wat in die hemele is [het dit…die waarheid…aan jou geopenbaar].

2Kor 13:1 Dit is die derde keer dat ek na julle toe kom. In die mond van twee of drie getuies sal elke woord vasstaan.

So wat sê die Woord oor die geestelike betekenis wat daar in getalle opgesluit is?

DIE GETAL ‘DRIE’ (3)

Soos in deel 1 en deel 2 genoem, is die syfers onskeibaar geheg aan mekaar. Die getal ‘een’ is die begin van alles en deur die een word eenheid vooropgestel. Die getal ‘twee’ getuig saam binne hierdie eenheid, en omdat die twee saamstem kom ons as mens in kontak met die waarheid. Dit is deur die een “gees van waarheid” van die Vader en Sy Seun dat ons gevorm kan word in God se ware “beeld”:

1Kor 8:6 tog is daar vir ons maar een God, die Vader uit wie alles is, en ons tot Hom, en een Here Jesus Christus deur wie alles is, en ons deur Hom.

Joh 14:23-26 Jesus antwoord en sê vir hom [Judas, nie die Iskáriot nie]: As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak. 24 Hy wat My nie liefhet nie, bewaar my woorde nie; en die woord wat julle hoor, is nie myne nie, maar is van die Vader wat My gestuur het. 25 Dit het Ek tot julle gespreek terwyl Ek by julle bly; 26 maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.

Om in God se geestelike beeld te wees, verg ‘n pynlike tydsame proses!!! Alles gebeur nie oombliklik nie – daar is ‘n proses aan verbonde en dit is waar die syfer ‘drie’ juis inkom. Die getal ‘drie’ demonstreer die konsep van ‘n proses tot geestelike volwassenheid (of verleiding). Alles word geopenbaar deur God se oordeel (openbaarmaking). God se geregtigheid (dit is Sy ware beeld) kom ook slegs deur die proses van oordeel:

Jes 26:9 Met my siel begeer ek u in die nag; ook met my gees in my binneste soek ek U; want as u oordele op die aarde is, leer die inwoners van die wêreld geregtigheid.

1Kor 11:32 Maar as ons geoordeel word, word ons deur die Here getugtig, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel mag word nie.

Heb 12:5-6 En julle het die vermaning heeltemal vergeet wat tot julle as seuns spreek: My seun, ag die tugtiging van die Here nie gering nie en beswyk nie as jy deur Hom bestraf word nie; 6 want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem.

Hier is ‘n paar voorbeelde van die getal ‘drie’ uit die Skrifte, om die verskillende prosesse waaraan ons almal gebonde is, uit te beeld:

  • Egipte was vir drie dae in “dik duisternis”, soos Egipte geoordeel was.
  • Jona was drie dae en drie nagte in die maag van die groot vis aangesien hy vir sy ongehoorsaamheid geoordeel was.
  • Saulus van Tarsus was drie dae lank blind toe hy geoordeel was vir die vervolging van die dissipels van Jesus.
  • Die “openbaring van Jesus Christus” kom in drie fases na ons: sewe seëls, sewe basuine en die sewe laaste plae van die toorn van God.

Hierdie aardse skepping leer ons om te besef dat daar ‘n tydgebonde proses vasgestel is en dat ons net deur “baie verdrukkinge” in God se geestelike tempel kan ingaan:

Hand 14:22 en die siele van die dissipels versterk en hulle vermaan om in die geloof te bly deur te sê: Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan.

Open 15:6-8 En die sewe engele [‘sewe’ beteken voltooiing en ons sal die getal later in diepte bespreek] met die sewe plae het uit die tempel uitgekom, bekleed met rein, blink linne, en om die bors omgord met goue gordels. 7 En een van die vier [‘vier’ verwys geestelik na  volledigheid, en ons sal die getal ook later in diepte bespreek] lewende wesens het aan die sewe engele sewe goue skale gegee, vol van die grimmigheid van God wat leef tot in alle ewigheid. 8 En die tempel het vol rook geword uit die heerlikheid van God en uit sy krag, en niemand kon ingaan in die tempel voordat die sewe plae van die sewe engele voleindig was nie.

Ons word dus eers in vlees geskep om dan weer daaruit weggeneem te word. Dit is vir ons vlees ‘n baie moeilike proses om te begryp. Ons neem kennis van Jesaja se woorde om ons te help….

Jes 28:21-23 Want die HERE sal Hom gereed maak soos by die berg Pérasim; Hy sal aanstorm soos in die dal by Gíbeon om sy werk te doen—vreemd is sy werk! En om sy daad te verrig—ongehoord is sy daad! Gedra julle dan nou nie soos spotters, dat julle bande nie vaster word nie; want ek het van die Here HERE van die leërskare gehoor ‘n verdelging wat vas besluit is, oor die hele aarde. Luister, en hoor na my stem; let op, en hoor my woord!

Verlossing van ons vlees kos ‘n prys (voorgestel deur die metaal silwer). Die getal ‘drie’ speel weereens hierin die rol om ons te help om hierdie proses van die opneem van ons kruis te verstaan (Gal 2:20):

Gen 45:22 Hy het aan hulle almal, man vir man, ‘n stel nuwe klere gegee; maar aan Benjamin [die tipe van God se uitverkore Christus] het hy drie honderd sikkels silwer en vyf [‘vyf’ verwys na oordeel en hoe geloof verkry word – ons dit later bespreek in hierdie reeks studies] stel nuwe klere gegee.

Mat 27:3-10 Daarna het Judas, sy verraaier, toe hy sien dat Hy veroordeel was, berou gekry en die dertig silwerstukke teruggebring na die owerpriesters en die ouderlinge 4 en gesê: Ek het gesondig deur onskuldige bloed te verraai. Maar hulle sê: Wat gaan dit ons aan? Jy kan toesien! 5 En hy het die silwerstukke in die tempel neergegooi en weggeloop en homself gaan ophang. 6 En die owerpriesters het die silwerstukke geneem en gesê: Dit is nie geoorloof om dit in die skatkis te stort nie, omdat dit bloedgeld is. 7 En nadat hulle saam raad gehou het, het hulle die stuk grond van die pottebakker daarmee gekoop as ‘n begraafplaas vir vreemdelinge. 8 Daarom is dié stuk grond genoem Bloedgrond, tot vandag toe. 9 Toe is vervul wat gespreek is deur Jeremia, die profeet, toe hy gesê het: En hulle het die dertig silwerstukke geneem, die prys van die gewaardeerde wat hulle gewaardeer het vanweë die kinders van Israel; 10 en hulle het dit gegee vir die grond van die pottebakker, soos die Here my beveel het.

Ons neem dus besit van God se lewe deur te volhard deur die hele vleeslike aftakkelingsproses wat deur die syfer ‘drie’ voorgestel word:

Luk 21:19 Deur julle volharding moet julle jul lewe in besit kry.

Mat 16:21 Van toe af het Jesus begin om sy dissipels te toon dat Hy na Jerusalem moes gaan en veel van die ouderlinge en owerpriesters en skrifgeleerdes moes ly, en gedood en op die derde dag opgewek word.

Mar 9:31 Want Hy het sy dissipels geleer en vir hulle gesê: Die seun van die mens word oorgelewer in die hande van die mense, en hulle sal Hom doodmaak; en nadat Hy gedood is, sal Hy die derde dag opstaan.

Die getal ‘drie’ speel dus ‘n kardinale rol in alle offers aan God in ons eie lewe:

Lev 14:10 En op die agtste [verwys na ‘n “nuwe begin” wat ons later sal bespreek] dag moet hy twee lammers sonder gebrek neem en een jaaroud ooilam sonder gebrek en drie tiendes van ‘n efa fynmeel as spysoffer, met olie gemeng, en een log olie.

Num 15:9 moet hy by die jong bul as spysoffer bring drie-tiendes van ‘n efa fynmeel met ‘n half-hin olie gemeng.

Geestelike perfeksie word slegs voltooi (is “klaar”) op die “derde dag – die dag van opstanding uit die dode (verlossing van die vlees):

Luk 13:31-32 En op dieselfde dag het sommige van die Fariseërs na Hom gekom en vir Hom gesê: Gaan weg en vertrek hiervandaan, want Herodes wil U om die lewe bring. 32 En Hy het vir hulle gesê: Gaan vertel daardie jakkals: Kyk, Ek dryf duiwels uit en maak gesond, vandag en môre, en op die derde dag is Ek klaar [Grieks: “teleioō” = voltooi / volbring / perfek].

Ons is eers op “die derde dag…klaar” wanneer ons finaal ontslae is van alles wat tydelik is en wanneer ons verlos is van die vlees. Slegs op die “derde dag” kan ons die nuwe wyn drink by die groot bruilof van die Lam (Matt 22; Open 19:7-9), want die “goeie wyn” word eers bewaar…weggehou in ons tyd in vlees…tot later wanneer ons Jesus se geestelike heerlikheid sal kan ervaar en ten volle deelagtig word:

Joh 2:1 En op die derde dag was daar ‘n bruilof te Kana in Galiléa…

Joh 2:7-11 Jesus sê vir hulle: Maak die kanne vol water. En hulle het hul tot bo toe volgemaak. 8 En Hy sê aan hulle: Skep nou uit en bring dit vir die hoofdienaar. En hulle het dit gebring. 9 En toe die hoofdienaar die water proe wat wyn geword het—en hy het nie geweet waarvandaan dit was nie, maar die dienaars wat die water geskep het, het geweet—roep die hoofdienaar die bruidegom 10 en sê vir hom: Elke mens sit eers die goeie wyn op en, wanneer hulle goed gedrink het, dan die slegste; maar u het die goeie wyn tot nou toe bewaar. 11 Hierdie eerste een van sy tekens het Jesus te Kana in Galiléa gedoen; en Hy het sy heerlikheid geopenbaar, en sy dissipels het in Hom geglo.

Dit is eers teen die “derde uur” dat ons ten volle Sy gees sal ervaar en dronk wees IN Hom!

Hand 2:15 Hierdie mense is tog nie dronk soos julle dink nie, want dit is nog maar die derde uur in die môre.

Efes 5:18 Moenie dronk word van wyn nie—daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul.

Die vrug van die gees (Gal 5:22), die Vader se geestelike beeld in ons, is ons nie beskore met betrekking tot die volle impak daarvan in ons tyd in die vlees nie:

Lev 19:23 En as julle in die land inkom en allerhande vrugtebome plant, moet julle hulle vrugte as verbode beskou; drie jaar lank moet hulle vir julle verbode wees; daar mag nie van geëet word nie.

In die hele proses van sterf vir self word ons opgeneem in die “derde hemel” en ons kan sien hoe swak ons vlees is, en dat vleeslike dinge net nie meer so baie beteken nie.

2Kor 12:1-5 Dit is waarlik vir my nie nuttig om te roem nie, want ek sal kom tot gesigte en openbaringe van die Here. 2 Ek weet van ‘n man in Christus, veertien jaar gelede—of dit in die liggaam was, weet ek nie, of buite die liggaam, weet ek nie, God weet dit—dat so iemand weggeruk is tot in die derde hemel. 3 En ek weet van so ‘n man—of dit in die liggaam of buite die liggaam was, weet ek nie, God weet dit— 4 dat hy weggeruk is in die Paradys en onuitspreeklike woorde gehoor het wat ‘n mens nie mag uitspreek nie. 5 Oor so ‘n man sal ek roem, maar oor myself sal ek nie roem nie, behalwe in my swakhede.

Die “derde hemel” bring die getuies van die hele Waarheid (“is en wat was en wat kom, die Almagtige”) tot ‘n standvastige finaliteit in ons:

2Kor 13:1 Dit is die derde keer dat ek na julle toe kom. In die mond van twee of drie getuies sal elke woord vasstaan.

Open 1:8 Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde, sê die Here, wat is en wat was en wat kom, die Almagtige.

Die hele inhoud van God se Woord is inderdaad waarheid (Ps 1119:160), soos ook vervat in die hele Ou Testament as ‘n skadu van die ware Christus:

Luk 24:44 En Hy sê vir hulle: Dit is die woorde wat Ek met julle gespreek het toe Ek nog by julle was, dat alles wat oor My geskrywe is in [1] die wet van Moses en [2] die profete en [3] die psalms, vervul moet word.

Die saligheid vir almal in vlees (“in Adam”) gaan dus self deur ‘n drie-fase proses van DOOD (“in sonde”/ vlees – Rom 8:6-8), OORDEEL (openbaring van wie ons is en wie God is – Jes 26:9), en OPSTANDING (“sonder sonde”):

Heb 9:27-28 En net soos die mense [Adam] bestem is om een maal te sterwe en daarna die oordeel, so sal Christus ook, nadat Hy een maal geoffer is om die sondes van baie weg te neem, vir die tweede maal sonder sonde verskyn aan die wat Hom verwag tot saligheid.

1Kor 15:22-28 Want soos hulle almal in Adam [in vlees en bloed] sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word; maar elkeen in sy eie orde: as

[1] eersteling Christus,

[2] daarna die wat aan Christus behoort by sy koms.

[3] Daarna kom die einde [Grieks = “telos” = finaal / die laaste groep] ,

wanneer Hy [Jesus] die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het. Want Hy moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het. Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood. Want Hy het alles aan sy voete onderwerp, maar wanneer Hy sê dat alles onderwerp is, is dit duidelik dat Hy uitgesonder is wat alles aan Hom onderwerp het. En wanneer alles aan Hom onderwerp is, dan sal ook die Seun self Hom onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal kan wees.

Die getal ‘drie’ gee ons ‘n baie dieper begrip van God se werk in die mensdom en Sy barmhartigheid oor almal.

Deu 19:1-4 As die HERE jou God die nasies uitroei wie se land die HERE jou God jou sal gee, en jy hulle uit hul besitting verdrywe en in hulle stede en in hulle huise woon, 2 dan moet jy vir jou drie stede afsonder in jou land wat die HERE jou God jou sal gee om dit in besit te neem. 3 Jy moet vir jou die pad regmaak en jou grondgebied wat die HERE jou God jou laat erwe, in drie dele verdeel, sodat elkeen wat ‘n doodslag begaan het, daarheen kan vlug. 4 En dit is die saak van hom wat ‘n doodslag begaan het, wat daarheen vlug, dat hy kan lewe: hy wat sy naaste sonder opset doodslaan, terwyl hy hom van gister en eergister af nie vyandig was nie.

Die Engelse weergawe geskryf deur Mike Vinson van die geestelike betekenis van hierdie getal, word by die volgende skakel gevind:

http://www.iswasandwillbe.com/numbers-in-scripture-three-the-process-of-spiritual-completion/

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.

15 Responses to Die geestelike betekenis van syfergetalle (3)

  1. Terug pieng: Ons aardse koningskap is TYDELIK (Deel 19) | "Is en Wat Was en Wat Kom" – die onbekende karakter van Jesus Christus en Sy Woord

  2. Terug pieng: Die koninkryk van God op aarde | "Is en Wat Was en Wat Kom" – die onbekende karakter van Jesus Christus en Sy Woord

  3. Terug pieng: God se plan met die 1000 jaar regering | "Is en Wat Was en Wat Kom" – die onbekende karakter van Jesus Christus en Sy Woord

  4. Terug pieng: Die geestelike implikasie van die eersgeboortereg (Deel 10) | 4windkoinonia

  5. Terug pieng: Die eerste beginsels van die woorde en leer van Christus (Deel 3) | 4windkoinonia

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s