Die geestelike betekenis van syfergetalle (4)

INLEIDING

Die Skrifte leer dat God die fisiese wêreld en alles daarin geskep het met talle doelwitte in gedagte. Onder andere, is die fisiese skepping nie daar om ons vir ewig instand te hou nie, maar dien inderdaad as ‘n eerste fase in die proses om soos God “te word”:

Gen 1:26 En God het gesê: Laat Ons mense maak [hierdie werkwoord is vanaf die oorspronklike Hebreeuse woord “âśâh” vertaal en dit is in die  Hebreeus in die onvoltooide vorm geskryf – dit druk dus ‘n handeling uit wat onvoltooid is!!!] na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip.

Gen 3:22 Toe sê die HERE God: Nou het die mens geword soos een van Ons deur goed en kwaad te ken. As hy nou maar nie sy hand uitsteek en ook van die boom van die lewe neem en eet en lewe in ewigheid nie!

Joh 1:12 Maar almal wat Hom [Jesus] aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam [Sy ware leer] glo.

Die fisiese skepping is ook daar gestel om ons te help om die “geestelike dinge van God” te kan verstaan – “deur die geloof”:

Heb 11:3 Deur die geloof verstaan ons dat die wêreld deur die woord van God toeberei is, sodat die dinge wat gesien word, nie ontstaan het uit sienlike dinge nie.

Rom 1:20 Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie.

Getalle (syfergetalle) fassineer die mens, want daar is ‘n nuuskierigheid in die mens om dieper of hoër betekenisse te vind vir dinge in en rondom hom. God het wel groot geestelike betekenis vir ons opgesluit in getalle. Baie mense het hul eie betekenis gekoppel aan getalle deur die wysheid van die wêreld te gebruik. Maar elke kind van God weet dat slegs die Skrifte, soos vervat in die Bybel, die ware betekenis van alles, ook van getalle, vir ons weergee. Die Skrifte alleenlik bevat die hele waarheid oor enige onderwerp “onder die son”, en ons word gewaarsku om nie buite hierdie goddelike raamwerk te gaan as ons na die waarheid soek nie.

Psa 119:160 Die hele inhoud van u woord is waarheid, en al u regverdige verordeninge is tot in ewigheid.

Joh 17:17 Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid.

1Kor 4:6 Hierdie dinge, broeders, het ek [Paulus] op myself en Apollos toegepas om julle ontwil, dat julle aan ons kan leer om nie te dink bo wat geskrywe is nie, sodat julle nie die een ter wille van die ander opgeblase sou wees teen ‘n derde nie.

Ware geestelike of goddelike insigte kom van die Vader deur Sy Woord, Jesus Christus [TWEE getuies]:

Mat 16:15-17 Hy [Jesus] sê vir hulle: Maar julle, wie sê julle is Ek? 16 En Simon Petrus antwoord en sê: U is die Christus, die Seun van die lewende God. 17 Toe antwoord Jesus en sê vir hom: Salig is jy, Simon Bar-Jona, want vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie, maar my Vader wat in die hemele is [het dit…die waarheid…aan jou geopenbaar].

2Kor 13:1 Dit is die derde keer dat ek na julle toe kom. In die mond van twee of drie getuies sal elke woord vasstaan.

So wat sê die Woord oor die geestelike betekenis wat daar in getalle opgesluit is?

DIE GETAL ‘VIER’ (4)

Soos in deel 1, deel 2, en in deel 3 genoem, is syfers onskeibaar geheg aan mekaar. Die getal ‘een’ is die begin van alles en deur die ‘Een’ God word eenheid vooropgestel. Die getal ‘twee’ getuig saam binne hierdie eenheid, en omdat die twee saamstem kom ons as mens in kontak met die waarheid. Dit is deur die een “gees van waarheid” van die Vader en Sy Seun dat ons gevorm kan word in God se ware “beeld”:

1Kor 8:6 tog is daar vir ons maar een God, die Vader uit wie alles is, en ons tot Hom, en een Here Jesus Christus deur wie alles is, en ons deur Hom.

Die getal ‘drie’ dui aan die proses van groei waardeur ons moet gaan om ook as getuies van die Waarheid op te tree. Die getal ‘drie’ sluit dus baie intiem aan by die getalle ‘een’ en ‘twee’. ALLE seuns van God word slegs deur ‘n tugtingsproses geestelik volmaak gemaak:

Heb 12:1-6 Daarom dan, terwyl ons so ‘n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê, 2 die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het. 3 Want julle moet ag gee op Hom wat so ‘n teëspraak van die sondaars teen Hom verdra het, sodat julle in jul siele nie vermoeid word en verslap nie. 4 Julle het nog nie ten bloede toe weerstand gebied in julle stryd teen die sonde nie. 5 En julle het die vermaning heeltemal vergeet wat tot julle as seuns spreek: My seun, ag die tugtiging van die Here nie gering nie en beswyk nie as jy deur Hom bestraf word nie; 6 want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem.

Die getal ‘vier’ neem ons nou ‘n stap verder deur vir ons te wys dat God se saligheidsplan inderdaad almal insluit. Die getal ‘vier’ bind dus alles saam tot ‘n GEHEEL. Alle mense op aarde sal deur die proses geneem word om een met God in gees te wees. Hier is een pragtige beskrywing van hoe die getal ‘vier’ die geheel van God se plan met alle mense uitbeeld.

Hand 10:9-16 En die volgende dag, terwyl hulle op pad was en naby die stad kom, het Petrus omtrent die sesde uur [die getal ‘ses’ dui die getal van die mens aan (Gen 1:26-31; Open 13:18)- ons sal later in detail ook hieroor gesels] op die dak geklim om te bid; 10 en hy het baie honger geword en wou eet; en terwyl hulle besig was om klaar te maak, het daar ‘n verrukking van sinne oor hom gekom: 11 hy sien die hemel geopend en ‘n voorwerp soos ‘n groot laken na hom afdaal, wat aan die vier hoeke vasgebind is en op die aarde neergelaat word. 12 Daarin was al die viervoetige diere van die aarde en die wilde en kruipende diere en die voëls van die hemel. 13 Toe kom daar ‘n stem na hom: Staan op, Petrus, slag en eet! 14 En Petrus sê: Nooit nie, Here, want ek het nooit iets onheiligs of onreins geëet nie. 15 En weer het die stem vir die tweede keer na hom gekom: Wat God rein gemaak het, mag jy nie onheilig ag nie. 16 En dit het drie maal gebeur, en die voorwerp is weer in die hemel opgeneem.

God het deur die gesig vir Petrus geleer (en dit leer ons nou ook as ons dit kan sien) dat die gesig na mense verwys. Jesus is inderdaad die Heer van almal en almal sal dit “deur die heilige gees” op die einde bely!

Hand 10:34-36 En Petrus het sy mond geopen en gesê [vir die mense in Cesaréa in die huis van Cornelius met al sy familie en vriende bymekaar was]: Ek sien waarlik dat God geen aannemer van die persoon is nie, 35 maar dat in elke nasie die een wat Hom vrees en geregtigheid doen, Hom welgevallig is. 36 Dit is die woord wat Hy gestuur het aan die kinders van Israel toe Hy die evangelie van vrede verkondig het deur Jesus Christus—Hy is die Here van almal.

1Kor 12:3 Daarom maak ek julle bekend dat niemand wat deur die Gees van God spreek, Jesus ‘n vervloeking noem nie; en niemand kan sê dat Jesus die Here is nie, behalwe deur die Heilige Gees.

Fil 2:9-11 Daarom het God Hom [Jesus] ook uitermate verhoog en Hom ‘n naam gegee wat bo elke naam is, 10 sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is, 11 en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader.

Eerstens verwys die getal ‘vier’ na die geheel van God se uitverkorenes met wie Hy nou eerste werk om hul knieë te buig en te erken dat Jesus Heer is deur die gees van God. Hierdie uitverkorenes sal deur God dan gebruik word om die res later in te bring:

Mat 24:31 En Hy sal sy engele uitstuur met harde trompetgeluid, en hulle sal sy uitverkorenes versamel uit die vier windstreke, van die een einde van die hemele af tot die ander einde daarvan.

Open 4:4 En rondom die troon was daar vier en twintig trone, en op die trone het ek die vier en twintig ouderlinge sien sit, bekleed met wit klere; en hulle het goue krone op hulle hoofde gehad.

Open 5:6 En ek het gesien, en kyk, in die middel van die troon en die vier lewende wesens en in die midde van die ouderlinge staan daar ‘n Lam asof Hy geslag is, met sewe horings en sewe oë, wat die sewe Geeste van God is wat uitgestuur is oor die hele aarde [die getal ‘sewe’ is ‘n geestelike verwysing na die voltooiing van die hele proses – ons sal nog daaroor praat later in hierdie reeks].

Die getal ‘vier’ het ook, soos alle aardse simbole in die Skrifte, ‘n negatiewe toepassing as dit op die vlees (die aarde) betrekking het – net die teenoorgestelde as wat die geestelike bereik:

Spr 30:15-16 Die bloedsuier het twee dogters: Gee, gee! Drie is dit wat nie versadig word nie; vier sê nooit: Genoeg nie! — 16 die doderyk en die toegesluite moederskoot, die aarde wat nie genoeg water kry en die vuur wat nooit sê: Genoeg nie!

Spr 30:18-19 Drie is dit wat vir my te wonderbaar is, ja, vier wat ek nie begryp nie: 19 die weg van die arend in die lug, die weg van ‘n slang oor ‘n rots, die weg van ‘n skip in die hart van die see, en die weg van ‘n man by ‘n maagd.

Spr 30:21-23 Onder drie bewe die aarde, en onder vier kan hy dit nie uithou nie: 22 onder ‘n slaaf as hy koning word, en ‘n dwaas as hy volop brood het; 23 onder ‘n nie-geliefde as sy tog ‘n man kry, en ‘n slavin as sy haar meesteres uit die besitting verdrywe.

Die vlees in al sy aardse glorie kan nooit mens tevrede stel nie. Die onvergenoegdheid van vlees in sy volledigheid (in sy geheel) is ook wat Salomo hier beskryf. Later in sy lewe het Salomo ook meer en meer ontdek hoe waar dit is – soos hy dit alles uiteindelik in sy outobiografie genaamd “Prediker” saamgevat het:

Pred 1:1-10 Die woorde van die Prediker, die seun van Dawid, die koning in Jerusalem. 2 Alles tevergeefs, sê die Prediker, alles tevergeefs, dit is alles tevergeefs! 3 Watter voordeel het die mens van al sy moeite waarmee hy hom vermoei onder die son? 4 Die een geslag gaan, en die ander geslag kom, en die aarde bly vir ewig staan. 5 En die son gaan op, en die son gaan onder, en hy hyg na die plek waar hy opgaan. 6 Die wind gaan na die suide en slaan om na die noorde, gaan altyddeur rond, en die wind keer na sy kringloop terug. 7 Al die strome loop in die see, en tog word die see nie vol nie; na die plek waarheen die riviere loop, daarheen loop hulle altyd weer. 8 Al die dinge is so vermoeiend, geen mens kan dit uitspreek nie; die oog kry nie genoeg van sien nie, en die oor word nie vol van hoor nie. 9 Wat gewees het, dit sal daar weer wees; en wat gebeur het, dit sal weer gebeur, en daar is glad niks nuuts onder die son nie. 10 Is daar iets waarvan ‘n mens kan sê: Kyk hier, dit is nuut? Dit was lankal daar in die ou tyd wat voor ons gewees het.

Ons moet egter, soos fisiese Israel, ons volledige tyd onder die slawerny van vlees en sy ongeregtigheid (die geestelike Amoriete in ons) uitdien, soos deur God bepaal:

Gen 15:13-16 Daarop sê Hy vir Abram: Weet verseker dat jou nageslag vreemdelinge sal wees in ‘n land wat aan hulle nie behoort nie; daar sal hulle diensbaar wees en verdruk word vier honderd jaar lank. 14 Maar Ek sal ook die nasie oordeel aan wie hulle diensbaar moet wees, en daarna sal hulle uittrek met baie goed. 15 Maar jy sal na jou vaders gaan in vrede, jy sal in goeie ouderdom begrawe word. 16 En die vierde geslag sal hierheen terugkom, want die ongeregtigheid van die Amoriete is tot nog toe nie vol nie.

In die hele proses van gevangeniskap onder die tydelike (‘n “kort tydjie”) beheer van die vleeslike Amoriete in ons word ons geleer van geduldigheid (lankmoedigheid) en al die ander eienskappe van God wat deel uitmaak van die vrug van die gees in ons eie lewe. Die volledige vrug van die gees is God se enigste standaard van meting hoe volwasse ons is in gees!

Gal 5:22 Maar die vrug van die Gees is

liefde,

blydskap,

vrede,

lankmoedigheid,

vriendelikheid,

goedheid,

getrouheid,

sagmoedigheid,

selfbeheersing.

Die geheel van die vlees en al sy beproewinge en toetse dra dus by om ons geloof te louter en te versterk om die volledige vrug van die gees te ontwikkel – die vrug van die gees wys vir ons en vir ander dat ons soos God word!!! 

Open 13:10 As iemand krygsgevangenes maak, gaan hy in krygsgevangenskap; as iemand met die swaard doodmaak, moet hy met die swaard doodgemaak word. Hier is die lydsaamheid en die geloof van die heiliges.

1Pe 1:6-9 Daarin verheug julle jul, al word julle nou—as dit nodig is—’n kort tydjie bedroef onder allerhande beproewinge, 7 sodat die beproefdheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus; 8 vir wie julle, al het julle Hom nie gesien nie, tog liefhet; in wie julle, al sien julle Hom nou nie, tog glo en julle verbly met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap, 9 en die einddoel van julle geloof, die saligheid van julle siele, verkry.

Die Engelse weergawe geskryf deur Mike Vinson van die geestelike betekenis van hierdie getal, word by die volgende skakel gevind:

http://www.iswasandwillbe.com/numbers_four/

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.

13 Responses to Die geestelike betekenis van syfergetalle (4)

  1. Terug pieng: Ons reis na geestelike volwassenheid (Deel 5) | "Is en Wat Was en Wat Kom" – die onbekende karakter van Jesus Christus en Sy Woord

  2. Terug pieng: Ons reis na geestelike volwassenheid (Deel 7) | "Is en Wat Was en Wat Kom" – die onbekende karakter van Jesus Christus en Sy Woord

  3. Terug pieng: Die stad van God, die nuwe Jerusalem (die simboliese 144 000) | "Is en Wat Was en Wat Kom" – die onbekende karakter van Jesus Christus en Sy Woord

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s