INLEIDING
Die Skrifte leer dat God die fisiese wêreld en alles daarin geskep het met talle doelwitte in gedagte. Onder andere, is die fisiese skepping nie daar om ons vir ewig instand te hou nie, maar dien inderdaad as ‘n eerste fase in die proses om soos God “te word”:
Gen 1:26 En God het gesê: Laat Ons mense maak [hierdie werkwoord is vanaf die oorspronklike Hebreeuse woord “âśâh” vertaal en dit is in die Hebreeus in die onvoltooide vorm geskryf – dit druk dus ‘n handeling uit wat onvoltooid is!!!] na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip.
Gen 3:22 Toe sê die HERE God: Nou het die mens geword soos een van Ons deur goed en kwaad te ken. As hy nou maar nie sy hand uitsteek en ook van die boom van die lewe neem en eet en lewe in ewigheid nie!
Joh 1:12 Maar almal wat Hom [Jesus] aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam [Sy ware leer] glo.
Die fisiese skepping is ook daar gestel om ons te help om die “geestelike dinge van God” te kan verstaan – “deur die geloof”:
Heb 11:3 Deur die geloof verstaan ons dat die wêreld deur die woord van God toeberei is, sodat die dinge wat gesien word, nie ontstaan het uit sienlike dinge nie.
Rom 1:20 Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie.
Getalle (syfergetalle) fassineer die mens, want daar is ‘n nuuskierigheid in die mens om dieper of hoër betekenisse te vind vir dinge in en rondom hom. God het wel groot geestelike betekenis vir ons opgesluit in getalle. Baie mense het hul eie betekenis gekoppel aan getalle deur die wysheid van die wêreld te gebruik. Maar elke kind van God weet dat slegs die Skrifte, soos vervat in die Bybel, die ware betekenis van alles, ook van getalle, vir ons weergee. Die Skrifte alleenlik bevat die hele waarheid oor enige onderwerp “onder die son”, en ons word gewaarsku om nie buite hierdie goddelike raamwerk te gaan as ons na die waarheid soek nie.
Psa 119:160 Die hele inhoud van u woord is waarheid, en al u regverdige verordeninge is tot in ewigheid.
Joh 17:17 Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid.
1Kor 4:6 Hierdie dinge, broeders, het ek [Paulus] op myself en Apollos toegepas om julle ontwil, dat julle aan ons kan leer om nie te dink bo wat geskrywe is nie, sodat julle nie die een ter wille van die ander opgeblase sou wees teen ‘n derde nie.
Ware geestelike of goddelike insigte kom van die Vader deur Sy Woord, Jesus Christus [TWEE getuies]:
Mat 16:15-17 Hy [Jesus] sê vir hulle: Maar julle, wie sê julle is Ek? 16 En Simon Petrus antwoord en sê: U is die Christus, die Seun van die lewende God. 17 Toe antwoord Jesus en sê vir hom: Salig is jy, Simon Bar-Jona, want vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie, maar my Vader wat in die hemele is [het dit…die waarheid…aan jou geopenbaar].
2Kor 13:1 Dit is die derde keer dat ek na julle toe kom. In die mond van twee of drie getuies sal elke woord vasstaan.
So wat sê die Woord oor die geestelike betekenis wat daar in getalle opgesluit is?
‘n KORT OPSOMMING
Soos in deel 1, deel 2, deel 3 , en in deel 4 genoem, is syfers onskeibaar geheg aan mekaar, veral in die Skrifte en in hul geestelike betekenis. Die getal ‘een’ is die begin van alles en deur die ‘Een’ God word eenheid vooropgestel.
1Kor 8:6 tog is daar vir ons maar een God, die Vader uit wie alles is, en ons tot Hom, en een Here Jesus Christus deur wie alles is, en ons deur Hom.
Die getal ‘twee’ getuig saam binne hierdie eenheid, en omdat die twee saamstem kom ons as mens in kontak met die “een gees” – die “gees van waarheid”. Jesus stem saam met die Vader en so is hulle “een gees” en hulle kom woon by ons:
Joh 10:30 Ek en die Vader is een.
Efes 2:18 want deur Hom [Jesus] het ons albei die toegang deur een Gees tot die Vader.
Joh 14:17-18 die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees. 18 Ek sal julle nie as wese agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe.
Joh 14:22-24 Judas, nie die Iskáriot nie, sê vir Hom: Here, hoe is dit dat U aan ons U sal openbaar en nie aan die wêreld nie? 23 Jesus antwoord en sê vir hom: As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak. 24 Hy wat My nie liefhet nie, bewaar my woorde nie; en die woord wat julle hoor, is nie myne nie, maar is van die Vader wat My gestuur het.
Joh 3:31-34 Hy wat van bo kom, is bo almal; hy wat uit die aarde is, is uit die aarde en praat uit die aarde. Hy wat uit die hemel kom, is bo almal. 32 En wat Hy gesien en gehoor het, dit getuig Hy; en niemand neem sy getuienis aan nie. 33 Wie sy getuienis aangeneem het, het sy seël daarop gesit dat God waaragtig is. 34 Want Hy wat God gestuur het, spreek die woorde van God; want God gee Hom die Gees nie met mate nie.
Joh 6:63 Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.
Hierdie woning word gebou deur ‘n proses (die getal ‘drie’) want om in God se geestelike beeld gevorm te word, gebeur nie oombliklik nie. Hierdie aardse skepping leer ons om te besef dat daar ‘n tydgebonde proses vasgestel is en dat ons net deur “baie verdrukkinge” in God se geestelike tempel kan ingaan:
Hand 14:22 en die siele van die dissipels versterk en hulle vermaan om in die geloof te bly deur te sê: Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan.
Open 15:8 En die tempel het vol rook geword uit die heerlikheid van God en uit sy krag, en niemand kon ingaan in die tempel voordat die sewe plae van die sewe engele voleindig was nie.
Die getal ‘vier’ wys aan ons hoe God “almal in Adam” sal neem deur Sy saligheidsproses – almal in hule eie orde:
1Kor 15:22-24 Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word; maar elkeen in sy eie orde:
(1) as eersteling Christus,
(2) daarna die wat aan Christus behoort by sy koms.
(3) Daarna kom die einde…[die res van die mensdom…”sodat God alles in almal kan wees” – Kor 15 vers 28]
God se saligheidsplan sluit inderdaad almal in. Die getal ‘vier’ bind dus alles saam tot ‘n GEHEEL. Alle mense op aarde sal deur die proses geneem word om een met God in gees te wees. Hier is een pragtige beskrywing van hoe die getal ‘vier’ die geheel van God se plan met alle mense uitbeeld.
Hand 10:9-16 En die volgende dag, terwyl hulle op pad was en naby die stad kom, het Petrus omtrent die sesde uur [die getal ‘ses’ dui die getal van die mens aan (Gen 1:26-31; Open 13:18)- ons sal later in detail ook hieroor gesels] op die dak geklim om te bid; 10 en hy het baie honger geword en wou eet; en terwyl hulle besig was om klaar te maak, het daar ‘n verrukking van sinne oor hom gekom: 11 hy sien die hemel geopend en ‘n voorwerp soos ‘n groot laken na hom afdaal, wat aan die vier hoeke vasgebind is en op die aarde neergelaat word. 12 Daarin was al die viervoetige diere van die aarde en die wilde en kruipende diere en die voëls van die hemel. 13 Toe kom daar ‘n stem na hom: Staan op, Petrus, slag en eet! 14 En Petrus sê: Nooit nie, Here, want ek het nooit iets onheiligs of onreins geëet nie. 15 En weer het die stem vir die tweede keer na hom gekom: Wat God rein gemaak het, mag jy nie onheilig ag nie. 16 En dit het drie maal gebeur, en die voorwerp is weer in die hemel opgeneem.
DIE GETAL ‘VYF’ (5)
Die getal ‘vyf’ gee vir ons ‘n geestelike aanduiding hoe ons die saligheid deelagtig sal word. Hier is ‘n pragtige beskrywing hoe ons die geestelike beeld van God deelagtig word:
Rom 12:1-3 Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens. 2 En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed [denke], sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is. 3 Want deur die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen wat onder julle is, dat hy nie van homself meer moet dink as wat ‘n mens behoort te dink nie; maar dat hy daaraan moet dink om besadig te wees na die maat van geloof soos God dit aan elkeen toebedeel het.
Daar het ons ‘n paar sleutelwoorde om die getal ‘vyf’ aan sy geestelike betekenis te koppel.
- offers
- genade
- geloof
God het vyf offers in die ou verbond daargestel as tipes van hoe ons sal kan verstaan hoe ons deur die proses geneem word om God se denke en Sy geestelike beeld deelagtig te word (ons sal later ‘n kort reeks ook doen oor hierdie offers, soos God wil):
- die brandoffer (lees veral Levitikus 1)
- die spysoffer (lees veral Levitikus 2)
- die dankoffer (lees veral Levitikus 3)
- die sondoffer (lees veral Levitikus 4 en 5)
- die skuldoffer (lees veral Levitikus 5 to 7)
Dit is slegs deur “welgevallige” offers dat ons die tempel van God kan binnegaan, en Christus in ons help ons om die “welgevallige” offers aan die Vader te kan bring:
Gal 2:20 Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.
Gal 4:13 Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.
Die getal ‘vyf’ bring hierdie waarheid na ons dat God die lewe van Christus aan skenk “deur die geloof” sodat ons slegs in die werke van die Seun van God in ons kan vertrou tot saligheid!
Efes 2:8-10 Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; 9 nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie. 10 Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.
Ons word “uit genade…deur die geloof” gered van ons vlees en sy houvas op ons sodat ons “goeie werke”, die vrug van die gees, kan voortbring:
Tit 2:11-12 Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn 12 en leer [Grieks: “paideuō”] ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe,
Gal 5:22 Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.
Kyk maar weer na Paulus so woorde aan Titus oor wat God se genade regtig beteken en waarom dit so misverstaan word, veral in die Christelike wêreld. God se genade het wel aan “alle mense” verskyn, maar baie min kan hierdie genade regtig verstaan en/of aanvaar. God se reddened genade het ‘n paar eienskappe wat in daardie verse voorkom. God se genade help ons om…
- goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën;
- ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe.
Hoe doen God dit? Hy LEER ons dit. Die woord “leer” in Titus 2 vers 11 en die woord “tugtig” in Hebreërs 12 vers 6 kom van dieselfde Griekse woord “paideuō”:
Heb 12:6 want die Here tugtig [Grieks: “paideuō”] hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem.
Dit is die enigste manier hoe ons leer om reg te lewe!! Ons leer om aan God gehoorsaam te wees deur TUGTIGING alleenlik. Selfs Jesus in Sy tyd in vlees moes deur dieselfde proses van lyding (tugtiging) gaan om NOU ons te help om te sien hoe God aan ons Sy genade skenk om ware kinders van God te word:
Heb 5:7-9 Hy [Jesus] wat in die dae van sy vlees gebede en smekinge met sterk geroep en trane aan Hóm geoffer het wat Hom uit die dood kon red, en ook verhoor is uit die angs— 8 Hy [Jesus], al was Hy die Seun, het gehoorsaamheid geleer uit wat Hy gely het; 9 en nadat Hy volmaak is, het Hy vir almal wat Hom gehoorsaam is, ‘n bewerker van ewige saligheid geword.
Deur offers word ons gehoorsaam aan God en word ons in Sy tempel (Sy kerk) opgeneem. Daar is geen ander manier nie. Almal gaan deur probleme, maar dit is hoe ons reageer op die probleme wat ons instaat stel om ons geloof te laat groei om sodoende vir God te BEHAAG en te EER:
Heb 11:6 En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek.
1Pe 1:6-9 Daarin verheug julle jul, al word julle nou—as dit nodig is—’n kort tydjie bedroef onder allerhande beproewinge, 7 sodat die beproefdheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus; 8 vir wie julle, al het julle Hom nie gesien nie, tog liefhet; in wie julle, al sien julle Hom nou nie, tog glo en julle verbly met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap, 9 en die einddoel van julle geloof, die saligheid van julle siele, verkry.
Soos met alle simbole in die Skrifte, kan ook die getal ‘vyf’ beide positief en negatief aangewend word – “die reddende genade van God het aan alle mense verskyn” maar almal hanteer dit nie dieselfde nie:
Mat 25:1-2 Dan sal die koninkryk van die hemele wees soos tien maagde wat hulle lampe geneem en uitgegaan het om die bruidegom te ontmoet. 2 En vyf van hulle was verstandig en vyf dwaas.
Die verstandiges sal weet dat die koninkryk van God net IN ons kan kom as ons ons “olie in [ons] kanne saam met [ons] lampe” neem – dit verg ‘n lydsame proses om soos God in gees te word:
Mat 25:3-5 En toe die wat dwaas was, hul lampe neem, het hulle geen olie met hulle saamgeneem nie. 4 Maar die verstandiges het olie in hulle kanne saam met hul lampe geneem. 5 En terwyl die bruidegom talm om te kom, het hulle almal vaak geword en aan die slaap geraak.
Ons sien hoe die getal ‘vyf’ baie in die ou tempel onder die ou verbond ingespan was om hierdie waarheid aan ons verstaanbaar te maak.
Die implemente van die tempel kom in twee groepe van vyf:
2Kro 4:6-8 En hy het tien waskomme gemaak en vyf regs en vyf links gesit om in te was; die gereedskap van die brandoffer moes hulle daarin afspoel, maar die see was vir die priesters om daarin te was. 7 En hy het die goue kandelaars gemaak, tien, volgens die voorskrif daarvan, en dit in die tempel gesit, vyf regs en vyf links. 8 Hy het ook tien tafels gemaak en hulle in die tempel gesit, vyf regs en vyf links; en hy het honderd goue komme gemaak.
In die heilige reukwerk was vyf dele, wat simbolies is van ons gebede om ons afhanklikheid van God duidelik te maak:
Eks 30:34-35 Verder het die HERE vir Moses gesê: Neem vir jou speserye: storaksgom en naeltjies en gálbanum—speserye en ook suiwer wierook; alles in gelyke hoeveelhede, 35 en maak daar reukwerk van, ‘n mengsel soos die salfmenger dit maak, met sout gemeng, suiwer, heilig.
Open 8:3-4 En ‘n ander engel het gekom en met ‘n goue wierookbak by die altaar gaan staan, en baie reukwerk is aan hom gegee, om dit met die gebede van al die heiliges op die goue altaar voor die troon te lê; 4 en die rook van die reukwerk het met die gebede van die heiliges uit die hand van die engel opgegaan voor God.
Die heilige olie was vyf dele wat simbolies is van ons as heilige priesters om “geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus”:
Eks 30:23-25 En jy, neem vir jou van die beste speserye: vyf honderd sikkels fyn mirre en die helfte soveel geurige kaneel, twee honderd en vyftig sikkels, en twee honderd en vyftig sikkels geurige kalmoes 24 en vyf honderd sikkels kassie, volgens die sikkel van die heiligdom, en ‘n hin olyfolie; 25 en maak daarvan heilige salfolie, ‘n salfmengsel soos ‘n salfmenger dit maak; heilige salfolie moet dit wees.
1Pe 2:5 en laat julle ook soos lewende stene opbou, tot ‘n geestelike huis, ‘n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus.
1Pe 2:9 Maar julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig.
Die Engelse weergawe geskryf deur Mike Vinson van die geestelike betekenis van hierdie getal, word by die volgende skakel gevind:
Terug pieng: Jesus se wederkoms (met spesiale verwysings na gedeeltes uit Mattheus 24 en 25, en Lukas 17 en 21): Deel 8 – Die tien maagde | 4windkoinonia
Terug pieng: Jesus se wederkoms (met spesiale verwysings na gedeeltes uit Mattheus 24 en 25, en Lukas 17 en 21) Deel 9: Die talente | 4windkoinonia