Die geestelike betekenis van syfergetalle (8)

INLEIDING EN KORT OPSOMMING

Die Skrifte leer dat God die fisiese wêreld en alles daarin geskep het met talle doelwitte in gedagte. Onder andere, is die fisiese skepping nie daar om ons vir ewig instand te hou nie, maar dien inderdaad as ‘n eerste fase in die proses om soos God “te word”:

Gen 1:26 En God het gesê: Laat Ons mense maak [hierdie werkwoord is vanaf die oorspronklike Hebreeuse woord “âśâh” vertaal en dit is in die  Hebreeus in die onvoltooide vorm geskryf – dit druk dus ‘n handeling uit wat onvoltooid is!!!] na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip.

God het dus die fisiese skepping voltooi in ses dae, maar Hy en Sy Seun is nog steeds besig om die mens te “maak” om in gees te word:

Eks 20:11 Want in ses dae het die HERE die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, en op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het die HERE die sabbatdag geseën en dit geheilig.

Joh 5:17 En Jesus het hulle geantwoord: My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook.

Hierdie proses om alles in Christus in gees te skep is ‘n verborgenheid wat nie aan almal openbaar is nie en daarom verwerp hulle dit:

Efes 1:9-10 deurdat Hy aan ons die verborgenheid van sy wil bekend gemaak het na sy welbehae wat Hy in Homself voorgeneem het, 10 om die volheid van die tye te reël, met die doel om alle dinge wat in die hemele sowel as wat op die aarde is, onder een hoof in Christus te verenig—

Die fisiese skepping is daar gestel om ons te help om die “geestelike dinge van God” te kan leer en dit uiteindelik te verstaan – alles kom nou na ons “deur die geloof”:

Heb 11:3 Deur die geloof verstaan ons dat die wêreld deur die woord van God toeberei is, sodat die dinge wat gesien word, nie ontstaan het uit sienlike dinge nie.

Rom 1:20 Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie.

Een van die natuurlike dinge wat God gebruik om hierdie proses aan ons te verduidelik en verstaanbaar te maak, is syfergetalle. Getalle fassineer die mens, want daar is ‘n nuuskierigheid in die mens om dieper of hoër betekenisse te vind vir dinge in en rondom hom. God het wel groot geestelike betekenis vir ons opgesluit in getalle. Baie mense het hul eie betekenis gekoppel aan getalle deur die wysheid van die wêreld te gebruik. Maar elke kind van God weet dat slegs die Skrifte, soos vervat in die Bybel, die ware betekenis van alles, ook van getalle, vir ons weergee. Die Skrifte alleenlik bevat die hele waarheid oor enige onderwerp “onder die son”, en ons word gewaarsku om nie buite hierdie goddelike raamwerk te gaan as ons na die waarheid soek nie.

Psa 119:160 Die hele inhoud van u woord is waarheid, en al u regverdige verordeninge is tot in ewigheid.

Joh 17:17 Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid.

1Kor 4:6 Hierdie dinge, broeders, het ek [Paulus] op myself en Apollos toegepas om julle ontwil, dat julle aan ons kan leer om nie te dink bo wat geskrywe is nie, sodat julle nie die een ter wille van die ander opgeblase sou wees teen ‘n derde nie.

Soos in deel 1, deel 2, deel 3 , deel 4, deel 5, deel 6, en in deel 7 genoem, is syfers onskeibaar geheg aan mekaar, veral in die Skrifte en in hul geestelike betekenis.

Die getal ‘een’ is die begin van alles en deur die ‘Een’ God word eenheid vooropgestel.

1Kor 8:6 tog is daar vir ons maar een God, die Vader uit wie alles is, en ons tot Hom, en een Here Jesus Christus deur wie alles is, en ons deur Hom.

Die getal ‘twee’ getuig saam binne hierdie eenheid, en omdat die twee saamstem kom ons as mens in kontak met die “een gees” – die “gees van waarheid”. Jesus stem saam met die Vader en so is hulle “een gees” en hulle kom woon by ons:

Joh 10:30 Ek en die Vader is een.

Joh 3:31-34 Hy wat van bo kom, is bo almal; hy wat uit die aarde is, is uit die aarde en praat uit die aarde. Hy wat uit die hemel kom, is bo almal. 32 En wat Hy gesien en gehoor het, dit getuig Hy; en niemand neem sy getuienis aan nie. 33 Wie sy getuienis aangeneem het, het sy seël daarop gesit dat God waaragtig is. 34 Want Hy wat God gestuur het, spreek die woorde van God; want God gee Hom die Gees nie met mate nie.

Joh 6:63 Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.

Hierdie woning word gebou deur ‘n proses (die getal ‘drie’) want om in God se geestelike beeld gevorm te word, gebeur nie oombliklik nie. Hierdie aardse skepping leer ons om te besef dat daar ‘n tydgebonde proses vasgestel is en dat ons net deur “baie verdrukkinge” en God se tugtiging geestelike seuns van God gemaak word om in God se geestelike tempel kan ingaan:

Hand 14:22 en die siele van die dissipels versterk en hulle vermaan om in die geloof te bly deur te sê: Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan.

Open 15:8 En die tempel het vol rook geword uit die heerlikheid van God en uit sy krag, en niemand kon ingaan in die tempel voordat die sewe plae van die sewe engele voleindig was nie.

Heb 12:6 want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem.

Die getal ‘vier’ bring ons by die omvattende geheel en dit help ons om te verstaan hoe God “almal in Adam” sal neem deur Sy saligheidsproses. God se saligheidsplan sluit inderdaad almal in. Hier is een pragtige beskrywing van hoe die getal ‘vier’ die geheel van God se plan met alle mense uitbeeld:

Hand 10:9-16 En die volgende dag, terwyl hulle op pad was en naby die stad kom, het Petrus omtrent die sesde uur op die dak geklim om te bid; 10 en hy het baie honger geword en wou eet; en terwyl hulle besig was om klaar te maak, het daar ‘n verrukking van sinne oor hom gekom: 11 hy sien die hemel geopend en ‘n voorwerp soos ‘n groot laken na hom afdaal, wat aan die vier hoeke vasgebind is en op die aarde neergelaat word. 12 Daarin was al die viervoetige diere van die aarde en die wilde en kruipende diere en die voëls van die hemel. 13 Toe kom daar ‘n stem na hom: Staan op, Petrus, slag en eet! 14 En Petrus sê: Nooit nie, Here, want ek het nooit iets onheiligs of onreins geëet nie. 15 En weer het die stem vir die tweede keer na hom gekom: Wat God rein gemaak het, mag jy nie onheilig ag nie. 16 En dit het drie maal gebeur, en die voorwerp is weer in die hemel opgeneem.

1Kor 15:22-24 Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word; maar elkeen in sy eie orde: (1) as eersteling Christus, (2) daarna die wat aan Christus behoort by sy koms. (3) Daarna kom die einde…[die res van die mensdom…”sodat God alles in almal kan wees” – Kor 15 vers 28]

Die getal ‘vyf’ sluit weereens baie intiem aan by die vorige getalle. Die getal ‘vyf’ gee vir ons ‘n geestelike aanduiding dat saligheid slegs deur Christus kom en ons word hierdie saligheid deelagtig deur ons eie aardse lewe op te offer. Dit is slegs moontlik om dit te doen as Christus IN ons lewe:

Rom 12:1-3 Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens. 2 En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed [denke], sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is. 3 Want deur die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen wat onder julle is, dat hy nie van homself meer moet dink as wat ‘n mens behoort te dink nie; maar dat hy daaraan moet dink om besadig te wees na die maat van geloof soos God dit aan elkeen toebedeel het.

Gal 2:20 Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.

Gal 4:13 Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.

Efes 2:8-10 Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; 9 nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie. 10 Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.

Die getal ‘ses’ se geestelike betekenis sluit weereens aan by die vorige deurdat ons net onsself en God se werke in ons reg kan sien en waardeer deur die openbaring van Christus IN ons.

Heb 2:6-8 maar iemand het êrens getuig en gesê: Wat is die mens, dat U aan hom dink, of die mensekind, dat U hom besoek? 7 U het hom ‘n weinig minder as die engele gemaak; met heerlikheid en eer het U hom gekroon en hom oor die werke van u hande aangestel. 8 Alle dinge het U onder sy voete gestel. Want in die onderwerping van alle dinge aan hom het Hy niks uitgesonder wat aan hom nie onderworpe is nie. Maar nou sien ons nog nie dat alle dinge aan hom onderwerp is nie.

Open 1:1-3 Die openbaring van Jesus Christus wat God Hom gegee het om aan sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur, en wat Hy deur die sending van sy engel aan sy dienskneg Johannes te kenne gegee het, 2 wat getuig het van die woord van God en die getuienis van Jesus Christus alles wat hy gesien het. 3 Salig is hy wat die woorde van die profesie lees, en die wat dit hoor en bewaar wat daarin geskrywe is, want die tyd is naby.

Die eerste Adam was op dag ses gemaak, saam met die ander aardse diere want ons is aanvanklik aards – die getal ‘ses’ is dus die “getal” van die mens in sy aardse en sondige toestand, voordat ons in die beeld van Christus gemaak word:

Open 13:18 Hier kom die wysheid te pas. Wie die verstand het, laat hom die getal van die dier bereken, want dit is die getal van ‘n mens; en sy getal is ses honderd ses en sestig.

1Kor 15:46-49 Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike. 47 Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel. 48 Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. 49 En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra.

Die getal ‘sewe’ se geestelike betekenis word gevind in die dag nadat die fisiese skepping in ses dae voortgebring was:

Gen 2:1-3 So is dan voltooi die hemel en die aarde met hulle ganse leërmag. 2 En God het op die sewende dag sy werk voltooi wat Hy gemaak het, en op die sewende dag gerus van al sy werk wat Hy gemaak het. 3 En God het die sewende dag geseën en dit geheilig, omdat Hy daarop gerus het van al sy werk wat God geskape het deur dit te maak.

Die getal ‘sewe’ het dus te make met die konsep ‘voltooiing’. God neem ons dus deur ‘n proses om die ‘voltooiing” eers op die sewende dag, die dag van rus, te beleef. Was God moeg en moes Hy rus? Allermins. Die idee van “rus” is geskryf vir ons onthalwe, want ons vind eers op die tiperende “sewende dag” uit waaroor alles gaan en waarmee God besig is. Die sewende dag help ons dus om ook God se werke IN ONS eerstens te verstaan, en dan ook in ander mense.

DIE GETAL ‘AGT’

As die hele proses voltooi word op die sewende dag, dan is dit duidelik dat die getal ‘agt’ ‘n nuwe ‘week’ inlei. Die agtste dag word dus geestelike gesien as die begin van ‘n “nuwe skepping”. Die vleeslike skepping is dan agter ons, ons vlees hiet en gebied ons nie soos in die verlede nie:

Rom 6:11-14 So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here. 12 Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie. 13 En moenie julle lede stel tot beskikking van die sonde as werktuie van ongeregtigheid nie, maar stel julleself tot beskikking van God as mense wat uit die dode lewend geword het, en julle lede as werktuie van geregtigheid in die diens van God. 14 Want die sonde sal oor julle nie heers nie; want julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade.

Omdat ons nou begin om deur Jesus se geeslike lewe in ons te leer hoe om ons vlees te domineer, sterf ons op die manier ook vir die houvas van die vlees in ons (1Kor 15:31; Gal 2:20). Die nuwe lewe van Christus word dus stelselmatig in ons gevestig. Hierdie aflegging van vlees word getipeer in die ou verbond deur die fisiese besnydenis:

Lev 12:2-3 Spreek met die kinders van Israel en sê: As ‘n vrou swanger word en ‘n seun baar, sal sy sewe dae lank onrein wees; soos in die dae van die onreinheid as sy onwel is, sal sy onrein wees. 3 En op die agtste dag moet hy aan die vlees van sy voorhuid besny word.

Daar is dit baie duidelik vir die wat oë gegee is om te sien. Die vleeslike skepping is dit wat onrein is in vergelyking met dit wat gees (van God) is. Daarom was die vlees nog nooit en sal ook nooit deel wees van die geestelike koninkryk van God nie!

Joh 3:1-6 En daar was ‘n man uit die Fariseërs met die naam van Nikodémus, ‘n owerste van die Jode. 2 Hy het in die nag na Jesus gekom en vir Hom gesê: Rabbi, ons weet dat U ‘n leraar is wat van God gekom het, want niemand kan hierdie tekens doen wat U doen as God nie met hom is nie. 3 Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie. 4 Nikodémus sê vir Hom: Hoe kan ‘n mens as hy oud is, gebore word? Hy kan tog nie ‘n tweede keer in die skoot van sy moeder ingaan en gebore word nie? 5 Jesus antwoord: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie. 6 Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees.

Rom 8:5-8 Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge. 6 Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede, 7 omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie. 8 En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie.

1Kor 15:50 Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.

Maar om in die vlees besny te word deur ‘n uiterlike besnydenis op die agtste dag, is bloot ‘n tipe of ‘n skaduwee van die werklike geestelike besnyding!

Rom 2:28-29 Want nie hy is ‘n Jood wat dit in die openbaar is nie, en nie dít is besnydenis wat dit in die openbaar in die vlees is nie; 29 maar hy is ‘n Jood wat dit in die verborgene is, en besnydenis is dié van die hart, in die gees, nie na die letter nie. Sy lof is nie uit mense nie, maar uit God.

Fil 3:3 Want óns is die besnydenis, ons wat God in die Gees dien en in Christus Jesus roem en nie op die vlees vertrou nie;

Vleeslike dinge het geen werklike krag nie (Joh 6:63)! Dit is egter die ware innerlike besnydenis van die hart wat die ware nuwe mens in Christus na vore bring!!!

Gal 6:15 Want in Christus Jesus het nòg die besnydenis nòg die onbesnedenheid enige krag, maar ‘n nuwe skepsel.

Die nuwe skepsel in Christus sien dinge heel anders as wat die wêreld dit sien:

2Kor 5:14-17 Want die liefde van Christus dring ons, 15 omdat ons van oordeel is, dat as een vir almal gesterf het, hulle dan almal gesterf het; en Hy het vir almal gesterwe, sodat die wat lewe, nie meer vir hulself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en opgewek is. 16 Ons ken dus van nou af niemand meer na die vlees nie; en al het ons ook Christus na die vlees geken, nou ken ons Hom tóg nie meer so nie. 17 Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.

Die eon van die vlees kom tot ‘n einde, en ons hele begeerte is om God in gees en waarheid te dien. Ons wil so graag aan almal God se welwillendheid gee, veral aan hulle wat saam met ons nou die “huisgenote van die geloof” is:

Gal 6:9-10 En laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie. 10 Laat ons dan, terwyl ons geleentheid het, aan almal goed doen, maar die meeste aan die huisgenote van die geloof.

Die ou mens in ons, die eerste Adam, is “die seun van die verderf” en hy was so deur God gemaak om na die verderf te gaan. Maar uit hierdie verderf van ons ou mens verrys die nuwe mens – dit is wat die getal ‘agt’ vir ons geestelik beteken (1Kor 5:7;  Gal 6:15; Efes 2:15; Efes  4:24; Kol 3:10; Heb 10:20; Heb 12:24; 2Pe 3:13; 1Jn 2:8; Open 2:17; Open 3:12):

Open 17:11 En die dier wat was en nie is nie, is self ook die agtste, en hy behoort by die sewe en gaan na die verderf.

2Th 2:1-8 Maar ons vra julle, broeders, met die oog op die wederkoms van onse Here Jesus Christus en ons vereniging met Hom, 2 om nie gou julle verstand te verloor of verskrik te word nie—deur gees of deur woord of deur brief wat van ons afkomstig sou wees—asof die dag van Christus al daar is. 3 Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf 4 die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is. 5 Onthou julle nie dat ek dit altyd vir julle gesê het toe ek nog by julle was nie? 6 En nou, julle weet wat hom teëhou, sodat hy op sy tyd geopenbaar kan word. 7 Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is; 8 en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak.

Die Engelse weergawe geskryf deur Mike Vinson van die geestelike betekenis van hierdie getal, word by die volgende skakel gevind:

http://www.iswasandwillbe.com/numbers_eight/

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.

10 Responses to Die geestelike betekenis van syfergetalle (8)

  1. Terug pieng: Die geestelike betekenis van syfergetalle (14) | "Is en Wat Was en Wat Kom" – die onbekende karakter van Jesus Christus en Sy Woord

  2. Terug pieng: Ons aardse koningskap is TYDELIK (Deel 19) | "Is en Wat Was en Wat Kom" – die onbekende karakter van Jesus Christus en Sy Woord

  3. Terug pieng: Ons aardse koningskap is TYDELIK (Deel 34) | "Is en Wat Was en Wat Kom" – die onbekende karakter van Jesus Christus en Sy Woord

  4. Terug pieng: Die geestelike betekenis van syfergetalle: Die doel van veelvoude / veelvuldigheid van getalle in die Skrifte – Die getal ’40’ | "Is en Wat Was en Wat Kom" – die onbekende karakter van Jesus Christus en Sy Woord

  5. Terug pieng: Jesus se wederkoms (met spesiale verwysings na gedeeltes uit Mattheus 24 en 25, en Lukas 17 en 21): Deel 6 – Die onvoorspelbare dinge van God | 4windkoinonia

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s