INLEIDING EN KORT OPSOMMING
Die Skrifte leer dat God die fisiese wêreld en alles daarin geskep het met talle doelwitte in gedagte. Onder andere, is die fisiese skepping nie daar om ons vir ewig instand te hou nie, maar dien inderdaad as ‘n eerste fase in die proses om soos God “te word”:
Gen 1:26 En God het gesê: Laat Ons mense maak [hierdie werkwoord is vanaf die oorspronklike Hebreeuse woord “âśâh” vertaal en dit is in die Hebreeus in die onvoltooide vorm geskryf – dit druk dus ‘n handeling uit wat onvoltooid is!!!] na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip.
God het dus die fisiese skepping voltooi in ses dae, maar Hy en Sy Seun is nog steeds besig om die mens te “maak” om in gees te word:
Eks 20:11 Want in ses dae het die HERE die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, en op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het die HERE die sabbatdag geseën en dit geheilig.
Joh 5:17 En Jesus het hulle geantwoord: My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook.
Hierdie proses om alles in Christus in gees te skep is ‘n verborgenheid wat nie aan almal openbaar is nie en daarom verwerp hulle dit:
Efes 1:9-10 deurdat Hy aan ons die verborgenheid van sy wil bekend gemaak het na sy welbehae wat Hy in Homself voorgeneem het, 10 om die volheid van die tye te reël, met die doel om alle dinge wat in die hemele sowel as wat op die aarde is, onder een hoof in Christus te verenig—
Die fisiese skepping is daar gestel om ons te help om die “geestelike dinge van God” te kan leer en dit uiteindelik te verstaan – alles kom nou na ons “deur die geloof”:
Heb 11:3 Deur die geloof verstaan ons dat die wêreld deur die woord van God toeberei is, sodat die dinge wat gesien word, nie ontstaan het uit sienlike dinge nie.
Rom 1:20 Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie.
Een van die natuurlike dinge wat God gebruik om hierdie proses aan ons te verduidelik en verstaanbaar te maak, is syfergetalle. Getalle fassineer die mens, want daar is ‘n nuuskierigheid in die mens om dieper of hoër betekenisse te vind vir dinge in en rondom hom. God het wel groot geestelike betekenis vir ons opgesluit in getalle. Baie mense het hul eie betekenis gekoppel aan getalle deur die wysheid van die wêreld te gebruik. Maar elke kind van God weet dat slegs die Skrifte, soos vervat in die Bybel, die ware betekenis van alles, ook van getalle, vir ons weergee. Die Skrifte alleenlik bevat die hele waarheid oor enige onderwerp “onder die son”, en ons word gewaarsku om nie buite hierdie goddelike raamwerk te gaan as ons na die waarheid soek nie.
Psa 119:160 Die hele inhoud van u woord is waarheid, en al u regverdige verordeninge is tot in ewigheid.
Joh 17:17 Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid.
1Kor 4:6 Hierdie dinge, broeders, het ek [Paulus] op myself en Apollos toegepas om julle ontwil, dat julle aan ons kan leer om nie te dink bo wat geskrywe is nie, sodat julle nie die een ter wille van die ander opgeblase sou wees teen ‘n derde nie.
Soos in vorige artikels in hierdie reeks oor getalle genoem (deel 1, deel 2, deel 3 , deel 4, deel 5, deel 6, deel 7, deel 8, en deel 9), is syfers onskeibaar geheg aan mekaar, veral in die Skrifte en in hul geestelike betekenis.
Die getal ‘een’ is die begin van alles en deur die ‘Een’ God word eenheid vooropgestel.
1Kor 8:6 tog is daar vir ons maar een God, die Vader uit wie alles is, en ons tot Hom, en een Here Jesus Christus deur wie alles is, en ons deur Hom.
Die getal ‘twee’ getuig saam binne hierdie eenheid, en omdat die twee saamstem kom ons as mens in kontak met die “een gees” – die “gees van waarheid”. Jesus stem saam met die Vader en so is hulle “een gees” en hulle kom woon by ons deur die Woord:
Joh 10:30 Ek en die Vader is een [in gees / in Woord].
Joh 3:31-34 Hy wat van bo kom, is bo almal; hy wat uit die aarde is, is uit die aarde en praat uit die aarde. Hy wat uit die hemel kom, is bo almal. 32 En wat Hy gesien en gehoor het, dit getuig Hy; en niemand neem sy getuienis aan nie. 33 Wie sy getuienis aangeneem het, het sy seël daarop gesit dat God waaragtig is. 34 Want Hy wat God gestuur het, spreek die woorde van God; want God gee Hom die Gees nie met mate nie.
Joh 6:63 Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.
Hierdie woning word gebou deur ‘n proses (die getal ‘drie’) want om in God se geestelike beeld gevorm te word, gebeur nie oombliklik nie. Ons is eers op “die derde dag…klaar” wanneer ons finaal ontslae is van alles wat tydelik is en wanneer ons verlos is van die vlees:
Mat 16:21 Van toe af het Jesus begin om sy dissipels te toon dat Hy na Jerusalem moes gaan en veel van die ouderlinge en owerpriesters en skrifgeleerdes moes ly, en gedood en op die derde dag opgewek word.
Luk 13:31-32 En op dieselfde dag het sommige van die Fariseërs na Hom gekom en vir Hom gesê: Gaan weg en vertrek hiervandaan, want Herodes wil U om die lewe bring. 32 En Hy het vir hulle gesê: Gaan vertel daardie jakkals: Kyk, Ek dryf duiwels uit en maak gesond, vandag en môre, en op die derde dag is Ek klaar [Grieks: “teleioō” = voltooi / volbring / perfek].
Hierdie aardse skepping leer ons om te besef dat daar ‘n tydgebonde proses vasgestel is en dat ons net deur “baie verdrukkinge” en God se tugtiging geestelike seuns van God gemaak word om in God se geestelike tempel kan ingaan:
Hand 14:22 en die siele van die dissipels versterk en hulle vermaan om in die geloof te bly deur te sê: Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan.
Open 15:8 En die tempel het vol rook geword uit die heerlikheid van God en uit sy krag, en niemand kon ingaan in die tempel voordat die sewe plae van die sewe engele voleindig was nie.
Heb 12:6 want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem.
Die getal ‘vier’ bring ons by die omvattende geheel en dit help ons om te verstaan hoe God “almal in Adam” sal neem deur Sy saligheidsproses. God se saligheidsplan sluit inderdaad almal in. Hier is een pragtige beskrywing van hoe die getal ‘vier’ die geheel van God se plan met alle mense uitbeeld:
Hand 10:9-16 En die volgende dag, terwyl hulle op pad was en naby die stad kom, het Petrus omtrent die sesde uur op die dak geklim om te bid; 10 en hy het baie honger geword en wou eet; en terwyl hulle besig was om klaar te maak, het daar ‘n verrukking van sinne oor hom gekom: 11 hy sien die hemel geopend en ‘n voorwerp soos ‘n groot laken na hom afdaal, wat aan die vier hoeke vasgebind is en op die aarde neergelaat word. 12 Daarin was al die viervoetige diere van die aarde en die wilde en kruipende diere en die voëls van die hemel. 13 Toe kom daar ‘n stem na hom: Staan op, Petrus, slag en eet! 14 En Petrus sê: Nooit nie, Here, want ek het nooit iets onheiligs of onreins geëet nie. 15 En weer het die stem vir die tweede keer na hom gekom: Wat God rein gemaak het, mag jy nie onheilig ag nie. 16 En dit het drie maal gebeur, en die voorwerp is weer in die hemel opgeneem.
1Kor 15:22-24 Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word; maar elkeen in sy eie orde: (1) as eersteling Christus, (2) daarna die wat aan Christus behoort by sy koms. (3) Daarna kom die einde…[die res van die mensdom…”sodat God alles in almal kan wees” – Kor 15 vers 28]
Die getal ‘vyf’ sluit weereens baie intiem aan by die vorige getalle. Die getal ‘vyf’ gee vir ons ‘n geestelike aanduiding dat saligheid slegs deur Christus kom en ons word hierdie saligheid deelagtig deur ons eie aardse lewe op te offer. Dit is slegs moontlik om dit te doen as Christus IN ons lewe:
Rom 12:1-3 Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens. 2 En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed [denke], sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is. 3 Want deur die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen wat onder julle is, dat hy nie van homself meer moet dink as wat ‘n mens behoort te dink nie; maar dat hy daaraan moet dink om besadig te wees na die maat van geloof soos God dit aan elkeen toebedeel het.
Gal 2:20 Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.
Gal 4:13 Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.
Efes 2:8-10 Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; 9 nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie. 10 Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.
Die getal ‘ses’ se geestelike betekenis sluit weereens aan by die vorige deurdat ons net onsself en God se werke in ons reg kan sien en waardeer deur die openbaring van Christus IN ons.
Heb 2:6-8 maar iemand het êrens getuig en gesê: Wat is die mens, dat U aan hom dink, of die mensekind, dat U hom besoek? 7 U het hom ‘n weinig minder as die engele gemaak; met heerlikheid en eer het U hom gekroon en hom oor die werke van u hande aangestel. 8 Alle dinge het U onder sy voete gestel. Want in die onderwerping van alle dinge aan hom het Hy niks uitgesonder wat aan hom nie onderworpe is nie. Maar nou sien ons nog nie dat alle dinge aan hom onderwerp is nie.
Open 1:1-3 Die openbaring van Jesus Christus wat God Hom gegee het om aan sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur, en wat Hy deur die sending van sy engel aan sy dienskneg Johannes te kenne gegee het, 2 wat getuig het van die woord van God en die getuienis van Jesus Christus alles wat hy gesien het. 3 Salig is hy wat die woorde van die profesie lees, en die wat dit hoor en bewaar wat daarin geskrywe is, want die tyd is naby.
Die eerste Adam was op dag ses gemaak, saam met die ander aardse diere want ons is aanvanklik aards – die getal ‘ses’ is dus die “getal” van die mens in sy aardse en sondige toestand, voordat ons in die beeld van Christus gemaak word:
Open 13:18 Hier kom die wysheid te pas. Wie die verstand het, laat hom die getal van die dier bereken, want dit is die getal van ‘n mens; en sy getal is ses honderd ses en sestig.
1Kor 15:46-49 Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike. 47 Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel. 48 Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. 49 En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra.
Die getal ‘sewe’ se geestelike betekenis word gevind in die dag nadat die fisiese skepping in ses dae voortgebring was:
Gen 2:1-3 So is dan voltooi die hemel en die aarde met hulle ganse leërmag. 2 En God het op die sewende dag sy werk voltooi wat Hy gemaak het, en op die sewende dag gerus van al sy werk wat Hy gemaak het. 3 En God het die sewende dag geseën en dit geheilig, omdat Hy daarop gerus het van al sy werk wat God geskape het deur dit te maak.
Die getal ‘sewe’ het dus te make met die konsep ‘voltooiing’. God neem ons dus deur ‘n proses om die ‘voltooiing” eers op die sewende dag, die dag van rus, te beleef. Was God moeg en moes Hy rus? Allermins. Die idee van “rus” is geskryf vir ons onthalwe, want ons vind eers op die tiperende “sewende dag” uit waaroor alles gaan en waarmee God besig is. Die sewende dag help ons dus om ook God se werke IN ONS eerstens te verstaan, en dan ook in ander mense.
As die hele proses voltooi word op die sewende dag, dan is dit duidelik dat die getal ‘agt’ ‘n nuwe ‘week’ inlei. Die agtste dag word dus geestelike gesien as die begin van ‘n “nuwe skepping”. Die vleeslike skepping is dan agter ons, ons vlees hiet en gebied ons nie soos in die verlede nie (Rom 6:11-14). Omdat ons nou begin om deur Jesus se geeslike lewe in ons te leer hoe om ons vlees te domineer, sterf ons op die manier ook vir die houvas van die vlees in ons (1Kor 15:31; Gal 2:20). Die nuwe lewe van Christus word dus stelselmatig in ons gevestig. Hierdie aflegging van vlees word getipeer in die ou verbond deur die fisiese besnydenis:
Lev 12:2-3 Spreek met die kinders van Israel en sê: As ‘n vrou swanger word en ‘n seun baar, sal sy sewe dae lank onrein wees; soos in die dae van die onreinheid as sy onwel is, sal sy onrein wees. 3 En op die agtste dag moet hy aan die vlees van sy voorhuid besny word.
Daar is dit baie duidelik vir die wat oë gegee is om te sien. Die vleeslike skepping is dit wat onrein is in vergelyking met dit wat gees (van God) is. Daarom was die vlees nog nooit en sal ook nooit deel wees van die geestelike koninkryk van God nie (Joh 3:1-6; Rom 8:5-8; 1Kor 15:50). Maar om in die vlees besny te word deur ‘n uiterlike besnydenis op die agtste dag, is bloot ‘n tipe of ‘n skaduwee van die werklike geestelike besnyding!
Rom 2:28-29 Want nie hy is ‘n Jood wat dit in die openbaar is nie, en nie dít is besnydenis wat dit in die openbaar in die vlees is nie; 29 maar hy is ‘n Jood wat dit in die verborgene is, en besnydenis is dié van die hart, in die gees, nie na die letter nie. Sy lof is nie uit mense nie, maar uit God.
Fil 3:3 Want óns is die besnydenis, ons wat God in die Gees dien en in Christus Jesus roem en nie op die vlees vertrou nie;
Vleeslike dinge het geen werklike krag nie (Joh 6:63)! Dit is egter die ware innerlike besnydenis van die hart wat die ware nuwe mens in Christus na vore bring:
Gal 6:15 Want in Christus Jesus het nòg die besnydenis nòg die onbesnedenheid enige krag, maar ‘n nuwe skepsel.
2Kor 5:17 Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.
Die getal ‘nege’ koppel weereens baie intiem met die getal ‘agt’ in die sin dat dit saamgaan met die aflegging van die vlees soos dit onder die ou verbond getipeer was deur besnydenis.
Gen 17:24 En Abraham was nege en negentig jaar oud toe hy aan die vlees van sy voorhuid besny is.
Die aflê van die vlees is nie iets wat ons vrywilliglik doen nie. Ook dit kom van God en Hy gee die opdrag. Abraham is ons geestelike tipe van wat die geloof van Christus in ons bewerkstellig. Slegs deur Christus word ons instaat gestel om van die vlees ontslae te raak en dit kom deur God se oordeel. Die getal ‘nege’ beteken dus in ‘n geestelike sin dat ons deur oordeel moet gaan en dit is nie ‘n maklike proses nie. Die bekendste skrifteks wat die geestelike betekenis van die getal ‘nege’ uitbeeld is hierdie een:
Mat 27:46 en omtrent die negende uur het Jesus met ‘n groot stem geroep en gesê: Eli, Eli, lama sabagtáni? Dit is: My God, my God, waarom het U My verlaat?
Jesus se vlees was net soos ons s’n, maar Hy het nooit toegee aan Sy vlees nie (Heb 2:14-18; Heb 4:14-16). Die getal ‘nege’ dui geestelik aan die tyd wanneer God se oordeel op ons voltrek word. Ons as gewone mense is van nature aan vleeslike ongelowigheid onderworpe en ons voel soms dat God nie omgee nie. Dit is die tyd van groot benoudheid in ons aardse lewe waar God as baie ver ervaar word.
DIE GETAL ‘TIEN’
Die getal ‘tien’ koppel geestelik met alles wat die vlees as belangrik beskou. Die vlees poog altyd om God se geestelike standaarde te bereik, maar faal mislik en hopeloos in die proses. Deur “tien woorde” het God Sy opdragte aan die vlees gegee:
Eks 34:28 En hy was daar by die HERE veertig dae en veertig nagte; hy het geen brood geëet en geen water gedrink nie. En Hy het op die tafels die woorde van die verbond, die tien woorde, geskrywe.
Die tien gebooie is gegee om heerskappy (“horings”) oor die vlees te hê:
Open 12:18 (OAV) En ek het op die sand van die see gaan staan. Open 13:1 (OAV) En ek het ‘n dier uit die see sien opkom met sewe koppe en tien horings, en op sy horings tien krone en op sy koppe ‘n naam van godslastering.
Die tien gebooie is dus deur God gegee vir ‘n baie goeie doel, en die doel is NIE om ons regverdig te maak nie, maar om ons inherente vleeslike welluste en trots uit te wys (“die kennis van sonde”). Die tien gebooie en alle aardse wette word juis gegee om aan ons te wys dat ons “doemwaardig” is en NIE God se geestelike standaarde kan bevredig nie – maar MIN kan die waarheid ontvang:
Rom 3:19-24 Nou weet ons dat alles wat die wet sê, hy dit sê vir die wat onder die wet is, sodat elke mond gestop en die hele wêreld voor God doemwaardig kan wees; 20 aangesien uit die werke van die wet geen vlees voor Hom geregverdig sal word nie, want deur die wet is die kennis van sonde. 21 Maar nou is die geregtigheid van God geopenbaar sonder die wet, terwyl die wet en die profete daarvan getuig, 22 die geregtigheid naamlik van God deur die geloof in Jesus Christus vir almal en oor almal wat glo, want daar is geen onderskeid nie; 23 want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, 24 en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is.
Die getal ‘tien’ beeld die houvas uit wat die vlees op ons het voordat ons deur die geloof en geregtigheid van Christus vrygespreek word:
Gal 4:1-7 Maar ek sê: So lank as die erfgenaam ‘n kind is, verskil hy niks van ‘n dienskneg nie, al is hy heer van alles; 2 maar hy staan onder voogde en bestuurders tot op die tyd tevore deur die vader bepaal. 3 So was ons ook, toe ons kinders was, in diensbaarheid onder die eerste beginsels van die wêreld. 4 Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ‘n vrou, gebore onder die wet, 5 om die wat onder die wet was, los te koop, sodat ons die aanneming tot kinders kan ontvang. 6 En omdat julle kinders is, het God die Gees van sy Seun in julle harte uitgestuur, en Hy roep: Abba, Vader! 7 Daarom is jy nie meer dienskneg nie, maar kind; en as jy kind is, dan ook erfgenaam van God deur Christus.
1Ti 1:8-10 Maar ons weet dat die wet goed is as iemand dit wettiglik gebruik, en as hy weet dat die wet nie gegee is vir die regverdige nie, maar vir die wettelose en tugtelose mense, goddelose en sondaars, onheiliges en ongewydes, vadermoorders en moedermoorders, moordenaars, 10 hoereerders, sodomiete, mensediewe, leuenaars, meinediges en wat daar anders met die gesonde leer in stryd is.
Maar ons almal is eerste soos Abram en Sarai (later is hulle herdoop na Abraham en Sara wat ‘n groter volwassenheid in hulle uitwys…”tot ons lering” -Rom 15:4). Ons dink in ons geestelike onvolwassenheid dat ons goeie werke God sal oortuig om aan ons Sy guns te bewys. In ons tyd van eiegeregtigheid dink ons dat ons God kan help om Sy beloftes in ons lewens te volbring:
Gen 16:3 Toe neem Sarai, die vrou van Abram, Hagar, die Egiptiese, haar slavin—nadat Abram tien jaar in die land Kanaän gewoon het—en gee haar aan haar man Abram om sy vrou te wees.
‘Tien’ beeld dus ook uit ons ongeduldigheid met God se manier en tyd om dinge vir ons te doen. Maar al wat ons kry as ons in die vlees saai, is vleeslike gevolge wat ons baie seer byt agterna – dink maar aan hoeveel probleme Hagar en haar seun Ismael gebring het:
Gal 6:7-8 Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai. 8 Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai; maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe maai.
Die vlees is ‘n bedrieër van formaat – hy laat ons dink ons kan wegkom met ons bedrog en valsheid. Dink maar aan Jakob wat self sy vader en sy broer bedrieg het voordat hyself deur sy skoonpa, Laban, bedrieg was. Ons almal moet maai wat en waar ons gesaai het:
Gen 31:41 Twintig jaar was ek nou in u huis; veertien jaar het ek u gedien vir u twee dogters en ses jaar vir u kleinvee; en u het my loon tien maal verander.
Vlees haat God se geestelike dinge:
Rom 8:5-8 Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge. 6 Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede, 7 omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie. 8 En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie;
Die vlees skei ons dus van wat binne die ware tempel van God gesien en ervaar kan word – ons moet ook Jesus “na die vlees” verlaat en Hom ‘na die gees’ leer ken:
Eks 26:1 En die tabernakel moet jy van tien tentdoeke maak, van fyn dubbeldraad-linne en pers en purperrooi en bloedrooi stowwe, met gérubs; as kunstige werk moet jy dit maak.
2Kor 5:16 Ons ken dus van nou af niemand meer na die vlees nie; en al het ons ook Christus na die vlees geken, nou ken ons Hom tóg nie meer so nie.
Heb 10:19-20 Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus 20 op die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het deur die voorhangsel heen, dit is sy vlees.
Ons vlees is dan ook net soos ander se vlees – dit haat God en Sy geestelike gebod. Die vlees is ook ‘n verraaier en uitverkoper (soos ook getipeer deur die tien broers van Josef). Ons eie vlees is inderdaad ons grootste vyand, maar sal uiteindelik moet buig voor die nuwe mens in Christus
Gen 37:1-5 En Jakob het gewoon in die land van die vreemdelingskap van sy vader, in die land Kanaän. 2 Dit is die geskiedenis van Jakob. Josef het as seun van sewentien jaar die kleinvee opgepas saam met sy broers—hy was nog jonk—met die seuns van Bilha en die seuns van Silpa, die vroue van sy vader. En Josef het die slegte gerug oor hulle na hulle vader oorgebring. 3 En Israel het Josef meer lief gehad as al sy seuns; want hy was vir hom ‘n seun van die ouderdom; en hy het vir hom ‘n lang rok met moue gemaak. 4 Toe sy broers sien dat hulle vader hom meer as al sy broers liefhet, het hulle hom gehaat en kon nie vriendelik met hom praat nie. 5 Ook het Josef ‘n droom gehad wat hy aan sy broers vertel het. Daaroor het hulle hom nog meer gehaat.
Gen 42:3 Daarop het tien van Josef se broers afgetrek om koring uit Egipte te koop.
Hulle wat as ‘Christen’ bestempel word is egter in twee groepe verdeel – diegene wat God se Waarheid in Sy Woord as baie belangrik hanteer, en diegene wat God se Woord as nie belangrik hanteer en dit selfs misbruik:
Mat 25:1-4 Dan sal die koninkryk van die hemele wees soos tien maagde wat hulle lampe geneem en uitgegaan het om die bruidegom te ontmoet. 2 En vyf van hulle was verstandig en vyf dwaas. 3 En toe die wat dwaas was, hul lampe neem, het hulle geen olie met hulle saamgeneem nie. 4 Maar die verstandiges het olie in hulle kanne saam met hul lampe geneem.
Almal wat God se Woord misbruik vir eie gewin is hulle wie die vyf dwase maagde verteenwoordig want hulle leer ook almal valse leerstellings wat hulle dan verenig (ook voorgestel deur “tien vroue” in die Skrifte). Hulle verenig teen Christus en Sy Woord (Sy brood), en hulle wat Hom volg deur die Waarheid te glo en te doen. Alhoewel die valse leraars God se Woord in hul valse leringe gebruik, word hul volgelinge en toehoorders egter nie geestelik versadig nie terwyl hierdie volgelinge selfs moet betaal vir die dienste van die valse leraars en die goedere wat hulle verkwansel:
Lev 26:26 As Ek vir julle die staf van die brood verbreek, sal tien vroue julle brood in een oond bak en julle brood by die gewig teruggee; en julle sal eet, maar nie versadig word nie.
Psa 2:1-4 Waarom woel die nasies en bedink die volke nietige dinge? 2 Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die HERE en teen sy gesalfde en sê: 3 Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp! 4 Hy wat in die hemel woon, lag; die Here spot met hulle.
2Kor 2:17 Want ons is nie soos baie wat handel dryf met die woord van God nie; maar as opregtheid, maar as uit God, in die teenwoordigheid van God, spreek ons in Christus.
Open 2:10 Vrees vir niks wat jy sal ly nie. Kyk, die duiwel gaan sommige van julle in die gevangenis werp, sodat julle op die proef gestel kan word; en julle sal tien dae lank verdrukking hê. Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal jou die kroon van die lewe gee.
Hulle wat egter getrou en gehoorsaam is aan God sen Sy Woord word heerskappy gegee oor die vlees (“tien stede”):
Luk 19:17 En hy sê vir hom: Mooi so, goeie dienskneg; omdat jy in die minste getrou gewees het, moet jy gesag hê oor tien stede.
Die “min” getroue uitverkorenes van God sal uiteindelik gebruik word om God se oordele te voltrek:
1Kor 6:2-3 Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie? En as die wêreld deur julle geoordeel word, is julle dan onbevoeg vir die geringste regsake? 3 Weet julle nie dat ons engele sal oordeel nie, hoeveel te meer die alledaagse dinge?
Die “heiliges” sal oordeel sodat elkeen die geestelike geregtigheid van Christus kan ontvang. Dit is hoe elkeen deur God se gees aan Christus die lof sal toeswaai omdat Hy voorwaar die Redder van alle mense is:
Jes 26:9 Met my siel begeer ek u in die nag; ook met my gees in my binneste soek ek U; want as u oordele op die aarde is, leer die inwoners van die wêreld geregtigheid.
Open 5:11-13 Toe sien ek, en ek hoor ‘n stem van baie engele rondom die troon en van die lewende wesens en die ouderlinge; en hulle getal was tien duisende van tien duisende en duisende van duisende; 12 en met ‘n groot stem het hulle gesê: Die Lam wat geslag is, is waardig om te ontvang die krag en rykdom en wysheid en sterkte en eer en heerlikheid en lof. 13 En elke skepsel wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde en wat op die see is, en alles wat in hulle is, het ek hoor sê: Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam kom toe die lof en die eer en die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid!
Fil 2:9-11 Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ‘n naam gegee wat bo elke naam is, 10 sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is, 11 en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader.
1Kor 12:3 Daarom maak ek julle bekend dat niemand wat deur die Gees van God spreek, Jesus ‘n vervloeking noem nie; en niemand kan sê dat Jesus die Here is nie, behalwe deur die Heilige Gees.
Die Engelse weergawe geskryf deur Mike Vinson van die geestelike betekenis van hierdie getal, word by die volgende skakel gevind:
Terug pieng: Die koninkryk van God op aarde | "Is en Wat Was en Wat Kom" – die onbekende karakter van Jesus Christus en Sy Woord
Terug pieng: God se plan met die 1000 jaar regering | "Is en Wat Was en Wat Kom" – die onbekende karakter van Jesus Christus en Sy Woord
Terug pieng: Die stad van God, die nuwe Jerusalem (die simboliese 144 000) | "Is en Wat Was en Wat Kom" – die onbekende karakter van Jesus Christus en Sy Woord
Terug pieng: ‘Ek het vir Myself sewe duisend manne laat oorbly…’ | 4windkoinonia
Terug pieng: Jesus se wederkoms (met spesiale verwysings na gedeeltes uit Mattheus 24 en 25, en Lukas 17 en 21): Deel 8 – Die tien maagde | 4windkoinonia