Alles is van die Here (in hierdie fisiese skepping en in die geestelike skepping):
Rom 11:36 Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.
Niemand kan ‘n vinger verroer as die Here dit nie bewerkstellig nie (Efes 1:11). Selfs die pot wat misluk, ek en jy ingesluit, is in die hand van die Pottebakker:
Jer 18:1-6 Die woord wat van die HERE tot Jeremia gekom het: 2 Maak jou klaar en gaan af na die huis van die pottebakker, en daar sal Ek jou my woorde laat hoor. 3 Toe het ek afgegaan na die huis van die pottebakker, en hy was juis besig om ‘n stuk werk op die skywe te maak. 4 En die voorwerp wat hy besig was om te maak, het misluk—soos dit gaan met klei in die hand van die pottebakker—maar hy het daaruit weer ‘n ander voorwerp gemaak soos dit in die oë van die pottebakker reg was om dit te maak. 5 Toe het die woord van die HERE tot my gekom en gesê: 6 Sal Ek nie soos hierdie pottebakker met julle kan maak nie, o huis van Israel? spreek die HERE. Kyk, soos klei in die hand van die pottebakker, so is julle [almal van ons] in my hand, o huis van Israel!
Hoeveel mense kan dit aanvaar dat dit ook God is wat ons harte verhard, en dat dit ook God is wat ons harte weer ontvanklik en gehoorsaam maak:
Rom 9:13-18 Soos geskrywe is: Jakob het Ek liefgehad en Esau het Ek gehaat. 14 Wat sal ons dan sê? Is daar miskien onreg by God? Nee, stellig nie! 15 Want aan Moses sê Hy: Ek sal barmhartig wees oor wie Ek barmhartig wil wees en My ontferm oor wie Ek My wil ontferm. 16 So hang dit dan nie af van die een wat wil of van die een wat loop nie, maar van God wat barmhartig is. 17 Want die Skrif sê aan Farao: Juis hiervoor het Ek jou laat optree, dat Ek in jou my krag kan toon en dat my Naam verkondig kan word op die hele aarde. 18 So is Hy dan barmhartig oor wie Hy wil en Hy verhard wie Hy wil.
Ons is dus eers gemaak in hierdie vlees met sy aardse denke, dit is die eerste pot wat in die hand van die Pottebakker misluk.
Het die mens op sy eie, deur sy “vrye” wil, misluk – soos baie glo? Het God regtig niks te doen met die mens se doen en late nie?
Baie glo so, en hulle sal alles gee om die ‘reg’ van die mens te beskerm – hulle glo dus dat die skepsels kan maak en breek soos hulle wil. Hulle glo dat God eenkant staan as die skepsels Sy plan ‘omver werp’. Hulle glo ook dat God het regtig nie geweet wat Adam en Eva gedoen het nie, en Hy het ook nie geweet waar hulle was nie:
Gen 3:8-10 En hulle het die stem van die HERE God gehoor terwyl Hy wandel in die tuin in die aandwindjie; en die mens en sy vrou het hulle verberg vir die aangesig van die HERE God tussen die bome van die tuin. 9 Toe roep die HERE God na die mens en sê vir hom: Waar is jy? 10 En hy antwoord: Ek het u geruis gehoor in die tuin en gevrees, want ek is naak; daarom het ek my verberg.
Baie van ons is soos Adam wat antwoord asof God regtig nie weet waar ons is en wat ons doen nie. Ons bid ook so in ons tyd van onkunde waar ons God inlig oor wat alles op die aarde en ins ons lewens aangaan. Ons glo in ons onkunde dat God nie weet nie! Dit is presies waar God die mens het. Die mens in sy natuurlike vorm, in sy aardse beeld, is onbewus van God se plan en werkswyse. Mense kan nie sien wat ‘agter die skerms’ gebeur nie. Die aardse mens sien net wat die aardse sintuie deurgee. Ons almal ken die storie baie goed.
Adam was net soos ons vanaf sy skepping. Diegene wat glo dat Adam met sy eerste asemteug perfek was, kan nie die woorde “…die voorwerp wat hy besig was om te maak, het misluk—soos dit gaan met klei in die hand van die pottebakker” sien nie, al lees hulle dit 1000 keer. Dit is nie hulle skuld nie want God het hulle verblind. Hulle kan ook nie sien dat niks afhang van “die een wat wil of van die een wat loop nie” nie. Hulle kan nie woorde soos die volgende aanvaar nie:
Fil 2:12-13 Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam gewees het, nie in my teenwoordigheid alleen nie, maar baie meer nou in my afwesigheid, werk julle eie heil uit met vrees en bewing; 13 want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.
Dink en doen ons dinge? Ja, ons doen dit prakties, maar ons is nie die ontwerpers van die denke of die dade nie:
Psa 139:1-2 Vir die musiekleier. ‘n Psalm van Dawid. HERE, U deurgrond en ken my. 2 U ken my sit en my opstaan; U verstaan van ver my gedagte.
Spr 20:24 Die voetstappe van ‘n man hang van die HERE af: hoe sou ‘n mens dan sy weg verstaan?
Wat ons dus in ons vlees dink en uiterlik doen word bewerkstellig deur ‘n onsienbare Hand in ons. Hier is hoe dit gebeur van die begin af:
Heb 11:3 Deur die geloof verstaan ons dat die wêreld deur die woord van God toeberei is, sodat die dinge wat gesien word, nie ontstaan het uit sienlike dinge nie.
Dinge wat ons dink, doen en ervaar word alles bepaal deur die onsienlike hand van God. God is besig met ‘n perfekte plan met die eerste Adam en niemand het ooit, of sal ooit, God van Sy plan laat afwyk nie. God het nog nooit ‘n ‘plan B’ gehad nie. Niks hang af van die skepsels nie – alles hang van God af en Hy weet alles omdat Hy alles laat gebeur presies volgens Sy EEN plan:
Jes 45:5-7 Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; buiten My is daar geen God nie; Ek omgord jou, hoewel jy My nie geken het nie, 6 sodat hulle kan weet van die opgang van die son en van sy ondergang af dat daar buiten My geeneen is nie; Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; 7 wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen.
Amo 3:6 Sal die basuin in die stad geblaas word en die bevolking nie skrik nie? Sal daar ‘n onheil in die stad voorval as die HERE dit nie bewerk het nie?
Die leer van die sogenaamde “val” van die mens is vals. Die mens is stof – stof is op die grond..plat…dit kan nie val nie. Soos Adam, vind elke mens dit uit op ‘n pynlike manier – “in die sweet van jou aangesig”:
Gen 2:7 En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword.
Gen 3:19 In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.
Die aardse pot is ‘n pot “tot oneer”…wat “vir die verderf toeberei is” want dit is ook ‘n voorwerp spesifiek gemaak om God se toorn te ervaar:
Rom 9:20-22 Maar tog, o mens, wie is jy wat teen God antwoord? Die maaksel kan tog nie vir die maker sê: Waarom het u my so gemaak nie? 21 Of het die pottebakker nie mag oor die klei, om uit dieselfde klomp die een voorwerp tot eer en die ander tot oneer te maak nie? 22 En as God, al wil Hy sy toorn bewys en sy mag bekend maak, tog met groot lankmoedigheid die voorwerpe van toorn wat vir die verderf toeberei is, verdra het,
Slegs deur God se toorn, dit is sy oordeel, leer ons geestelike dinge -veral sy geregtigheid wat ons benodig bo alles:
Jes 26:9 Met my siel begeer ek u in die nag; ook met my gees in my binneste soek ek U; want as u oordele op die aarde is, leer die inwoners van die wêreld geregtigheid.
God in Sy groot lankmoedigheid verdra hierdie aardse pot met al sy tekortkominge vir ‘n beperkte tyd, voordat Hy dit finaal gaan totaal vernietig en ‘n totale nuwe pot daarvan maak…hierdie keer in gees. Net soos die saad wat gesaai word totaal anders is as die plant wat dit voortbring, so moet die aardse lewe ook afgelê word, sodat ons die nuwe geestelike lewe kan verkry (Mat 10:38-39). Ons almal, volgens God se ontwerp en plan, word dus eerste “gesaai in oneer”, maar ons almal sal oes “in heerlikheid” en eer!!!
1Kor 15:43-49 daar word gesaai in oneer, daar word opgewek in heerlikheid; daar word gesaai in swakheid, daar word opgewek in krag. 44 ‘n Natuurlike liggaam word gesaai, ‘n geestelike liggaam word opgewek. Daar is ‘n natuurlike liggaam, en daar is ‘n geestelike liggaam. 45 So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees. 46 Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike. 47 Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel. 48 Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. 49 En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra.
Daar is God se belofte aan almal in Adam: “soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra”. Wat ‘n belofte wat min kan raaksien. Niemand het gevra om in die aardse te kom nie. Niemand kan ook op sy eie die hemelse verkry nie. Net die Vader is vir alles verantwoordelik:
Joh 6:44 Niemand [in “die beeld van die aardse”] kan na My [Jesus – “die beeld van die hemelse”] toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag.
Die woorde “Ek sal hom opwek in die laaste dag” wys dat ons moet wag vir die nuwe skepping. Maar ons moet gefokus bly op dit wat God gaan bring in ons almal se lewens. Ons aanvaar dit alles in die geloof wat Hy in ons harte skenk. Ons dank en prys Hom by voorbaat, al lyk alles vir ons vlees hopeloos. Ons leef nie op sigbare dinge nie, maar ons leef in geloof – Sy geloof in ons!
2Kor 4:16-18 Daarom gee ons nie moed op nie, maar al vergaan ons uiterlike mens ook, nogtans word die innerlike mens dag ná dag vernuwe. 17 Want ons ligte verdrukking wat vir ‘n oomblik is, bewerk vir ons ‘n alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid; 18 omdat ons nie let op die sigbare dinge nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.
Fil 4:8 Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is—watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit.
Kol 3:1-4 As julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit. 2 Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie. 3 Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God. 4 Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word.