God se wil is Soewerein! ‘n Mens het geen ‘vrye’ wil nie!

Soewereiniteit se betekenis volgens die woordeboek:

1. Oppermagtige heerskappy, oppermag.

2. Wetlik erkende oppergesag.

Is God in beheer van alles of is Hy nie in beheer van alles nie. As Hy nie in beheer van alles is nie, wie is dan?

Die natuurlike mens kan nie God se beheer oor alles, veral oor die bose en bose dade, aanvaar nie. Die mens sien ook homself in beheer van sy eie wil en glo dat God die mens hierdie sogenaamde ‘vrye’ wil gegee het. Die mens glo verder dat hierdie ‘vrye’ wil baie magtig is omdat dit God se wil kan weerstaan!!! Klink dit bekend?

Die idee van ‘n ‘vrye’ wil is egter ‘n delusie van die natuurlike denke en geen mens kan dit vryspring nie. Ironies bind hierdie delusie die mensdom eintlik saam – van ateïs tot elke volgeling van elke godsdiens. Maar omdat die meerderheid mense oor iets saamstem maak dit nie noodwendig waar nie:

Eks 23:2 Jy mag die meerderheid nie volg in verkeerde dinge nie. En jy mag in ‘n regsaak geen getuienis aflê agter die meerderheid aan om die reg te verdraai nie.

Selfs Satan glo dat hy ‘n ‘vrye’ wil het. Die “ou slang” moedig ook die mensdom van die begin af aan om God se soewereiniteit te bevraagteken:

Gen 3:1-5 Maar die slang was listiger as al die diere van die veld wat die HERE God gemaak het. En hy sê vir die vrou: Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie? 2 En die vrou antwoord die slang: Van die vrugte van die bome in die tuin mag ons eet, 3 maar van die vrugte van die boom wat in die middel van die tuin is, het God gesê: Julle mag daarvan nie eet nie en dit nie aanroer nie, anders sal julle sterwe. 4 Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie; 5 maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken.

Satan en sy volgelinge glo dat hy die skepper van boosheid is. Wel die waarheid is dat God ALLES geskep het, selfs die duisternis en alle boosheid:

Jes 45:5-7 Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; buiten My is daar geen [Skepper] God nie; Ek omgord jou, hoewel jy My nie geken het nie, sodat hulle kan weet van die opgang van die son en van sy ondergang af dat daar buiten My geeneen is nie; Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil [Grieks: “ra” = die kwaad/ boosheid] skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen.

Gen 2:9 En die HERE God het allerhande bome uit die grond laat uitspruit, begeerlik om te sien en goed om van te eet; ook die boom van die lewe in die middel van die tuin, en die boom van die kennis van goed en kwaad [Grieks: “ra”].

God skep nie net die “onheil” en “kwaad” nie, Hy is ook in totale beheer van alle onheilige en bose dade:

Amo 3:6 Sal die basuin in die stad geblaas word en die bevolking nie skrik nie? Sal daar ‘n onheil in die stad voorval as die HERE dit nie bewerk het nie?

Dit is egter te veel vir die natuurlike denke om te hanteer.  Daarom klou die natuurlike mens aan hierdie delusie van “vrye” wil en verkondig dit wyd en syd. Hulle beweer dat die alomteenwoordige en almagtige God iewers op ‘n ander plek is wanneer bose en onheilige dinge plaasvind. Hierdie volgende woorde word gebruik deur die afvalliges om te sê dat God nie die kwaad en boosheid skep en beheer nie:

Hab 1:13 U, wat te rein is van oë om die kwaad aan te sien en die onreg nie kan aanskou nie…

God se woorde weerspreek nie mekaar nie – dit is slegs die afvalliges wat sal beweer dat God Homself weerspreek. Kyk na die verse…

Spr 15:3 Op elke plek is die oë van die HERE, en hulle beskou opmerksaam die slegtes en die goeies.

Job 34:21-22 Want sy oë is op die weë van die mens, en Hy sien al sy voetstappe. 22 Daar is geen duisternis en daar is geen diepe donkerheid waarin die werkers van ongeregtigheid hulle kan wegsteek nie.

Jer 23:23-24 Is Ek ‘n God van naby, spreek die HERE, en nie ‘n God van ver nie? 24 Sou iemand hom in skuilplekke kan wegsteek dat Ek hom nie sien nie? spreek die HERE. Vervul Ek nie die hemel en die aarde nie? spreek die HERE.

Kom ons lees nou die hele vers 13 en vers 14 van Habakkuk 1…

Hab 1:13-14 U, wat te rein is van oë om die kwaad aan te sien en die onreg nie kan aanskou nie…—waarom aanskou U die trouelose, swyg U wanneer die goddelose dié verslind wat regverdiger is as hy? 14 So maak U dan mense soos visse van die see, soos kruipende gedierte wat geen heerser oor hulle het nie.

Daar is die waarheid. God laat mense dink dat Hy nie die Skepper van die bose en onheil is nie. Hulle is soos die visse en die kruipende diere met beperkte insig in God se wese en Sy werke. Hierdie valse konsep van ‘n ‘vrye wil’ vorm deel van “die wysheid van die wêreld” waaraan almal van geboorte onderworpe is (soos deur God bepaal):

1Kor 2:14 Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word. 

1Kor 3:19 want die wysheid van hierdie wêreld is dwaasheid by God; want daar is geskrywe: Hy wat die wyse mense in hulle listigheid vang;

God neem VOLLE verantwoordelikheid vir alles wat in Sy skepping gebeur:

Jes 46:9 Dink aan wat vroeër gebeur het, lank gelede; Ek is God, daar is geen ander nie; Ek is God, daar is niemand soos Ek nie.

Jes 46:10 Ek kondig vantevore aan wat later sal kom, lank tevore al wat nog nie gebeur het nie. Ek sê wat Ek besluit het en dit gebeur, wat Ek wil, doen Ek.

Die grootste bose daad wat ooit gepleeg was, was deur God beplan en Hy het gesorg dat dit ook noukeurig uitgevoer word:

Hand 4:26-28 Die konings van die aarde het saamgestaan en die owerstes het saam vergader teen die Here en teen sy Gesalfde. 27 Want waarlik, Herodes en Pontius Pilatus het saam met heidene en die volke van Israel vergader teen u heilige Kind Jesus wat U gesalf het, 28 om alles te doen wat u hand en u raad vooruit bepaal het om plaas te vind.

Kan iemand nog glo dat God afwesig is van die beplanning en uitvoering van alle bose dade op aarde? God is inderdaad alwetend en almagtig, ver bo mense se idees van wat dit alles behels:

1Jn 3:20 want as ons hart ons veroordeel, God is meer as ons hart, en Hy weet alles.

Joh 16:30 Nou weet ons dat U alles weet en nie nodig het dat iemand U iets vra nie. Daarom glo ons dat U van God uitgegaan het.

Reeds lank voor ons geboorte is elke minuut van elke dag reeds beplan en bepaal, iets wat die natuurlike mens net nie kan aanvaar nie:

Psa 139:16 U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.

God het geweet Adam en Eva (en ons) sou sondig toe die mens deur Hom gevorm was en in Sy hand misluk:

Gen 2:7 En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword.

Jer 18:4 En die voorwerp wat hy besig was om te maak, het misluk soos dit gaan met klei in die hand van die pottebakker, maar hy het daaruit weer ‘n ander voorwerp gemaak soos dit in die oë van die pottebakker reg was om dit te maak.

Rom 8:20 Die skepping is immers nog aan verydeling onderworpe, nie uit eie keuse nie, maar omdat God dit daaraan onderwerp het. Daarby het Hy die belofte van hoop gegee:

Psa 51:7 Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.

1Kor 15:50 Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.

Kyk hoe het Adam en Eva se harte gelyk by hul skepping:

1Jn 2:16 Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld.

Jer 17:9 Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?

Mat 5:28 Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat na ‘n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het.

God gebruik egter die bose vir ‘n doel:

Spr 16:4 Alles het die HERE gemaak vir sy doel, ja, ook die goddelose vir die dag van onheil.

God gaan alle boosheid vernietig nadat dit Sy doel gedien het. As ons ook kan sien dat vlees en bloed boos is, dan sal ons kan sien dat God deur hierdie tydelike skepping iets baie mooi gaan voortbring. Die skoenlapper se ontwikkeling is ‘n pragtige beeld om hierdie plamn van God aan ons duidelik te maak. Wie sal ooit kan glo dat so ‘n lelike wurm uiteindelik so pragtige skoenlapper word!

Job 25:6 Hoeveel minder die mens, ‘n maaier; en die mensekind, ‘n wurm.

Vlees (en bloed) was nooit veronderstel om vir ewig te lewe nie. Dit is tydelik (stof). God gaan alle mense oorskep – in gees (Joh 3:1-12). Lees weer die vers…

Jer 18:4 En die voorwerp wat hy besig was om te maak, het misluk soos dit gaan met klei in die hand van die pottebakker, maar hy het daaruit weer ‘n ander voorwerp gemaak soos dit in die oë van die pottebakker reg was om dit te maak.

God weet wat Hy doen. God is nie besig met plan A, of plan B of plan C – nee goeiste NEE. Hy is met Sy oorspronklike plan besig. Sy plan met die mens sluit albei ‘potte’ in! Dit is die mens wat nie weet wat God doen nie, self  die ‘wyses van die wêreld’ het geen leidraad nie:

1Kor 1:20 Waar bly die wyse? Waar bly die skrifgeleerde? Waar die redetwister van hierdie eeu? Het God nie die wysheid van hierdie wêreld dwaas gemaak nie?

Die volgende Skrifte laat die natuurlike mens rooi van woede:

Efes 1:11 in Hom in wie ons ook ‘n erfdeel ontvang het nadat ons vantevore daartoe verordineer is ooreenkomstig die voorneme van Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil,

Rom 11:36 Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.

Joh 19:10-11 En Pilatus sê vir Hom: Praat U nie met my nie? Weet U nie dat ek mag het om U te kruisig en mag het om U los te laat nie? Jesus antwoord: U sou geen mag teen My hê as dit u nie van bo gegee was nie. Daarom het hy wat My aan u oorlewer, groter sonde.

Die natuurlike mens skop en trap teen hierdie waarhede en vra: ‘Nou waarom sal God dan al die onheil, duisternis, lyding en verdrukkinge skep?’

Rom 9:20-21 Maar tog, o mens, wie is jy wat teen God antwoord? Die maaksel kan tog nie vir die maker sê: Waarom het u my so gemaak nieOf het die pottebakker nie mag oor die klei, om uit dieselfde klomp die een voorwerp tot eer en die ander tot oneer te maak nie?

Heb 2:10 Want dit het Hom betaam, ter wille van wie alle dinge en deur wie alle dinge is, as Hy baie kinders na die heerlikheid wou bring, om die bewerker van hulle saligheid deur lyde te volmaak.

Hand 14:22 en die siele van die dissipels versterk en hulle vermaan om in die geloof te bly deur te sê: Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan.

God IS in beheer van alles wat in ons lewens gebeur. Hy het alles beplan en bepaal. Ons kan niks doen om dit te vermy nie. God het dit in Sy boek geskryf om te gebeur en alles sal gebeur op Sy tyd. Dit hang nie van mens of om na Christus te kom vir redding nie. God alleen bepaal wanneer elke persoon sal kom:

Joh 6:44-45 Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag. 45 Dit is geskrywe in die profete: En hulle sal almal deur God geleer wees. Elkeen dan wat dit van die Vader gehoor en geleer het, kom na My toe.

Selfs die begeerte en gebed vir redding in ons harte, kom van God. Alles is syne – selfs die geloof om in Hom te glo, skenk Hy:

Efes 2:8-10 Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie. Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.

Jer 10:23 Ek weet, o HERE, dat aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan ‘n man om te loop en sy voetstappe te rig nie.

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.

2 Responses to God se wil is Soewerein! ‘n Mens het geen ‘vrye’ wil nie!

  1. Terug pieng: Die waarheid oor die “sondeval” | "Is en Wat Was en Wat Kom" – die onbekende karakter van Jesus Christus en Sy Woord

  2. Terug pieng: Albei ‘Adams’ is deel van God se EEN plan vir alle mense! | "Is en Wat Was en Wat Kom" – die onbekende karakter van Jesus Christus en Sy Woord

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s