Die natuurlike menslike begrip van die Bybelse konsepte van “glorie” of “heerlikheid” is altyd gekoppel aan dinge soos roem of aansien. Selfs kunstenaars wie prentjies van die Jesus teken of skilder sal so tipe stralekrans bo die kop (of ligstrale om die figuur) aanbring om God se glorie uit te beeld.
Maar God se glorie/heerlikheid het niks te make met menslike opheffing of aanhang, of met mooi prentjies met ligstrale nie. Kyk wat het gebeur met die priesters toe God se heerlikheid die eerste tempel van Salomo vervul het…
2Kro 5:13-14 ….is die huis, die huis van die HERE, vervul met ‘n wolk. En die priesters kon vanweë die wolk nie staan om diens te doen nie, want die heerlikheid van die HERE het die huis van God vervul.
As God se heerlikheid Sy “huis” vervul, gebeur daar dinge wat die vlees nie kan hanteer nie. As ons kan sien dat die ou tempel in Jerusalem ‘n tipe was van ons eie tempel, dan word die gebeure wat daar plaasgevind het baie intiem ervaar:
1Kor 3:16 Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?
1Kor 6:19 Of weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie?
Hier is nog ‘n getuie wat aan ons beskryf wat gebeur as die heerlikheid van God ons “vervul”:
Open 15:8 En die tempel het vol rook geword uit die heerlikheid van God en uit sy krag, en niemand kon ingaan in die tempel voordat die sewe plae van die sewe engele voleindig was nie.
Die “sewe plae” word hier gekoppel aan die “heerlikheid” van God en Sy geestelike vervulling in ons. Ons moet die “sewe plae” ervaar alvorens ons in God se ware tempel kan ingaan. Kyk waarmee word hierdie “sewe plae” verbind…
Open 15:1 En ek het ‘n ander teken in die hemel gesien, groot en wonderlik: sewe engele met die sewe laaste plae, want daarmee is die GRIMMIGHEID van God voleindig.
Die “sewe plae” is God se ‘grimmigheid’ of God se oordeel wat op alle vlees en bloed moet kom VOOR ons in sy geestelike tempel kan ingaan. Nou klink dinge nie meer so maklik nie. As iemand ooit aan jou gesê het dat toegang tot God se koninkryk maklik is, dan het daardie persoon gelieg. Ons almal glo op ‘n tyd hierdie leuen dat dit is maklik om God se tempel te betree. Jesus het tog immers vir ons gesterf en al wat ons nou moet doen is glo..en lees jou Bybel…en bid elke dag…ja, dit is mooi dinge om te doen. Maar dit is nie die volle waarheid nie. Wat maak jy met Skriftekste soos hier bo genoem en hierdie volgende:
Mat 10:34 Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard.
Mat 10:38-39 En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie. 39 Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind.
Hand 14:22 en die siele van die dissipels versterk en hulle vermaan om in die geloof te bly deur te sê: Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan.
1Pe 4:12-13 Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie; 13 maar namate julle gemeenskap het aan die lyde van Christus, moet julle bly wees, sodat julle ook by die openbaring van sy heerlikheid met blydskap kan jubel.
Fil 1:29-30 omdat dit aan julle ter wille van Christus genadiglik gegee is om nie alleen in Hom te glo nie, maar ook vir Hom te ly, 30 terwyl julle dieselfde stryd het as wat julle in my gesien het en nou van my hoor.
Die afvalliges sal sê…’nee, daardie woorde was vir die eerste dissiples’ of hulle sal sê…’daardie woorde is op die sondaars en ongelowiges van toepassing’.
Maar diegene wie God ken (of deur Hom geken word) sal weet dat al Sy ware kinders wat in hierdie eon leef, gaan deur PRESIES DIESELFDE ervarings as die eerste dissipels want hulle glo ook hierdie woorde van God:
Mat 4:4 Maar Hy antwoord en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.
Neem ons sekere woorde van God aan en verwerp ander woorde? Nee, geen ware kind van God sal dit doen nie want hulle vrees God en Sy Woord. Hulle weet hulle is die ware tempel waar Hy ‘n “rusplek” vind want hulle DOEN en ERVAAR elke woord wat Hy spreek!
Jes 66:1-2 So sê die HERE: Die hemel is my troon en die aarde die voetbank van my voete. Waar is dan die huis wat julle vir My sal bou? En waar die plek wat my rusplek sal wees? 2 Want my hand het al hierdie dinge gemaak, en so het dit alles ontstaan, spreek die HERE. Maar op hierdie een sal Ek let: op hom wat arm is en verslae van gees, en wat bewe vir my woord.
Ons neem nie van Sy Woorde weg uit ons lewens nie. Ons is ook nie so dwaas om te sê dat ons beter is as ander sondaars nie. Ons sê ook nie dat sommige van God se woorde nie op ons van toepassing is nie:
Open 22:19 En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is.
God se heerlikheid het dus alles te make met God se oordeel oor die werke van die vlees in almal. Maar wie soek hierdie soort heerlikheid? MIN:
1Kor 11:31-32 Want as ons onsself beoordeel het, sou ons nie geoordeel word nie. Maar as ons geoordeel word, word ons deur die Here getugtig, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel mag word nie.
Mat 22:14 Want baie is geroep, maar min uitverkies.
Wie word deur die Here getugtig/geoordeel …nou?
Heb 12:6 want die Here tugtig hom wat Hy LIEFHET, en Hy kasty ELKE seun [en dogter] wat Hy aanneem.
1Pe 4:17 Want die tyd is daar [NOU] dat die oordeel moet begin by DIE HUIS van God. En as dit EERS by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is?
Is jy ‘n seun/dogter van God? Behoort jy aan “die huis van God”? Is jy Sy tempel? Dan weet jy waarom jy NOU verwerping/kruisiging MOET ervaar. Want soos Jesus IS (teenwoordige tyd), so IS JY in die wêreld. Dit is ‘n belofte van God dat jy SAL deur jou eie mense verwerp word en hulle SAL jou kruisig en die blaam dan op ander plaas!
1Jn 4:17 Hierin het die liefde by ons volmaak geword, dat ons vrymoedigheid kan hê in die OORDEELSDAG [wanneer is dit? Toekoms of nou? – lees weer 1Petrus 4:17]; want soos Hy IS, IS ons ook in hierdie wêreld.
Hand 2:22-23 Israeliete, luister na hierdie woorde! Jesus, die Nasaréner, ‘n man deur God vir JULLE aangewys met kragte en wonders en tekens wat God deur Hom onder JULLE gedoen het, soos JULLE ook self weet— Hom, wat deur die bepaalde raad en voorkennis van God oorgelewer is, het JULLE deur die hande van goddelose manne geneem en gekruisig en omgebring;
Om saam te vat: Die heerlikheid van God (God se glorie) is dus kortliks dit [let weer noukeurig op die TYD in die verse waar dit verband hou met ‘ek’]:
Gal 2:20 Ek IS met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek NOU in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.
Daarom is “die woord van die kruis” wat VANDAG opgeneem moet word, wel “dwaasheid” vir die wat nie kan sien dat hulle self moet ly vir Christus en die “oorblyfsels” van Sy verdrukking in hul eie liggame moet aanvul nie:
1Kor 1:18 Want die woord van die kruis is wel dwaasheid vir die wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God;
Kol 1:24 Nou verbly ek my in my lyding vir julle en vul in my vlees aan die oorblyfsels van die verdrukking van Christus vir sy liggaam, wat die gemeente is;
God se glorie is dwaasheid en teenstrydig met ons natuurlike denke:
Mat 16:24 Toe sê Jesus vir sy dissipels: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg.
Mar 10:21 En Jesus het hom [die ryk jong man] aangekyk en hom liefgekry en vir hom gesê: Een ding kom jy kort—gaan verkoop alles wat jy het, en gee dit aan die armes, en jy sal ‘n skat in die hemel hê; kom dan hier, neem die kruis op en volg My.
Geestelike vervulling en God se heerlikheid het te make met dinge wat die vlees net nie kan hanteer nie…”bloed en vuur en rookdampe…die son sal verander in duisternis en die maan in bloed…”
Hand 2:14-21 Maar Petrus het opgestaan met die elf en sy stem verhef en hulle toegespreek: Joodse manne en almal wat in Jerusalem woon, dit moet julle weet, en luister na my woorde. 15 Hierdie mense is tog nie dronk soos julle dink nie, want dit is nog maar die derde uur in die môre. 16 Maar dit is wat deur die profeet Joël gespreek is: 17 En in die laaste dae, spreek God, sal Ek van my Gees uitstort op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, en julle jongelinge sal gesigte sien, en julle ou mense sal drome droom. 18 En ook op my diensknegte en diensmaagde sal Ek in dié dae van my Gees uitstort, en hulle sal profeteer. 19 En Ek sal wonders gee bo in die hemel en tekens onder op die aarde, bloed en vuur en rookdamp. 20 Die son sal verander in duisternis en die maan in bloed voordat die groot en deurlugtige dag van die Here kom. 21 En elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.
Hallo Larry
So baie dankie aan ons Vader vir hierdie lering en bemoediging! Mag Hy gee dat ons sal volhard tot die einde toe! Ek prys Sy Naam vir elke verdrukking tot Sy eer!
Liefde in Christus.
Jy is baie welkom. Ek bid saam met jou dat ons sal volhard tot die einde, selfs deur die verdrukking wat God ook nou Sy kinders deur laat gaan vir hul geestelike groei:
Joh 16:33 Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.
Mat 24:9 Dan sal hulle jul aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam.
Mat 24:21-22 Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. 22 En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word.
Open 7:14 En ek sê vir hom: My heer, u weet dit. En hy sê vir my: Dit is hulle wat uit die groot verdrukking kom, en hulle het hul klere gewas en hul klere wit gemaak in die bloed van die Lam.
Groete en sterkte!
In Christus
Larry