Ons ‘geesteswêreld’

Almal van ons is bewus van die term ‘geesteswêreld’. Mense het egter verskillende interpretasies oor waar hierdie “wêreld” is, en ook hoe dit opereer. Die Skrifte is egter ons enigste maatstaf van waarheid, en vir die wat oë en ore gegee is om te sien en te hoor, is die ‘geesteswêreld’  baie nader as wat algemeen geken kan word. Ons moet ook weet wat alles in hierdie ‘geesteswêreld’ aangaan want dit bepaal ons uitkyk op alles! Ons moet weet watter geeste om te glo, en watter geeste om te verwerp:

1Jn 4:1 Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan. 

Die opdrag van God hier is baie duidelik: ons MOET “elke gees” op die proef stel. Ons kan net “elke gees” op die proef stel as ons weet wat die standaard is. Die een standaard wat God aan ons gegee het is die Waarheid, en die waarheid is NET TE VIND in Sy Woord:

Joh 17:17 Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid. 

Psa 119:160 Die hele inhoud van u woord is waarheid, en al u regverdige verordeninge is tot in ewigheid. 

Joh 14:5-7 Thomas sê vir Hom: Here, ons weet nie waar U gaan nie, en hoe kan ons die weg ken? 6 Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. 7 As julle My geken het, sou julle my Vader ook geken het, en van nou af ken julle Hom en het julle Hom gesien.

Die Waarheid is gesetel in God se Woord, Jesus Christus. Ons ontmoet en ken die Vader alleenlik deur Jesus Christus. God is gees en Sy Woord is gees en waarheid:

Joh 4:23-24 Maar daar kom ‘n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid. 24 God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.

 Joh 6:63 Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.

Net soos die Woord van God gees IS, so word elke valse gees uitgewys aan ons deur wat hulle sê.  

1Jn 4:1 Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan.

1Jn 4:4-5 Julle is uit God, my kinders, en het hulle oorwin, omdat Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is. 5 Hulle is uit die wêreld; daarom praat hulle uit die wêreld, en die wêreld luister na hulle.

Deur woorde ken ons geeste! Ons is of onder die invloed van die gees van die wêreld, of onder die beheer van die gees van God. Ons sondig teen God as ons die gees van die wêreld volg:

Psa 119:11 Ek het u woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie.

Wat ons sê, ons woorde, kom voort uit ons hart. As die Skrifte van die “hart” praat, verwys dit nie na die orgaan in ons borskas wat die bloed pomp nie. Nee, die “hart” is ‘n geestelike term vir ons denke.

Spr 4:20-23 My seun, luister na wat ek sê, neig jou oor tot my woorde, 21 laat hulle nie wyk uit jou oë nie, bewaar hulle binne-in jou hart. 22 Want hulle is die lewe vir die wat hulle vind, en ‘n genesing vir hulle hele liggaam. 23 Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe.

Dit is die konsepte en woorde wat ons dink wat ons hele lewe beinvloed. Ons denke is wat ons ‘geesteswêreld’ omskryf:

Spr 23:7

(AOV)  Want soos hy in sy siel bereken, so is hy; eet en drink, sê hy vir jou, maar sy hart is nie met jou nie. 

(ASV)  For as he thinketh within himself, so is he: Eat and drink, saith he to thee; But his heart is not with thee. 

(BBE)  For as the thoughts of his heart are, so is he: Take food and drink, he says to you; but his heart is not with you. 

Ons word uitgeken aan wat ons praat en uitleef. Ons woorde en dade spruit uit ons ‘geesteswêreld’.

Ons ken God en Sy mense deur die stem van die Herder, Jesus Christus – Sy Woord. Die Vader en Jesus, en al mal in Jesus praat dieselfde ‘taal’.

Joh 10:1-5 Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie nie by die deur in die skaapstal ingaan nie, maar van ‘n ander kant af inklim, hy is ‘n dief en ‘n rower. 2 Maar hy wat by die deur ingaan, is ‘n herder van die skape. 3 Vir hom maak die deurwagter oop, en die skape luister na sy stem; en hy roep sy eie skape by hulle naam en lei hulle uit. 4 En wanneer hy sy eie skape uitgebring het, loop hy voor hulle uit; en die skape volg hom, omdat hulle sy stem ken. 5 Hulle sal ‘n vreemde nooit volg nie, maar van hom wegvlug, omdat hulle die stem van die vreemdes nie ken nie.

Ons ken die stem van die “vreemdes” alleenlik omdat ons die stem van die Herder ken. Die Vader, Jesus en almal in Jesus praat dieselfde WOORDE en weet daar is net EEN interpretasie van die hele woord – die Waarheid:

Joh 8:32 En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.

Dit is die enigste onderskeid tussen die gees van die wêreld en die gees van God. KEN JY DIE WAARHEID? Kan jy dit openlik voor almal bely?

Hoe ken ons die stem van die Herder? Ons ken SY WOORD! Sy Woord is Sy STEM. 

Soos die gees van God deur God se Woord na ons kom, so kom valse en bose geeste ook na ons deur woorde. Ons almal kom egter eerste in kontak met die gees van die wêreld, soos bepaal deur die hand van die Skepper:

Gen 2:7 En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword.

Psa 51:7 Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.

Ons eerste “asem” is aards, soos ons liggaam ook “uit die stof van die aarde”  is. Dit alles beeld uit ons aanvanklike ‘geesteswêreld’, en dit verklaar ook hoekom ons so aards dink, so aards praat, en so aards optree. Ons is van nature “uit die wêreld” want ons praat “uit die wêreld”. Van nature ken ons nie die stem van die Vader of die stem van die Jesus nie:

 1Jn 4:5 Hulle is uit die wêreld; daarom praat hulle uit die wêreld, en die wêreld luister na hulle.

As die Skrifte hier praat van die “wêreld” dan verwys dit nie die geografiese fisiese wêreld nie, maar na ‘n geestelike dimensie.

Efes 6:12 Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug [die hemel].

Hierdie “lug”waar die “owerhede”, “magte”, “wêreldheersers” en “bose geeste” opereer is nie daar buite in die atmosfeer of selfs verder in die heelal nie. Dit is nie wat die Skrifte vir ons sê nie. As ons hierdie “owerhede”, “magte”, “wêreldheersers” en “bose geeste” daar ver sien, dan mis ons wat met die konsep van ‘geesteswêreld’ bedoel word. Die woord “lug” in daardie vers in Efesiërs 6, kom van die Griekse woord “epouranios” wat ook as “hemel” vertaal word:

Efes 1:3 Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele [Griekse woord “epouranios”] in Christus. 

Fil 2:10 sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel [Griekse woord “epouranios”] en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is,

Die Skrifte verwys dus na hierdie geestelike dimensie IN ONS as “hemel”. Die “owerhede”, en die “magte”, en die “wêreldheersers van die duisternis” en elke bose gees woon in ons hemel. Dit is hierdie hemel in ons wat die gees van die wêreld huisves. Ons almal het eers hierdie gees van die wêreld in ons en kyk hoe weet ons dit:

1Jn 2:15-17 Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie. Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld. En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig. 

Almal word eers deur hierdie wêreldgees gelei, ook die kinders van God:

 Efes 2:1-3 En julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes waarin julle tevore gewandel het volgens die loop van hierdie wêreld, volgens die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk, onder wie ons almal ook vroeër gewandel het in die begeerlikhede van ons vlees toe ons die wil van die vlees en van die sinne gedoen het; en ons was van nature kinders van die toorn net soos ook die ander.

Die Skrifte noem ook dat “duisternis…op die wêreldvloed” EERSTE op die aarde was:

Gen 1:1-2 In die begin het God die hemel en die aarde geskape. 2 En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters.

God het die duisternis eerste geskep in hierdie skepping en dit maak baie afvalliges baie ongemaklik en hulle soen allerhande verskonings, soos byvoorbeeld die sogenaamde “gap theory”. Die valse leraars gebruik hierdie valse “gap theory” leerstelling om hul ongeloof te verberg in God as Skepper van alles – die goed en die kwaad. Die valse “gap theory” beweer dat daar ‘n gaping van duisende, selfs miljoene jare was in die ses dae-skepping en dit moet dan kwansuis gesien word tussen vers 1 en vers 2 van Genesis 1. Maar God is glad nie skaam om te erken wat Hy self gedoen het nie:

Jes 45:7 wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen.

Die “Lig”, Christus, kom eers later in ons lewe want almal in Adam is “die volk wat in duisternis sit…in die land en skaduwee van die dood”:

Mat 4:16 die volk wat in duisternis sit, het ‘n groot lig gesien, en die wat sit in die land en skaduwee van die dood, vir hulle het ‘n lig opgegaan.

Sommige sê Adam het dieselfde gees met God gedeel want hy kon met God praat en in Sy teenwoordigheid kom. Hulle ignoreer gerieflikheidshalwe die feit dat ook die bose Satan in God se teenwoordigheid kom en met God praat. Satan kla die gelowiges aan by God “dag en nag” tot op hierdie oomblik, soos hy met Job gedoen het:

Job 1:6 En op ‘n dag toe die seuns van God kom om hulle voor die HERE te stel, het die Satan ook onder hulle gekom.

 Job 2:1-2 En op ‘n dag toe die seuns van God kom om hulle voor die HERE te stel, het die Satan ook onder hulle gekom om hom voor die HERE te stel. 2 Toe vra die HERE vir die Satan: Waar kom jy vandaan? En die Satan antwoord die HERE en sê: Van ‘n swerftog oor die aarde, wat ek deurkruis het.

Open 12:10 Toe hoor ek ‘n groot stem in die hemel sê: Nou het die heil en die krag en die koningskap die eiendom van onse God geword, en die mag van sy Christus; want die aanklaer van ons broeders is neergewerp, hy wat hulle aanklaag voor onse God, dag en nag.

Adam het juis bewys dat hy en Eva van die wêreld was deurdat hulle die gees van die slang meer gehoorsaam was as die gees van God. Dit is deur Jesus bevestig toe Hy aan die Jode wat in Hom geglo het uitwys dat hulle, net soos Adam en almal van ons, kinders van die duiwel is as ons nie na Sy Woord luister nie:

Joh 8:43-44 Waarom ken julle my spraak nie? Omdat julle na my woord nie kan luister nie. 44 Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was ‘n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ‘n leuenaar is en die vader daarvan.

Ons ‘geesteswêreld’ is dus eerste ingestel om nie van God se Woord te hou nie. Ons word eerste verknog aan die wêreld en ons “hemel” (ons denke) is aardsgebonde. Hierdie hemel verskil 100% van die hemel waar God woon. God woon in die “hoogste hemel”:

Deu 10:14 Kyk, aan die HERE jou God behoort die hemel, ook die hoogste hemel, die aarde en alles wat daarin is.

Die gees “in die wêreld” is nie die gees van God nie want die woorde en denke van die wêreld is nie die woorde en denke van God nie – die woorde en denk van God is inderdaad die “hoogste hemel”:

Jes 55:8-9 Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die HERE. 9 Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes.

Lees gerus oor die hemele by die volgende skakels:

https://4windkoinonia.wordpress.com/2012/12/04/waar-was-jesus-na-hy-gekruisig-was-en-voor-hy-opgestaan-het-uit-die-dode/

https://4windkoinonia.wordpress.com/2010/04/29/wat-en-waar-is-die-hemel/

Die wêreldgees is inderdaad ‘n teenstander (“satan”) van God:

Mat 16:22-23 Toe neem Petrus Hom opsy en begin Hom bestraf en sê: Mag God dit verhoed, Here, dit sal U nooit oorkom nie! 23 Maar Hy het omgedraai en vir Petrus gesê: Gaan weg agter My, Satan! Jy is vir My ‘n struikelblok, omdat jy nie die dinge van God bedink nie, maar die dinge van die mense.

Rom 8:6-8 Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede, 7 omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie. 8 En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie.

Gal 5:17 want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie.

Alle mense word deur geeste beïnvloed m.b.t. die konsepte en woorde wat in ons denke kom en setel. Hierdie geeste word ook simbolies as “voëls van die hemel” in die Skrifte beskryf. Ons aardse denke is ‘n “huis vol bedrog” want dit is gevul “soos ‘n hok vol voëls”:

Jer 5:27 Soos ‘n hok vol voëls, so is hulle huise vol bedrog; daarom het hulle groot en ryk geword.

Luk 13:18-19 En Hy het gesê: Hoedanig is die koninkryk van God en waarmee sal Ek dit vergelyk? 19 Dit is soos ‘n mosterdsaad wat ‘n man geneem en in sy tuin gesaai het; en dit het gegroei en ‘n groot boom geword, en die voëls van die hemel het nes gemaak in sy takke.

Hierdie bose geeste haat God se Woord:

Luk 8:5 ‘n Saaier het uitgegaan om sy saad te saai; en toe hy saai, val ‘n deel langs die pad en is vertrap, en die voëls van die hemel het dit opgeëet.

Mat 13:19 As iemand die woord van die koninkryk hoor en nie verstaan nie, kom die Bose en roof wat in sy hart gesaai is—dit is hy by wie langs die pad gesaai is.

Ons eerste hemel moet gereinig word en dit is wat met die uitverkorenes (“die hemelse dinge”) in Christus nou gebeur:

Heb 9:23-24 Dit was dus nodig dat die afbeeldinge van die dinge in die hemele deur hierdie offers gereinig moes word, maar die hemelse dinge [Griekse woord “epouranios”] self deur beter offers as hierdie. Want Christus het nie ingegaan in ‘n heiligdom met hande gemaak, ‘n teëbeeld van die ware nie, maar in die hemel self om nou voor die aangesig van God vir ons te verskyn. 

Christus en Sy Woord reinig ons hemel (ons denke) van die bose geeste (valse leerstellings en filosofieë van mense). Deur God se Woord (Sy Gees) word die woorde en denke van die wêreldgees uitverdryf :

Mat 6:9-13 Só moet julle dan bid: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde; gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe; en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen. 

Rom 12:2 En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.

God is inderdaad in beheer van ALLE geeste, selfs die goddelose bose geeste (Job 1; Job 2; Efes 1:11):

Heb 12:9 Verder, ons het ons vaders na die vlees as kastyders gehad, en ons het vir hulle ontsag gehad; moet ons nie veel meer aan die Vader van die geeste onderworpe wees en lewe nie?

Jes 54:16 Kyk, Ék het die smid geskape wat die koolvuur aanblaas en ‘n wapen voortbring volgens sy ambag; ook het Ék die verderwer geskape om te verniel.

Spr 16:4 Alles het die HERE gemaak vir sy doel, ja, ook die goddelose vir die dag van onheil.

Die bose kan nie eens ‘n vinger verroer of mense besoek sonder dat God hulle stuur nie (1Kon 22:19-23):

 1Sa 16:14 Maar die Gees van die HERE het van Saul gewyk, en ‘n bose gees, deur die HERE gestuur, het hom verskrik.

Rigt 9:23 …God ‘n bose gees gestuur tussen Abiméleg en die burgers van Sigem, en die burgers van Sigem het troueloos gehandel teen Abiméleg.

Die koninkryke van alle hemele is onder God se beheer en dit is wat die wêreld en die afvalliges net nie kan sien nie:

Luk 17:20-21 En toe Hy deur die Fariseërs gevra is wanneer die koninkryk van God sal kom, het Hy hulle geantwoord en gesê: Die koninkryk van God kom nie met sigbare tekens nie. En hulle sal nie sê: Kyk hier! of: Kyk daar! nie; want die koninkryk van God is binne-in julle

OM AF TE SLUIT:

Hoe herken ons die bose geeste in die hemele en hoe word hulle verwyder? Kom ons lees weer 1Johannes 4 verse 5 en 6:

 1Jn 4:5-6 Hulle is uit die wêreld; daarom praat hulle uit die wêreld, en die wêreld luister na hulle. Ons is uit God; hy wat God ken, luister na ons; hy wat nie uit God is nie, luister nie na ons nie. Hieruit ken ons die Gees van die waarheid en die gees van die dwaling.

As ons nie God se woorde in ons harte het en daardie woorde doen nie, is ons vasgevang in die gees van hierdie wêreld. Deur God se Woord alleenlik kan ons valse geeste onderskei en uitdryf.  Deur die Woord kom geloof en die geloof blus die “vurige pyle”, dit is woorde, van die bose:

Efes 6:16 Behalwe dit alles neem die skild van die geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die bose sal kan uitblus.

Jesus sê uitdruklik dat die WOORDE wat Hy spreek gees is en dit is Sy Woord wat ons geestelike lewe gee:

 Joh 6:63 Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.

Soos die wêreldgees in ons almal was deur die Skepper, so sal die Gees van God (Sy Woord wat ook Sy geestelike lewensbloed is) almal se denke ook vernuwe en hervorm op die tyd soos deur God bepaal:

Heb 9:11-15 Maar Christus, wat opgetree het as Hoëpriester van die toekomstige weldade, het deur die groter en volmaakter tabernakel wat nie met hande gemaak is nie, dit wil sê, wat nie aan hierdie skepping behoort nie, ook nie met die bloed van bokke en kalwers nie, maar met sy eie bloed, een maal ingegaan in die heiligdom en ‘n ewige verlossing teweeggebring. Want as die bloed van stiere en bokke en die as van ‘n vers wat die verontreinigdes besprinkel, heilig maak tot reiniging van die vlees, hoeveel te meer sal die bloed van Christus, wat Homself deur die ewige Gees aan God sonder smet geoffer het, julle gewete reinig van dooie werke om die lewende God te dien. En daarom is Hy Middelaar van ‘n nuwe testament, sodat, terwyl daar ‘n dood plaasgevind het vir die verlossing van die oortredinge onder die eerste testament, die wat geroepe is, die belofte van die ewige erfenis kan ontvang. 

 

 

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.

1 Response to Ons ‘geesteswêreld’

  1. Terug pieng: Temas | "Is en Wat Was en Wat Kom" – die onbekende karakter van Jesus Christus en Sy Woord

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s