Die geestelike betekenis van syfergetalle: Die doel van veelvoude / veelvuldigheid van getalle in die Skrifte

Veelvoude vervul ‘n hele reeks funksies in die Skrifte. Dit kan of positief of negatief toegepas word. Kom ons praat kortliks eers oor die NEGATIEWE TOEPASSING.

Lameg, wat in die geslagslyn van die moordenaar Kain gebore was, was die eerste man wat in die Skrifte genoem word wat twee vrouens gehad het.

Gen 4:19 En Lameg het vir hom twee vroue geneem. Die naam van die eerste was Ada, en die naam van die tweede Silla.

Dit wys aan ons hoe veelvuldige getalle die mens se onvergenoegdheid uitbeeld. Vlees sal nooit tevrede wees nie. Daarom word die “nasies”, die vlees, vergelyk met die brak- of soutwaters van die see wat geen dors kan les nie:

Joh 4:13 Jesus antwoord en sê vir haar: Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry;

Open 12:18 En ek het op die sand van die see gaan staan. (Open 13:1) En ek het ‘n dier uit die see sien opkom met sewe koppe en tien horings, en op sy horings tien krone en op sy koppe ‘n naam van godslastering.

Jes 17:13a Nasies maak gedruis soos die gedruis van baie waters

Open 17:1 En een van die sewe engele met die sewe skale het gekom en met my gespreek en vir my gesê: Kom hierheen, ek sal jou toon die oordeel van die groot hoer wat op die baie waters sit,

Veelvoude in vleeslike terme is ‘n teken van geestelike dwaasheid en dit werk teen God se instelling van twee (‘n man en ‘n vrou) wat een vlees word – nie drie of meer nie:

Gen 2:24 Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees.

Ware geestelike getrouheid is gefokus op God se Woord en Sy instellings, en gee nie toe aan veelvuldige verhoudings nie:

1Ti 3:2 ‘n Opsiener dan moet onberispelik wees, die man van een vrou, nugter, ingetoë, fatsoenlik, gasvry, bekwaam om te onderrig;

Tit 1:5-6…van stad tot stad ouderlinge sou aanstel soos ek jou beveel het— 6 as iemand onberispelik is, die man van een vrou, gelowige kinders het wat nie beskuldig word van losbandigheid of tugteloos is nie.

Ook word die aanbidding van veelvuldige afgode verbied deur die “een God, die Vader”:

Eks 20:3 Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie.

Deu 6:4 Hoor, Israel, die HERE onse God is ‘n enige HERE.

1Kor 8:6 tog is daar vir ons maar een God, die Vader uit wie alles is, en ons tot Hom, en een Here Jesus Christus deur wie alles is, en ons deur Hom.

Veelvoude dui ook die proses aan hoe iets ontwikkel tot volwassenheid. Hier is die getal ‘ses’ ‘n goeie voorbeeld van die negatiewe toepassing van so ‘n proses. Die mens was saam met die diere op dag “ses” geskep….

Gen 1:24-26 En God het gesê: Laat die aarde lewende wesens voortbring volgens hulle soorte: vee [Hebreeus: “behêmâh”] , kruipende diere en wilde diere van die aarde volgens hulle soorte. En dit was so. 25 En God het die wilde diere van die aarde gemaak volgens hulle soorte en die vee [Hebreeus: “behêmâh”] volgens hulle soorte en al die diere wat op die grond kruip, volgens hulle soorte. Toe sien God dat dit goed was. 26 En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip.

Pred 3:18 Ek het in my hart gesê: Ter wille van die mensekinders gebeur dit, dat God hulle kan beproef, en dat hulle kan insien dat hulle in hulleself vee [Hebreeus: “behêmâh”] is.

Die “mens” se getal is dus ‘ses’ en kyk hoe hierdie getal ontwikkel tot wat die Skrifte die ‘n volwasse “dier” of antiChris noem wat God teenstaan (die proses word aangedui deur die getal ‘drie’):

Open 13:18 Hier kom die wysheid te pas. Wie die verstand het, laat hom die getal van die dier bereken, want dit is die getal van ‘n mens; en sy getal is ses honderd ses en sestig.

2Th 2:3-4 Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf 4 die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is.

Rom 8:5-8 Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge. 6 Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede, 7 omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie. 8 En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie;

Gal 5:17 want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie.

Kom ons kyk meer in detail na die POSITIEWE TOEPASSING van veelvoud of veelvuldige getalle in die Skrifte en hoe dit geestelik in ons lewens werk.

Jesus het veelvoude op ‘n spesifieke maniere hanteer en ons kan baie daaruit leer. Hier is een so ‘n voorbeeld:

Mat 18:21 Toe kom Petrus na Hom en sê: Here, hoe dikwels sal my broeder teen my sondig en ek hom vergewe? Tot sewe maal toe? 

Petrus vra: “Hoe dikwels” of “hoeveel maal” sal ons iemand wat teen ons sondig vergewe.  “Hoeveel maal” is vir die natuurlike mens iets wat ons nie maklik verstaan nie. Ons hou van beperkinge plaas op dinge want dit spruit uit ons aardse natuur. As ons kyk na Jeus se antwoord aan Petrus, dan kom ‘n ander dimensie na vore:

Matt 18:22 Jesus antwoord hom: Ek sê vir jou, nie tot sewe maal toe nie, maar tot sewentig maal sewe toe.

Die natuurlike denke sal self ook hier ‘n getal wil uitwerk. En as ons antwoord ‘490’ is, dan mis ons die betekenis van Jesus se woorde aan Petrus. Ons mis dan ook die beginsel van die Skrifte en alle woorde van Jesus:

Joh 6:63 Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.

Jesus se Woorde, van Genesis tot Openbaring, is te doen met geestelike dinge en ons natuurlike denke is net nie opgewasse daarvoor nie:

1Kor 2:13-14 Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk. 14 Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.

Geestelike ‘Wiskunde’ werk heel ander as aardse Wiskunde. Die natuurlike dinge en natuurlike toepassings het hul plek en tyd, maar vir hulle wat God wil dien in gees in waarheid, is die geestelike van primêre belang.

Joh 4:24 God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.

Ons soek dus die geestelike betekenis van Sy Woorde in ons lewens, en dit sluit dan ook in die betekenis van veelvoude en veelvuldige getalle in die Skrifte. As ons kan sien dat Jesus hier aan Petrus, en aan ons, wil uitwys dat ons geen beperking moet plaas op die geestelike werke van God nie, dan het God ons oë en ore gegee om verby die vleeslike interpretasie (die gelykenis / die parabel) van Sy woorde te kan sien:

Mat 13:10-11 En die dissipels het gekom en vir Hom gesê: Waarom spreek U tot hulle deur gelykenisse? 11 Toe antwoord Hy en sê vir hulle: Omdat dit aan julle gegee is om die verborgenhede van die koninkryk van die hemele te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie.

Veelvoude in die Skrifte wys dus eerstens aan ons dat God onbeperkte geestelike vermoëns besit en Hy wil dit aan ons oordra. Daar is regtig niks wat vir God onmoontlik is nie, veral as dit kom by God se totale vergifnis en Sy redding vir alle mense, hoe boos en verwerplik hulle ookal mag wees in ons oë:

Mat 19:25-26 Toe sy dissipels dit hoor, was hulle baie verslae en sê: Wie kan dan gered word? 26 Maar Jesus het hulle aangekyk en vir hulle gesê: By mense is dit onmoontlik, maar by God is alle dinge moontlik.

God se vergifnis en redding is inderdaad onbeperk:

Open 5:11 Toe sien ek, en ek hoor ‘n stem van baie engele rondom die troon en van die lewende wesens en die ouderlinge; en hulle getal was tien duisende van tien duisende en duisende van duisende;

Open 7:9-10 Ná hierdie dinge het ek gesien, en kyk, daar was ‘n groot menigte wat niemand kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale; hulle het gestaan voor die troon en voor die Lam, bekleed met wit klere en met palmtakke in hulle hande; 10 en hulle het met ‘n groot stem geroep en gesê: Heil aan onse God wat op die troon sit, en aan die Lam!

Fil 2:9-11 Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ‘n naam gegee wat bo elke naam is, 10 sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is, 11 en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader.

Die getal ‘vyftig’ sluit aan by hierdie konsep van die onbeperke mag van God om te red. Almal sal terugkeer na God, omdat almal aan God behoort:

Lev 25:10-13 En julle moet die vyftigste jaar heilig en ‘n vrylating in die land uitroep aan al sy bewoners. Dit moet vir julle ‘n jubeljaar wees; dan moet julle elkeen na sy besitting en elkeen na sy geslag teruggaan. 11 ‘n Jubeljaar moet dit, die vyftigste jaar, vir julle wees. Julle mag nie saai nie, ook nie afoes wat dan opslaan of die druiwe van die onbesnoeide wingerdstok dan afsny nie. 12 Want dit is ‘n jubeljaar, dit moet vir julle heilig wees: van die land af moet julle die opbrings daarvan eet. 13 In hierdie jubeljaar moet julle elkeen na sy besitting teruggaan.

God stel intens belang in Sy skepping en in ons almal se lewens. God wil ons ook dan wys dat Hy in details belangstel. Veelvoude in die Skrifte help ons dus ook om te sien hoe intensief God in almal van ons werk, en hoe diep Sy belange in ons almal is. Ja Hy ken die presiese getal hare op ons liggaam, en weet van elke klein voëltjie se doen en late – alles simbole van ons diepste denke en wat in ons harte aangaan – self die vlak van ons ongeloof!

Luk 12:6-7 Word vyf mossies nie vir twee stuiwers verkoop nie? En nie een van hulle is voor God vergeet nie. 7 Maar selfs die hare van julle hoof is almal getel. Wees dan nie bevrees nie: julle is meer werd as baie mossies.

Mat 6:25-26 Daarom sê Ek vir julle: Moenie julle kwel oor jul lewe—wat julle sal eet en wat julle sal drink nie; of oor jul liggaam—wat julle sal aantrek nie. Is die lewe nie meer as die voedsel en die liggaam as die klere nie? 26 Kyk na die voëls van die hemel; hulle saai nie en hulle maai nie en hulle bring nie bymekaar in skure nie, en tog voed julle hemelse Vader hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie?

Psa 84:4 Selfs vind die mossie ‘n huis en die swaweltjie ‘n nes vir haar, waar sy haar kleintjies neerlê, naamlik u altare, HERE van die leërskare, my Koning en my God!

Veelvoude help ons om dieper begrippe van die vlakke van God se werk in ons te ontwikkel en te verstaan. Byvoorbeeld, Jesus se lewe was vir Vader die hoogste offer wat gebruik was want deur daardie offer word ons instaat gestel om as getuies op te tree van Jesus deur ons eie lewe op te offer. Hier word die twee getalle ‘dertig’ en ‘twintig’ teen mekaar afgespeel om hierdie waarheid aan ons deur te gee:

Mat 26:14-15 Toe gaan een van die twaalf, met die naam van Judas Iskáriot, na die owerpriesters 15 en sê: Wat wil u my gee, en ek sal Hom aan u oorlewer? En hulle het vir hom dertig silwerstukke afgeweeg.

Gen 37:26-28 Toe sê Juda aan sy broers: Watter voordeel is dit dat ons ons broer doodmaak en sy bloed verberg? 27 Kom, laat ons hom aan die Ismaeliete verkoop, maar laat ons hand nie teen hom wees nie, want hy is ons broer, ons vlees. En sy broers het na hom geluister. 28 En toe die Midianitiese koopmans verbykom, het hulle Josef uit die put uit opgetrek en uitgehaal en Josef aan die Ismaeliete verkoop vir twintig sikkels silwer. En húlle het Josef na Egipte gebring.

Soos reeds ook in vorige artikels uitgewys het die getal ‘drie’ betrekking op die proses van oordeel op die vlees. Ons het ook gewys dat die getal ‘twee’ verwys na die getal van die getuies, en dat die getal ‘tien’ is die getal van die vlees wat opgeoffer moet word. Kyk nou in die volgende tekste hoe hierdie getalle gebruik word om die vlak van intensiteit van hierdie oordeel aan te dui:

Jos 7:19-26 Toe sê Josua vir Agan: My seun, maak tog die HERE, die God van Israel, heerlik en gee Hom die eer; en gee my tog te kenne wat jy gedoen het; steek dit nie vir my weg nie. 20 Toe het Agan Josua geantwoord en gesê: Waarlik, ek het gesondig teen die HERE, die God van Israel, en so en so het ek gedoen. 21 Ek het naamlik een mooi mantel uit Sínear by die buitgoed gesien en twee honderd sikkels silwer en een goudstaaf van vyftig sikkels in gewig, en ek het dit begeer en dit geneem; en kyk, daar lê dit begrawe in die grond binne-in my tent, en die silwer daaronder. 22 Toe Josua dan boodskappers stuur en hulle na die tent loop, lê dit daar begrawe in sy tent, en die silwer daaronder. 23 En hulle het dit uit die tent uitgehaal en dit na Josua en al die kinders van Israel gebring en dit voor die aangesig van die HERE uitgeskud. 24 Daarop het Josua en die hele Israel met hom saam Agan, die seun van Serag, geneem met die silwer en die mantel en die goudstaaf en sy seuns en sy dogters en sy beeste en sy esels en sy kleinvee en sy tent en alles wat aan hom behoort het, en hulle het hul na die dal Agor gebring. 25 En Josua het gesê: Hoe het jy ons in die ongeluk gestort! Die HERE sal jou vandag in die ongeluk stort! Daarop het die hele Israel hom gestenig, en hulle het hulle met vuur verbrand en klippe op hulle gegooi. 26 En hulle het ‘n groot hoop klippe op hom gestapel wat tot vandag toe daar is. Toe het die HERE Hom afgewend van die gloed van sy toorn. Daarom noem hulle daardie plek Dal Agor tot vandag toe.

Hier word die getal ‘tweehonderd’ gebruik om die intensiewe manier waarop God te werk gaan om ons sonde uit te wys en ons vlees te oordeel. Veelvoude wys ook aan ons dat hoe meer ons kennis dra van God se Woord en dit dan nog steeds verontagsaam, hoe groter die intensiteit  van die oordeel (in die Skrifte word tientalle, honderdtalle en self duisendtalle gebruik) :

1Kor 10:8-9 En laat ons nie hoereer soos sommige van hulle gehoereer het nie, en daar het op een dag drie en twintig duisend geval. 9 En laat ons Christus nie versoek soos ook sommige van hulle gedoen het nie, en hulle het deur die slange omgekom.

Heb 10:28-29 As iemand die wet van Moses verwerp het, sterf hy sonder ontferming op die getuienis van twee of drie; 29 hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy verdien wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag en die Gees van genade gesmaad het?

Luk 12:47-48 En daardie dienskneg wat die wil van sy heer geken het en nie klaargemaak of volgens sy wil gedoen het nie, sal met baie slae geslaan word; 48 maar hy wat nie geweet het nie en gedoen het wat slae verdien, sal met min slae geslaan word. En elkeen aan wie veel gegee is, van hom sal veel gevorder word; en aan wie hulle veel toevertrou het, van hom sal hulle oorvloediger eis.

Ons moet dus ons volle tyd in die wildernis van vlees uitleef en versoek word want daardeur, deur die talle vleeslike versoekings, word God se getrouheid in ons te bewerkstellig en gevestig. In hierdie verband speel die getal ‘veertig’ ‘n belangrike rol (die getal ‘vier’ is die hele omvang van die proses waar die vlees wat deur die getal ‘tien’ moet gaan, self die vlees van Jesus!). Veelvoude word dus ook in die Skrifte gebruik om aan ons te wys hoe getrouheid in ons bewerkstellig word.

Mar 1:13 En Hy was daar in die woestyn veertig dae lank, terwyl Hy deur die Satan versoek is; en Hy was saam met die wilde diere, en die engele het Hom gedien.

Hand 13:17-18 Die God van hierdie volk Israel het ons vaders uitverkies en die volk verhoog toe hulle bywoners in Egipteland was, en met ‘n hoë arm hulle daaruit gelei. 18 En omtrent veertig jaar lank het Hy hulle in die woestyn verdra.

Hand 14:22 en die siele van die dissipels versterk en hulle vermaan om in die geloof te bly deur te sê: Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan.

1Pe 1:6-7 Daarin verheug julle jul, al word julle nou—as dit nodig is—’n kort tydjie bedroef onder allerhande beproewinge, 7 sodat die beproefdheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus;

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.

1 Response to Die geestelike betekenis van syfergetalle: Die doel van veelvoude / veelvuldigheid van getalle in die Skrifte

  1. Terug pieng: Die stad van God, die nuwe Jerusalem (die simboliese 144 000) | "Is en Wat Was en Wat Kom" – die onbekende karakter van Jesus Christus en Sy Woord

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s