‘Daar is glad niks nuuts onder die son nie’

Die Skrif waarsku ons om nie weggevoer te word deur “nietige misleiding nie, volgens die oorlewering van die mense, volgens die eerste beginsels van die wêreld”:

Pas op dat niemand julle as ‘n buit wegvoer deur die wysbegeerte en nietige misleiding nie, volgens die oorlewering van die mense, volgens die eerste beginsels van die wêreld en nie volgens Christus nie. Kol 2:8

Mense steur hulle nie aan God se waarskuwing nie en volg die “eerste beginsels van die wêreld” deur sekere dae, en sekere maande en sekere jare bo ander te plaas. Maar elke ware kind van God dien nie die gode van die wêreld nie:

Maar destyds, toe julle God nie geken het nie, het julle dié gedien wat van nature geen gode is nie; maar nou dat julle God ken, of liewer deur God geken is, hoe keer julle weer terug tot die swakke en armoedige eerste beginsels wat julle weer van voor af aan wil dien? Julle neem dae en en maande en tye en jare waar. Gal 4:8-10

Alle wêreldsfeeste (soos Kersfees veral) kom uit heidinse praktyke en word dan ‘n Christelike baadjie aangetrek en siedaar, miljoene mense verloor hulself in losbandigheid en welluste agter hierdie vleeslike dekmantels. Dit is alles deel van die groot dwaling van die valse Christus wat mense verblind om nie die waarheid te kan sien nie – alles onder God se beheer:

hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie. En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo, sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid. 2Th 2:9-12

Mense wat hierdie tipe dwaalgeeste volg, dit doen omdat hulle nie van beter weet nie. Ons doen dit almal op ‘n gegewe tyd, en ons is almal skuldig. In ons tyd van geestelike blindheid en onkunde strompel ons voort jaar in en jaar uit. Ons doen dinge omdat ander mense dit doen. Ons doen dinge om in te pas. Ons doen dinge om nie vir ander aanstoot te gee nie. Ons toets dus nie die geeste nie en kan dus nie sien wat agter alles sit en wat die wêreldsfeeste dryf nie.

Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan. 1Jn 4:1

Ons toets ‘n valse gees aan een standaard – en die een standaard is die waarheid en dit is die Woord van God wat ons dan ook heilig, en ons verlos van die valse geeste:

Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid. Joh 17:17

Die hele inhoud van u woord is waarheid, en al u regverdige verordeninge is tot in ewigheid. Psa 119:160

Die Waarheid is gesetel in God se Woord. So is die valse geeste gesetel in wat gesê word…in hul woorde. Woorde weerspieël geeste…”Hieruit ken ons die Gees van die waarheid en die gees van die dwaling”:

Hulle is uit die wêreld; daarom praat hulle uit die wêreld, en die wêreld luister na hulle. Ons is uit God; hy wat God ken, luister na ons; hy wat nie uit God is nie, luister nie na ons nie. Hieruit ken ons die Gees van die waarheid en die gees van die dwaling. 1Jn 4:5-6

Ons kan nie jaar in en jaar uit voortstrompel en in dieselfde “vangkuil” val en dan onkunde pleit nie:

As ons dan die geslag van God is, moet ons nie dink dat die godheid aan goud of silwer of steen, die beeldwerk van menslike kuns en uitvinding, gelyk is nie. God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer. Hand 17:29-30

Ons wil tog geestelike volwasse word en die wêreld en sy nietighede verloën! Hoekom sal ons wil rondswem in die wêreld se riool-afval en dan verbaas staan as ons geestelike diarree kry. Ons word geroep deur God om te bekeer van ons sonde en swakhede – nie daarin te leef nie. Dit is tog immers wat dit beteken as ons glo ons leef onder God se genade!

Want die sonde sal oor julle nie heers nie; want julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade. Rom 6:14

Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn en leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe. Tit 2:11-12

As mens een dag (of maand, of jaar) hoër ag as ‘n ander dag, dan is die persoon nog onvolwasse in geestelike dinge want alle dae (of maande, of jare) is gelyk voor God. Daar is ‘n groot gevaar om in geestelike onvolwassenheid voort te drentel!!! Jy word as buit weggevoer wat lei tot diepe smarte!

Pas op dat niemand julle as ‘n buit wegvoer deur die wysbegeerte en nietige misleiding nie, volgens die oorlewering van die mense, volgens die eerste beginsels van die wêreld en nie volgens Christus nie. Kol 2:8

Maar destyds, toe julle God nie geken het nie, het julle dié gedien wat van nature geen gode is nie; maar nou dat julle God ken, of liewer deur God geken is, hoe keer julle weer terug tot die swakke en armoedige eerste beginsels wat julle weer van voor af aan wil dien? Julle neem dae en en maande en tye en jare waar. Gal 4:8-10

Daar bestaan byvoorbeeld nie ‘n ding soos “NUWE” jaar vir kinders van God nie!

Wat gewees het, dit sal daar weer wees; en wat gebeur het, dit sal weer gebeur, en daar is glad niks nuuts onder die son nie. Is daar iets waarvan ‘n mens kan sê: Kyk hier, dit is nuut? Dit was lankal daar in die ou tyd wat voor ons gewees het. Pred 1:9-10

Mense skep kalenders en dit is bloot mense se kalenders. Op sigself is daar niks verkeerd met kalenders nie want dit help ons om ons tye te reël om gekoördineerde lewens met ander mense te deel. Dit is egter nie iets om te vier nie, en om een dag (of maand, of jaar) hoër as ‘n ander te stel nie. ELKE DAG (of MAAND, of JAAR) is spesiaal in sigself want God gee dit en alles in daardie dag (of maand, of jaar) is uniek uitgekies vir my:

U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie. Psa 139:16

Hoe kan ek iets wat God vir my uitgekies het om plaas te vind op ‘n spesifieke tyd as minder of meer belangrik afmaak. Ons ontvang alles elke dag uit die hand van God. Gee noukeurig aandag aan Job se Godgegewe woorde aan sy vrou:

Toe sê sy vrou vir hom: Volhard jy nog in jou vroomheid? Seën God, en sterf! Maar hy antwoord haar: Soos ‘n dwaas praat, praat jy! Die goeie sou ons van God aanneem, en nie ook die slegte aanneem nie? By dit alles het Job nie gesondig met sy lippe nie. Job 2:9-10

God gee ons net wat nodig is vir elke dag -niks meer en niks minder nie. Alles is perfek op tyd:

Alles het sy bepaalde uur, en vir elke saak onder die hemel is daar ‘n tyd: ‘n tyd om gebore te word en ‘n tyd om te sterwe, ‘n tyd om te plant en ‘n tyd om uit te roei wat geplant is, ‘n tyd om dood te maak en ‘n tyd om gesond te maak, ‘n tyd om af te breek en ‘n tyd om op te bou, ‘n tyd om te ween en ‘n tyd om te lag, ‘n tyd om te weeklaag en ‘n tyd om van vreugde rond te spring, ‘n tyd om klippe weg te gooi en ‘n tyd om klippe bymekaar te maak, ‘n tyd om te omhels en ‘n tyd om ver te wees van omhelsing, ‘n tyd om te soek en ‘n tyd om verlore te laat gaan, ‘n tyd om te bewaar en ‘n tyd om weg te gooi, ‘n tyd om te skeur en ‘n tyd om aanmekaar te werk, ‘n tyd om te swyg en ‘n tyd om te spreek, ‘n tyd om lief te hê en ‘n tyd om te haat, ‘n tyd vir oorlog en ‘n tyd vir vrede. Pred 3:1-8

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s