“En dit was aand en dit was môre…”

Gen 22:12 En Hy sê: Moenie jou hand na die seun uitsteek nie, en doen hom niks nie; want nou weet Ek dat jy God vrees en jou seun, jou enigste, van My nie teruggehou het nie.

Deu 8:2 En jy moet dink aan die hele pad waarlangs die HERE jou God jou nou veertig jaar lank in die woestyn gelei het tot jou verootmoediging en beproewing, om te weet wat in jou hart is, of jy sy gebooie sal hou of nie.

Enigeen wat dink dat hierdie twee verse bewys dat God nie bewus was van wat in Abraham, Israel of ons almal se harte aangaan voor ons iets fisies doen nie, glo ook dat die Skrifte weerspreek hulself. Hulle glo ook nie dat God die bose geskep het nie, en dat God nie die goddelose en bose mens gemaak het vir die dag van onheil nie:

Jes 45:7 wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen. [Isa 45:7 (KJV) I form the light, and create darkness: I make peace, and create evil: I the LORD do all these things.]

Spreuke 16:4 Alles het die HERE gemaak vir sy doel, ja, ook die goddelose vir die dag van onheil.

Daar staan dit – oop en bloot. God skep alles – goed en kwaad – en Hy beheer alles!! Mens moet geestelik blind wees om nie te kan sien dat God alles weet! Iemand wat dink dat God ons lei deur “verootmoediging en beproewing, om te weet” (of om uit te vind) wat in ons harte en gedagtes aangaan, dink klaarblyklik dat God nie eens geweet het waar Adam en Eva was toe Hy na hulle geroep het in die tuin van Eden nie:

Gen 3:8-9 En hulle het die stem van die HERE God gehoor terwyl Hy wandel in die tuin in die aandwindjie; en die mens en sy vrou het hulle verberg vir die aangesig van die HERE God tussen die bome van die tuin. Toe roep die HERE God na die mens en sê vir hom: Waar is jy?

Toe God vra: “Waar is jy” was dit nie omdat God nie geweet het agter watter boom Adam weggekruip het nie. Dit was om vir Adam te vertel dat hy nie op die regte plek was nie. Adam self het gedink dat God hom nie kon sien nie deur te antwoord asof God nie weet wat gebeur het nie:

Gen 3:10 En hy antwoord: Ek het u geruis gehoor in die tuin en gevrees, want ek is naak; daarom het ek my verberg.

Net so het Jesus geweet vir wie hulle soek toe Hy vra “wie soek julle?”

Joh 18:3-5 En Judas het die afdeling soldate en die dienaars van die owerpriesters en die Fariseërs geneem en daar gekom met fakkels en lampe en wapens. En omdat Jesus alles geweet het wat oor Hom sou kom, het Hy uit die tuin gegaan en vir hulle gesê: Wie soek julle? Hulle antwoord Hom: Jesus, die Nasaréner. Jesus sê vir hulle: Dit is Ek. En ook Judas, sy verraaier, het by hulle gestaan.

Jesus het geweet vir wie hulle soek, maar vra nogtans: “Wie soek julle?” Dit is hoe God met ons natuurlike denke werk. Hy weet ons is nie eens bewus dat Hy alles weet nie en hanteer ons op ons vlak. Hy “betoon” Homself aan ons op die vlak waar ons is:

Psa 18:26-27 By die liefderyke betoon U Uself liefderyk, by die opregte man opreg, by die reine rein; maar by die valse betoon U Uself verkeerd.

God bewys aan Abraham, Israel en ons almal (nie vir Homself nie) dat dit is ons wat nie weet wat ons ware kondisie is nie, en eintlik weet ons maar bitter min wat in ons eie lewens aangaan. Ons is verblind deur ons eie opinies en eiegeregtigheid.

God weet egter alles van ons en alles wat ons ooit sal dink, praat en doen. Hy het dit ALLES opgeteken voor ons geboorte in Sy boek en God bewerkstellig ALLES en dit gebeur 100% presies op die bestemde tyd:

Psa 139:16 U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.

Efes 1:11 in wie ons ook ‘n erfdeel ontvang het nadat ons vantevore daartoe verordineer is ooreenkomstig die voorneme van Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil,

Pred 3:1-8 Alles het sy bepaalde uur, en vir elke saak onder die hemel is daar ‘n tyd: 2 ‘n tyd om gebore te word en ‘n tyd om te sterwe, ‘n tyd om te plant en ‘n tyd om uit te roei wat geplant is, 3 ‘n tyd om dood te maak en ‘n tyd om gesond te maak, ‘n tyd om af te breek en ‘n tyd om op te bou, 4 ‘n tyd om te ween en ‘n tyd om te lag, ‘n tyd om te weeklaag en ‘n tyd om van vreugde rond te spring, 5 ‘n tyd om klippe weg te gooi en ‘n tyd om klippe bymekaar te maak, ‘n tyd om te omhels en ‘n tyd om ver te wees van omhelsing, 6 ‘n tyd om te soek en ‘n tyd om verlore te laat gaan, ‘n tyd om te bewaar en ‘n tyd om weg te gooi, 7 ‘n tyd om te skeur en ‘n tyd om aanmekaar te werk, ‘n tyd om te swyg en ‘n tyd om te spreek, 8 ‘n tyd om lief te hê en ‘n tyd om te haat, ‘n tyd vir oorlog en ‘n tyd vir vrede.

God verstaan elke gedagte in ons “van ver” omdat Hy selfs ons gedagtes “werk”:

Psa 139:1-2 Vir die musiekleier. ‘n Psalm van Dawid. HERE, U deurgrond en ken my.  U ken my sit en my opstaan; U verstaan van ver my gedagte.

Hierdie waarheid word deur die natuurlike mens as totale snert afgemaak en hy haat dit om uit te vind dat “die mens van sonde” NIE in beheer is van enigiets nie. Hierdie “mens van sonde” glo hy het ‘n vrye wil en dat God hom dit gegee het om te maak en breek soos hy wil.

VERKEERD!

God heers en Hy gee aan ons die idee dat ons in beheer is om ons daardeur te laat ontdek wie HY is. Ons leer deur teenoorgesteldes. Ons leer eers die donker ken voor die lig kom. Kyk na die volg0rde van die skepping en dit is ‘n gelykenis van ons eie skepping in Adam:

Gen 1:1-5 In die begin het God die hemel en die aarde geskape. 2 En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters. 3 En God het gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig. 4 Toe sien God dat die lig goed was. En God het skeiding gemaak tussen die lig en die duisternis; 5 en God het die lig dag genoem, en die duisternis het Hy nag genoem. En dit was aand en dit was môre, die eerste dag.

Kyk die volgorde in die volgende herhaling in Genesis 1:

(Vers 5): “En dit was aand en dit was môre, die eerste dag.”

(Vers 8): “En dit was aand en dit was môre, die tweede dag.”

(Vers 13): “En dit was aand en dit was môre, die derde dag.”

(Vers 19): “En dit was aand en dit was môre, die vierde dag.”

(Vers 23): “En dit was aand en dit was môre, die vyfde dag.”

(Vers 31): “En dit was aand en dit was môre, die sesde dag.”

Die “aand” kom voor die “môre” want dit is hoe ons leer en groei in Sy geregtigheid. Die donkerte kom voor die Lig in ons eie lewe. Ons moet eers die duisternis ervaar voor ons die LIG kan herken en waardeer.

Joh 1:1-5 In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. 2 Hy was in die begin by God. 3 Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie. 4 In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense. 5 En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie.

Ons dink ons weet iets, maar ons weet niks. Ons dink ons is iets, maar ons is niks sonder God. Die mens en sy grootste prestasies is alles stink drek – alles waardeloos en afstootlik vir God (Fil 3:3-10):

Jes 64:6 En ons het almal geword soos ‘n onreine, en al ons geregtighede soos ‘n besoedelde kleed; en ons het almal verdor soos blare, en ons ongeregtighede het ons weggevoer soos die wind.

Maar ons sal dit nooit erken alvorens Jesus dit aan ons uitwys nie. Jesus se koms (IN ONS) wys ons eerste wie ons is:

2Th 2:3-4 Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is.

Solank die natuurlike mens die boosheid en vyand daar buite sien, sit die afgod (“die mens van sonde”) rustig en glo hy het ‘n “vrye” wil en is nie so sleg soos ander mense nie. Hy praat met lof van al sy prestasies en goeie werke (die “merk” op die regterhand verwys na ons dade), en aanbid homself en ander wat op groot verhoë en op televisie beroemd en populêr is. Dit word alles “beheer” vanaf “die mens van sonde” se troon wat in sy hemel (sy gedagtes) gesetel is (“die “merk” op die voorhoof verwys juis na hierdie DENKE in ons). Dit is die toestand van ons almal voor ons Christus kan sien!

Open 13:16-18 En hy maak dat aan almal, klein en groot, en die rykes en die armes, en die vrymense en die slawe ‘n merk op hulle regterhand en op hulle voorhoofde gegee word; sodat niemand kan koop of verkoop nie, behalwe hy wat die merk of die naam van die dier of die getal van sy naam het. Hier kom die wysheid te pas. Wie die verstand het, laat hom die getal van die dier bereken, want dit is die getal van ‘n mens; en sy getal is ses honderd ses en sestig.

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s