Die konsep ‘sondeval’ word orals gebruik in Christen sirkels, maar die woord word egter nêrens in die Skrifte genoem nie. Daar is ‘n baie goeie rede daarvoor – dit is ‘n valse leer. God se Woord verkondig nie valse leerstellings as waarheid nie. Jesus het nooit van so ‘n leer gepraat nie. Propageerders van hierdie leer glo dat die eerste Adam SONDELOOS was by sy skepping, en het toe deur sy sogenaamde “vrye” wil sondig geword toe hy en sy vrou (Eva) van die verbode boom se vrugte geëet het. Soos God wil sal ons deur die Skrifte sien dat hierdie leer van ‘n ‘sondeval’ vals is.
Om meer uit te vind oor die valse leer van ‘n “vrye” wil, kan u gerus by hierdie skakels verder lees:
https://4windkoinonia.wordpress.com/2016/11/07/god-se-wil-is-soewerein-n-mens-het-geen-vrye-wil-nie/
https://4windkoinonia.wordpress.com/2012/11/19/die-valse-leer-van-vrye-wil/
https://4windkoinonia.wordpress.com/2016/04/20/volgens-die-raad-van-sy-wil-deel-1/
Is die mens ‘n sondaar? Ja. Hy misluk egter in die hand van die Skepper en dit alles gebeur vanaf die mens se skepping. Kyk na hierdie pragtige gelykenis wat God deur Jeremia aan ons gee, maar min kan sien dat dit van die skepping en leefwyse van die “eerste Adam” praat (die eerste “voorwerp”), asook die skepping en lewe van die nuwe mens in Christus in ons (die “ander voorwerp”). Christus staan ook bekend as die “laaste Adam” in die Skrifte (1Kor 15:45). Albei Adams (albei “voorwerpe”) is deel van God se EEN plan vir alle mense:
Jer 18:1-4 Die woord wat van die HERE tot Jeremia gekom het: 2 Maak jou klaar en gaan af na die huis van die pottebakker, en daar sal Ek jou my woorde laat hoor. 3 Toe het ek afgegaan na die huis van die pottebakker, en hy was juis besig om ‘n stuk werk op die skywe te maak. 4 En die voorwerp wat hy besig was om te maak, het misluk—soos dit gaan met klei in die hand van die pottebakker—maar hy het daaruit weer ‘n ander voorwerp gemaak soos dit in die oë van die pottebakker reg was om dit te maak.
Die “eerste Adam” was geskep in ‘mislukking’ (of soos Dawid dit uitdruk: “Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang – Ps 51:7 OAV) – in die hand van die Pottebakker. Paulus beskryf dieselfde gedagte van die “eerste Adam” se kondisie by sy skepping as volg:
Rom 8:20 Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het
Die “eerste Adam” was aan “nietigheid” onderworpe van die begin. Adam het homself nie so geskep nie – hy was so geskep “ter wille van Hom wat dit onderwerp het”. Die “eerste Adam” was van stof gemaak vir ‘n definitiewe doel.
Gen 2:7 En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword.
Hy is stof, hy sloof hom af deur sy hele leeftyd, en keer dan weer terug na stof. Dit is hoe die Pottebakker die “eerste Adam (die vlees en bloed Adam) se lot bepaal het by sy skepping – nog voor Adam enigiets gedoen het! Hier word Adam weer ingelig oor hierdie waarheid nadat hy God se gebod oortree het:
Gen 3:19 In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.
Adam het hierdie waarheid reeds gehoor toe God die verbod op die eet van die boom van kennis van goed en kwaad ingestel het. Hierdie waarheid word egter weggesteek agter die woorde wat die vertalers gebruik:
Gen 2:16-17 En die HERE God het aan die mens bevel gegee en gesê: Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, 17 maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe [Hebreeus: mûth mûth]
Die woorde “sekerlik sterwe” is vertaal van die Hebreeuse woorde “mûth mûth”. “mûth” word herhaal om te beklemtoon dat Adam reeds in ‘n sterwende liggaam geskep was en as hy eet van die boom hy sy toestand sal bevestig. Adam was net soos ons en het nie God se woorde geglo nie, wat bevestig was deur sy geloof in die slang se leuen:
Gen 3:4 Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie;
Hoeveel mense glo tot vandag hierdie woorde van die slang!!! Lees gerus by hierdie skakel waarom Adam en Eva, en ons almal, so graag hierdie leuen glo:
Die mens moet eet van die boom van die lewe om vir ewig te kan lewe. Die eerste Adam het dit egter nooit gedoen nie – dit is so aangeteken in die Skrifte:
Gen 3:22 Toe sê die HERE God: Nou het die mens geword soos een van Ons deur goed en kwaad te ken. As hy nou maar nie sy hand uitsteek en ook van die boom van die lewe neem en eet en lewe in ewigheid nie!
Daar staan dit vir hulle wat God se Woorde kan aanvaar. Adam het nie gesterf en verganklik geword omdat hy geëet van die boom van die kennis van goed en kwaad nie. Adam was sondig want hy was geskep in verganklikheid en dit is wat die vlees is – dit is van die stof en Adam was ‘n sterwende wese.
Wat is die betekenis van stof in ‘n geestelike sin. Wat wil God vir ons sê as Hy die eerste Adam van stof maak?
Eerstens is stof nie gees nie. Stof beeld uit ons tydelikheid. Die eerste Adam sou nooit vir ewig in stof moes voortploeter nie. Dit is slegs die eerste fase van God se plan met ons. Ons moet eers deur ‘n tydelike eon (“eeu”) leef. Ons is besig met tydelike dinge in hierdie “eeu”. Al die mens se grootste wyshede is egter dwaasheid. Dit is ons “eeu” van dwaashede en ons leef in ongehoorsaamheid aan God en Sy gebod:
Luk 20:34 Toe antwoord Jesus en sê vir hulle: Die kinders van hierdie eeu trou en word in die huwelik uitgegee;
1Kor 1:20 Waar bly die wyse? Waar bly die skrifgeleerde? Waar die redetwister van hierdie eeu? Het God nie die wysheid van hierdie wêreld dwaas gemaak nie?
Stof is dus ‘n teken van verganklikheid. Ons word eers “gesaai” in verganklikheid, in oneer, in swakheid – dit beskryf vlees en sy toestand baie goed:
1Kor 15:42-43 …..daar word gesaai in verganklikheid…..daar word gesaai in oneer…..daar word gesaai in swakheid….
Mat 26:41 Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.
Adam en Eva was ook naak by hul skepping.
Gen 2:25 En hulle was altwee naak, die mens en sy vrou, maar hulle het hul nie geskaam nie.
Is naaktheid iets goed? NEE! Wat wil God vir ons daardeur sê?
Weereens is daar soveel geestelike lesse te leer in naaktheid. Kyk waarmee loop naaktheid saam in ons. Kyk wat is naaktheid se bondgenote!
Open 3:17 ….. jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie.
Hier is naaktheid se geestelike bondgenote: “…ellendig…beklaenswaardig…arm…blind….”.
Tog hou die natuurlike mens met al sy welluste van naaktheid – dit is die gees van die wêreld in hom. Ek sal later wys hoe hierdie gees ook in Adam en Eva teenwoordig was by hul skepping en gemanifesteer het toe die slang met hulle praat:
1Jn 2:16 Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld.
God skep ons eerste in naaktheid en ons gaan dan deur ‘n proses om uit te vind en te leer waarom ons KLERE benodig. Dit is ‘n geestelike proses wat ek van praat wat wel in die natuurlike uitgeleef word. Watter ouer wil sy kinders naak sien rondloop? Hoekom sal ons wil glo dat ons hemelse Vader wil Sy kinders naak hou? Dit is ‘n baie siek mens wat so iets dink. God wil ons beklee en Hy wil dan ook hê dat ons ons klere moet BEWAAR:
Open 16:15 Kyk, Ek kom soos ‘n dief. Salig is hy wat waak en sy klere bewaar, sodat hy nie miskien naak rondloop en hulle sy skaamte sien nie.
Naakheid is om nie gekleed te wees met God se geregtigheid nie. Geestelik verwys klere na God se geregtigheid. Let op die woord “GEGEE” – ons verdien dit nie:
Open 19:8 En aan haar [die bruid van die Lam] IS GEGEE om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges.
Open 6:11 En aan elkeen van hulle [die bruid] is wit klere GEGEE…
Open 7:13-14 Toe het een van die ouderlinge gespreek en vir my gesê: Hulle wat bekleed is met die wit klere, wie is hulle en waarvandaan het hulle gekom? 14 En ek sê vir hom: My heer, u weet dit. En hy sê vir my: Dit is hulle wat uit die groot verdrukking kom, en hulle het hul klere gewas en hul klere wit gemaak in die bloed van die Lam.
Adam en Eva was totaal onbewus van hul geestelike toestand. Hulle was SONDER God se geregtigheid. Om nie skaam te wees vir naaktheid nie wys na ons geestelike blindheid vir ons ware geestelike toestand. Kyk hoe voel mens as jy uitvind dat ons in ‘n naakte “liggaam van hierdie dood” geskep was:
Rom 7:24 Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?
Dit word hopelik al hoe duideliker waarom die leer van ‘n sogenaamde ‘sondeval’ net nie reg kan wees nie. Adam en Eva het nêrens gehad om te val nie. Hulle was stof en naak! Hulle was ellendige…beklaenswaardige…arme….blinde…naakte mense by hul skepping. God het hulle doelbewus so geskep. God is alleen Skepper van alles:
Jes 45:5-7 Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; buiten My is daar geen God nie; Ek omgord jou, hoewel jy My nie geken het nie, 6 sodat hulle kan weet van die opgang van die son en van sy ondergang af dat daar buiten My geeneen is nie; Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; 7 wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen.
God sê dat Hy self die donkerte en dit wat onheilig is geskep het. Deur Salomo sê God dit so:
Spr 16:4 Alles het die HERE gemaak vir sy doel, ja, ook die goddelose vir die dag van onheil.
Ja selfs die “ellendige mens” is vir God se doel geskep. Alles wat God gekep het was “baie goed” geskep VIR GOD SE DOEL:
Gen 1:31 Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en—dit was baie goed. En dit was aand en dit was môre, die sesde dag.
Daar is nie twee skeppingsverhale nie – net EEN. God het ALLES in die ses dae skepping gemaak. God sê dat Hy selfs die verderwer gemaak het juis om te verniel. Dit is sy doel van sy skepping af, soos deur God bepaal:
Jes 54:16 Kyk, Ék het die smid geskape wat die koolvuur aanblaas en ‘n wapen voortbring volgens sy ambag; ook het Ék die verderwer geskape om te verniel.
Jesus sê self dat Satan ‘n mensemoordenaar en leuenaar was “van die begin af”:
Joh 8:44 Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was ‘n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ‘n leuenaar is en die vader daarvan.
Diegene wat Jesaja 14 en Esegiël 28 verdraai om Satan se sogenamde “val” uit te beeld, is geestelik blind en kan nie sien dat die tekste verwys na die “eerste Adam” nie. Satan was soos die eerste Adam NOG NOOIT perfek nie. Lees gerus my reeks oor “Die waarheid oor die identiteit en rol van Satan” in God se plan. Hier is ‘n skakel tot deel 5 van die reeks om juis Jesaja 14 en Esegiël 28 duidelik te maak:
Job 1 en 2 leer duidelik dat die verderwer, Satan, nie ‘n vinger kan verroer sonder God se toestemming nie. Hy is van sy skepping onder totale beheer.
Job 1:12 Daarop sê die HERE aan die Satan: Kyk, alles wat hy het, is in jou hand; net na homself mag jy jou hand nie uitsteek nie. En die Satan het weggegaan van die aangesig van die HERE.
Job 2:6 En die HERE sê aan die Satan: Kyk, hy is in jou hand; spaar net sy lewe.
Die “ou slang” kan net werk met dit wat reeds in ons harte is – dit is daar geplaas deur God, maar God Homself versoek niemand nie. Dit is die taak van die “ou slang” wat fokus op ons “eie begeerlikheid”:
Jak 1:13-14 Laat niemand, as hy in versoeking kom, sê: Ek word deur God versoek nie. Want God kan deur die kwaad nie versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie. 14 Maar elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word.
Die slang “eet” stof – die mens van vlees en bloed. In Genesis 3 lees ons hoe hy te werk gaan om ons “eie begeerlikheid” uit te buit:
Gen 3:1-5 Maar die slang was listiger as al die diere van die veld wat die HERE God gemaak het. En hy sê vir die vrou: Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie? 2 En die vrou antwoord die slang: Van die vrugte van die bome in die tuin mag ons eet, 3 maar van die vrugte van die boom wat in die middel van die tuin is, het God gesê: Julle mag daarvan nie eet nie en dit nie aanroer nie, anders sal julle sterwe. 4 Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie; 5 maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken.
Die “eie begeerlikheid” was in Adam en Eva en die slang het dit geweet. Hy het daarop gefokus. Kyk wat was reeds in Adam en Eva se harte VOOR hulle aan die verbode boom geraak het om van sy vrugte te eet:
Gen 3:6 Toe sien die vrou dat die boom goed was om van te eet en dat hy ‘n lus was vir die oë, ja, ‘n boom wat ‘n mens kan begeer om verstand te verkry; en sy neem van sy vrugte en eet en gee ook aan haar man by haar, en hy het geëet.
Hier reflekteer die Skrifte watter gees in Eva en in Adam was (Eva kom uit Adam). Kom ons lees weer 1Johannes 2 vers 16 en kyk hoe dit presies ooreenstem met wat in die eerste Adam en sy vrou se harte (denke) was:
1Jn 2:16 Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees [“toe sien die vrou dat die boom goed was om van te eet”] en die begeerlikheid van die oë [“dat hy ‘n lus was vir die oë”] en die grootsheid van die lewe [“ja, ‘n boom wat ‘n mens kan begeer om verstand te verkry”]—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld.
Daar staan dit duidelik vir hulle wat oë gegee is om te sien. Die eerste Adam en sy vrou het die gees van die wêreld gehad en NIE die gees van die Vader nie. Adam en Eva het hierdie AARDSE begeertes en welluste in hul harte gehad van hul skepping. Die goed kom nie daar op hul eie nie. ONTHOU: God is die Skepper van alles. God is die “Vader van [alle] geeste” – Hy skep hulle en Hy beheer hulle – die goeies en die slegtes:
Heb 12:9 Verder, ons het ons vaders na die vlees as kastyders gehad, en ons het vir hulle ontsag gehad; moet ons nie veel meer aan die Vader van die geeste onderworpe wees en lewe nie?
Mat 5:45 ….Hy laat sy son opgaan oor slegtes en goeies, en Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges.
Adam en Eva se harte was verdorwe voor hulle deur hul handelinge gesondig het.
Jer 17:9 Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?
Wie ken ons verdorwe hart? God alleen. Hy het dit gemaak. Ons vind eers later uit, veral as ons begin praat en handelinge uitvoer. Ons almal staan dikwels verstom as ons sien wat uit ons harte kom. Adam en Eva was net so geskok:
Gen 3:9-11 Toe roep die HERE God na die mens en sê vir hom: Waar is jy? 10 En hy antwoord: Ek het u geruis gehoor in die tuin en gevrees, want ek is naak; daarom het ek my verberg. 11 En Hy sê: Wie het jou te kenne gegee dat jy naak is? Het jy geëet van die boom waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie?
Ons handelinge reflekteer net ons harte (ons denke) se toestand.
Spr 23:7 Want soos hy in sy siel bereken, so is hy….
Die sondige DAAD het nie net gebeur toe Adam en Eva geëet het van die verbode vrug nie. Hulle harte was reeds verdorwe en gevul met sondige begeertes voor hulle aan die vrug geëet het.
God het alles geweet en Hy het alles bepaal om so te gebeur. Hy neem volle verantwoordelikheid vir Sy hele skepping. God kruip nie weg vir Sy dade soos Adam en Eva nie, en soos die valse leraars wil voorgee nie. Nee, God neem volle blaam vir alles en kan Homself baie goed verdedig. Hy skuld egter vir niemand ‘n verduideliking nie. Alles wat Hy doen is oop en bloot geskryf en die geestelike blindes kan dit net nie sien nie. Ook dit is nie hulle skuld nie, maar in hul arrogansie praat hierdie blinde leraars namens God terwyl God hulle nooit gevra het om Hom te verdedig nie. Hulle volgelinge kan net gaan waar hulle lei – tot “in die sloot” van afvalligheid:
Mat 15:14 Laat hulle staan; hulle is blinde leiers van blindes. En as ‘n blinde ‘n ander blinde lei, sal altwee in die sloot val.
Afvalligheid in hierdie sin is ook ‘n blote teenstelling wat gebruik word om die verwaandheid te belig wat heers in die denke van die blindes wat meen dat hulle “staan”:
1Kor 10:12 Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.
God neem volle verantwoordelikheid vir ALLES in Sy skepping. Hy skep en beheer alles ook in almal se harte. Kyk hoe beskryf Jesaja hierdie werk van God in Adam en Eva, en in ons almal se harte:
Jes 63:17 HERE, waarom laat U ons wegdwaal van u weë? Waarom verhard U ons hart, sodat ons U nie vrees nie?
Paulus noem dit so:
Rom 9:15-18 Want aan Moses sê Hy: Ek sal barmhartig wees oor wie Ek barmhartig wil wees en My ontferm oor wie Ek My wil ontferm. 16 So hang dit dan nie af van die een wat wil of van die een wat loop nie, maar van God wat barmhartig is. 17 Want die Skrif sê aan Farao: Juis hiervoor het Ek jou laat optree, dat Ek in jou my krag kan toon en dat my Naam verkondig kan word op die hele aarde. 18 So is Hy dan barmhartig oor wie Hy wil en Hy verhard wie Hy wil.
Die gebod van God is dus ook daar gestel om ons te wys wie of wat ons is. Ons doen en late spruit dus uit hierdie oorsprong – ons harte is van die skepping af “hard” en ons volg nie God se weg nie – soos Adam en Eva duidelik aan ons uitwys. Die verbod van God aan Adam en Eva om nie te eet van die vrug van die boom van kennis van goed en kwaad verteenwoordig dus basies die wet van God vir die onregverdiges – NIE VIR ‘n REGVERDIGE nie. Hierdie verbod aan Adam en Eva was die voorloper van die wet van Moses. Kyk weer vir wie is die tipe wet:
1Ti 1:8-10 Maar ons weet dat die wet goed is as iemand dit wettiglik gebruik 9 en as hy weet dat die wet nie gegee is vir die regverdige nie, maar vir die wettelose en tugtelose mense, goddelose en sondaars, onheiliges en ongewydes, vadermoorders en moedermoorders, moordenaars, 10 hoereerders, sodomiete, mensediewe, leuenaars, meinediges en wat daar anders met die gesonde leer in stryd is,
Die onregverdige is onbewus van sy eie toestand en wat God se plan is. Hy dink dat hy regverdigheid kan verdien deur goeie dinge te doen en God te probeer beindruk. Maar kyk hoe baie mense gaan geskok staan as God hulle wegwys:
Mat 7:21-23 Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. 22 Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? 23 En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!
Ja die onregverdiges DOEN ook baie dinge! Hulle doen dit egter in onkunde. Om net te DOEN is ook nie die antwoord as ons nie eens weet WAT en HOEKOM ons dit doen nie.
Luk 10:40-41 …Martha was baie besig om alles klaar te maak. Sy kom toe daar staan en sê: Here, gee U nie om dat my suster my alleen laat bedien nie? Sê dan vir haar dat sy my moet help. 41 Maar Jesus antwoord en sê vir haar: Martha, Martha, jy is besorg en verontrus oor baie dinge…
As die Here wil hê ons moet Sy Woord “doen”, dan gaan dit oor baie meer as fisiese AKSIES. Om te “doen” gaan veral daaroor dat ons moet weet en erkenning gee (“rekenskap gee”) dat God alles doen – ook IN en DEUR ons. Ons kan net doen wat Hy in ons bewerkstellig om te kan doen:
Fil 2:11-12 en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader. 12 Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam gewees het, nie in my teenwoordigheid alleen nie, maar baie meer nou in my afwesigheid, werk julle eie heil uit met vrees en bewing;
O ja, ons sal almal “rekenskap” gee, veral van “ydele” woorde omdat ons nie reg praat en optree nie. Ons “ydele woorde” gee nie erkenning aan God se almag in ALLES nie:
Mat 12:36 Maar Ek sê vir julle dat van elke ydele woord wat die mense praat, daarvan moet hulle rekenskap gee in die oordeelsdag.
Rom 14:12 So sal elkeen van ons dan vir homself aan God rekenskap gee.
Die opdrag om nie te eet van die verbode boom se vrugte was gegee om aan Adam en Eva te wys dat hulle NIE regverdig was nie, maar “wettelose en tugtelose mense”:
Rom 7:7 Wat sal ons dan sê? Is die wet sonde? Nee, stellig nie! Inteendeel, ek sou die sonde nie anders as deur die wet geken het nie; want ek sou ook die begeerlikheid nie geken het nie as die wet nie gesê het: Jy mag nie begeer nie.
Ons kan net onsself reg sien deur God se wet. Die wet sê dat ons sondaars is:
Rom 3:23 want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God,
Vlees is sonde en die vleeslike liggaam is die uitbeelding van hierdie sonde:
Rom 6:6 aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie.
Dit is die “eerste Adam” se skeppings-toestand en ons almal handel volgens hierdie toestand:
Rom 3:10-17 soos geskrywe is: Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie. 11 Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat God soek nie. 12 Hulle het almal afgewyk, saam het hulle ontaard. Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie. 13 Hulle keel is ‘n oop graf, met hul tonge pleeg hulle bedrog, die gif van adders is onder hulle lippe. 14 Hulle mond is vol vervloeking en bitterheid. 15 Haastig is hulle voete om bloed te vergiet. 16 Verwoesting en ellende is in hulle paaie, 17 en die weg van vrede ken hulle nie.
Dit is wat Adam en Eva moes sien. Dit is wat ons moet sien. Ons eet nie van die boom van die lewe nie. Ons kyk dit totaal mis. Adam en Eva het:
Jes 53:1-3 Wie het geglo wat aan ons verkondig is? En aan wie is die arm van die HERE geopenbaar? 2 Hy tog het soos ‘n loot voor sy aangesig opgespruit en soos ‘n wortel uit droë grond. Hy het geen gestalte of heerlikheid gehad, dat ons Hom sou aansien nie, en geen voorkoms, dat ons Hom sou begeer nie. 3 Hy was verag en deur die mense verlaat, ‘n man van smarte en bekend met krankheid; ja, soos een vir wie ‘n mens sy gelaat verberg; Hy was verag en ons het Hom nie geag nie.
Hy is egter die “arm van God”, Jesus Christus, die “laaste Adam” wat ware lewe bring. Maar ons moet wag daarvoor. Ons moet eerste DEUR die eerste Adam gaan en AL ons lesse leer. Eers “daarna” ervaar ons die “laaste Adam”:
1Kor 15:45-49 So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees. 46 Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike. 47 Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel. 48 Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. 49 En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra.
Dit is NET deur Jesus Christus en Sy lewe in ons dat ons aan God se geestelike gebod 100% gehoorsaam kan wees. Kyk mooi: daar is twee wette wat ons moet deurleef. Die eerste is die “wet van die sonde en die dood” wat op die vleeslike “eerste Adam” van toepassing is. Dan word ons vrygemaak van daardie wet deur die “wet van die gees van die lewe in Christus Jesus” wat ons bekragtig om selfs nou in die vlees God te bevredig – “sodat die reg van die [ou] wet vervul kon word in ons wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees”:
Rom 8:1-4 Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees. 2 Want die wet van die Gees van die lewe in Christus Jesus het my vrygemaak van die wet van die sonde en die dood. 3 Want God het wat vir die wet onmoontlik was, omdat dit kragteloos was deur die vlees deur sy eie Seun in die gelykheid van die sondige vlees te stuur, en dit ter wille van die sonde, die sonde veroordeel in die vlees, 4 sodat die reg van die wet vervul kon word in ons wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.
Die ou wet word vervul deur die dood! Dit is wat die ou wet vir ons wil sê. Ons is dood in sonde en misdaad.
Rom 3:19-20 Nou weet ons dat alles wat die wet sê, hy dit sê vir die wat onder die wet is, sodat elke mond gestop en die hele wêreld voor God doemwaardig kan wees; 20 aangesien uit die werke van die wet geen vlees voor Hom geregverdig sal word nie, want deur die wet is die kennis van sonde.
Ons was so geskep en ons moet God se doel daarmee erken. Ons leer egter groot en belangrike lesse deur hierdie doodsbestaan. Dit moet so wees. Ons moet die “eerste Adam” eers ervaar en respekteer in God se groot plan. Ons leer alles in teenoorgesteldes. Ons leer eers van donker voor ons kan weet wat “lig” is. Dit is eers “aand” voor die “môre” kom:
Gen 1:1-5 In die begin het God die hemel en die aarde geskape. 2 En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters. 3 En God het gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig. 4 Toe sien God dat die lig goed was. En God het skeiding gemaak tussen die lig en die duisternis; 5 en God het die lig dag genoem, en die duisternis het Hy nag genoem. En dit was aand en dit was môre, die eerste dag.
Ons leer eers van boosheid voor ons van God se heiligheid kan ken. Die aardse Adam en sy sondige leefwyse is voorwaar ‘n “moeilike taak wat God aan die mensekinders gegee het om ons daarmee te kwel”:
Pred 1:13 En ek het my hart daarop gerig om met wysheid te ondersoek en na te speur alles wat onder die hemel gebeur. Dit is ‘n moeilike taak wat God aan die mensekinders gegee het om hulle daarmee te kwel.
Maar ons almal in ons blindheid klou eerder vas aan ons ou gedagtes en skewe oortuigings. Ons klou vas aan hierdie DOODSBESTAAN. Ons is werklik ellendige mense met ‘n verwronge en tragiese uitkyk op alles. Maar ons kan die nuwe lewe in Christus slegs ervaar as ons leer om vir self te sterf en ons eie kruis op te neem en Jesus te volg.
Mat 10:38-39 En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie. 39 Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind.
Gal 2:20 Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.
Kol 1:24 Nou verbly ek my in my lyding vir julle en vul in my vlees aan die oorblyfsels van die verdrukking van Christus vir sy liggaam, wat die gemeente is;
Dit is slegs moontlik as Hy IN ons is, en dan kan ons deur Sy lewe, Sy vermoëns, ALLES DOEN:
Fil 4:13 Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.
Terug pieng: Temas | "Is en Wat Was en Wat Kom" – die onbekende karakter van Jesus Christus en Sy Woord
Terug pieng: Gelowiges teenoor die ware dissipels van Jesus | 4windkoinonia