Almal word gered deur genade, sonder verdienste en dit is ‘n geskenk (“gawe”) van God:
Efes 2:8-9 Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; 9 nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.
Niemand kan ook na Jesus kom as die Vader hom/haar nie trek nie:
Joh 6:44 Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag.
Die hele reddingsproses is ‘n genadeproses wat “uit God” kom, dit is deur Hom geïnisieer; die hele proses word “deur God” bewerkstellig, en almal sal uiteindelik “tot God” kom.
Efes 2:10 Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.
Rom 11:36 Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.
1Kor 15:22-28 Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word; 23 maar elkeen in sy eie orde: as eersteling Christus, daarna die wat aan Christus behoort by sy koms. 24 Daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het. 25 Want Hy moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het. 26 Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood. 27 Want Hy het alles aan sy voete onderwerp, maar wanneer Hy sê dat alles onderwerp is, is dit duidelik dat Hy uitgesonder is wat alles aan Hom onderwerp het. 28 En wanneer alles aan Hom onderwerp is, dan sal ook die Seun self Hom onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal kan wees.
God gaan 100% suksesvol wees en ALMAL in Adam red en tot saligheid bring. Hierdie geloof is egter nie nou in almal nie. Die mens kan NIE op sy eie tot God kom NIE. Niemand kan God soek as God daardie begeerte nie in die mens plaas nie:
Rom 3:10-18 soos geskrywe is: Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie. 11 Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat God soek nie. 12 Hulle het almal afgewyk, saam het hulle ontaard. Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie. 13 Hulle keel is ‘n oop graf, met hul tonge pleeg hulle bedrog, die gif van adders is onder hulle lippe. 14 Hulle mond is vol vervloeking en bitterheid. 15 Haastig is hulle voete om bloed te vergiet. 16 Verwoesting en ellende is in hulle paaie, 17 en die weg van vrede ken hulle nie. 18 Daar is geen vrees van God voor hulle oë nie.
Die mens se vleeslike wil is TEEN God en dit wat Hy doen. Die vlees KAN en WIL God nie behaag nie!
Rom 8:5-8 Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge. 6 Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede, 7 omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie. 8 En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie;
Dit is eintlik teen ons menslike wil dat God ons “trek” na Hom om gered te word. God het dit so beplan en doen ook tot vandag so omdat Hy nie Sy eer met ‘n vleeslike skepsel deel nie. Anders kan elkeen spog dat hy self, op sy eie gekies het om Jesus te volg:
Joh 15:16 Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies en julle aangestel om vrug te gaan dra en dat julle vrug kan bly, sodat wat julle die Vader ook al in my Naam vra, Hy julle dit kan gee.
Daar is sommige wat hierdie woorde kan glo – hulle is deur Hom UITVERKIES om dit te glo. Die getal wat uitverkies is in hierdie aardse eon om God se woorde oor Sy saligheidsplan te kan aanvaar en dit uit te leef, is egter baie baie baie min:
Mat 22:14 Want baie is geroep, maar min uitverkies.
Want “baie” bely dat hulle self besluit het om in Jesus se naam goeie werke te doen. Hulle sê openlik dat hulle self hulle “harte” vir Jesus gegee het! Verbeel jou. Ek self het hierdie woorde op ‘n tyd gepraat in my onkunde. Ons almal praat met groot woorde dat ons Jesus “aangeneem” het as ons persoonlike saligmaker. Ons is eerlik en opreg IN ONS BLINDHEID EN ONKUNDE! Dit is die tragedie. Ywer is goed, maar verkeerde ywer is die ywer “sonder kennis”!
Rom 10:2 Want ek getuig van hulle dat hulle ‘n ywer vir God het, maar sonder kennis.
In ons tyd van ywer “sonder kennis” is ons selfs baie getrou in ONS goeie dade en is nie skaam om dit openlik voor God en mens te bely en uit te stal nie. Ja ons word “geroep”, maar ons luister nie reg nie. Luister noukeurig wat God aan hierdie “baie” geroepenes sê:
Mat 7:22 Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? Mat 7:23 En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!
Luister weer wat die Here sê…“Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!” Dit is die mense wat BAIE GOEIE dinge GEDOEN het wat hierdie harde woord hoor. Ek het hierdie harde woorde van die Here PERSOONLIK gehoor en beleef! Het jy al hierdie woorde persoonlik gehoor? As jy nog nie hierdie woorde reeds beleef het nie, dan sal jy dit wel later hoor en beleef want…
Mat 4:4 Maar Hy antwoord en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.
Ware redding kom van God en dit is Sy werk van begin tot einde. Hy het besluit wie in die eerste opstanding gaan wees en wie in die tweede opstanding gaan wees. ALMAL sal egter slegs DEUR VUUR gered word – dieselfde VUUR:
1Kor 3:13-15 elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. 14 As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; 15 as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.
Niemand mis hierdie vuur nie! Ons werke SAL beproef word DEUR DIE VUUR. Ons aardse werke sal openbaar word en ons sal daarvan moet afstand doen. Dit is wat bedoel word met die aflegging van die vlees. Dit is wat die globale vloed in ons eie lewe bewerkstellig! Ons moet verlossing kry van ons aardse gevangenis van vleeslikheid in AL sy vorme!
1Pe 3:18-22 Want Christus het ook eenmaal vir die sondes gely, Hy die Regverdige vir die onregverdiges, om ons tot God te bring—Hy wat wel gedood is na die vlees, maar lewend gemaak deur die Gees; 19 in wie Hy ook heengegaan en gepreek het vir die geeste in die gevangenis, 20 wat eertyds ongehoorsaam was toe die lankmoedigheid van God een maal gewag het in die dae van Noag, onderwyl die ark gereed gemaak is, waarin weinig, dit is agt, siele deur water heen gered is; 21 waarvan die teëbeeld, die doop, ons nou ook red, nie as ‘n aflegging van die vuilheid van die vlees nie, maar as ‘n bede tot God om ‘n goeie gewete—deur die opstanding van Jesus Christus 22 wat heengegaan het na die hemel en aan die regterhand van God is, terwyl engele en magte en kragte aan Hom onderwerp is.
Die aflegging van die vlees is ‘n pynlik proses want ons wil nie die vlees verloor nie! Ons word lief vir hierdie aardse skepsel en al sy aanhangsels. In ons geestelike blindheid wil ons al hierdie aardse dinge met ons saamsleep na ‘n sogenaamde ‘hiernamaals’. Mense deur die geskiedenis maak groot bohaai van begrafnisseremonies en die ‘reis’ na die ‘hiernamaals’! Dit is alles van geen waarde. God stel nie belang daarin nie en ons moet die emosionele en finansiële uitbuiting van al hierdie valse propaganda van vlees sien. Ons moet God bid om ons VANDAG te help om Sy stem te kan hoor:
Heb 3:12-15 Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle ‘n bose en ongelowige hart is deurdat hy van die lewende God afvallig word nie. 13 Maar vermaan mekaar elke dag so lank as dit vandag genoem word, sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde verhard word nie. 14 Want ons het deelgenote van Christus geword, as ons net die begin van ons vertroue tot die einde toe onwrikbaar vashou; 15 omdat daar gesê word: Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie soos in die verbittering nie.
Fisiese Israel IS NIE God se ware uitverkorenes nie, maar slegs geestelike tipes – hulle wys aan God se ware uitverkores wat om te doen en waarna om na uit te kyk om versigtig en Godsvresend te wandel VANDAG:
1Kor 10:11 Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het.
Fisiese Israel WOU NIE die vurige toetse in die woestyn beleef nie. Hulle wou ‘n kort pad hê en het dus aanhou kla en kla oor hul beproewinge wat God op hulle gebring het vir hul eie beswil. Dit is OOK slegs DEUR ” baie verdrukkinge” dat God se ware uitverkores in Sy koninkryk sal ingaan. Hoe duidelik is dit nie in die HELE Skrifte nie!
Hand 14:22 en die siele van die dissipels versterk en hulle vermaan om in die geloof te bly deur te sê: Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan.
Ons beproewinge word nie verniet as ‘n vuurproses uitgewys nie!!!
1Pe 4:11-13 As iemand spreek, laat dit wees soos woorde van God; as iemand dien, laat dit wees soos uit die krag wat God verleen, sodat God in alles verheerlik kan word deur Jesus Christus, aan wie die heerlikheid en krag toekom tot in alle ewigheid. Amen. 12 Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie; 13 maar namate julle gemeenskap het aan die lyde van Christus, moet julle bly wees, sodat julle ook by die openbaring van sy heerlikheid met blydskap kan jubel.
Ja, daar is inderdaad vuur betrokke by redding. Jesus het belowe dat elkeen met vuur “gesout” sal word:
Mar 9:49 Want elkeen sal met vuur gesout word en elke offerande sal met sout gesout word.
En elkeen se werke sal getoets word deur God se GEESTELIKE vuur, en die vuur sal uitwys of die werke God s’n was (goud, silwer, kosbare stene), en of die werke ons s’n was (hout, hooi en stoppels). Deur hierdie proses word ons almal gered op die tyd soos deur God bepaal. Kom ons lees weer wat Paulus so mooi vir ons neergeskryf het sodat ons dit NIE kan vergeet nie….
1Kor 3:11-15 Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus. 12 En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels— 13 elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. 14 As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; 15 as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.
So, niemand word gered sonder om deur die vuur te gaan nie. Daar sal wel ‘n “geween en gekners van die tande” wees soos ons “skade ly” wanneer ons die ou mens (hout, hooi en stoppels) moet verloor:
Mat 8:12 Maar die kinders van die koninkryk sal uitgedryf word in die buitenste duisternis. Daar sal geween wees en gekners van die tande.
Mat 13:49-50 So sal dit wees in die voleinding van die wêreld: die engele sal uitgaan en die slegte mense onder die regverdiges uit afskei 50 en hulle in die vuuroond gooi. Daar sal geween wees en gekners van die tande.
Open 21:8 Maar wat die vreesagtiges aangaan en die ongelowiges en gruwelikes en moordenaars en hoereerders en towenaars en afgodedienaars en al die leuenaars hulle deel is in die poel wat brand met vuur en swawel: dit is die tweede dood.
God se vuur is voorwaar ‘n verterende vuur!
Heb 12:29 Want onse God is ‘n verterende vuur.
Jer 5:14 Daarom, so sê die HERE, die God van die leërskare: Omdat julle hierdie woord spreek, kyk, Ek maak my woorde in jou mond ‘n vuur en hierdie volk hout, en dit sal hulle verteer.
Daar is die vuur wat God altyd gebruik om die hout, hooi en stoppels uit ons te brand. Ja dit is Sy Woord!!!
Jer 23:29 Is my woord nie só, soos ‘n vuur, spreek die HERE, en soos ‘n hamer wat ‘n rots vermorsel nie?
Maar die vuur sal nie vir ewig ons martel nie:
Spr 26:20a Deur gebrek aan hout [hout, hooi en stoppels – ons aardsheid] gaan die vuur dood…
Nou kan ons ook beter verstaan wat “genade” beteken. Almal word gered deur genade, deur VUUR, sonder verdienste en dit is ‘n geskenk (“gawe”) van God:
Efes 2:8-9 Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; 9 nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.
Tit 2:11-12 Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn 12 en leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe,
Heb 12:5-9 En julle het die vermaning heeltemal vergeet wat tot julle as seuns spreek: My seun, ag die tugtiging van die Here nie gering nie en beswyk nie as jy deur Hom bestraf word nie; 6 want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem. 7 As julle die tugtiging verdra, behandel God julle as seuns; want watter seun is daar wat die vader nie tugtig nie? 8 Maar as julle sonder tugtiging is, wat almal deelagtig geword het, dan is julle onegte kinders en nie seuns nie. 9 Verder, ons het ons vaders na die vlees as kastyders gehad, en ons het vir hulle ontsag gehad; moet ons nie veel meer aan die Vader van die geeste onderworpe wees en lewe nie?