Christus se woorde is gees vir diegene met oë om te sien…
Joh 6:63 Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.
Wanneer dit kom by die woorde “drie dae en drie nagte in die hart van die aarde” is hierdie woorde veral waar.
Mat 12:38-40 Toe spreek sommige van die skrifgeleerdes en Fariseërs en sê: Meester, ons wil graag ‘n teken van U sien. 39 Maar Hy antwoord en sê vir hulle: ‘n Slegte en owerspelige geslag soek na ‘n teken, en geen teken sal aan hom gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona. 40 Want soos Jona drie dae en drie nagte in die buik van die groot vis was, só sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees.
Jesus praat hier met die skrifgeleerdes en Fariseërs en ons weet dat Hy nooit met hulle en die skares gepraat het sonder om gelykenisse te gebruik nie:
Mat 13:34 Al hierdie dinge het Jesus deur gelykenisse vir die skare gesê, en sonder gelykenis het Hy vir hulle niks gesê nie.
Wat is die doel van gelykenisse?
Mat 13:10-11 En die dissipels het gekom en vir Hom gesê: Waarom spreek U tot hulle deur gelykenisse? 11 Toe antwoord Hy en sê vir hulle: Omdat dit aan julle gegee is om die verborgenhede van die koninkryk van die hemele te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie.
Gelykenisse verberg God se waarheid aan hierdie “slegte en owerspelige geslag” waarvan ons almal op ons eie tyd deel is. Ons kan nie God se geestelike dinge verstaan as ons konsentreer op uiterlike “tekens” (fisiese / aardse dinge) nie. Baie mense en teoloë het met talle verduidelikings gekom om die gelykenis van “drie dae en drie nagte in die hart van die aarde” te probeer uitpluis. Talle gebruik die Joodse indeling van dag en nag, en ander verander sommer die dag waarop Jesus gekruisig was. Op watter dag was Jesus gekruisig en op watter dag was Hy opgewek? Kom ons laat die Skrifte ons lei, en nie menslike redenasies nie. Kom ons begin by die dag van die opstanding en werk dan terug…
Luk 24:1-3 En baie vroeg in die môre, op die eerste dag van die week, het hulle en ander saam met hulle [dit was Maria Magdaléna en Johanna en Maria, die moeder van Jakobus, en die ander vroue saam met hulle] by die graf gekom en die speserye gebring wat deur hulle toeberei was. 2 En hulle het die steen van die graf afgerol gevind. 3 En toe hulle ingaan, het hulle nie die liggaam van die Here Jesus gekry nie.
Luk 24:9-12 Hulle gaan toe terug van die graf en vertel dit alles aan die elf en aan al die ander. 10 En dit was Maria Magdaléna en Johanna en Maria, die moeder van Jakobus, en die ander vroue saam met hulle wat dit aan die apostels vertel het. 11 En hul woorde het vir hulle na onsinnige praatjies gelyk, en hulle het hul nie geglo nie. 12 Maar Petrus het opgestaan en na die graf gehardloop; en toe hy neerbuk, sien hy die doeke alleen lê. En hy het weggegaan huis toe, vol verwondering oor wat gebeur het.
Jesus was nie in die graf op die eerste dag van die week nie, naamlik die Sondag, toe die vroue en die dissipels by die graf kom nie. Kom ons lees verder in dieselfde hoofstuk wat ook op DIESELFDE SONDAG gebeur het….
Luk 24:13-22 En twee van hulle was dieselfde dag op pad na ‘n dorp wat agt myl van Jerusalem af was, met die naam van Émmaüs. 14 En hulle was in gesprek met mekaar oor al hierdie dinge wat voorgeval het. 15 En terwyl hulle praat en mekaar ondervra, kom Jesus self nader en loop met hulle saam. 16 Maar hulle oë is weerhou, sodat hulle Hom nie kon herken nie. 17 En Hy sê vir hulle: Watter woorde is dit wat julle met mekaar loop en wissel, en waarom is julle bedroef? 18 En die een wie se naam Kléopas was, antwoord en sê vir Hom: Is U alleen ‘n vreemdeling in Jerusalem en weet U nie van die dinge wat in hierdie dae daarin gebeur het nie? 19 En Hy sê vir hulle: Watter dinge? En hulle antwoord Hom: Die dinge aangaande Jesus, die Nasaréner, wat ‘n profeet was, kragtig in werk en woord voor God en die hele volk; 20 en hoe ons owerpriesters en owerstes Hom oorgelewer het tot die doodstraf en Hom gekruisig het. 21 En ons het gehoop dat dit Hy was wat Israel sou verlos; maar nou is dit vandag, met dit alles, die derde dag vandat dit plaasgevind het. 22 Maar sommige vroue uit ons het ons ook ontstel nadat hulle vroeg by die graf was.
Daar weet ons nou met alle duidelikheid dat Jesus op die VRYDAG gekruisig was as ons kyk na die woorde “…nou is dit vandag, met dit alles, die derde dag vandat dit plaasgevind het“. Niemand kan nou kom met ander argumente oor die dag van Jesus se kruisiging (dit was ‘n VRYDAG), en die dag van Sy opstanding (dit was ‘n SONDAG, die “derde dag vandat [die kruisiging] gebeur het”) nie.
Nou hoe pas mens “drie dae en drie nagte in die hart van die aarde” in die tydgleuf in. Wel weereens is daar baie menslike argumente en redenasies van sogenaamde slim mense. Dit wissel weereens van hoe Jode hul dae ingedeel het en al die derglike akademiese bespiegelinge. Maar almal sal agterkom dat al die menslike berekeninge net nie sin maak nie, want die antwoord lê in hierdie woorde van Jesus wat min kan ontvang…
Mat 13:10-11 En die dissipels het gekom en vir Hom gesê: Waarom spreek U tot hulle deur gelykenisse? 11 Toe antwoord Hy en sê vir hulle: Omdat dit aan julle gegee is om die verborgenhede van die koninkryk van die hemele te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie.
“….drie dae en drie nagte in die hart van die aarde” is ‘n gelykenis en ‘n GEESTELIKE stelling wat na die tyd in vlees verwys. Vlees is “van die aarde”…
Gen 2:7 En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword.
Die konsep “aarde” verwys na ons tyd in vlees. Jesus het ook in vlees gekom en Hy het in die vlees gesterf toe Hy gekruisig was….
Joh 1:14 En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid.
Hy was inderdaad “in die hart van die aarde” – SY HELE AARDSE LEWE LANK. Dit was “die teken van die profeet Jona” waarna Jesus verwys het.
Mat 12:38-40 Toe spreek sommige van die skrifgeleerdes en Fariseërs en sê: Meester, ons wil graag ‘n teken van U sien. 39 Maar Hy antwoord en sê vir hulle: ‘n Slegte en owerspelige geslag soek na ‘n teken, en geen teken sal aan hom gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona. 40 Want soos Jona drie dae en drie nagte in die buik van die groot vis was, só sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees.
Hierdie skrifgeleerdes en Fariseërs wou ‘n teken hê om te kan weet dat Jesus die Messias is. Hy is, maar hulle kon egter nie die teken verstaan nie, soos baie ook vandag nie Jesus as die Verlosser en Redder (“Behouder”) van ALLE mense kan sien nie.
1Ti 4:9-10 Dit is ‘n betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word; 10 want hiervoor arbei ons ook en word ons gesmaad, omdat ons gehoop het op die lewende God wat ‘n behouder is van alle mense, insonderheid van die gelowiges.
Die “drie dae en drie nagte” is dus ook simboliese (geestelike) taal om Jesus (en ons almal) se tyd in vlees (“in die aarde”) aan te dui. God het nooit bedoel dat mens vir ewig in die vlees (“in die aarde”) moes bly nie. Vlees is ‘n TYDELIKE skepping. Dit was VOOR die skepping al reeds so bepaal:
Jer 18:1-4 Die woord wat van die HERE tot Jeremia gekom het: 2 Maak jou klaar en gaan af na die huis van die pottebakker, en daar sal Ek jou my woorde laat hoor. 3 Toe het ek afgegaan na die huis van die pottebakker, en hy was juis besig om ‘n stuk werk op die skywe te maak. 4 En die voorwerp wat hy besig was om te maak, het misluk—soos dit gaan met klei in die hand van die pottebakker—maar hy het daaruit weer ‘n ander voorwerp gemaak soos dit in die oë van die pottebakker reg was om dit te maak.
Rom 8:20 Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het.
Die getal “drie” dui aan ons volledige tyd in die vlees, soos Jesus ook in hierdie gelykenis uitlig vir die wat Sy geestelike woorde kan sien en aanvaar…
Luk 13:31-32 En op dieselfde dag het sommige van die Fariseërs na Hom gekom en vir Hom gesê: Gaan weg en vertrek hiervandaan, want Herodes wil U om die lewe bring. 32 En Hy het vir hulle gesê: Gaan vertel daardie jakkals: Kyk, Ek dryf duiwels uit en maak gesond, vandag en môre, en op die derde dag is Ek klaar.
Die woorde “Ek dryf duiwels uit en maak gesond, vandag en môre” dui sekerlik nie aan dat Jesus net twee dae dit gedoen het nie. Nee, dit was Sy bediening in Sy tyd “in die aarde”. Hier is ‘n skakel om die getal ‘drie’ se dieper geestelike betekenis verder te belig:
https://4windkoinonia.wordpress.com/2016/08/30/die-geestelike-betekenis-van-syfergetalle-3/
Nêrens in die Skrifte word gesê dat Jesus drie dae en drie nagte in die GRAF was nie!
Hier staan dit duidelik waar Jesus drie dae en drie nagte was – as ons kan sien dat Sy Woorde gees is….
Mat 12:40 Want soos Jona drie dae en drie nagte in die buik van die groot vis was, só sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees.
Joh 6:63 Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.
Terug pieng: Temas | "Is en Wat Was en Wat Kom" – die onbekende karakter van Jesus Christus en Sy Woord