Ons aardse koningskap is TYDELIK (Deel 2)

God het ons almal ‘n “lewende siel” gemaak binne die “eerste Adam” voordat Hy ons almal, op die tyd soos Hy alleen bepaal, sal herskep om die lewe van die “laaste Adam”, Jesus Christus, te ervaar. Die volgende verse is bewyse dat God “voor die grondlegging van die wêreld” hierdie twee Adams as deel van Sy HELE plan met die mensdom bestem het:

1Kor 15:45-49 So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees. 46 Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike. 47 Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel. 48 Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. 49 En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra..

1Pe 1:17-20 En as julle Hom as Vader aanroep wat sonder aanneming van die persoon oordeel volgens elkeen se werk, wandel dan in vrees gedurende die tyd van julle vreemdelingskap [die tydperk van die “eerste Adam”]; 18 omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel [die tydperk van die “eerste Adam”] wat deur die vaders oorgelewer is nie, 19 maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos [die tydperk van die “laaste Adam”, Christus Jesus], 20 wat wel vooruit geken is voor die grondlegging van die wêreld, maar in hierdie laaste tye geopenbaar is om julle ontwil.

Hierdie twee Adams is dus ‘n direkte verwysing na hierdie twee eons of tydperke wat God aan alle mense skenk waarbinne ons deur ‘n proses geneem word om soos God te wees. Ja, God is besig met ‘n PROSES om ons almal na Sy beeld, dit is gees, te skep. Vergelyk die volgende gedeeltes in Genesis 1 en Genesis 3 en sien weereens die bewys dat God die mens deur ‘n proses neem om soos Hy ‘te word’….

Gen 1:26 En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis……

Gen 3:22 Toe sê die HERE God: Nou het die mens geword soos een van Ons…. 

“God is gees” (Joh 4:24) en enigeen wat glo dat die eerste vleeslike Adam gees was soos God, is verkeerd en weet glad nie wat God besig is om te doen nie. Die eerste Adam is van die stof van die aarde gemaak en keer terug na daardie stof by sy dood:

Gen 2:7 En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword.

Gen 3:19 In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.

As mens glo dat Adam (en Eva) se ongehoorsaamheid hul toestand beinvloed het, het alles net verkeerd om. Adam en Eva se ongehoorsaamheid was AS GEVOLG VAN hul sondige toestand waarin God hulle doelbewus gemaak het. Lees weer versigtig hoe sonde in die wêreld gekom het….

Rom 5:12 Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het.

Wie is die “een mens”? Eva of Adam? Die “een mens” verwys na Adam. Eva was UIT Adam. Adam word ook na verwys as “die mens” – die “een mens” deur wie sonde in die wêreld gekom het!

Gen 2:21-23 Toe het die HERE God ‘n diepe slaap op die mens laat val; en terwyl hy slaap, het Hy een van sy ribbebene geneem en die plek daarvan met vlees toegemaak. 22 En die HERE God bou die rib wat Hy van die mens geneem het, tot ‘n vrou en bring haar na die mens. 23 Toe sê die mens: Dit is nou eindelik been van my gebeente en vlees van my vlees. Sy sal mannin genoem word, want sy is uit die man geneem.

Adam is die “een mens” deur wie sonde, dit is “die liggaam van sonde”, na almal, ook Eva, gekom het. As ons dit kan sien, sal die volgende teks baie beter verstaan word….

Rom 3:23 want almal het gesondig [“in sonde” (in vlees) geskep] en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God [gees].

Paulus noem die liggaam van vlees “die liggaam van sonde”. Dit is hoe sonde in die wêreld gekom het.

Rom 6:6 aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie.

Eva, in haar “liggaam van sonde”, het eerste na die slang geluister, en so het die oortreding GEVOLG…

1Ti 2:13-14 Want Adam is eerste gemaak, daarna Eva. 14 En Adam is nie verlei nie, maar die vrou het haar laat verlei en het in oortreding gekom.

2Kor 11:3 Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus.

Kom ons lees oor “die mens”, die eerste Adam, se heerskappy wat God aan hom gee….

Heb 2:6-8 maar iemand het êrens getuig en gesê: Wat is die mens, dat U aan hom dink, of die mensekind, dat U hom besoek? 7 U het hom ‘n weinig minder as die engele gemaak; met heerlikheid en eer het U hom gekroon en hom oor die werke van u hande aangestel. 8 Alle dinge het U onder sy voete gestel. Want in die onderwerping van alle dinge aan hom het Hy niks uitgesonder wat aan hom nie onderworpe is nie. Maar nou sien ons nog nie dat alle dinge aan hom onderwerp is nie;

Die woorde “…maar nou sien ons nog nie dat alle dinge aan hom onderwerp is nie” is ‘n belangrike getuienis dat God besig is om dit wat in Genesis begin was, te voltooi. “Nie alle dinge” is tot op hierdie oomblik aan die mens gegee om oor te heers nie. Maar God het gesê dat dit sal gebeur. Die mens sal beheer gegee word oor ALLES deur die laaste Adam, Jesus Christus.

Heb 2:9 maar ons sien Hom, naamlik Jesus, wat vir ‘n kort tydjie minder as die engele gemaak is, vanweë die lyde van die dood met heerlikheid en eer gekroon, sodat Hy deur die genade van God vir elkeen die dood sou smaak.

Kom ons lees weer die volgorde….

1Kor 15:45-49 So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees. 46 Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike. 47 Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel. 48 Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. 49 En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra..

Die eerste Adam is dus nie die voltooide produk nie. God “werk tot nou toe” en die werk is nog nie voltooi nie. Jesus het ook hierdie waarheid beklemtoon in die volgende woorde:

Joh 5:17 En Jesus het hulle geantwoord: My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook.

Die “Ons” van Genesis 1 vers 26 en Genesis 3 vers 22 is dus die Vader en Jesus. Hulle werk “TOT NOU TOE” om die mens te maak in hul beeld. Hulle beeld is GEES. Hulle is ook besig “tot nou toe” om daardie heerskappy van die mens tot vervulling te bring.

Luk 22:29 En Ek beskik vir julle ‘n koninkryk soos my Vader dit vir My beskik het…

Wel daar is dit so duidelik soos daglig vir die wat oë gegee is om te sien. Ons heerskappy kom slegs DEUR Jesus en dit kom deur Sy koninkryk IN ONS.

Mar 1:14-15 En nadat Johannes oorgelewer was, het Jesus in Galiléa gekom en die evangelie van die koninkryk van God verkondig 15 en gesê: Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle [laat vaar die “eerste Adam”] en glo die evangelie [glo dat die “laaste Adam” die ware Jakob is].

God se geestelike koninkryk bring die ware heerskappy en koningskap na die mens. Kom ons lees weer wat die Pottebakker in gedagte gehad het VOOR hy die eerste Adam geskep het:

Jer 18:1-4 Die woord wat van die HERE tot Jeremia gekom het: 2 Maak jou klaar en gaan af na die huis van die pottebakker, en daar sal Ek jou my woorde laat hoor. 3 Toe het ek afgegaan na die huis van die pottebakker, en hy was juis besig om ‘n stuk werk op die skywe te maak. 4 En die voorwerp wat hy besig was om te maak, het misluk—soos dit gaan met klei in die hand van die pottebakker—maar hy het daaruit weer ‘n ander voorwerp gemaak soos dit in die oë van die pottebakker reg was om dit te maak.

God het besluit dat die eerste “voorwerp” – dit is die eerste Adam – sal misluk IN SY HAND. Daar is dit oop en bloot en hierdie waarheid word verwerp deur hulle wat glo dat die eerste Adam perfek was. Nee, die eerste Adam is nog nie soos God nie, en die mens se koningskap is ook nie perfek nie.

Joh 5:17 En Jesus het hulle geantwoord: My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook.

Luk 22:29 En Ek beskik vir julle ‘n koninkryk soos my Vader dit vir My beskik het…

God is besig om dit te bewerkstellig en die natuurlike mens is in sy geestelike blindheid en onkunde oor die hele proses bitter ongelukkig met God se plan en werkswyse. In ons natuurlike toestand is ons nie net geestelik blind en onkundig nie, ons is ook nog ongeduldig en skynheilig daarby. En in ons skynheiligheid is ons geskok oor die mensdom se optredes en blameer ander, en ons kyk neer op hulle vanuit ons hoë torings van trots. Ons is so geneig om vingers te wys na die politici en sogenaamde geestelike leiers, die regerings, die ryk mense, die arm mense, die geweldenaars, die korruptes…ag sommer almal. Ja ons natuurlike mens se hart is maar vol bedrog en tog is ons so eiegeregtig.

Jer 17:9 Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?

Koning Saul is die geestelike tipe van hierdie aardse vleeslike koning, die “eerste Adam”, wat dink hy kan maak en breek soos hy wil. Die arme sotlike “eerste Adam” glo dat God hom ‘n “vrye” wil gegee het en dat daardie “vrye” wil los van God se wil en plan kan werk. Belaglik!

Saul se lewe as koning oor fisiese Israel is as ‘n goeie voorbeeld van ons natuurlike denkwyses neergeskryf vir ons lering. Dit is dan ook die rede waarom God hom as eerste koning oor fisiese Israel aangestel het. Saul is ons natuurlike, nietige, eiewyse, eiegeregtige, ellendige koning….die “eerste Adam”:

1Sa 9:1-2 En daar was ‘n man van Benjamin met die naam van Kis, die seun van Abíël, die seun van Seror, die seun van Begorat, die seun van Afíag, ‘n Benjaminiet, ‘n vermoënde man. 2 En hy het ‘n seun gehad met die naam van Saul, ‘n jongman en mooi gebou, ja, daar was onder die kinders van Israel geeneen mooier as hy nie: van sy skouers af boontoe was hy hoër as die hele volk.

Ons almal begin die aardse lewe met die idee dat die vlees ‘vermoënd’ is, dat dit ‘mooi gebou’ is, mooier as alle dinge in God se fisiese skepping. Die mens staan bo alles in hierdie skepping, maar hierdie denke het egter ‘n vernietigende effek op ons as trotse mensies.

Heb 2:6-7 maar iemand het êrens getuig en gesê: Wat is die mens, dat U aan hom dink, of die mensekind, dat U hom besoek? 7 U het hom ‘n weinig minder as die engele gemaak; met heerlikheid en eer het U hom gekroon en hom oor die werke van u hande aangestel. 8 Alle dinge het U onder sy voete gestel.

Hebreeuse woorde word gekenmerk deur die diep en ryke betekenis wat dit voorstel. Kom ons neem so ‘n kykie na wat die Hebreeuse eiename beteken wat hier in die verse in 1Samuel 9 aan Saul gekoppel word. So sal ons dan ook meer uitvind hoe ons aanvanklik na vlees kyk. Ons weet dat elke woord in die Skrif is geskryf vir ‘n doel (Matt 4:4):

Benjamin – uitverkore / seun aan (Jakob se) regterhand

Van nature dink ons dat ons belangrik is en alles gaan net oor onsself. Ons dink ons is wonderlik en dat almal van ons moet hou.

Kis – boog (sterkte om te skiet)

As mens dink ons dat ons alles kan vermag en die wêreld kan red. Ons glo dat hoe harder ons werk, hoe groter die suksesse. Ons is vol wonderlike idees en “ontdek” gedurig “nuwe” dinge. Ons glo “ons ontdekkings” is “ontwikkeling” wat ons dan instaat stel om eendag vir ewig te lewe in vlees.

Abíël – vader / sterkte

Die mensdom oor die algemeen glo dat hy sy eie baas is en sy eie wêreld kan dikteer en reg regeer. In ons skynheilige godsdienstige tyd glo ons selfs in ‘n God, maar net sover dit ons baat.

Seror – bondel / vasgebind

Dit is met skok dat ons eendag uitvind dat ons sterflik is, en dat ons gevang is as slawe binne ‘n sondige wêreld waaruit ons nie op ons eie kan ontsnap nie.

Begorat – eersgeborene / eerste vrug

Die mens is inderdaad die eersgeborene, maar soos ons regdeur die Skrifte sien, is die eersgeborene nooit die ware erfgenaam nie. Om eerste te kom, voor in die ry te staan, en die toppunt van die organisasie te wees, word NOOIT deur die Skrifte aanbeveel nie. Tog is dit waarna elke mens swoeg en sweet. ‘n Skokkende en hartseer tragedie!

Afíag – asem / asemteug

Ja, die aardse mens en sy fisiese bestaan is net ‘n asemteug in die groot skema van God se plan. Daar is iets beter wat Hy vir ons in stoor het, en min kan dit nou sien.

Uit al hierdie Hebreeuse eiename wat aan Saul gekoppel word, kan ons sien hoe ons vleeslike koning homself sien en gedra. Maar daar is ‘n nuwe koningskap wat kom na die tydperk (eon) van koning Saul in ons verby is. Daardie nuwe koningskap word getipeer in die Skrifte in die tydperk toe koning Dawid regeer het oor fisiese Israel. Dit is voorwaar tydens die heerskappy van ons tweede koning onder die “laaste Adam”, Jesus Christus, dat ons eers reg sal verstaan watter mislukking ons eerste koning is.

Rom 7:24-25 Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood? 25 Ek dank God deur Jesus Christus, onse Here! 

 

 

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s