Luk 22:29 En Ek [Jesus] beskik vir julle ‘n koninkryk soos my Vader dit vir My beskik het…
Jesus sê dat Hy aan die mens ‘n koninkryk “beskik” het, net soos die Vader aan Hom ‘n koninkryk beskik het. ‘n Koninkryk verwys na heerskappy en dit is dan ook wat God aan die mens in sy fisiese hoedanigheid “beskik” het by sy skepping:
Gen 1:27-28 En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape. 28 En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip.
Maar ons lees ook in die Skrifte dat hierdie heerskappy van die mens deur ‘n proses moet gaan:
Heb 2:6-8 maar iemand het êrens getuig en gesê: Wat is die mens, dat U aan hom dink, of die mensekind, dat U hom besoek? 7 U het hom ‘n weinig minder as die engele gemaak; met heerlikheid en eer het U hom gekroon en hom oor die werke van u hande aangestel. 8 Alle dinge het U onder sy voete gestel. Want in die onderwerping van alle dinge aan hom het Hy niks uitgesonder wat aan hom nie onderworpe is nie. Maar nou sien ons nog nie dat alle dinge aan hom onderwerp is nie;
Die woorde “…maar nou sien ons nog nie dat alle dinge aan hom onderwerp is nie” is ‘n belangrike getuienis dat God besig is om dit wat in Genesis begin was, te voltooi.
Joh 5:17 En Jesus het hulle geantwoord: My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook.
“Nie alle dinge” is tot op hierdie oomblik aan die mens gegee om oor te heers nie. Om die waarheid te sê, die mens sukkel en spartel om kop bo water te hou. Alles is op ‘n afdraende pad. Diegene wat in hul blindheid aan ‘n valse ewolusie-leer glo, wil aan ons sê dat die mens en die skepping beter word. ONSIN. Maak jou oë oop en kyk rondom jou. Die Skrif gee egter duidelikheid wat met die mens en die fisiese skepping aangaan, soos deur God bepaal van die begin af:
2Ti 3:13 Maar goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger, hulle wat verlei en verlei word.
Rom 8:20-22 Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het 21 in die hoop dat ook die skepping self vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God. 22 Want ons weet dat die hele skepping tesame sug en tesame in barensnood is tot nou toe.
Dit is egter alles binne die plan van God want die ware heerskappy van die mens kom SLEGS deur die Jesus Christus.
1Kor 15:45-49 So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees. 46 Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike. 47 Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel. 48 Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. 49 En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra.
Daar is egter nog ‘n ‘kinkel in die kabel’, as mens dit so kan noem. Kom ons lees hoe Jesus hierdie gesag verkry het van die Vader….
Heb 2:9 maar ons sien Hom, naamlik Jesus, wat vir ‘n kort tydjie minder as die engele gemaak is, vanweë die lyde van die dood met heerlikheid en eer gekroon, sodat Hy deur die genade van God vir elkeen die dood sou smaak.
Die woorde “vanweë die lyde van die dood” gee aan ons die sleutel hoe elke mens ook hierdie heerskappy sal ontvang. Maar die woorde “….sodat Hy deur die genade van God vir elkeen die dood sou smaak” het vir baie ‘n groot struikelblok geword om nou hierdie waarheid oor heerskappy in geloof te eien. Dit klink uit hierdie woorde in die Afrikaanse vertalings (en meeste Engelse vertalings van die Skrifte) dat Jesus “vir elkeen die dood sou smaak” en hulle nie self ook moet sterf en hulle kruis opneem nie. God se Woord weerspreek nie Homself nie, al doen vertalings dit deur die hand van vertalers wat hierdie tipe bedrieglike woorde neerskryf sonder om skaam te word. As Jesus en die hele Skrifte sê dat ons saam met Hom moet sterf en ons eie kruis moet opneem, dan kan dit nêrens op ‘n ander manier oorgebring word nie…veral nie in die vertalings van die Skrifte nie:
Mat 10:38-39 En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie. 39 Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind.
Gal 2:20 Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.
Rom 8:16-18 Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is; 17 en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word. 18 Want ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie.
Hand 5:41 Hulle het toe van die Raad af weggegaan, bly dat hulle waardig geag was om vir sy Naam oneer te ly.
Fil 1:27-29 Alleenlik, gedra julle waardig die evangelie van Christus, sodat, of ek kom en julle sien dan wel of ek afwesig is, ek van julle omstandighede kan hoor dat julle in een gees vasstaan en, een van siel, saam stry vir die geloof van die evangelie, 28 en dat julle jul in geen opsig laat afskrik deur die teëstanders nie. Dit is vir hulle wel ‘n bewys van verderf, maar vir julle van redding, en dit van God; 29 omdat dit aan julle ter wille van Christus genadiglik gegee is om nie alleen in Hom te glo nie, maar ook vir Hom te ly,
Hoeveel bewyse en getuienisse het mens nodig om te bewys dat die woorde in Hebreërs 2 vers 9 deur die vertalers verkeerd vertaal was. Jesus se dood was nie om “vir elkeen die dood [te] smaak” nie.
Heb 2:9 maar ons sien Hom, naamlik Jesus, wat vir ‘n kort tydjie minder as die engele gemaak is, vanweë die lyde van die dood met heerlikheid en eer gekroon, sodat Hy deur die genade van God vir [Grieks: “huper”] elkeen die dood sou smaak.
Die woord “vir” was vertaal van die Griekse woord “huper” wat ook vertaal word in die Skrifte as “bo”, byvoorbeeld….
Mat 10:24 ‘n Leerling is nie bo [Grieks: “huper”] die meester nie en ‘n dienskneg ook nie bo sy heer nie.
Gal 1:14 en dat ek in die Jodedom vooruitgegaan het bo [Grieks: “huper”] baie van my leeftyd onder my stamgenote, terwyl ek veral ‘n yweraar was vir die oorleweringe van my voorvaders.
Die Griekse woord “huper” word ook as “meer’ vertaal, byvoorbeeld….
2Kor 11:23 Is hulle dienaars van Christus? —ek praat in uitsinnigheid—ek nog meer [Grieks: “huper”]: in arbeid oorvloediger, in slae bo die maat, in gevangenskappe baie meer [Grieks: “huper”], in doodsgevare dikwels.
Kan ons nou sien hoe die woord “huper” by Jesus se dood inpas? Jesus het “bo” almal en “meer” as ons gely omdat Hy perfek was en geen sonde gedoen het nie. Hy het ook juis kom ly en sterf omdat Hy aan ons ‘n voorbeeld kom stel het om na te volg!
1Pe 2:21-24 Want hiertoe is julle geroep, omdat Christus ook vir julle gely het en julle ‘n voorbeeld nagelaat het, sodat julle sy voetstappe kan navolg; 22 Hy wat geen sonde gedoen het nie, en in wie se mond geen bedrog gevind is nie; 23 wat, toe Hy uitgeskel is, nie terug uitgeskel het nie; toe Hy gely het, nie gedreig het nie, maar dit oorgegee het aan Hom wat regverdig oordeel; 24 wat self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra het, sodat ons die sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe; deur wie se wonde julle genees is.
Daar is dit duidelik! “…..sodat ons die sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe”. Ons moet self DEELNEEM aan die beker en die brood:
Mat 26:26-29 En terwyl hulle eet, neem Jesus die brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan sy dissipels en sê: Neem, eet, dit is my liggaam. 27 Toe neem Hy die beker, en nadat Hy gedank het, gee Hy dit aan hulle en sê: Drink almal daaruit. 28 Want dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament, wat vir baie uitgestort word tot vergifnis van sondes. 29 Maar Ek sê vir julle: Ek sal van nou af nooit meer van hierdie vrug van die wynstok drink nie, tot op daardie dag wanneer Ek dit met julle nuut sal drink in die koninkryk van my Vader.
Sy dood was juis om IN ons te kom woon en saam met ons deur al die sonde en probleme te stry! Dit is waarom Hy uit die graf gekom het om in gees IN ons te kom woon. Dit is hoe ons heerskappy gegee word!!!
Joh 14:16-18 En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid: 17 die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees. 18 Ek sal julle nie as wese agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe.
Efes 3:17-18 sodat Christus deur die geloof in julle harte kan woon, julle wat in die liefde gewortel en gegrond is, 18 en julle in staat kan wees om saam met al die heiliges ten volle te begryp wat die breedte en lengte en diepte en hoogte is…
Hierdie INWONENDE Jesus in GEES is ‘n verborgenheid wat min nou kan ervaar en toepas….
Kol 1:24-27 Nou verbly ek my in my lyding vir julle en vul in my vlees aan die oorblyfsels van die verdrukking van Christus vir sy liggaam, wat die gemeente is; 25 waarvan ek ‘n dienaar geword het volgens die bediening van God wat aan my gegee is in julle belang, om die woord van God te vervul, 26 naamlik die verborgenheid wat van die eeue en geslagte af verborge was, maar nou geopenbaar is aan sy heiliges, 27 aan wie God wou bekend maak wat die rykdom van die heerlikheid van hierdie verborgenheid onder die heidene is, dit is Christus onder julle, die hoop van die heerlikheid.
2Kor 5:16 Ons ken dus van nou af niemand meer na die vlees nie; en al het ons ook Christus na die vlees geken, nou ken ons Hom tóg nie meer so nie.
Dit is die gesag en heerskappy waarna elke mens hunker, maar die prys is nie vir almal op hierdie stadium beskore nie. Net Sy uitverkorenes drink nou van Sy beker en eet nou Sy brood by sy altaar.
Heb 13:10 Ons het ‘n altaar waarvan die wat die tabernakel bedien, geen reg het om te eet nie.
Almal sal egter op die regte tyd kan eet en drink aan die altaar van God.
Jer 25:17 En ek [Jeremia] het die beker uit die hand van die HERE geneem en al die volke laat drink na wie die HERE my gestuur het.
Maar in ons natuurlike denke klou ons vas aan ons eie vlees en wêreldse idees asof dit ons al iewers gebring het. Dit is die rede waarom koning Saul aan Israel gegee was om aan ons te wys hoe eiewys en eiegeregtig ons self is binne ons tyd van ons eerste aardse koning wat eintlik geen ware koning is nie:
1Kor 10:11 Maar al hierdie dinge het hulle [fisiese Israel] oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het.
Saul was die mense, die vlees, se keuse – om soos ander mense te wees en hulle te beindruk….
1Sa 8:4-5 Toe kom al die oudstes van Israel bymekaar, en hulle gaan na Samuel in Rama en sê vir hom: Kyk, u is oud, en u seuns wandel nie in u weë nie; stel nou ‘n koning oor ons aan om ons te rig soos by al die nasies.
God het vooraf geweet dat fisiese Israel in hul swakheid so ‘n behoefte sou ontwikkel en het reeds vooruit sekere raamwerke daar gestel hoe dit moes plaasvind:
Deu 17:14-15 As jy kom in die land wat die HERE jou God jou sal gee, en dit in besit neem en daarin woon en dan sê: Ek wil ‘n koning oor my aanstel soos al die nasies wat rondom my is, 15 dan moet jy sekerlik ‘n koning oor jou aanstel wat die HERE jou God sal verkies; uit die midde van jou broers moet jy ‘n koning oor jou aanstel; jy mag geen uitlander, wat jou broer nie is nie, oor jou aanstel nie.
Saul was dus inderdaad God se keuse, maar God het ook geweet van Saul se tekortkominge en wat hy sou doen. God weet alles en doen alles volgens die raad van Sy wil…God neem nie kennis van dinge nie, en Hy laat ook nie dinge toe nie. HY “WERK” dit!!!!
Efes 1:11 in Hom in wie ons ook ‘n erfdeel ontvang het nadat ons vantevore daartoe verordineer is ooreenkomstig die voorneme van Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil,
God het nie gewag om te kyk wat Saul sou aanvang nie. Nee, God bepaal alles – elke mens se elke handeling is deur God bepaal voor die grondlegging van die wêreld:
Psa 139:16 U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.
Elke voetstap is God se besluit…
Jer 10:23 Ek weet, o HERE, dat aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan ‘n man om te loop en sy voetstappe te rig nie.
Jeremia het geweet, maar baie min word die geloof geskenk om te weet dat mens kan niks sonder God se insette doen nie…
Spr 20:24 Die voetstappe van ‘n man hang van die HERE af: hoe sou ‘n mens dan sy weg verstaan?
Joh 15:5 ….want sonder My kan julle niks doen nie.
Selfs elke koning se hart se besluite word deur God bepaal (ook koning Saul):
Spr 21:1 Die koning se hart is in die hand van die HERE soos waterstrome: Hy lei dit waarheen Hy wil.
Adam (en Eva) se doen en late was ALLES deur God beplan en hulle kon niks anders doen nie. Die “voetstappe van ‘n man hang van die HERE af” en Adam en Eva se handelinge was nie uitgesluit nie. Die eerste Adam is voorwaar “baie goed” geskape sover dit alles in die fisiese skepping aangaan, maar “baie goed” was nog nooit PERFEK nie. Nee, God is perfek en God is gees (Joh 4:24). Adam was nie van gees gemaak nie. Hy was van stof van die aarde in ‘n aardse vleeslike liggaam met ‘n natuurlike denkwyse geskep…”baie goed” vir sy aardse doel wat deir God bepaal was:
Gen 1:31 Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en—dit was baie goed. En dit was aand en dit was môre, die sesde dag.
Die ‘baie goeie’ vlees is egter BAIE swak as dit kom by geestelike perfeksie:
Mat 26:41 Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.
Vlees en gees is totaal verskillend en “hulle staan teenoor mekaar”!!!!
Joh 3:6 Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees.
Gal 5:16-17 Maar ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie; 17 want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie.
Ons aardse koning is vlees en kan nooit die geestelike koninkryk van God as erfenis het nie!
1Kor 15:50 Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.