Ons aardse koningskap is TYDELIK (Deel 8)

God het die gebeure wat Hy oor fisiese Israel gebring het, in die Skrifte laat opteken om te dien as “voorbeeld” en “waarskuwing” aan “ons” – dit is hulle vir wie Hy geestelike insigte gee om te sien wat Hy NOU in “ons” lewens bewerkstellig.

1Kor 10:11 Maar al hierdie dinge het hulle [fisiese Israel] oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het.

Een so ‘n “voorbeeld” was koning Saul, die eerste koning van die fisiese Israel. Hierdie koning leer ons van ons eie eerste koning in ons lewens, ons vlees, of soos dit ook deur die Skrifte as die “eerste Adam” aangedui word. Hierdie aardse Adam het voorwaar heerskappy gekry, maar dit was beperk tot ‘n aardse koninkryk (wat ons almal vandag uiterlik kan herken in die regerings rondom ons vol duisternis en bedrog):

Gen 1:26 En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip.

Gen 1:28 En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip.

Heb 2:6-7 maar iemand het êrens getuig en gesê: Wat is die mens, dat U aan hom dink, of die mensekind, dat U hom besoek? 7 U het hom ‘n weinig minder as die engele gemaak; met heerlikheid en eer het U hom gekroon en hom oor die werke van u hande aangestel.

“Alle dinge” op die aarde was aan hierdie Adam gegee om te onderwerp, “maar nou sien ons nog nie dat alle dinge aan hom onderwerp is nie”….

Heb 2:8 Alle dinge het U onder sy voete gestel. Want in die onderwerping van alle dinge aan hom het Hy niks uitgesonder wat aan hom nie onderworpe is nie. Maar nou sien ons nog nie dat alle dinge aan hom onderwerp is nie…

Vir hulle wat inderdaad “nou sien” is dit baie duidelik dat God reeds “voor die grondlegging van die wêreld” bepaal het dat die eerste Adam nie totale of ware heerskappy sou hê nie. Die eerste Adam was in vlees geskep en kan nie die geestelike heerskappy verkry nie:

1Kor 15:50 Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.

Die aardse Adam, die “voorwerp” van klei, mislukin die hand van die Pottebakker”! Die Pottebakker doen dit doelbewus omdat Hy aan die tweede “voorwerp” totale heerskappy gee oor alles:

Jer 18:4 En die voorwerp wat hy besig was om te maak, het misluk—soos dit gaan met klei in die hand van die pottebakker—maar hy het daaruit weer ‘n ander voorwerp gemaak soos dit in die oë van die pottebakker reg was om dit te maak.

Paulus verwoord dit so…

1Kor 15:45-49 So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees. 46 Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike. 47 Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel. 48 Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. 49 En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra.

Hierdie totale heerskappy was gereserveer vir die “laaste Adam”, Jesus Christus!

Heb 2:9-10 maar ons sien Hom, naamlik Jesus, wat vir ‘n kort tydjie minder as die engele gemaak is, vanweë die lyde van die dood met heerlikheid en eer gekroon, sodat Hy deur die genade van God vir elkeen die dood sou smaak. 10 Want dit het Hom betaam, ter wille van wie alle dinge en deur wie alle dinge is, as Hy baie kinders na die heerlikheid wou bring, om die bewerker van hulle saligheid deur lyde te volmaak.

Mat 28:18 En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde.

Koning Saul verteenwoordig die “eerste voorwerp” – die koninkryk van die eerste Adam. Koning Dawid, Saul se opvolger, verteenwoordig die koninkryk van die “laaste Adam”. Ons sal ALMAL deur die twee afsonderflike eons van albei hierdie “koninkryke” leef op die tyd soos deur God bepaal.

Joh 3:6 Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees.

Ons moet egter eers die eerste koninkryk en al sy lesse ervaar. Daarom kyk ons met groot belangstelling na die lewe van Saul eerste in hierdie reeks studies.

1Sa 9:1-2 En daar was ‘n man van Benjamin met die naam van Kis, die seun van Abíël, die seun van Seror, die seun van Begorat, die seun van Afíag, ‘n Benjaminiet, ‘n vermoënde man. 2 En hy het ‘n seun gehad met die naam van Saul, ‘n jongman en mooi gebou, ja, daar was onder die kinders van Israel geeneen mooier as hy nie: van sy skouers af boontoe was hy hoër as die hele volk.

Een van Saul se groot probleme was sy onkunde oor sy posisie en die taak wat God aan hom gegee het. Hy was onduidelik oor sy roeping as koning en was ook onduidelik oor sy posisie in terme van die bring van offers aan die Here. Laasgenoemde was die rol en funksie van Samuel, die laaste rigter en profeet in Israel op daardie tyd.

Na Saul se oorwinning in sy eerste oorlog teen die Ammoniete, het Samuel aan Saul gevra om sewe dae te wag voor hy sou kom om te offer voor Israel in oorlog sou gaan teen die magtige Filistyne. Die Israeliete was vreesbevange toe hulle die oormag van die Filistyne sien en het begin wegdwaal van Saul. Nie net het Saul se populariteit begin taan nie, maar Saul se geduld was besig om uit te loop….

1Sa 13:5-8 En die Filistyne het bymekaargekom om teen Israel te veg: drie duisend strydwaens en ses duisend perderuiters en voetgangers soos die sand wat op die seestrand is in menigte; en hulle het opgetrek en laer opgeslaan by Migmas, oos van Bet-Awen. 6 Toe die manne van Israel sien dat hulle in die nood is—want die volk was in die noute gedruk—het die volk weggekruip in die spelonke en in die doringbosse en in die rotse en in die grotte en in die kuile. 7 En die Hebreërs het die Jordaan deurgetrek na die land Gad en Gílead; maar Saul was nog in Gilgal met al die manskappe wat bewende agter hom aan gegaan het. 8 En hy het sewe dae lank gewag, tot die tyd wat Samuel bepaal het; maar toe Samuel nie na Gilgal kom nie en die manskappe van hom af verstrooid raak…

Ons vlees het nie die vermoë gekry om God se woord en orde te hou en te handhaaf nie. Nee, ons vlees kyk altyd oor die heining en wil soos ander mense wees en ander mense se dinge wil ons hê. In ons tyd van onkunde en blindheid glo ons dat ander mense gelukkiger is as ons met wat hulle is en wat hulle besit. Maar almal voel maar soos ons oor dinge, en almal se nietigheid word op een of ander stadium ook aan hulle gewys. Die vlees se nietigheid is ‘n universele waarheid en aardse heerskappy is van verbygaande aard:

Psa 39:5-7 HERE, maak my einde aan my bekend en wat die maat van my dae is; laat my weet hoe verganklik ek is. Kyk, U het my dae ‘n paar handbreedtes gemaak, en my leeftyd is soos niks voor U nie; ja, as pure nietigheid staan elke mens daar! Sela. Waarlik, die mens wandel as skadubeeld rond; ja, hulle woel verniet; hulle stapel op en weet nie wie dit sal insamel nie.

As God ons barmhartig is, dan gee Hy aan ons die oë om in ons eie lewe te kyk. Ons moet hierdie foute eerstens in onsself kan sien – dit is waar die pad tot geestelike volwassenheid begin. Lees Paulus se woorde….

1Ti 1:15 Dit is ‘n betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word, dat Christus Jesus in die wêreld gekom het om sondaars te red, van wie ek die vernaamste is.

As ek daardie teks in Timotheüs lees en Paulus alleen daarin sien, dan is ek geestelik blind. Die teks praat met almal wat hulself daarin kan sien. Ek moet kan sien dat ek ‘n erger sondaar is as die mense na wie ek so graag ‘n vinger wys. 

Mat 7:1-5 Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie. 2 Want met die oordeel waarmee julle oordeel, sal julle geoordeel word; en met die maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word. 3 En waarom sien jy die splinter in die oog van jou broeder, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie? 4 Of hoe sal jy vir jou broeder sê: Laat my toe om die splinter uit jou oog uit te haal, en kyk, in jou eie oog is die balk! 5 Geveinsde, haal eers die balk uit jou oog uit, en dan sal jy goed sien om die splinter uit die oog van jou broeder uit te haal.

Koning Saul kon die balk in sy eie oog nie sien nie, en hy kon sy posisie nie verstaan nie.

1Sa 13:9 het Saul gesê: Bring na my die brandoffer en die dankoffers; en hy het die brandoffer geoffer.

Maar hoor Saul se belydenis aan Samuel…

1Sa 13:11-12 Daarop vra Samuel: Wat het jy gedoen? En Saul sê: Ek het gesien dat die manskappe verstrooid raak van my af; en toe u nie kom op die afgesproke tyd nie, terwyl die Filistyne in Migmas bymekaarkom, 12 het ek gesê: Nou sal die Filistyne na my toe aftrek in Gilgal, en ek het die aangesig van die HERE nie om genade gesmeek nie; daarom het ek myself sterk gehou en die brandoffer gebring.

Saul het wel bely, maar dit was belydenis met ‘n verduideliking / verskoning. Die vlees het nie die vermoë om op sy eie te bekeer van sy verkeerde idees en handelinge nie. God egter lei ons tot ‘n opregte belydenis en bekering:

Rom 2:4 Of verag jy die rykdom van sy goedertierenheid en verdraagsaamheid en lankmoedigheid, omdat jy nie besef dat die goedertierenheid van God jou tot bekering wil lei nie?

Die vlees is ‘n trotse koning en hy buig nie sommer op sy eie nie. Nee, die vlees verag “die rykdom van [God se] goedertierenheid en verdraagsaamheid en lankmoedigheid, omdat [die vlees] nie besef dat die goedertierenheid van God [ons] tot bekering lei nie?” Die vlees leer net op die harde manier:

Rom 2:5-6 Maar ooreenkomstig jou verhardheid en onbekeerlike hart vergader jy vir jou toorn as ‘n skat in die dag van die toorn en die openbaring van die regverdige oordeel van God wat elkeen sal vergeld na sy werke:

Deur God se toorn vind ons uit van ons aardse koning, ons eerste Adam, se “verhardheid en onbekeerlike hart.

Jer 17:9 Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?

Deur ons bedrog en verdorwenheid word ons verneder, en deur God se oordeel leer ons wat reg is:

Jes 26:9 Met my siel begeer ek u in die nag; ook met my gees in my binneste soek ek U; want as u oordele op die aarde is, leer die inwoners van die wêreld geregtigheid.

Saul se fout het vir Samuel die regte geleentheid geskep om aan Saul hierdie harde woorde oor te dra…

1Sa 13:13-14 Toe sê Samuel vir Saul: Jy het dwaas gehandel, jy het die gebod van die HERE jou God wat Hy jou beveel het, nie gehou nie; want anders sou die HERE jou koningskap oor Israel vir goed bevestig het. 14 Maar nou sal jou koningskap nie bestaan nie. Die HERE het vir Hom ‘n man na sy hart gesoek; en die HERE het hom as vors oor sy volk aangestel, omdat jy nie gehou het wat die HERE jou beveel het nie.

Koning Dawid het ook gefouteer tydens sy tyd as koning oor Israel. Dawid het hom skuldig gemaak aan groot oortredings op tye….ook owerspel en moord. Dawid het ook aanvanklik gedink dat hy kon wegkom daarmee. Maar nee, God weet alles want Hy bewerkstellig alles. Hy wil aan ons wys hoe ons van Sy geregtigheid leer en daaraan deelagtig word…deur die “laaste Adam”! God het in Sy goedertierenheid die profeet Natan na Dawid gestuur om Dawid te lei tot bekering

2Sa 12:1-4 Daarom het die HERE Natan na Dawid gestuur. Toe hy by hom inkom, sê hy vir hom: Daar was twee manne in ‘n sekere stad, die een was ryk en die ander arm. 2 Die ryke het ‘n groot menigte kleinvee en beeste gehad, 3 maar die arme het glad niks gehad nie, behalwe een klein ooilammetjie wat hy gekoop en in die lewe gehou het, en wat by hom en saam met sy kinders groot geword het; dit het van sy stukkie brood geëet en uit sy beker gedrink en in sy skoot geslaap, en dit was vir hom soos ‘n dogter. 4 En toe daar besoek kom by die ryk man, het hy ontsien om van sy kleinvee of beeste te neem om vir die reisiger wat by hom gekom het, iets te berei; daarom het hy die ooilam van die arm man geneem en dit berei vir die man wat by hom gekom het.

Kyk hoe reageer Dawid se vlees eerste….

2Sam 12:5-6 En Dawid het baie kwaad geword vir die man en aan Natan gesê: So waar as die HERE leef, die man wat dit gedoen het, moet sterwe! 6 En die ooilam moet hy viervoudig teruggee, omdat hy hierdie ding gedoen het en geen ontferming geken het nie.

Dawid het probeer wegkom, maar God se woord is duidelik….

2Sa 12:7-12 Toe sê Natan vir Dawid: U is die man! So sê die HERE, die God van Israel: Ék het jou as koning gesalf oor Israel, en Ék het jou gered uit die hand van Saul; 8 en Ek het die huis van jou heer aan jou gegee, en die vroue van jou heer in jou skoot, en Ek het die huis van Israel en Juda aan jou gegee; en as dit te min was, sou Ek aan jou nog meer sulke dinge daarby wil voeg. 9 Waarom het jy die woord van die HERE verag deur te doen wat verkeerd is in sy oë? Uría, die Hetiet, het jy met die swaard verslaan, en sy vrou het jy vir jou as vrou geneem, nadat jy hom deur die swaard van die kinders van Ammon vermoor het. 10 En nou sal die swaard vir ewig van jou huis nie wyk nie, omrede dat jy My verag het en die vrou van Uría, die Hetiet, geneem het om jou vrou te wees. 11 So sê die HERE: Kyk, Ek sal uit jou huis onheil oor jou verwek, en jou vroue voor jou oë neem en aan jou naaste gee, sodat hy by jou vroue sal slaap voor die oog van hierdie son. 12 Want jy het dit in die geheim gedoen, maar Ek sal hierdie ding doen voor die hele Israel en in die volle sonlig.

Ons moet almal tot die punt kom dat ons kan sê…”Ek is die man”. Ek is die eerste Adam en ek is niks beter as enigiemand nie. Alle sondes was “in Adam” en is in ons eie “Adam”. Niks goed woon in vlees nie. Hier is Paulus se belydenis, en dit is wat ons almal sal uitvind…en bely!

Rom 7:18-20 Want ek weet dat in my, dit wil sê in my vlees, niks goeds woon nie; want om te wil, is by my aanwesig, maar om goed te doen, dit vind ek nie. 19 Want die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek. 20 Maar as ek doen wat ek nie wil nie, dan doen ek dit nie meer nie, maar die sonde wat in my woon.

Sonde, ALLE sonde, woon in ons vlees vanaf ons skepping…”die voorwerp wat hy besig was om te maak, het misluk—soos dit gaan met klei in die hand van die pottebakker…” Hier is koning Dawid se belydenis vir ons as “voorbeeld” en “waarskuwing”…

2Sa 12:13 En Dawid sê vir Natan: Ek het gesondig teen die HERE! 

Psa 51:1-19 Vir die musiekleier. ‘n Psalm van Dawid, toe die profeet Natan na hom gekom het, nadat hy by Bátseba ingegaan het. Wees my genadig, o God, na u goedertierenheid; delg my oortredinge uit na die grootheid van u barmhartigheid. Was my heeltemal van my ongeregtigheid en reinig my van my sonde. Want ék ken my oortredinge, en my sonde is altyddeur voor my. Teen U alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë, sodat U regverdig kan wees as U spreek, rein as U gerig hou. Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang. Kyk, U het ‘n welgevalle aan waarheid in die binneste, en in die verborgene maak U aan my wysheid bekend. Ontsondig my met hisop, dat ek kan rein wees; was my, dat ek witter kan wees as sneeu. Laat my vreugde en blydskap hoor; laat die gebeente juig wat U verbrysel het. Verberg u aangesig vir my sondes en delg uit al my ongeregtighede. Skep vir my ‘n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my ‘n vaste gees. Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie. Gee my weer die vreugde van u heil, en ondersteun my deur ‘n gewillige gees. Ek wil die oortreders u weë leer, dat die sondaars hulle tot U kan bekeer. Red my van bloedskuld, o God, God van my heil! Laat my tong u geregtigheid uitjubel. Here, open my lippe, dat my mond u lof kan verkondig. Want U het geen lus in slagoffer nie, anders sou ek dit gee; in brandoffer het U geen behae nie. Die offers van God is ‘n gebroke gees; ‘n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie! Doen goed aan Sion na u welbehae; bou die mure van Jerusalem op. Dan sal U ‘n welbehae hê in die offers van geregtigheid, in brandoffer en voloffer; dan sal hulle stiere offer op u altaar.

Hierdie belydenis was nie bskore vir koning Saul nie. Hierdie offer kon Saul nie bring nie…Dawid kon dit bring! “Die offers van God is ‘n gebroke gees; ‘n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie!”

Want U het geen lus in slagoffer nie, anders sou ek dit gee; in brandoffer het U geen behae nie. Die offers van God is ‘n gebroke gees; ‘n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie! 

Saul het net voortgeploeter…

1Sa 13:15 Toe het Samuel klaargemaak en opgegaan van Gilgal na Gíbea in Benjamin, en Saul het die manskappe gemonster wat by hom aanwesig was, omtrent ses honderd man.

Die getal ‘ses’ word hier spesifiek genoem om aan ons te wys wat ons aardse koning, “die mens van sonde”, “die seun van verderf”, “die ongeregtige”, altyd sal doen – teen God rebelleer tot sy eie ondergang! [Lees gerus die artikel oor die geestelike betekenis van die getal ‘ses’ by hierdie skakel: https://4windkoinonia.wordpress.com/2016/09/12/die-geestelike-betekenis-van-syfergetalle-6/]

2Th 2:3-4 Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf 4 die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is.

2Th 2:7-8 Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is; 8 en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak…

 

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s