Ons aardse koningskap is TYDELIK (Deel 10)

Ons “eerste Adam” is geskep as ‘n “lewende siel” wat aardsgebonde is, in teenstelling met die “laaste Adam”, Jesus Christus, wat “uit die hemel” is as ‘n “lewendmakende gees”.

1Kor 15:45-49 So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees. 46 Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike. 47 Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel. 48 Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. 49 En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra.

Ons dra dus eerste die “beeld” van die aardse wat totaal verskillend is van die “beeld” van die hemelse. Vir baie skep dit ‘n groot probleem omdat hulle oortuig is dat die aardse Adam reeds die beeld van die hemelse Adam dra.

Gen 1:26 En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip.

Die woorde “laat Ons mense maak na ons beeld” is baie misleidend vertaal, want in die oorspronklike Hebreeus is die werkwoord wat gebruik word in die onvoltooide vorm.  Jesus sê Hy en Sy Vader werk nog steeds…”tot nou toe”:

Joh 5:17 En Jesus het hulle geantwoord: My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook.

Kyk na die konteks van hierdie woorde van Jesus en ons kan hieruit ook sien, as God ons geestelike oë gee,  wat die ware geestelike betekenis van die konsep “sabbat” is:

Joh 5:15-18 Die man [wie agt en dertig jaar aan ‘n siekte gely het en deur Jesus op die sabbat gesond gemaak was] het gegaan en aan die Jode vertel dat dit Jesus was wat hom gesond gemaak het. 16 En hieroor het die Jode Jesus vervolg en probeer om Hom dood te maak, omdat Hy dit op die sabbat gedoen het. 17 En Jesus het hulle geantwoord: My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook. 18 Hieroor het die Jode toe nog meer probeer om Hom dood te maak, omdat Hy nie alleen die sabbat gebreek het nie, maar ook God sy eie Vader genoem het en Hom met God gelykgestel het.

Die fisiese Jode het geen idee van die geestelike dinge van God nie. Hulle kon, en kan tot vandag toe, nie sien dat God Sy werk op die sewende dag voltooi nie:

Gen 2:2 En God het op die sewende dag sy werk voltooi wat Hy gemaak het, en op die sewende dag gerus van al sy werk wat Hy gemaak het.

God was nie moeg nie…

Jes 40:28 Weet jy dit nie? Of het jy dit nie gehoor nie? ‘n Ewige God is die HERE, Skepper van die eindes van die aarde; Hy word nie moeg of mat nie; daar is geen deurgronding van sy verstand nie.

Die “rus” van God het NIKS te doen met ons aardse mens se begrip van “rus” nie! Die sabbat het dus ‘n heel ander betekenis as wat die aardse mens daaraan heg. Maar diegene wat vashou aan die aardse begrippe haat die geestelike werk van Jesus en Sy Vader. Hulle kan dus ook nie sien dat die mens deur ‘n geestelike beeldvormingsproses gaan om geestelike perfeksie in Christus te verkry nie. Hierdie geestelike perfeksie in Christus is die “rus” van God:

Heb 4:1-3 Laat ons dan vrees dat, terwyl die belofte om in sy rus in te gaan nog standhou, dit nie miskien sal blyk dat iemand van julle agtergebly het nie. 2 Want aan ons is die evangelie ook verkondig net soos aan hulle; maar die woord van die prediking het hulle nie gebaat nie, omdat dit by die hoorders nie met die geloof verenig was nie. 3 Want ons wat geglo het, gaan die rus in, soos Hy gesê het: Daarom het Ek in my toorn gesweer, hulle sal in my rus nie ingaan nie—alhoewel sy werke van die grondlegging van die wêreld af volbring is.

Heb 4:10 want wie in sy rus ingegaan het, rus ook self van sy werke soos God van syne.

Heb 4:14 Terwyl ons dan ‘n groot Hoëpriester het wat deur die hemele deurgegaan het, naamlik Jesus, die Seun van God, laat ons die belydenis vashou.

Selfs al is ons nie bewus van die onvoltooide vorm van die Hebreeuse werkwoord in Genesis 1 vers 26 nie, is dit uit die “hele inhoud” van die Skrifte duidelik (Ps 119:160) dat God met ‘n proses besig is om uit en deur die vleeslike “eerste Adam” ‘n nuwe skepping na vore te bring deur Christus, die “laaste Adam”.. Ons almal sal uiteindelik herskep word in die lewendmakende “laaste Adam”.

1Kor 15:22 Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word…

Jesus het die volgende woorde direk gesê aan ‘n Joodse owerste met die naam van Nikodémus wat veronderstel was om te weet van hierdie plan van God. Die wedergeboorte (of nuwe skepping in gees) is nie ‘n nagedagte van God nie – dit was Sy plan van die begin af!

Joh 3:3 Jesus antwoord en sê vir hom [Nikodémus]: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.

Ons moet belangrike lesse leer in die hele proses. Die eerste Adam is dus ‘n belangrike deel van God se plan – hy is die begin en nie die voltooiing van die proses nie. Jesus sê dat daar ‘n groot verskil is tussen vlees en gees en deur hierdie verskille, hierdie kontraste, leer ons baie:

Joh 3:6 Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees.

Nikodémus was, soos baie van vandag se ‘owerstes’ wat oor mense se geestelike kennis en geloof heers, totaal oningelig oor die plan van God met mens.

Joh 3:9-10 Nikodémus antwoord en sê vir Hom: Hoe kan hierdie dinge gebeur? 10 Jesus antwoord en sê vir hom: Jy is die leraar van Israel en jy weet hierdie dinge nie?

Dit is skokkend wat die leraars in vandag se kerke en gelowe aan mense opdis – in die naam van ‘n “ander Jesus” wat onbekend is aan die Skrifte (2Kor 11:4). Die ware Jesus se woorde en Sy plan is baie duidelik aan hulle wat Sy Woorde kan hoor. Jesus sê dat die proses van wedergeboorte vir sommige ‘n ‘verwondering’ is, terwyl God dit altyd as deel van Sy een plan met die mens het.

Joh 3:7 Moenie jou [Nikodémus] verwonder dat Ek vir jou gesê het, julle moet weer gebore word nie.

Ons almal se aardse Adam sal uiteindelik vervang word met die hemelse Adam, Jesus Christus. Almal wat die eerste Adam “dra”, sal ook die lewe van die “laaste Adam” kry – “elkeen in sy eie orde….”:

1Kor 15:22-23a Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word…. maar elkeen in sy eie orde….

Die aardse Adam het dus ‘n tydelike heerskappy gekry, oor aardse dinge, wat hy in elk geval nie eens reg regeer nie. Dit gebeur alles om ons te leer waarom ons ons oë moet hou op die ware Heerser van God wat aan ons almal ware heerskappy sal gee:

Mat 28:18-20 En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde. Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies...

Hierdie proses om te leer van heerskappy, vanaf die eerste Adam tot die volmaakte in die laaste Adam, word vir ons ook uitgebeeld in die lewens van die eerste twee konings van die fisiese Israel, Saul en Dawid onderskeidelik. Elke aspek in die lewens van hierdie twee konings help ons om ons eie geestelike ontwikkeling te verstaan. Die koningskap van Saul was nie van ‘n standhoudende aard nie – daarom het Saul so dwaas opgetree….

1Sa 13:13-14 Toe sê Samuel vir Saul: Jy het dwaas gehandel, jy het die gebod van die HERE jou God wat Hy jou beveel het, nie gehou nie; want anders sou die HERE jou koningskap oor Israel vir goed bevestig het. 14 Maar nou sal jou koningskap nie bestaan nie. Die HERE het vir Hom ‘n man na sy hart gesoek; en die HERE het hom as vors oor sy volk aangestel, omdat jy nie gehou het wat die HERE jou beveel het nie.

Dawid se koningskap was egter “na God se hart” in die sin dat Dawid se manier van heerskappy die tipe was van die geestelike koninkryk van Jesus. Maar ons kom later daarby uit. Ons leer eers waarom Saul so opgetree het en ons moet dan ons eie aardse Adam daarin kan sien. Dit wat met Saul gebeur het, het alles so plaasgevind om aan ons te wys dat ons eie eerste Adam nie God se gebod kan hou nie – al wil hy ook!

1Kor 10:11 Maar al hierdie dinge [Saul se “dinge” ook] het hulle [fisiese Israel] oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het.

Ons eerste Adam handel soos ‘n dwaas, en dit is ook hoe Samuel Saul se handelinge beskryf het. ‘n Dwaas kan nie God se gebod gehoorsaam nie.

1Sa 13:13 Toe sê Samuel vir Saul: Jy het dwaas gehandel, jy het die gebod van die HERE jou God wat Hy jou beveel het, nie gehou nie….

Koninklike eer pas ook nie by ‘n dwaas nie:

Spr 26:1 Soos sneeu in die somer en soos reën in die oestyd, so pas eer nie by ‘n dwaas nie.

Maar uit hierdie dwaas in ons bring God dinge na vore waarby die nuwe mens in ons baat vind. Jónatan (sy naam beteken “gawe van God”) was Saul se oudste seun. Dit is dan ook die rol wat Jónatan gespeel het wat aan ons hoop gee binne hierdie donker lewe van Saul. Dit was juis in Saul se stryd teen die Filistyne waar Jónatan iets gedoen het wat vir ons baie help en hoop gee tydens ons eie stryde wanneer alles vir ons donker lyk en ons vyande oënskynlik die oorhand oor ons het:

1Sa 13:23 En ‘n wagpos van die Filistyne het uitgetrek na die pas van Migmas.

1Sa 14:1 En op ‘n dag het Jónatan, die seun van Saul, aan die dienaar wat sy wapens dra, gesê: Kom, ons gaan oor na die wagpos van die Filistyne wat daar oorkant is. Maar aan sy vader het hy dit nie te kenne gegee nie.

Die Here het iets in die hart van Jónatan bewerkstellig wat God aan elkeen van ons skenk op die tyd soos Hy alleen bepaal. Die ding wat God in Jónatan se hart gebring het was geloof. Geloof en gehoorsaamheid aan God is iets wat Saul nie in sy hart gehad het nie. Geloof kom na ons deur ‘n ontvanklike oor en hart wat God deur Sy Woord in ons bewerkstellig:

Rom 10:17 Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God.

Geloof is nie ons s’n nie, dit is ‘n onverdiende “gawe van God”  – ja, onthou Jónatan se naam beteken “gawe van God”!

Efes 2:8-10 Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; 9 nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie. 10 Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.

Geloof werk wonders as ons nie op onsself en ons eie vermoëns staatmaak nie. Jónatan en sy wapendraer was op die regte plek om dit te ontvang. Hulle was alleen en hulle was gereed op die oorlogsfront, terwyl Saul onder ‘n granaatboom gesit het, en by hom was sy ses honderd man.

1Sa 14:2-3 En Saul het gesit op die grens van Gíbea onder die granaatboom wat by Migron staan; en die manskappe by hom was omtrent ses honderd man. 

Die woord “granaatboom” kom van die Hebreeuse bronwoord “râmam” wat “verhewe” beteken. Trots in ons hart is ‘n struikelblok vir geloof. Saul was ‘n trotse man en kon nie God se gebod in geloof gehoorsaam nie. Hierdie spesifieke granaatboom was by ‘n plek met die naam van “Migron” wat in Hebreeus beteken om “in vrees” te wees en “neergewerp” te word. Ongeloof bring vrees – dit is Saul se posisie. Dit is ons aardse Adam se posisie. Maar God sal elke trotse hart neerwerp.

Jak 4:6 ….God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.

Spr 16:18 Trotsheid kom voor die verbreking, en hoogmoed kom voor die val.

By Saul was ook ses honderd man – die getal ‘ses’ is “die getal van mens” – die mens was op die sesde dag geskep en ontwikkel dan verder op daardie vlak….6-6-6!

Open 13:18 Hier kom die wysheid te pas. Wie die verstand het, laat hom die getal van die dier bereken, want dit is die getal van ‘n mens; en sy getal is ses honderd ses en sestig.

Die mens aanbid homself (2Thes 2:3-4) en soek die eer van mense. Saul het altyd op die getalle van mense gekyk en daarvolgens opgetree – hy “koop” en “verkoop” dus op daardie vlak. Die mens vergeet dat hy saam met die diere op dag ses gemaak was en oor diere moet regeer – nie mense nie. Heerskappy oor mense is aards en dom. Dit is nie die hemelse heerskappy nie.

Open 13:17 …..niemand kan koop of verkoop nie, behalwe hy wat die merk of die naam van die dier of die getal van sy naam het.

Gen 1:24-26 En God het gesê: Laat die aarde lewende wesens voortbring volgens hulle soorte: vee, kruipende diere en wilde diere van die aarde volgens hulle soorte. En dit was so. 25 En God het die wilde diere van die aarde gemaak volgens hulle soorte en die vee volgens hulle soorte en al die diere wat op die grond kruip, volgens hulle soorte. Toe sien God dat dit goed was. 26 En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip.

Selfs Jesus se uitverkorenes val in hierdie strik, en tydens hul tyd van onkunde en blindheid verstaan hulle verkeerdelik dat God hulle gekies het om oor mense te regeer en met mens te kompiteer:

Mat 20:21-26 En Hy sê vir haar: Wat wil jy hê? Sy antwoord Hom: Sê dat hierdie twee seuns van my in u koninkryk mag sit, een aan u regter— en een aan u linkerhand. 22 Maar Jesus antwoord en sê: Julle weet nie wat julle vra nie. Kan julle die beker drink wat Ek aanstons gaan drink, en gedoop word met die doop waarmee Ek gedoop word? Hulle sê vir Hom: Ons kan. 23 En Hy sê vir hulle: Dis waar, my beker sal julle drink en met die doop waarmee Ek gedoop word, sal julle gedoop word; maar om te sit aan my regter— en aan my linkerhand berus nie by My om te gee nie, maar is vir hulle vir wie dit deur my Vader berei is. 24 En toe die tien dit hoor, was hulle verontwaardig oor die twee broers. 25 Maar Jesus het hulle na Hom geroep en gesê: Julle weet dat die owerstes van die nasies oor hulle heers en die groot manne oor hulle gesag uitoefen; 26 maar só moet dit onder julle nie wees nie; maar elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees.

Die eerste Adam is ‘n aardse skepsel en sien hierdie dinge heeltemal verkeerd. Ons aardse denke kan nie sien dat ons “vee” is nie – niks beter as diere is nie. Soos die wyse Salomo ook op die harde manier moes leer, sien die mens net sy eie dierlikheid deur pynlike beproewinge:

Pred 3:18 Ek [Salomo] het in my hart gesê: Ter wille van die mensekinders gebeur dit, dat God hulle kan beproef, en dat hulle kan insien dat hulle in hulleself vee is.

Koning Saul in sy ongeloof en vrees was ook saam met sommige van die geloofsleiers in Israel wat weereens uitwys na die afvallige toestand van die geestelike leiers van sy dag:

1Sam 14:3 En Ahía, die seun van Ahítub, die broer van Ikabod, die seun van Pínehas, die seun van Eli, die priester van die HERE in Silo, het die skouerkleed gedra. Maar die manskappe het nie geweet dat Jónatan [die gawe van God] weggegaan het nie.

Saul, die manskappe en die geestelike leiers wat by hom was kon in hulle geestelike blindheid en ongeloof nie sien wat Jónatan en sy wapendraer kon sien nie. God se gawe van geloof maak ‘n skeiding tussen hulle wat hul eie lewe wil bewaar (die valse herders), en hulle wat hul lewe gee (die ware herders):

Mat 10:38-39 En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie. 39 Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind.

Joh 10:11-13 Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape. 12 Maar die huurling en hy wat nie ‘n herder is nie, van wie die skape nie die eiendom is nie, sien die wolf kom en laat die skape staan en vlug, en die wolf vang hulle en jaag die skape uitmekaar. 13 En die huurling vlug, omdat hy ‘n huurling is en niks vir die skape omgee nie.

Geloof skep die basis vir aksie en verbreed ook ons geestelike visie. God gee juis aan die “min” en die onedeles in die oë van die wêreld hierdie geloof “sodat geen vlees voor Hom sou roem nie”:

Mat 22:14 Want baie is geroep, maar min uitverkies.

1Kor 1:26-29 Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; 27 maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; 28 en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, 29 sodat geen vlees voor Hom sou roem nie.

Jónatan en sy wapendraer beeld vir ons hierdie “min” uit wat God kan gebruik:

1Sa 14:4-7 Nou was daar tussen die passe waar Jónatan wou deurgaan na die wagpos van die Filistyne, ‘n spits rots oorkant en ‘n spits rots duskant, en die naam van die een was Boses en die naam van die ander Sene. 5 Die een spits staan soos ‘n pilaar noord teenoor Migmas, en die ander een suid teenoor Geba. 6 Jónatan dan het aan die dienaar wat sy wapens dra, gesê: Kom, ons gaan oor na die wagpos van daardie onbesnedenes; miskien sal die HERE vir ons optree, want by die HERE is daar geen verhindering om deur baie of deur min te verlos nie. 7 Toe sê sy wapendraer vir hom: Doen alles wat in u hart is, maak soos u wil; hier is ek by u volgens die wens van u hart.

Hierdie twee het die geloof ontvang om die verlossing te sien. Die getal ‘twee’ is ‘n geestelike verwysing na die getuies van God (lees gerus meer van die geestelike betekenis van die getal ‘twee’ by hierdie skakel: https://4windkoinonia.wordpress.com/2016/08/26/die-geestelike-betekenis-van-syfergetalle-2/):

Deu 19:15 ….op die verklaring van twee getuies of op die verklaring van drie getuies sal ‘n saak van krag wees.

Deur geloof ontvang ons getuienis dat die pad wat moeilik lyk vir ons aardse sintuie, tog oorwinbaar is deur Christus (Fil 4:13). Ons kan sien hoekom ons “in die geloof [moet] bly”, en sodoende kan aanvaar waarom ons eerste Adam “deur baie verdrukkinge” moet gaan en sy lewe sal verloor deur die wedergeboorte van die laaste Adam, Jesus Christus, in ons.

Hand 14:22 en die siele van die dissipels versterk en hulle vermaan om in die geloof te bly deur te sê: Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan.

Dit is die keuse wat Jónatan ook toegepas het:

1Sa 14:8-10 Daarop sê Jónatan: Kyk, ons sal na die manne toe oorgaan en ons aan hulle vertoon. 9 As hulle vir ons só sê: Staan stil totdat ons by julle kom! dan moet ons op ons plek bly staan en nie na hulle opklim nie. 10 Maar as hulle só sê: Kom op na ons toe! dan klim ons op, want dan het die HERE hulle in ons hand gegee; en dit sal vir ons die teken wees.

Deur geloof weet ons dat die hinderlae wat ons vyande vir ons opstel, ook die gat is wat hulle gegrawe het vir hulself:

Spr 26:27 Wie ‘n kuil grawe, sal daarin val; en hy wat ‘n klip rol, dit sal na hom terugkom.

Die ware gelowiges en getuies van die Here lyk soos afvalliges aan hulle wie se oë verblind word deur God. Maar die vyande se arrogante gedagtes en woorde teenoor God se uitverkorenes, sal gebruik word in hul eie oordeel en val. Christus se geloof in ons help ons om te weet dat vertroue in die vlees (selfvertroue) net so goed is as om jou eie doodsertifikaat te onderteken!

1Sa 14:11-12 Toe hulle twee hul aan die wagpos van die Filistyne vertoon, sê die Filistyne: Kyk, daar kom Hebreërs uit die gate uit waar hulle weggekruip het. 12 En die manne van die wagpos het Jónatan en sy wapendraer aangespreek en gesê: Klim op na ons toe, dan sal ons julle ‘n les leer! Daarop sê Jónatan aan sy wapendraer: Klim op agter my aan, want die HERE het hulle in die hand van Israel gegee.

Geloof is ‘n werk van hande en voete….

1Sa 14:13-14 En Jónatan het op sy hande en voete uitgeklim, en sy wapendraer agter hom aan; en hulle het voor Jónatan geval terwyl sy wapendraer agter hom aan van kant maak.

Jesus het gesê dat geloof, so klein soos ‘n mosterdsaad, groot dinge bewerkstellig:

Mat 17:19-20 Toe kom die dissipels na Jesus afsonderlik en sê: Waarom kon ons hom [die duiwel] nie uitdryf nie? 20 En Jesus antwoord hulle: Deur julle ongeloof; want, voorwaar Ek sê vir julle, as julle geloof het soos ‘n mosterdsaad sal julle vir hierdie berg sê: Gaan weg hiervandaan daarnatoe! en hy sal weggaan, en niks sal vir julle onmoontlik wees nie.

Jónatan se geloof in God het ‘n hele leër van die Filistyne laat wankel:

1Sa 14:14-15 Hierdie eerste slag waarin Jónatan en sy wapendraer ongeveer twintig man verslaan het, het plaasgevind op omtrent die helfte van’n aanvoorsel van ‘n stuk land. 15 Toe kom daar ‘n skrik in die laer, in die veld en onder al die manskappe; die wagpos en die roofkommando, hulle het ook geskrik, ja, die land het gebewe, sodat dit ‘n skrik van God geword het.

Geloof in aksie bring die ware afvalliges tot ander insigte:

1Sa 14:21 Selfs die Hebreërs wat die Filistyne soos gister en eergister bygestaan het, wat verspreid met hulle saam in die leër opgetrek het, hulle het ook aangesluit by die Israeliete wat saam met Saul en Jónatan was.

Geloof gee moed aan die moedeloses:

1Sam 14:22 Toe al die manne van Israel wat op die gebergte van Efraim weggekruip het, hoor dat die Filistyne vlug, het dié hulle ook in die geveg agternagesit. 23 En die HERE het Israel op dié dag verlos. 

Jónatan is ‘n tipe van die heerskappy van die nuwe mens in Christus, wat uit die ongeloof van die ou mens wederbaar word. Deur Saul en die fisiese Israel se ongeloof word die ware gelowiges uitgewys. Ja, deur ons ou Adam se swakheid en foute word ons inderdaad verneder, maar dit gee aan ons die kans om om te draai en op te staan in die nuwe Adam!

Rom 11:30-32 Want soos julle ook vroeër aan God ongehoorsaam was, maar nou barmhartigheid ontvang het deur hulle ongehoorsaamheid, 31 so het hulle ook nou ongehoorsaam geword deur die barmhartigheid aan julle, sodat hulle ook barmhartigheid kan ontvang. 32 Want God het hulle almal in die ongehoorsaamheid ingesluit om vir almal barmhartig te kan wees.

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s