Ons aardse koningskap is TYDELIK (Deel 11)

Ons aardse Adam was doelbewus geskep in tydelike verganklike vlees wat nie die geestelike koninkryk van God kan ingaan nie, soos bepaal deur die raad en plan van die Skepper (Efes 1:11):

Gen 2:7 En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword.

1Kor 15:50 Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.

Jer 18:4 En die voorwerp wat hy besig was om te maak, het misluk—soos dit gaan met klei in die hand van die pottebakker—maar hy het daaruit weer ‘n ander voorwerp gemaak soos dit in die oë van die pottebakker reg was om dit te maak.

Vlees kan nie God behaag nie want dit staan in opposisie teen die geestelike dinge van God:

Rom 8:5-8 Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge. 6 Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede, 7 omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie. 8 En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie.

Gal 5:17 want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie.

Vlees kan dus nie God se gebod gehoorsaam nie. Die rede hiervoor is dat ons eerste Adam homself sien as ‘n god. Hierdie vleeslike Adam glo, onder andere, dat hy ‘n  “vrye” wil het wat buite God se wil kan opereer. Met behulp van hierdie “vrye” wil glo ons vleeslike denke dat hy kan maak en breek soos hy wil – hy sit dus in God se plek op God se troon in ons harte. Nie baie word die oë gegee om hierdie “mens van sonde” in hulle te kan sien nie. Hy mislei dus baie, en dit is die rede waarom Paulus hierdie woorde geskryf het vir ons:

2Th 2:3-4 Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf 4 die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is.

Ons aardse god is ons vlees wat die “teëstander” van God is en hom altyd verhef bo die ware God. God self gee aan hierdie afgod in ons eie harte hierdie tydelike ‘heerskappy’ en die mens is dus vasgevang in sy eie delusie van belangrikheid. Daar kom ‘n dag in ons almal se lewe dat God hierdie “verborgenheid” aan ons openbaar!

2Th 2:7-11 Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is; 8 en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak, 9 hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen 10 en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie. 11 En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo…

Hierdie aardse Adam word vir ons voorgestel op baie maniere in die Skrifte. Een van die belangrike tipes van hierdie eerste koning in ons lewe is koning Saul, die eerste koning van Israel. Saul se ongehoorsaamheid aan God is alombekend. Saul was ‘n tipe van ons eie ongelowige vleeslike koning, die natuurlike mens in ons wat nie God se Woord kan aanvaar en vertrou nie.

1Kor 2:14 Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.

God op ‘n keer Saul se oudste seun, Jónatan,  gebruik om ‘n belangrike oorwinning oor die Filistyne van stapel te stuur.

1Sa 14:1 En op ‘n dag het Jónatan, die seun van Saul, aan die dienaar wat sy wapens dra, gesê: Kom, ons gaan oor na die wagpos van die Filistyne wat daar oorkant is. Maar aan sy vader het hy dit nie te kenne gegee nie.

Jónatan se naam beteken “gawe van God”. Geloof is juis ‘n gawe van God.

Efes 2:8-10 Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; 9 nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie. 10 Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.

Alleenlik deur geloof kan ons God behaag – iets wat die vlees nie kan doen nie:

Heb 11:6 En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek.

God het Jónatan beloon met eer bo sy pa. Deur die hand van Jónatan en sy wapendraer het God groot chaos in die laer van die Filistyne veroorsaak en ‘n groot verlossing vir Israel gebring . Maar Saul wou die initialief terugwen en het toe ‘n baie snaakse verbod ingestel net na hierdie oorwinning….

1Sa 14:23-24 En die HERE het Israel op dié dag verlos. Toe die geveg dan by Bet-Awen verbygaan, 24 en die manne van Israel dié dag aangedryf word, het Saul die manskappe besweer en gesê: Vervloek is die man wat iets eet tot vanaand, sodat ek my op my vyande kan wreek. Daarom het al die manskappe aan niks geproe nie.

Saul het nie die oorwinning gevier nie, en ook verder die manskappe van alle kos ontneem! Hy het ‘n vloek uitgespreek op enigeen wat sou eet! Die vlees is ‘n natuurlike manupileerder en gebruik altyd vrees om mense van geloof weg te hou.

1Sa 14:25-26 En al die mense het in ‘n bos gekom, en daar was heuning op die veld. 26 Toe die manskappe in die bos kom, was daar oorvloed van heuning; maar niemand het met sy hand aan sy mond geraak nie, omdat die manskappe bevrees was vir die eed.

Vrees is die vyande van geloof. Dit is wat ons aardse koning in ons bring. Maar deur die gawe van geloof bring God in ons die vermoë om verby die vleeslike obstruksies te kyk. Jónatan was geensins bewus van hierdie verbod en vloek van sy pa nie.  Jónatan se fokus was op ander dinge!

1Sa 14:27-28 Maar Jónatan het nie gehoor toe sy vader die manskappe besweer het nie en het die punt van die staf wat in sy hand was, uitgesteek en dit in ‘n heuningkoek gedoop en sy hand aan sy mond gebring, en sy oë het helder geword. 28 Daarop spreek een van die manskappe hom aan en sê: Jou vader het die manskappe met hierdie dure eed besweer: Vervloek is die man wat vandag iets eet. Daarom is die volk afgemat.

Ongeloof maak ons “afgemat” want dit laat ons fokus op aardse dinge en aardse leiers. Die ware gelowige sit nie in die kring van hierdie aardse spotters wat nie Godse werke in die mensdom kan erken en aanvaar nie:

Psa 1:1 Welgeluksalig is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie.

As God Sy geloof in ons harte vrystel en vestig dan breek dit deur die skanse van menslike opinies en aardse beperkingte. Geloof het Jónatan se insigte opgehelder en hy kon sien wat sy pa se ongeloof tot gevolg gehad het:

1Sa 14:29-30 En Jónatan sê: My vader stort die land in die ongeluk; kyk tog hoe helder my oë nou is, omdat ek hierdie bietjie heuning geproe het. 30 Hoeveel te meer as die manskappe vandag vry kon eet van die buit van hul vyande wat hulle gevind het! Maar nou is die slagting onder die Filistyne nie groot nie.

Saul se swak insigte as leier was ontbloot. Die vyand het kans gekry om te herstel. Ongeloof gee aan ons vyande die kans om te hergroepeer om ons van ‘n oorwinningslewe te weerhou. Ons ongeloof in God se werke deur Jesus Christus stel ons eie inwonende Filistyne, ons trots en welluste, instaat om ons te karnuffel.

1Jn 2:16 Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld.

Daarom moet ons gebed altyd wees vir God vir geloof om Hom in alles te vertrou. Die fokus is nie op die taak nie, maar op God en Sy doel en plan met alles!

Luk 17:5-6 Toe het die apostels aan die Here gesê: Gee ons meer geloof. 6 En die Here sê: As julle geloof gehad het soos ‘n mosterdsaad, sou julle vir hierdie moerbeiboom sê: Word ontwortel en in die see geplant—en hy sou julle gehoorsaam wees.

En selfs nadat ons in geloof God gehoorsaam is, is dit nie iets wat ons spesiale dank voor kry nie:

Luk 17:7-10 En wie is daar van julle wat ‘n dienskneg het wat ploeg of vee oppas, en as hy inkom van die veld vir hom sal sê: Kom dadelik hier aan tafel? 8 Sal hy nie eerder vir hom sê nie: Maak vir my die aandete klaar en omgord jou en bedien my totdat ek geëet en gedrink het; en daarna kan jy eet en drink? 9 Bedank hy daardie dienskneg, omdat hy gedoen het wat hom beveel is? Ek glo nie. 10 So ook julle, wanneer julle alles gedoen het wat julle beveel is, sê dan: Ons is onverdienstelike diensknegte, want ons het gedoen wat ons verplig was om te doen.

Ons is almal “onverdienstelike diensknegte” want ons doen in elk geval net wat God in en deur ons bewerkstellig – ALTYD! God is nie aan ons iets verskuldig nie, maar ons aan Hom. Ons ontvang alles uit Sy hand en geloof stel ons instaat om dit te kan erken!

Rom 11:35 Of wie het eers iets aan Hom gegee, dat dit hom vergeld moet word?

Luk 4:4 ….Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God.

Heb 11:1-2 Die geloof dan is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie. 2 Want daardeur het die mense van die ou tyd getuienis ontvang.

 

Advertisements
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s