Ons aardse koningskap is TYDELIK (Deel 14)

Orde in God se koninkryk is een van die belangrikste lesse wat ons leer tydens ons aardse bestaan. God se heerskappy oor alles is ‘n kardinale geestelike beginsel en hierdie waarheid bring orde in ons lewens. Hierdie orde bring ook vrede in ons omdat ons daardeur uitvind waar alles inpas in God se plan, veral met betrekking tot ons eie rol en funksie in God se koninkryk. God is inderdaad ‘n God van orde en vrede….

1Kor 14:33  want God is nie ‘n God van wanorde nie, maar van vrede, soos in al die gemeentes van die heiliges.

Hierdie orde en vrede kom egter nie maklik nie. Ons eerste koning in ons lewens, ons vlees, glo nie in hierdie orde van God nie. Hy gee nie sommer oor nie – hy klou vas en baklei met alles tot sy beskikking. Ons “eerste Adam” het eerste heerskappy in ons tyd hier in vlees voor ons kan sien dat die ware koning, die “laaste Adam”, wat deur Jesus Christus verteenwoordig word, Sy heerskappy oor alles uitoefen, soos deur God bepaal:

1Kor 15:45-49  So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees.  46  Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike.  47  Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel.  48  Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense.  49  En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra.

Open 1:7-8 Kyk, Hy kom met die wolke, en elke oog sal Hom sien, ook hulle wat Hom deursteek het; en al die geslagte van die aarde sal oor Hom rou bedryf; ja, amen! 8 Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde, sê die Here, wat is en wat was en wat kom, die Almagtige.

Die eerste Adam word geskep in nietigheid en misluk in die Skepper se hand:

Rom 8:20  Want [hier]die skepping is aan die nietigheid onderworpe nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het.

Gen 2:7  En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword.

Gen 3:19  In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.

Jer 18:4  En die voorwerp wat hy besig was om te maak, het misluk—soos dit gaan met klei in die hand van die pottebakker—maar hy het daaruit weer ‘n ander voorwerp gemaak soos dit in die oë van die pottebakker reg was om dit te maak.

God het die mag oor beide hierdie Adams – die “eerste Adam” is “die voorwerpe van toorn wat vir die verderf toeberei is”, en die “laaste Adam” is die “voorwerp tot eer…wat Hy voorberei het tot heerlikheid”:

Rom 9:20-23  Maar tog, o mens, wie is jy wat teen God antwoord? Die maaksel kan tog nie vir die maker sê: Waarom het u my so gemaak nie?  21  Of het die pottebakker nie mag oor die klei, om uit dieselfde klomp die een voorwerp tot eer en die ander tot oneer te maak nie?  22  En as God, al wil Hy sy toorn bewys en sy mag bekend maak, tog met groot lankmoedigheid die voorwerpe van toorn wat vir die verderf toeberei is, verdra het,  23  juis om bekend te maak die rykdom van sy heerlikheid oor die voorwerpe van barmhartigheid wat Hy voorberei het tot heerlikheid.

Die “eerste Adam” (vlees) haat dit om sy posisie op te gee vir die “laaste Adam” (lewendmakende gees) en die twee “staan teenoor mekaar”…

Gal 5:17 want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie.

Hierdie stryd in ons begin in alle erns wanneer ons “mens van sonde” se tydelike en korrupte status geopenbaar word aan ons persoonlik, deur die koms van die ware koning, Jesus Christus, in ons lewens:

2Th 2:1-4 Maar ons vra julle, broeders, met die oog op die wederkoms van onse Here Jesus Christus en ons vereniging met Hom, 2 om nie gou julle verstand te verloor of verskrik te word nie—deur gees of deur woord of deur brief wat van ons afkomstig sou wees—asof die dag van Christus al daar is. 3 Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf 4 die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is.

Open 1:1 Die openbaring van Jesus Christus wat God Hom gegee het om aan sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur, en wat Hy deur die sending van sy engel aan sy dienskneg Johannes te kenne gegee het,

Hierdie eerste koning in ons lewens is inderdaad God se “seun van die verderf”, hierdie eerste Adam in ons….

Luk 3:38 die seun van Enos, die seun van Set, die seun van Adam, die seun van God.

Hierdie koning en sy oorloë in ons word in die Ou Testament op verskillende maniere aan ons uitgewys – een so ‘n tipe is Saul, die eerste koning van fisiese Israel. Saul was inderdaad in baie oorloë betrokke. Saul het met almal baklei…

1Sa 14:47  So het Saul dan die koningskap oor Israel verkry en oorlog gevoer rondom teen al sy vyande: teen Moab en teen die kinders van Ammon en teen Edom en teen die konings van Soba en teen die Filistyne; en oral waarheen hy hom gewend het, het hy straf geoefen.  

Saul het nooit vrede bewerkstellig tydens sy tyd as koning oor Israel nie. Sy tyd van heerskappy was gekenmerk deur oorlog op oorlog. Saul is die koning van onvrede, net soos ons vlees nooit ware vrede sal ken nie. Ons vleeslike aardse koning leef in delusie en verwerp die heerskappy van God se woord in ons lewens met tragiese gevolge, net soos die profeet Jeremia dit uitgedruk het:

Jer 8:8-11  Hoe durf julle sê: Ons is wys, en die wet van die HERE is by ons? Waarlik, kyk, bedrieglik werk die leuenpen van die skrywers.  9  Die slim mense kom in die skande, is verslae en verstrik. Kyk, hulle het die woord van die HERE verwerp, en watter wysheid sou hulle hê?  10  Daarom sal Ek hulle vroue aan ander gee, hulle landerye aan veroweraars; want van die kleinste tot die grootste maak hulle almal onregverdige wins; van die profeet tot die priester pleeg hulle almal bedrog.  11  En hulle genees die verbreking van die dogter van my volk op die maklikste manier deur te sê: Vrede, vrede! —terwyl daar geen vrede is nie.

Die profeet Samuel het ‘n groot rol in Saul se lewe gespeel en hieruit leer ons ook van God se orde, en waarom ons aardse koning nooit ware vrede sal ken nie, en nooit God se orde sal aanvaar nie:

1Sa 15:1  Toe sê Samuel vir Saul: Die HERE het my gestuur om jou as koning te salf oor sy volk, oor Israel; luister dan nou na die stem van die woorde van die HERE.

God alleen stel konings aan en elke koning se besluite word deur God bepaal:

Spr 21:1  Die koning se hart is in die hand van die HERE soos waterstrome: Hy lei dit waarheen Hy wil.

Dan 4:17  Op ‘n besluit van die bodes berus die bevel, en ‘n woord van die heiliges is die saak, met die bedoeling dat die lewendes kan erken dat die Allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens en dit gee aan wie Hy wil, en die nederige onder die mense daaroor aanstel.

As God heersers se denke en handelinge bepaal, dan is dit seker vanselfsprekend dat God ook elke mens se weë bepaal – innerlik en uiterlik:

Spr 20:24  Die voetstappe van ‘n man hang van die HERE af: hoe sou ‘n mens dan sy weg verstaan?

Jer 10:23  Ek weet, o HERE, dat aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan ‘n man om te loop en sy voetstappe te rig nie.

Ons aardse koning glo egter hy is sy eie baas en het ‘n sogenaamde “vrye” wil waarmee hy kan maak en breek soos hy wil. Hierdie aardse mens in ons is ‘n koning wat nie God se wet kan gehoorsaam nie, en dit is ook volgens God se orde!

Jes 63:17  HERE, waarom laat U ons wegdwaal van u weë? Waarom verhard U ons hart, sodat ons U nie vrees nie? Keer terug ter wille van u knegte, die stamme van u erfdeel!

Dit is dan ook presies waarom Saul nie God se gebod kon gehoorsaam nie. Wat met Saul en fisiese Israel gebeur het, is alles neergeskryf om ons van eie aardse koning te leer:

1Kor 10:11  Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het.

Hier is God se opdrag aan Saul in  terme van die Amalekiete. Die Amalekiete was een van fisiese Israel se vyande op daardie tydstip. Die opdrag is met spesifieke detail oorgedra deur Samuel:

1Sa 15:2-3  So sê die HERE van die leërskare: Ek het terdeë gelet op wat Amalek Israel aangedoen het, dat hy hom in die weg gestaan het by sy optog uit Egipte.  3  Gaan nou en verslaan Amalek, en julle moet met die banvloek tref alles wat hy het; en jy mag hom nie verskoon nie, maar jy moet om die lewe bring man sowel as vrou, kind en suigling, bees en kleinvee, kameel en esel.

Fisies gesien is die opdrag wreed en ons natuurlike mens kan nie ‘n God van vrede en liefde assosieer met hierdie vlak van geweld teen aardse vyande nie. Ons moet egter verstaan dat alle boosheid en geweld wat in die Skrifte voorkom wil uitwys dat God heilig is en dat Hy alle boosheid en onheil skep en na vore bring vir Sy doel – en dan vernietig Hy dit op die tyd soos Hy bepaal:

Jes 45:5-7 Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; buiten My is daar geen God nie; Ek omgord jou, hoewel jy My nie geken het nie, 6 sodat hulle kan weet van die opgang van die son en van sy ondergang af dat daar buiten My geeneen is nie; Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; 7 wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen.

Spr 16:4 Alles het die HERE gemaak vir sy doel, ja, ook die goddelose vir die dag van onheil.

Boosheid en sonde het dus ‘n TYDELIKE funksie om God se geestelike doel te bereik. Vlees (alle aardsheid) is God se vyand en alles wat met vlees verband hou sal vernietig word:

Rom 8:6-8 Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede, 7 omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie. 8 En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie;

Die geweld in die Skrifte is dus juis om hierdie uitwissing van die vlees en aardsheid in ons eie lewe uit te beeld. Dit is waarom die aardse mens God se werkswyse haat en verafsku – hy glo hy is god, onaantasbaar en ewig. God se werkswyse is walglik en dwaas vir ons aardse koning:

1Kor 2:14 Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.

Maar as ons God se woord in gees verstaan, dan sal ons beter verstaan hoekom ons ook die vleeslike dinge wat werklik gebeur het in die menslike geskiedenis hier op aarde, binne die geestelike konteks in onsself moet sien. Dan sal ons kan sien dat die vlees op die einde van die hele proses “van geen nut is nie” en nooit weer sal bestaan in God se geestelike koninkryk nie…

Joh 6:63  Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.

Geestelik gesien is God se vyande eintlik binne-in onsself – in ons harte (die Filistyne, die Amalekiete, die Maobiete, en al die vyande van God in die Skrifte):

Efes 6:12  Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug [Grieks: “epouranios” – hemel / denke]

As ons dink die hemel (“in die lug”) is ‘n plek daar ver in die fisiese kosmos agter die verste sterrestelsel waar al hierdie bose dinge aangaan, dan weet ons nie waar God woon en werk nie. As God ons egter die insig gee om te kan sien waar hierdie oorlog en stryd (in die hemel) aangaan, dan het hemel baie naby gekom en die oorwinning is in sig:

Deu 30:12-14 Dit is nie in die hemel nie, sodat jy moet sê: Wie sal vir ons na die hemel opklim en dit vir ons gaan haal en ons dit laat hoor, dat ons dit kan doen? 13 Dit is ook nie oorkant die see nie, sodat jy moet sê: Wie sal vir ons na die oorkant van die see oorvaar en dit vir ons gaan haal en ons dit laat hoor, dat ons dit kan doen? 14 Maar baie naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart, om dit te doen.

Rom 10:6-10 Maar die geregtigheid wat uit die geloof is, sê dit: Moenie in jou hart sê nie: Wie sal in die hemel opvaar, naamlik om Christus af te bring; 7 of: Wie sal in die afgrond neerdaal, naamlik om Christus uit die dode op te bring? 8 Maar wat sê dit? Naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart. Dit is die woord van die geloof wat ons verkondig: 9 As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word; 10 want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding.

Kyk wat sê Johannes oor hierdie “hemel” wat in ons besoedel is deur die korrupte heerskappy van ons aardse koning en sy wêreld:

1Jn 2:16  Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld.

Die welluste en trots in ons harte is wat alle sondes in ons openbaar!

Jak 1:14-15 Maar elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word. 15 Daarna, as die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde; en as die sonde tot volle ontwikkeling gekom het, bring dit die dood voort.

Die goeie nuus is dat as hierdie sondes openbaar word, dan word ons doodstyd in vlees aan ons geopenbaar.

Vlees is wat die konsep van “dood” beteken! (Rom 8:6)

As ons dit kan sien en daarvan ontslae wil raak, dan verwelkom ons God se oordeel omdat God se oordeel ons bevry van ons korrupte aardse koning!

Heb 9:27 En net soos die mense bestem is om een maal te sterwe [vlees te ervaar eerste] en daarna die oordeel.

God se oordeel leer ons dan van God se koning, Jesus Christus en Sy geregtigheid!!! Dan SOEK ons na dit!!!! Ons soek die GEES en nie die VLEES nie.

Jes 26:9 Met my siel begeer ek u in die nag; ook met my gees in my binneste soek ek U; want as u oordele op die aarde is, leer die inwoners van die wêreld geregtigheid.

Mat 6:33 Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.

Ons soek die “laaste Adam”, Jesus Christus, en ons sterf vir die “eerste Adam”…

1Kor 15:31 Ek sterf dag vir dag, broeders, so waar as ek op julle roem in Christus Jesus, onse Here.

Rom 6:1-7 Wat sal ons dan sê? Sal ons in die sonde bly, dat die genade meer kan word? 2 Nee, stellig nie! Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog daarin lewe? 3 Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? 4 Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel. 5 Want as ons met Hom saamgegroei het deur die gelykvormigheid aan sy dood, sal ons dit tog ook wees deur dié aan sy opstanding; 6 aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie. 7 Want hy wat gesterf het, is geregverdig van die sonde.

Om van die vlees ontslae te raak, kom net deur God se oordeel en so word ons toegang gegee tot die nuwe lewe in gees. Christus is voorwaar ‘n “lewendmakende gees”!!!

1Kor 15:45-49 So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees. 46 Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike. 47 Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel. 48 Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. 49 En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra.

Die dood van die vlees is die grootste gebeurtenis vir elkeen wat die waarheid ken en liefhet!

Joh 8:32 En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.

Dit is wat die vers wil sê…

Pred 7:1-2  ‘n Goeie naam is beter as goeie olie, en die sterfdag beter as die geboortedag.  2  Dit is beter om te gaan na ‘n klaaghuis as om te gaan na ‘n huis van maaltyd; want die eerste is die einde van al die mense, en die lewende kan dit ter harte neem.

Die geestelike skepping in ons bring die einde van die aardse eon. As ons die einde van die aardse tydperk sien, dan maak alles vir ons sin. Die aardse mens is geskep as ‘n tydelike skepping wat ons voorberei to iets baie groter en heerliker. As ons nie verstaan wat God se groot plan is  nie, dan sal ons van nature God se metodes bevraagteken. Maar in die proses maak ons onsself skuldig aan laster tot ons eie verderf!

2Pe 2:12  Maar hulle sal, omdat hulle belaster wat hulle nie ken nie, soos redelose diere wat die natuur volg, gebore om gevang en vernietig te word, in hulle verdorwenheid te gronde gaan.

Saul het met dieselfde uitgangspunt as die “redelose” aardse mens opgetree.

1Sa 15:4-9  Daarop het Saul die manskappe opgeroep en hulle gemonster in Teláim: twee honderd duisend voetgangers en tien duisend man van Juda.  5  En toe Saul by die stad van Amalek aankom en in die dal ‘n hinderlaag opstel,  6  sê Saul vir die Keniete: Gaan weg, verwyder julle, trek af onder die Amalekiete uit, dat ek julle nie met hulle saam wegruim nie; want julle het guns bewys aan al die kinders van Israel by hulle optog uit Egipte. Toe het die Keniete hulle verwyder onder die Amalekiete uit.  7  En Saul het die Amalekiete verslaan van Hawíla af in die rigting van Sur wat oos van Egipte lê.  8  En Agag, die koning van Amalek, het hy lewendig gevang, maar die hele volk deur die skerpte van die swaard met die banvloek getref.  9  Maar Saul en die manskappe het Agag gespaar, en die beste van die kleinvee en beeste, en die naas-bestes en die lammers en alles wat van waarde was—dit wou hulle nie met die banvloek tref nie; maar al die goed wat veragtelik en vervalle was, dit het hulle met die banvloek getref.

Saul wou die beste aardse dinge spaar. Ons almal maak dieselfde fout in ons tyd van geestelike blindheid en onkunde. Ons dink selfs dat ons God kan help om die beste dinge van onsself aan Sy diens kan wei. Ons kan nie sien dat God geen behae het in enigiets van vlees nie:

Rom 8:8  En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie;

Dit is eintlik ons beste dinge, ons geregtighede, wat die stinkste reuk afgee en dan dink ons nog in ons onkunde dat ons hierdie dinge na God kan bring vir goedkeuring!

Jes 64:6  En ons het almal geword soos ‘n onreine, en al ons geregtighede soos ‘n besoedelde kleed; en ons het almal verdor soos blare, en ons ongeregtighede het ons weggevoer soos die wind.

Saul was verwerp en ons beste dinge in die vlees word verwerp en kan nie God se koninkryk betree nie:

1Kor 15:50  Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.

1Pe 1:24  Want alle vlees is soos gras, en al die heerlikheid van die mens soos ‘n blom van die gras. Die gras verdor en sy blom val af.

 

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s