Ons aardse koning, ons “mens van sonde”, regeer ons lewe vanaf ons geboorte in vlees, en hy, hierdie afgod in ons eie lewe, is ons “voorwerp van aanbidding” in ons tyd van geestelike misleiding:
2Th 2:3-4 Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf 4 die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is.
Dit is God wat hierdie dwaling en verleiding oor ons bring, en ons glo al die leuens van hierdie koning, hierdie valse profeet in ons eie hart, vir wie ons elke dag in die spieël bewonder en so hoog aanskryf:
2Th 2:11-12 En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo, 12 sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid.
Eseg 14:9 En as die profeet hom laat verlei om ‘n woord te spreek—Ek, die HERE, het dié profeet verlei…
Ons almal hou daarvan as mense van ons hou, en ons soek soms openlik na komplimente en aandag. Ons slaan kitaar en maak die musiek en almal moet saamdans. Hierdie afgod in ons harte is ‘n subtiele manupileerder – hy wil eet, hy wil drink, en hy wil speel…alles oor homself. Ons almal dien hierdie afgod totdat ons oë geopen word. Dit is ook hoe fisiese Israel opgetree het dwarsdeur die Ou Testament en tot vandag toe.
1Kor 10:7 En wees ook nie afgodedienaars soos sommige van hulle [fisiese Israel en ons wanneer ons God in vlees dien] was nie, soos geskrywe is: Die volk het gaan sit om te eet en te drink en het opgestaan om te speel.
Ons ken mense na vlees, en ons almal gaan deur ons eie tyd wanneer ons ook God volgens vleeslike standaarde dien. Ons soek aardse dinge van God. Hy moet ons seën met fisiese dinge wat ons volgens ons welluste en trots wil hê in ons tyd van geestelike onvolwassenheid:
Joh 6:9-11 Hier is ‘n seuntjie wat vyf garsbrode en twee vissies het, maar wat is dit vir so baie mense? 10 En Jesus sê: Laat die mense gaan sit. En daar was baie gras op dié plek. Die manne het toe gaan sit, omtrent vyf duisend in getal. 11 En Jesus het die brode geneem, en nadat Hy gedank het, deel Hy dit uit aan die dissipels en die dissipels aan die wat daar sit; so ook van die vissies, soveel as hulle wou hê.
Ons almal begin eers met die “Christus na die vlees…”:
2Kor 5:16 Ons ken dus van nou af niemand meer na die vlees nie; en al het ons ook Christus na die vlees geken, nou ken ons Hom tóg nie meer so nie.
Dit is skokkend om te sien hoe mense van hoë ouderdom nog soos kinders optree en aandag en aardse dinge soek vir hul aardse genot. Daar is by hulle geen besadigheid te bespeur nie. Die mens soek net na meer en meer, sonder einde. Die aardse koning maak van groot mense kinders wat net hul eie ego en hul vleeslike sintuie wil bevredig. En bewaar die persoon wat nie saamspeel nie! Bewaar jou as jy nie GEE nie. Kyk wat sê Jakobus doen ons aardse koning met mense wat nie hom streel en mooi dinge van hom praat nie, en hom dinge GEE nie:
Jak 4:1-4 Waarvandaan kom oorloë en vegterye onder julle? Kom hulle nie hiervandaan, van julle welluste wat in julle lede stryd voer nie? 2 Julle begeer en julle het nie, julle pleeg moord en is naywerig en julle kan niks verkry nie. Julle veg en maak oorlog, en julle het nie, omdat julle nie bid nie. 3 Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle verkeerd bid, om dit in julle welluste deur te bring. 4 Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan ‘n vriend van die wêreld wil wees, word ‘n vyand van God.
Hierdie aardse koning is ‘n vyand van God! Die aardse koning word beheer deur ‘n wêreldse gees van jaloesie – hy is of jaloers op ander se aardse goed, of hy wil hê ander moet jaloers wees op sy aardse goed…:
Jak 4:5 Of meen julle dat die Skrif tevergeefs sê: Met jaloersheid begeer die gees wat in ons woon?
Die gees wat in ons natuurliike harte woon is ‘n wêreldse gees vol trots en welluste wat net self wil tevrede stel bo alles:
1Jn 2:15-17 Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie. 16 Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld. 17 En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.
Hierdie gees in ons aardse koning is die gees van die wêreld wat teen God staan. Ons kan slegs hierdie aardse koning en sy gees reg onderskei as die “laaste uur” in ons eie lewe aangebreek het:
1Jn 2:18-20 Kinders, dit is die laaste uur; en soos julle gehoor het dat die Antichris kom, bestaan daar ook nou baie antichriste, waaruit ons weet dat dit die laaste uur is. 19 Hulle het van ons uitgegaan, maar hulle was nie van ons nie; want as hulle van ons was, sou hulle by ons gebly het; maar dit moes aan die lig kom dat hulle nie almal van ons is nie. 20 En julle het die salwing van die Heilige en weet alles.
Wanneer God dan hierdie valse god in ons begin ontmasker, is dit ‘n baie groot skok. Kyk na al die dinge wat in ons eie harte gebeur – as ons dit kan sien…
Open 6:12-17 En ek het gesien toe Hy die sesde seël oopgemaak het, en kyk, daar was ‘n groot aardbewing; en die son het swart geword soos ‘n harige sak, en die maan het geword soos bloed; 13 en die sterre van die hemel het op die aarde geval, soos ‘n vyeboom wat deur ‘n groot wind geskud word, sy navye laat afval; 14 en die hemel het weggewyk soos ‘n boek wat toegerol word, en al die berge en eilande is uit hulle plekke versit; 15 en die konings van die aarde en die grotes en die rykes en die owerstes oor duisend en die magtiges en al die slawe en al die vrymense het hulle weggesteek in die spelonke en in die rotse van die berge, 16 en vir die berge en die rotse gesê: Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; 17 want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?
Dit is wat ons alles ook leer uit die lewe van die eerste koning van Israel, koning Saul. God het die profeet Samuel gebruik om Saul se boek se seëls oop te maak – sy hart te ontmasker. Dit is hoe God ook Sy Woord gebruik om ons eie aardse koning te ontmasker:
Open 1:1-3 Die openbaring van Jesus Christus wat God Hom gegee het om aan sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur, en wat Hy deur die sending van sy engel aan sy dienskneg Johannes te kenne gegee het, 2 wat getuig het van die woord van God en die getuienis van Jesus Christus alles wat hy gesien het. 3 Salig is hy wat die woorde van die profesie lees, en die wat dit hoor en bewaar wat daarin geskrywe is, want die tyd is naby.
Selfs wanneer hierdie aardse koning ontmasker word, gebruik hy subtiele tegnieke, soos godsdienstige praktyke om kamstig te bekeer. Kyk wat doen Saul toe sy leuens geopenbaar was:
1Sa 15:24-25 Toe sê Saul vir Samuel: Ek het gesondig, omdat ek die bevel van die HERE en u woorde oortree het, want ek was bevrees vir die manskappe en het na hulle geluister. Vergeef dan nou tog my sonde en kom met my saam terug, dat ek die HERE kan aanbid.
Saul erken sy sonde en sy ontrou aan God se Woord. Hy erken ook sy swakhede en soebat vir vergifnis. Klink dit nie alles so opreg nie. Maar daar is iets wat ons almal vergeet tydens ons eie halfhartige skulderkennings en valse bekerings. Kom ons lees verder…
1Sa 15:26 Maar Samuel sê vir Saul: Ek sal nie met jou saam teruggaan nie, omdat jy die woord van die HERE verwerp het, en nou het die HERE jou verwerp om koning oor Israel te wees.
Ons vind met skok uit dat die aardse koning nie gerehabiliteer kan word nie. Nee, die aardse koning moet totaal vernietig word! Hy moet sy koningskap prysgee deur die dood! Daar is geen nuwe lewe as daar nie ‘n totale DOOD ingetree het nie.
Hier is die voorbeeld wat Jesus aan ons kom stel het. Hy is die nuwe koning wat verheerlik word alleenlik deur die dood van die ou aardse koning, ons vlees! Dit is waarom Jesus in vlees gekom het – om ons te wys hoe om te sterf en totaal DOOD te wees vir die vlees!
Joh 12:23-26 Maar Jesus antwoord hulle en sê: Die uur het gekom dat die Seun van die mens verheerlik moet word. 24 Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as die koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly dit alleen; maar as dit sterf, dra dit veel vrug. 25 Wie sy lewe liefhet, sal dit verloor; maar wie sy lewe haat in hierdie wêreld, sal dit bewaar vir die ewige lewe. 26 As iemand My dien, laat hom My volg; en waar Ek is, daar sal my dienaar ook wees; en as iemand My dien, sal die Vader hom eer.
Dit is dit beteken dat Jesus “vir ons sonde” kom sterf het!
1Kor 15:1-4 Broeders, ek maak julle die evangelie bekend wat ek aan julle verkondig het, wat julle ook aangeneem het, waarin julle ook staan, 2 waardeur julle ook gered word as julle daaraan vashou op die wyse waarop ek dit aan julle verkondig het, of julle moet tevergeefs geglo het. 3 Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte; 4 en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte;
Jesus het gekom en gesterf “vir ons sonde” sodat ons ook vir ons sonde moet sterf, nie daarin moet leef nie. Dit is die stryd wat min gegee word om te oorwin want ons aardse koning gee nie sommer op nie. Ons aardse koning wil voortleef. mense glo selfs dat dooie mense iewers voortleef en ignoreer die waarheid oor die toestand van alle dooies:
Pred 9:5-6 Want die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie, en hulle het geen loon meer nie, want hulle nagedagtenis word vergeet. 6 Hulle liefde sowel as hulle haat, ook hulle naywer, het lankal verdwyn, en hulle het vir ewig geen deel meer aan alles wat gebeur onder die son nie.
Kyk wat maak Saul….
1Sa 15:27 Toe Samuel hom omdraai om weg te gaan, gryp hy [Saul] die slip van sy mantel, maar dit het afgeskeur.
Selfs dit waaraan ons dink ons kan vasklou en op staatmaak van hierdie aardse lewe, sal teen ons gebruik word in die oordeel:
1Sa 15:28 En Samuel sê vir hom: Vandag het die HERE die koningskap oor Israel van jou afgeskeur en dit aan jou naaste gegee wat beter is as jy.
Die aardse mens se berou is nooit eg nie – dit is maar altyd ‘n poging om weer iets vir homself te bewerkstellig. Godddelike berou is egter iets heel anders. Goddelike berou verafsku alle boosheid en gee alles weg wat teen God staan.
1Sa 15:29 En ook lieg die Roem van Israel nie, en Hy ken geen berou nie; want Hy is geen mens, dat Hy berou sou hê nie.
Saul het begin uitvind dat die God van Samuel anders optree en vreeslik is in Sy regverdige oordeel oor ons aardse.
1Sa 15:30-31 En hy sê: Ek het gesondig; eer my tog nou voor die oudstes van my volk en voor Israel, en kom saam met my terug, dat ek die HERE u God kan aanbid. Samuel het toe teruggegaan agter Saul aan, en Saul het die HERE aanbid.
Niemand sal hierdie oordeel van God oor sy ou mens vryspring nie. Soos Samuel gemaak het met die koning van die Amalekiete, Agag, so maak God met ons almal se eerste Adam. Ons eie Agag dink ons kan God se oordeel vryspring. Ons eie Agag sal wel gou uitvind wat God maak met die sondige en korrupte eerste Adam:
1Sa 15:32 Daarop sê Samuel: Bring Agag, die koning van Amalek, na my toe. Terwyl Agag dan opgeruimd na hom gaan, sê Agag: Waarlik, die bitterheid van die dood het gewyk. Maar Samuel het gesê: Soos jou swaard vroue kinderloos gemaak het, so sal jou moeder onder die vroue kinderloos wees. Daarop het Samuel Agag in stukke gekap voor die aangesig van die HERE in Gilgal.
Ons kry die verlossing van ons sonde in die eerste Adam alleenlik deur die oordeel van God. Dit is die enigste manier wat God ontwerp het hoe ons Sy geregtigheid deelagtig kan word. As ons hierdie waarheid weet, en siek en sat is vir hierdie aardse koning in ons lewe, dan sal ons God se oordeel verstaan:
Jes 26:9 Met my siel begeer ek u in die nag; ook met my gees in my binneste soek ek U; want as u oordele op die aarde is, leer die inwoners van die wêreld geregtigheid.
God se oordeel bring die skeiding tussen die eerste Adam en die laaste Adam (1Kor 15:45-49). God se oordeel bring die wedergeboorte!
Joh 3:5-6 Jesus antwoord: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie. 6 Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees.
Dit is wat ons kan sien in die skeiding tussen Samuel en Saul…
1Sa 15:34-35 Daarna gaan Samuel na Rama, en Saul het opgegaan na sy huis, na Gíbea van Saul. En Samuel het Saul tot die dag van sy dood nie meer gesien nie, want Samuel het getreur oor Saul; en die HERE het berou gehad dat Hy Saul koning gemaak het oor Israel.