Ons aardse koningskap is TYDELIK (Deel 17)

Ons aanvanklike begrip van ons bestaan kom na ons deur ons natuurlike denke en die aardse lewe in “vlees en bloed”. Die aardse mens was geskep van “stof van die aarde”, en toe was asem in hierdie stoflike vorm geblaas, en die mens het ‘n “lewende siel” geword:

Gen 2:7 En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword.

‘n “Lewende siel” word in die Skrifte die “eerste Adam” genoem, wat dan as ‘n kontras gebruik vir ‘n “lewendmakende gees” wat deur die “laaste Adam” voorgestel word:

1Kor 15:45 So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees.

Die “laaste Adam” word deur Paulus verduidelik in die volgende verse as “die geestelike” Adam wat “die Here uit die hemel” is:

1Kor 15:46-49 Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike. 47 Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel. 48 Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. 49 En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra.

Alle mense moet dus eers onder die “eerste Adam” in vlees leef voordat hulle almal onder die “laaste Adam” in gees sal ‘wederbaar’ word. Jesus verduidelik die hele proses as volg:

Joh 3:1-6 En daar was ‘n man uit die Fariseërs met die naam van Nikodémus, ‘n owerste van die Jode. 2 Hy het in die nag na Jesus gekom en vir Hom gesê: Rabbi, ons weet dat U ‘n leraar is wat van God gekom het, want niemand kan hierdie tekens doen wat U doen as God nie met hom is nie. 3 Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie. 4 Nikodémus sê vir Hom: Hoe kan ‘n mens as hy oud is, gebore word? Hy kan tog nie ‘n tweede keer in die skoot van sy moeder ingaan en gebore word nie? 5 Jesus antwoord: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie. 6 Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees.

Vir die tweede geboorte om plaas te vind, moet die eerste Adam dus sterf. Die dood van die eerste Adam was dus deel van God se plan van die begin af want “vlees en bloed” kan nooit deel wees van God se geestelike skepping nie. Vlees beeld dood uit, en die gees van God is wat lewe is:

Rom 8:5-8 Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge. 6 Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede, 7 omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie. 8 En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie;

1Kor 15:50 Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.

God het hierdie hele proses (om lewe deur dood te bring) onder beheer, en gee aan ons almal hierdie kragtige belofte:

1Kor 15:22-28 Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word; 23 maar elkeen in sy eie orde: as eersteling Christus, daarna die wat aan Christus behoort by sy koms. 24 Daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het. 25 Want Hy moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het. 26 Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood. 27 Want Hy het alles aan sy voete onderwerp, maar wanneer Hy sê dat alles onderwerp is, is dit duidelik dat Hy uitgesonder is wat alles aan Hom onderwerp het. 28 En wanneer alles aan Hom onderwerp is, dan sal ook die Seun self Hom onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal kan wees.

Die dood, dit wil sê alle vlees en alle vleeslike denke, sal VERNIETIG word in almal! Die “laaste Adam” is juis die persoon wat die ou Adam uit ons lewens neem en TOTAAL vernietig. Wat ‘n VERLOSSING! Die “laaste Adam”, Jesus Christus, sal alles aan Sy “voete onderwerp”. Hy sal dus alle heerskappy van die ou koning in ons lewens wegneem.

Mat 28:16-18 En die elf dissipels het na Galiléa gegaan, na die berg waar Jesus hulle bestel het. 17 En toe hulle Hom sien, het hulle Hom aanbid; maar sommige het getwyfel. 18 En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde.

Maar die ou Adam neem nie hierdie waarheid aan nie. Ons ou Adam verwerp God se almag oor die aarde Adam en die hemelse Adam. Ons glo byvoorbeeld in die valse filosofie van “vrye” wil. Ons almal verwerp dus Jesus Christus tydens ons tyd van geestelike blindheid en eiegeregtigheid:

Open 1:8 Ek [Jesus Christus] is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde, sê die Here, wat is en wat was en wat kom, die Almagtige.

God se totale saligheidsplan in Christus wat die eerste Adam en die laaste Adam insluit, is dwaasheid vir ons natuurlike mens.

1Kor 2:14 Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.

Ons natuurlike Adam kan dus nie God se verantwoordelikheid oor alles in Sy Skepping aanvaar nie:

Jes 45:5-7 Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; buiten My is daar geen God nie; Ek omgord jou, hoewel jy My nie geken het nie, 6 sodat hulle kan weet van die opgang van die son en van sy ondergang af dat daar buiten My geeneen is nie; Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; 7 wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen.

God praat eerste met ons deur aardse simbole (Rom 1:20), en veral in die Ou Testament word hierdie twee Adams, hierdie twee konings, en hul rolle in ons lewens op verskillende maniere aan ons deurgegee. Een so ‘n voorbeeld is koningskappe van koning Saul en koning Dawid. Die man wat egter in elkeen van hierdie konings se lewe ‘n groot rol gespeel  het, was Samuel. Samuel het opgetree as ‘n profeet van God in die laaste fase van die tydperk van die Rigters, en hy opereer ook in die tyd van die eerste twee konings van fisiese Israel:

1Sa 3:19-20 En Samuel het groot geword, en die HERE was met hom; en Hy het nie een van al sy woorde onvervuld laat bly nie. 20 En die hele Israel van Dan tot Berséba het erken dat Samuel betroubaar was as ‘n profeet van die HERE.

Samuel, en sy seuns, was dan ook die laaste Rigters van Israel. Samuel het uit sy seuns die laaste Rigters oor koning aangestel, maar hulle het nie in Samuel se “weë gewandel nie”:

1Sa 7:15-17 En Samuel was rigter oor Israel al die dae van sy lewe. 16 Hy het van jaar tot jaar rondgetrek na Bet-el en Gilgal en Mispa, en Israel op al hierdie plekke gerig. 17 Dan gaan hy na Rama terug, want daar was sy huis; en daar het hy Israel gerig en daar vir die HERE ‘n altaar gebou.

1Sa 8:1-3 En toe Samuel oud was, het hy sy seuns as rigters oor Israel aangestel. 2 Die naam van sy eersgeborene was Joël, en die naam van sy tweede Abía, rigters in Berséba. 3 Maar sy seuns het nie in sy weë gewandel nie: hulle het onregverdige wins agternageloop en omkoopgeskenke aangeneem en die reg verdraai.

As gevolg van Samuel se ouderdom en hierdie seuns van Samuel se verkeerde manier van regeer, het die volk die nood gesien vir ‘n koning:

1Sa 8:4-5 Toe kom al die oudstes van Israel bymekaar, en hulle gaan na Samuel in Rama 5 en sê vir hom: Kyk, u is oud, en u seuns wandel nie in u weë nie; stel nou ‘n koning oor ons aan om ons te rig soos by al die nasies.

Samuel het hierdie verwerping baie persoonlik opgeneem, maar ons moet leer dat God alles beheer en dat Sy wil in alles geskied:

1Sa 8:6-7 Maar die woord was verkeerd in die oë van Samuel toe hulle gesê het: Gee ons ‘n koning om ons te rig, en Samuel het tot die HERE gebid. 7 Toe sê die HERE vir Samuel: Luister na die volk in alles wat hulle aan jou sê, want nie jou het hulle verwerp nie, maar My het hulle verwerp om nie koning oor hulle te wees nie.

Samuel moes eers Saul as eerste koning salf ….

1Sa 10:1 En Samuel het die kruik met olie geneem en dit op sy hoof uitgegiet en hom gesoen en gesê: Het die HERE jou nie gesalf as vors oor sy erfdeel nie?

Die salwing met ‘n mensgemaakte kruik beeld uit vir ons hoe die eerste koning in ons, die eerste Adam, nie die ware koningskap van God gekry het nie. Saul was die koning in aandrang van die mense. Hy het ook dan gefaal om aan ons te wys waarom ons eerste Adam faal. Ons eerste Adam sondig en faal omdat hy gemaak was “in sonde…in ongeregtigheid…in die hand van die Pottebakker”…..

Psa 51:7 Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.

Rom 5:12 Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het.

Jer 18:4 En die voorwerp wat hy besig was om te maak, het misluk—soos dit gaan met klei in die hand van die pottebakker….

Die eerste voorwerp misluk “in die hand van die Pottebakker”! Ons eerste koning, die vlees, sondig en misluk. Waar? In die hand van die Skepper. Die mens misluk vir ‘n doel. God werk deur die mislukkings om ons belangrike geestelike lesse te leer. Ons sou dit nie op ‘n ander manier kon leer nie. God werk met goed en kwaad – albei is Sy instrumente in Sy hand. Job sou nooit geweet het van sy eie tekortkominge as hy nie deur sy oordeel gegaan het nie:

Job 2:10 Maar hy [Job] antwoord haar [sy vrou]: Soos ‘n dwaas praat, praat jy! Die goeie sou ons van God aanneem, en nie ook die slegte aanneem nie? By dit alles het Job nie gesondig met sy lippe nie.

Daarom is die vlees nie deel van God se geestelike koninkryk nie, maar is verganklik en nietig gemaak deur die Skepper:

1Kor 15:50 Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.

Rom 8:20 Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het.

Jer 18:4 En die voorwerp wat hy besig was om te maak, het misluk—soos dit gaan met klei in die hand van die pottebakker—maar hy het daaruit weer ‘n ander voorwerp gemaak soos dit in die oë van die pottebakker reg was om dit te maak.

Ons aardse koning is soos ‘n redelose dier wat sy verdorwe aardse natuur volg, want hy is geskep om “gevang en vernietig te word”….dit is wat die “laaste Adam” aan ons kom openbaar….

2Pe 2:12 Maar hulle sal, omdat hulle belaster wat hulle nie ken nie, soos redelose diere wat die natuur volg, gebore om gevang en vernietig te word, in hulle verdorwenheid te gronde gaan.

Pred 3:18 Ek het in my hart gesê: Ter wille van die mensekinders gebeur dit, dat God hulle kan beproef, en dat hulle kan insien dat hulle in hulleself vee is.

Soos met Job, sal elkeen van ons deur ons “baie beproewinge” leer wie ons eerste Adam is. Ons leer deur ons eerste Adam se vernederings wie God is, wat Sy plan is, en hoe ons in dit inpas!

Job 42:1-6 Toe het Job die HERE geantwoord en gesê: 2 Ek weet dat U alles kan doen en geen plan vir U onuitvoerbaar is nie. 3 Wie verberg die raadsbesluit daar sonder kennis? So het ek dan gespreek sonder om te verstaan, dinge te wonderbaar vir my, wat ek nie begryp nie. 4 Hoor tog, en ék sal spreek; ek sal U ondervra en onderrig U my! 5 Volgens hoorsê het ek van U gehoor; maar nou het my oog U gesien. 6 Daarom herroep ek en het berou in stof en as.

Luk 20:18 Elkeen wat op dié steen val, sal verpletter word; maar elkeen op wie hy val, dié sal hy vermorsel.

Saul het gefaal omdat hy ons eie ‘redelose dier’ voorstel wat nie God se Woord kan gehoorsaam en homself aan God kan onderwerp nie. Samuel het Saul se dade in sy tyd as koning gevolg, en met groot hartseer Saul se oordeel aangekondig:

1Sa 15:26-28 Maar Samuel sê vir Saul: Ek sal nie met jou saam teruggaan nie, omdat jy die woord van die HERE verwerp het, en nou het die HERE jou verwerp om koning oor Israel te wees. 27 Toe Samuel hom omdraai om weg te gaan, gryp hy die slip van sy mantel, maar dit het afgeskeur. 28 En Samuel sê vir hom: Vandag het die HERE die koningskap oor Israel van jou afgeskeur en dit aan jou naaste gegee wat beter is as jy.

1Sa 15:34-35 Daarna gaan Samuel na Rama, en Saul het opgegaan na sy huis, na Gíbea van Saul. 35 En Samuel het Saul tot die dag van sy dood nie meer gesien nie, want Samuel het getreur oor Saul; en die HERE het berou gehad dat Hy Saul koning gemaak het oor Israel.

God se berou is nie soos die mens se berou nie…

1Sa 15:29 En ook lieg die Roem van Israel nie, en Hy ken geen berou nie; want Hy is geen mens, dat Hy berou sou hê nie.

God se berou beteken dat Hy nooit Saul as die ware koning van Israel gesien het nie, maar Hy moes Saul aanstel om aan ons te wys dat ons eerste aardse koning, die eerste Adam, nooit in God se geestelike koninkryk sou bestaan nie. Die “laaste Adam”, Jesus Christus is die enigste ware koning in God se koninkryk en Sy koningskap was deur die koningskap van Dawid uitgebeeld. Samuel moes ook vir Dawid salf met olie…uit ‘n horing….

1Sa 16:1 Daarna sê die HERE aan Samuel: Hoe lank sal jy treur oor Saul, terwyl Ek hom verwerp het om koning te wees oor Israel? Vul jou horing met olie en gaan heen: Ek stuur jou na Isai, die Betlehemiet, want Ek het onder sy seuns vir My ‘n koning uitgesoek.

1Sa 16:13 Samuel neem toe die horing met olie en salf hom te midde van sy broers, en die Gees van die HERE het van dié dag af en verder oor Dawid vaardig geword. En Samuel het klaargemaak en na Rama gegaan.

Die horing is nie mensgemaak soos die kruik wat Samuel gebruik het om Saul te salf nie, want die horing is ook die simbool vir goddelike leierskap en verheffing deur die Here:

1Sa 2:10 Die wat met die HERE twis, word verpletter; oor hulle donder Hy in die hemel; die HERE oordeel die eindes van die aarde, en Hy gee sterkte aan sy koning en verhef die horing van sy gesalfde.

Psa 92:11 Maar U verhoog my horing soos van ‘n buffel; ek is met vars olie gesalf.

Psa 18:3 Die HERE is my rots en my bergvesting en my redder; my God, my rots by wie ek skuil; my skild en die horing van my heil, my rotsvesting.

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s