‘….sit in die hemele in Christus Jesus.’

Dagse Larry. As die hemel in ons is en waar Christus woon. Van waar het God dan gepraat toe die mens die toring van Babel gebou het. Toe Hy gese het kom laat Ons neerdaal en hulle taal verwar. Van waar sou Hulle neerdaal as daar nie n Hemel was waar God sou woon nie. Vanwaar het Jesus neergedaal om as mens gebore te word? Daar is baie skrifte in die Woord waar God vanuit die Hemel tot die profete ens gespreek het. Die tekse wat jy gegee het maak sin maar daar is baie ander tekse wat mens weer na dit alles anders laat kyk. Hoe sal Jesus weer op die Wolke terugkom as Hy in ons woon wat die hemel is ? Dankie. J____

Hallo J_____
 
 
Dankie vir jou skrywe.
 
 

Jy sê:

“As die hemel in ons is en waar Christus woon. Van waar het God dan gepraat toe die mens die toring van Babel gebou het. Toe Hy gese het kom laat Ons neerdaal en hulle taal verwar”.

Kom ons kyk na die teks waarna jy verwys:

Gen 11:5-7 Toe daal die HERE neer om die stad en die toring te besien waaraan die mensekinders gebou het. 6 En die HERE sê: Daar is hulle nou een volk en het almal een taal! En dit is net die begin van hulle onderneming: nou sal niks vir hulle meer onmoontlik wees van wat hulle van plan is om te doen nie. 7 Kom, laat Ons neerdaal en hulle taal daar verwar, sodat die een die taal van die ander nie kan verstaan nie.

Eerstens moet ons aanvaar dat God Homself aan elkeen openbaar volgens “die maat van geloof” wat Hy aan die individu skenk:

Rom 12:3 Want deur die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen wat onder julle is, dat hy nie van homself meer moet dink as wat ‘n mens behoort te dink nie; maar dat hy daaraan moet dink om besadig te wees na die maat van geloof soos God dit aan elkeen toebedeel het.

As ons dus glo dat God moet “neerdaal” in vleeslike terme om uit te vind wat op die aarde aangaan, dan sal ons probleme het om woorde in tekste soos die volgende te verstaan:

Psa 139:1-10 Vir die musiekleier. ‘n Psalm van Dawid. HERE, U deurgrond en ken my. 2 U ken my sit en my opstaan; U verstaan van ver my gedagte. 3 U deurvors my gaan en my lê, en U is met al my weë goed bekend. 4 Want daar is nog geen woord op my tong nie—of U, HERE, U ken dit geheel en al. 5 U sluit my in van agter en van voor, en U lê u hand op my. 6 Om dit te begryp, is te wonderbaar vir my, te hoog: ek kan daar nie by nie. 7 Waar sou ek heengaan van u Gees en waarheen vlug van u aangesig? 8 Klim ek op na die hemel, U is daar; en maak ek die doderyk my bed, kyk, U is daar! 9 Neem ek die vleuels van die dageraad, gaan ek by die uiteinde van die see woon, 10 ook daar sou u hand my lei en u regterhand my vashou.

God praat dus met ons op die vlak waar Hy ons plaas volgens die “maat van [ons] geloof”.

Psa 18:26-27 By die liefderyke betoon U Uself liefderyk, by die opregte man opreg, by die reine rein; maar by die valse betoon U Uself verkeerd.

God het dus nie nodig om fisies neer te daal om dinge op die aarde of in ons harte te ken nie. Hy weet alles want Hy bepaal en bewerkstellig alles. Die teks in Genesis 11 is dus so geskryf om God in menslike terme aan te bied vir hulle wat God so sien.

Dan vra jy:

“Vanwaar het Jesus neergedaal om as mens gebore te word?”

Weereens word ons “maat van geloof” ontbloot as ons nie kan sien dat God gees is nie – Hy het nie ‘n gees nie, nee, God IS gees:

Joh 4:24 God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.

As ons dink God woon ‘daar bo’, dan is dit so vir ons. Niemand kan ander mense se “maat van geloof” bepaal nie. God woon egter nie in ‘n ‘plek’ soos ons natuurlike harte dit verstaan nie. Selfs al die hemele (let op die meervoud) kan nie God “bevat” nie!

2Kro 2:6 Maar wie is in staat om vir Hom ‘n huis te bou? Want die hemele, ja, die hoogste hemel, kan Hom nie bevat nie. Wie is ek dan, dat ek vir Hom ‘n huis kan bou, behalwe om voor sy aangesig offers aan die brand te steek?

Tekste soos hierdie sê sekerlik vir ons dat God nie beperk is tot ‘n spesifieke “hemel” nie, allermins ‘n fisiese een ‘daar bo’ waar ons natuurlike denke God so graag wil plaas nie. Ons moet onthou, dat ons natuurlike denke nie God se geestelike dinge kan aanvaar nie want dit is dwaasheid vir ons natuurlike mens:

1Kor 2:14 Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.

Jou laaste vraag is:

“Hoe sal Jesus weer op die Wolke terugkom as Hy in ons woon wat die hemel is?”

Weer word ons natuurlike denke uitgebeeld as ons grootste struikelblok tot geestelike insigte, wanneer ons dink in menslike terme dat Jesus ‘n letterlike fisiese wolk nodig het om op te kom. Hy kom woon in ons harte (ons hemel) en ons word Sy getuies. As God van “hart” praat, dan verwys Hy glad nie na die pomp wat bloed pomp in ons are nie. As ons glo dat God na ons fisiese hart verwys wanneer Hy in ons kom woon, dan is dit maar net weereens baie duidelik dat die natuurlike denke in ons nie God se geestelike woorde verstaan nie:

Joh 6:63 Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.

Nee, ons moet weet wat God bedoel met die “hart”. Hier is ‘n leidraad uit die Skrifte:

Mat 6:19-21 Moenie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie; 20 maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie; 21 want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.

Rom 10:8-11 Maar wat sê dit? Naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart. Dit is die woord van die geloof wat ons verkondig: 9 As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word; 10 want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding. 11 Want die Skrif sê: Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaam word nie.

Hier is die betekenis (volgens die Skrifte) van die “wolk” waarin / waarop Jesus kom:

Heb 12:1 Daarom dan, terwyl ons so ‘n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê,

Ek hoop ek was van hulp J____.

Groete in Christus

Larry

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.

1 Response to ‘….sit in die hemele in Christus Jesus.’

  1. Terug pieng: Temas | "Is en Wat Was en Wat Kom" – die onbekende karakter van Jesus Christus en Sy Woord

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s