Ons aardse koningskap is TYDELIK (Deel 21)

Die lewe in vlees was deur God geskep as ‘n tydelike bestaan, wat gevolg sal word deur ‘n lewe in gees.

Joh 3:6 Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees.

Hier is ‘n pragtige gelykenis hiervan soos beskryf deur die profeet Jeremia, vir hulle wat hierdie woorde wat aan fisiese Israel geskryf was op hulself kan toepas:

Jer 18:1-6 Die woord wat van die HERE tot Jeremia gekom het: 2 Maak jou klaar en gaan af na die huis van die pottebakker, en daar sal Ek jou my woorde laat hoor. 3 Toe het ek afgegaan na die huis van die pottebakker, en hy was juis besig om ‘n stuk werk op die skywe te maak. 4 En die voorwerp wat hy besig was om te maak, het misluk—soos dit gaan met klei in die hand van die pottebakker—maar hy het daaruit weer ‘n ander voorwerp gemaak soos dit in die oë van die pottebakker reg was om dit te maak. 5 Toe het die woord van die HERE tot my gekom en gesê: 6 Sal Ek nie soos hierdie pottebakker met julle kan maak nie, o huis van Israel? spreek die HERE. Kyk, soos klei in die hand van die pottebakker, so is julle in my hand, o huis van Israel!

Die lewe in die vlees, die eerste voorwerp van klei, misluk in die hand van die almagtige Pottebakker – vir ‘n goeie doel. God doen alles DOELBEWUS! Ja, selfs die mislukking is deel van Sy HELE perfekte plan.  God se plan is egter NIE ‘n mislukking nie, o nee! Kyk maar weer na hierdie belofte…

….maar hy het daaruit weer ‘n ander voorwerp gemaak soos dit in die oë van die pottebakker reg was om dit te maak

Hierdie eerste skepping in vlees was inderdaad “baie goed” gemaak vir die doel wat God dit gemaak het:

Gen 1:31 Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en—dit was baie goed. En dit was aand en dit was môre, die sesde dag.

Die eerste voorwerp van vlees misluk in die hand van die Skepper want die Skepper maak en bewerkstellig alles, die goed en die kwaad, vir Sy doel:

Jes 45:5-7 Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; buiten My is daar geen God nie; Ek omgord jou, hoewel jy My nie geken het nie, 6 sodat hulle kan weet van die opgang van die son en van sy ondergang af dat daar buiten My geeneen is nie; Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; 7 wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen.

Spr 16:4 Alles het die HERE gemaak vir sy doel, ja, ook die goddelose vir die dag van onheil.

Soos patriarg Job, leer ons in hierdie lewe, deur die verliese en mislukkings, dat dit God is wat die goed en die kwaad na ons stuur om Sy doel te bereik:

Job 2:9-10 Toe sê sy [Job se] vrou vir hom: Volhard jy nog in jou vroomheid? Seën God, en sterf! 10 Maar hy antwoord haar: Soos ‘n dwaas praat, praat jy! Die goeie sou ons van God aanneem, en nie ook die slegte aanneem nie? By dit alles het Job nie gesondig met sy lippe nie.

God het met alles ‘n heilige doel, al is die middel tot die doel ook ‘n mislukking en al gebruik Hy selfs die bose en die goddelose in die proses. Selfs ons eie mislukkings bevat diepe lesse wat ons later in die lewe goed te pas sal kom:

Spr 24:16 Want sewe maal val die regverdige en staan weer op, maar die goddelose struikel in die ongeluk.

Die probleem met die natuurlike mens in ons almal, is egter dat hy nie God se geestelike plan ken of kan verstaan nie.

1Kor 2:14 Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.

As dinge nie gaan soos ons natuurlike mens dit wil hê nie, dan sal ons van nature rebelleer en ongelukkig wees. Ons kom eintlik in opstand teen God wat alle dinge na ons bring elke dag – van die oomblik wat ons in ons moederskoot gevorm word.

Psa 139:1 Vir die musiekleier. ‘n Psalm van Dawid. HERE, U deurgrond en ken my.

Psa 139:13-16 Want U het my niere gevorm, my in my moeder se skoot geweef. 14 Ek loof U, omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is u werke! En my siel weet dit alte goed. 15 My gebeente was vir U nie verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, kunstig geweef in die dieptes van die aarde. 16 U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.

Ons vlees is vyandig teen God se werke in en om ons. Ons vlees is die vyand van die gees van God en dit kan nie God behaag nie, al probeer ons ook hoe hard:

Rom 8:5-8 Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge. 6 Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede, 7 omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie. 8 En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie.

Hierdie stryd in ons word pragtig uitgebeeld in die storie van Saul, die eerste koning van Israel, en sy verhouding teenoor Dawid, die tweede koning van Israel. Toe Saul deur Samuel ingelig was dat die koningskap van hom weggeneem was, het hy tipies opgetree soos ons eie aardse koning optree as hy uitvind dat hy nie so onmisbaar is soos hy gedink het nie:

1Sa 15:28-29 En Samuel sê vir hom: Vandag het die HERE die koningskap oor Israel van jou afgeskeur en dit aan jou naaste gegee wat beter is as jy. 29 En ook lieg die Roem van Israel nie, en Hy ken geen berou nie; want Hy is geen mens, dat Hy berou sou hê nie.

Hoe hard is dit vir ons natuurlike mens as die werkgewer ons inlig dat ons pos afgeskaf gaan word. Hoe seer is dit as ‘n huweliksmaat sterf of van ons skei. Hoe verpletterend is dit as ‘n kind wegdwaal of ons lewens vergal. Hoe sleg is die tyding dat ‘n ongeneeslike siekte ons aardse lewe gaan kortknip.

Dit is van die dinge wat ons almal op een of ander tyd mee te kampe sit.

Die koningskap word van ons aardse koning weggeneem.

Ons reaksies is uiteenlopend, maar een ding is verseker – ons gaan rebelleer op een of ander manier. Dit is maar hoe ons natuurlike mens aanmekaar gesit was. Ons skop teen die prikkels, soos ‘n ander Saulus ook op ‘n keer gedoen het:

Hand 9:5 En hy [Saulus, later Paulus] sê: Wie is U, Here? En die Here antwoord: Ek is Jesus wat jy vervolg. Dit is hard vir jou om teen die prikkels te skop.

In die lewe van koning Saul leer ons belangrike lesse hoe ons natuurlike koning optree en hoe ons uiteindelik die stryd stelselmatig gewonne gee wanneer ons uitvind dat God in beheer is van alles. Ons leer dat God alles wat “in die hemele sowel as wat op die aarde” is, ook in ons eie lewe, bewerkstellig “volgens die raad van Sy wil”….

Efes 1:10-11 om die volheid van die tye te reël, met die doel om alle dinge wat in die hemele sowel as wat op die aarde is, onder een hoof in Christus te verenig— 11 in Hom in wie ons ook ‘n erfdeel ontvang het nadat ons vantevore daartoe verordineer is ooreenkomstig die voorneme van Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil,

God het vir Saul onder die beheer van ‘n bose gees geplaas….

1Sa 16:14-15 Maar die Gees van die HERE het van Saul gewyk, en ‘n bose gees, deur die HERE gestuur, het hom verskrik. 15 Toe sê die dienaars van Saul vir hom: Kyk tog, ‘n bose gees van God verskrik u:

Ons aardse koning dink van nature dat hy kan maak en breek soos hy wil, en hy glo selfs die valse profete wat aan hom vertel dat hy ‘n “vrye” wil het om dit te kan doen. Maar dit is nie waar nie, en ons leer baie “harde” lesse in ons geskop teen God se prikkels:

Hand 9:5 En hy [Saulus, later Paulus] sê: Wie is U, Here? En die Here antwoord: Ek is Jesus wat jy vervolg. Dit is hard vir jou om teen die prikkels te skop.

Hand 14:22 en die siele van die dissipels versterk en hulle vermaan om in die geloof te bly deur te sê: Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan.

Ons leer dus deur baie mislukkings en baie verdriet – deur alles wat God op ons pad plaas. Ons eerste aardse koning was inderdaad geplaas onder die beheer van ‘n bose leuengees deur God, voor ons die koms van die ware koning kan ervaar:

2Th 2:1-5 Maar ons vra julle, broeders, met die oog op die wederkoms van onse Here Jesus Christus en ons vereniging met Hom, 2 om nie gou julle verstand te verloor of verskrik te word nie—deur gees of deur woord of deur brief wat van ons afkomstig sou wees—asof die dag van Christus al daar is. 3 Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf 4 die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is. 5 Onthou julle nie dat ek dit altyd vir julle gesê het toe ek nog by julle was nie?

Ons vleeslike aardse koning is die teëstander van die ware Christus, en ons word deur hom mislei om te glo in al die valshede – alles onder God se wakende oog. Ons aardse koning is anti-Christus:

2Th 2:6-11 En nou, julle weet wat hom teëhou, sodat hy op sy tyd geopenbaar kan word. 7 Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is; 8 en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak, 9 hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen 10 en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie. 11 En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo,

God is ons hemelse Vader en God is ook die Vader van alle geeste – hulle is almal 100% onder Sy beheer van begin tot einde:

Heb 12:9 Verder, ons het ons vaders na die vlees as kastyders gehad, en ons het vir hulle ontsag gehad; moet ons nie veel meer aan die Vader van die geeste onderworpe wees en lewe nie?

Saul moes leer dat God iemand daargestel het om sy bose geeste onder beheer te hou:

1Sa 16:17-23 Daarop sê Saul aan sy dienaars: Kyk tog vir my uit na ‘n man wat goed kan speel, en bring hom na my. 18 En een van die dienaars antwoord en sê: Kyk, ek het ‘n seun van Isai, die Betlehemiet, gesien wat kan speel, en hy is ‘n dapper held en ‘n krygsman en wel ter tale en mooi gebou, en die HERE is met hom. 19 Toe het Saul boodskappers na Isai gestuur en gesê: Stuur tog jou seun Dawid wat by die skape is, na my. 20 Isai neem toe ‘n esel, brood en ‘n leersak met wyn en ‘n bokkie en stuur dit met sy seun Dawid na Saul. 21 So het Dawid dan by Saul gekom en voor hom gestaan; en dié het hom baie liefgekry, sodat hy sy wapendraer geword het. 22 Daarna het Saul na Isai gestuur om te sê: Laat Dawid tog voor my staan, want hy het guns in my oë gevind. 23 En net wanneer daar ‘n gees van God oor Saul kom, neem Dawid die siter en speel met sy hand; dan voel Saul verlig en word beter, en die bose gees wyk van hom.

God het iemand aangestel wat alle geeste in ons eie lewe onder beheer bring – Jesus Christus:

Mat 11:27-30 Alles is aan My oorgegee deur my Vader, en niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader; ook ken niemand die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun dit wil openbaar. 28 Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. 29 Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; 30 want my juk is sag en my las is lig.

Mat 28:18 En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde.

Efes 1:20-22 wat Hy [God, die Vader] gewerk het in Christus toe Hy Hom uit die dode opgewek het en Hom laat sit het aan sy regterhand in die hemele, 21 bo alle owerheid en mag en krag en heerskappy en elke naam wat genoem word, nie alleen in hierdie wêreld nie, maar ook in die toekomstige. 22 En Hy het alle dinge onder sy voete onderwerp en Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee.

Saul het eers Dawid as ‘n jong seun ontmoet, maar mettertyd het Dawid gegroei in ‘n formidabele leier en koning.

1Sa 17:12-15 En Dawid was die seun van dié Efratiet, uit Betlehem-Juda, met die naam van Isai; hy het agt seuns gehad, en die man was in Saul se dae oud, op jare gekom onder die manne. 13 Maar die drie oudste seuns van Isai het Saul al in die oorlog gevolg; en die name van sy drie seuns wat in die oorlog gegaan het, was: Elíab, die oudste, en sy tweede, Abinádab, en die derde, Samma. 14 Dawid was die jongste, terwyl die drie oudstes Saul gevolg het. 15 En Dawid het heen en weer gegaan van Saul om die kleinvee van sy vader in Betlehem op te pas.

Ons ontmoet eers Jesus as ‘n jongeling, maar met tyd vind ons uit hoe groot hierdie Jesus regtig is!!! Ongelukkig bly baie volgelinge van Jesus by die Jesus-kind beeld…die sogenaamde Kersfees Christene:

Luk 2:4-7 En Josef het ook opgegaan van Galiléa, uit die stad Násaret, na Judéa, na die stad van Dawid, wat Betlehem genoem word, omdat hy uit die huis en geslag van Dawid was, 5 om hom te laat inskrywe saam met Maria, die vrou aan wie hy hom verloof het, wat swanger was. 6 En terwyl hulle daar was, is die dae vervul dat sy moes baar; 7 en sy het haar eersgebore Seun gebaar en Hom toegedraai in doeke en Hom in die krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie.

Ander eindig weer by die Jesus-op-die-kruis, maar hulle kan nie verder beweeg nie, soos Paulus ook die onvolwasse Korinthiër-gemeente bestraf het:

1Kor 2:1-2 En toe ek by julle gekom het, broeders, het ek nie aan julle die getuienis van God kom verkondig met voortreflikheid van woorde of van wysheid nie, 2 want ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde.

Die volwasse gelowige sien Jesus in gees – in hom- of haarself waar hulle SAAM met Jesus sterf vir die aardse koning in hul eie lewe:

Gal 2:20 Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.

Kol 1:24 Nou verbly ek my in my lyding vir julle en vul in my vlees aan die oorblyfsels van die verdrukking van Christus vir sy liggaam, wat die gemeente is;

Kyk hoe Johannes vir Jesus in gees ervaar het, teenoor die aardse Jesus op wie se bors Johannes vroeër gelê het:

Joh 13:23 En een van sy dissipels, hy vir wie Jesus liefgehad het, het aan tafel teen die bors van Jesus gelê.

Open 1:10-18 Ek was in die Gees op die dag van die Here, en ek het agter my ‘n groot stem gehoor, soos van ‘n basuin, wat sê: 11 Ek is die Alfa en die Oméga, die eerste en die laaste, en skryf wat jy sien in ‘n boek en stuur dit na die sewe gemeentes wat in Asië is: na Éfese en Smirna en Pérgamus en Thiatíre en Sardis en Filadelfía en Laodicéa. 12 Toe draai ek my om, om te sien watter stem met my gespreek het; en toe ek my omgedraai het, sien ek sewe goue kandelaars, 13 en tussen die sewe kandelaars Een soos die Seun van die mens met ‘n kleed aan wat tot op die voete hang, en gegord om die bors met ‘n goue gordel. 14 Sy hoof en hare was wit soos wit wol, soos sneeu, en sy oë soos ‘n vuurvlam, 15 en sy voete soos blink koper wat gloei soos in ‘n oond, en sy stem soos die stem van baie waters. 16 En in sy regterhand het Hy sewe sterre gehou, en ‘n skerp tweesnydende swaard het uit sy mond uitgegaan, en sy aangesig was soos die son wat skyn in sy krag. 17 En toe ek Hom sien, val ek soos ‘n dooie aan sy voete; en Hy het sy regterhand op my gelê en vir my gesê: Moenie vrees nie; Ek is die eerste en die laaste 18 en die lewende; en Ek was dood en kyk, Ek leef tot in alle ewigheid. Amen. En Ek het die sleutels van die doderyk en van die dood.

 

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s