God se geestelike vuur sal ons geestelike volmaak maak!

Mar 9:49 Want ELKEEN sal met vuur gesout word en ELKE offerande sal met sout gesout word.

Al die verskillende tipe offers onder die ou verbond moes deur vuur gaan om aanvaarbaar vir God te wees. Dit was ‘n skadubeeld van die hemelse of geestelike offers:

Heb 10:1 Want die wet, wat ‘n skaduwee het van die toekomstige weldade, nie die beeld self van die dinge nie, kan nooit deur dieselfde offers wat jaar na jaar gedurig gebring word, die wat toetree, tot volmaaktheid lei nie.

Heb 9:23 Dit was dus nodig dat die afbeeldinge van die dinge in die hemele deur hierdie offers gereinig moes word, maar die hemelse dinge self deur beter offers as hierdie.

Soos die aardse offers onder die ou verbond “afbeeldinge” was van geestelike offers onder die nuwe verbond, net so is die aardse fisiese vuur wat gebruik was ‘n ‘afbeelding’ van die geestelike vuur van God. Fisiese vuur was dus nooit bedoel om geestelike dinge te verbrand nie! ‘n Fisiese vuur kan absoluut niks doen aan ‘n geestelike skepping nie.

Die vuur waarmee God werk affekteer die hart (denke) van mense. Dit is geestelik!  

Orals in die Skrifte waar die vuur van God genoem word, is dus verwysend na hierdie geestelike vuur van God. Maar wat is die Vuur? Kom ons laat die Skrifte self antwoord:

Jer 5:14 Daarom, so sê die HERE, die God van die leërskare: Omdat julle hierdie woord spreek, kyk, Ek maak my woorde in jou mond ‘n vuur en hierdie volk hout, en dit sal hulle verteer.

Jer 23:29 Is my woord nie só, soos ‘n vuur, spreek die HERE, en soos ‘n hamer wat ‘n rots vermorsel nie?

Wel daar het ons twee getuies uit God se mond wat vir ons duidelik sê wat hierdie vuur is. God se vuur is Sy Woorde. Elke persoon sal deur hierdie vuur “gesout” sal word.

Mar 9:49 Want elkeen sal met vuur gesout word en elke offerande sal met sout gesout word.

Joh 12:48 Wie My verwerp en my woorde nie aanneem nie, het een wat hom oordeel: die woord wat Ek gespreek het, dit sal hom oordeel in die laaste dag.

God het nie twee geestelike vure nie – net een! SY WOORD. Hierdie vuur is ‘n verterende vuur want dit verwyder alle vleeslikheid en sonde (“hout, hooi en stoppels”) uit ons, maar die vuur vestig die geestelike dinge van God (“goud, silwer en kosbare stene”) in ons:

Heb 12:29 Want onse God is ‘n verterende vuur.

1Kor 3:12-15 En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stenehout, hooi, stoppels— 13 elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. 14 As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; 15 as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.

Joh 6:63 Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.

God en Sy vuur is ewig en is onuitbluslik.

Mat 24:35 Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie.

Vleeslike en sondige dinge in ons hart word in die Skrifte versinnebeeld met hout en kaf, of selfs stoppels en strooi:

Jer 5:14 Daarom, so sê die HERE, die God van die leërskare: Omdat julle hierdie woord spreek, kyk, Ek maak my woorde in jou mond ‘n vuur en hierdie volk hout, en dit sal hulle verteer.

Psa 1:4 So is die goddelose mense nie, maar soos kaf wat die wind verstrooi.

Psa 83:14 My God, maak hulle [God se vyande] soos strooisoos stoppels voor die wind.

Selfs ons afgode is van hout – weereens verwysend na ons eie drekgode van ons natuurlike harte:

Jes 44:15 Dan dien dit die mens as brandhout, en hy neem daarvan en maak hom warm; ook steek hy dit aan die brand en bak brood; ook maak hy daar ‘n god van en buig hom daarvoor neer; hy maak daar ‘n gesnede beeld van en kniel daarvoor neer.

Al hierdie is geestelike simbole wat verwys na ons eie natuurlike harte (ons denke) en die sonde wat daar skuil. Geen fisiese vuur kan hierdie geestelike dinge in ons verwyder nie. Dit is net God en Sy geestelike vuur – Sy Woorde – wat mense kan red van sonde. Dit is presies wat die Nuwe Testamentiese skrywers van praat as hulle na die vuur verwys:

1Kor 3:11-15 Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus. 12 En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels—ELKEEN se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal ELKEEN se werk op die proef stel, hoedanig dit is. As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; as iemand se werk verbrand word [hout, hooi, stoppels], sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.

Al ons eie werke is die “hout, hooi, stoppels” wat hier na verwys word. Ons sal verlies en skade ly as ons na God kom met ons eie werke! Wees daarvan verseker. Ons eie werke sluit ons sonde in ons harte in, maar dit verwys ook na ons eie geregtigheid waarmee ons dink ons kan God mee imponeer.

Jes 64:6 En ons het almal geword soos ‘n onreine, en al ons geregtighede soos ‘n besoedelde kleed; en ons het almal verdor soos blare, en ons ongeregtighede het ons weggevoer soos die wind.

Hoe tragies en skokkend is die misleiding in die mens se hart:

Jer 17:9 Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?

Ons ken nie ons eie harte nie – daarom moet God dit aan ons uitwys – deur vuur. Fisiese Israel se 40 jaar in die woestyn het alles gebeur as ‘n tipe van ons eie beproewinge wat ons eie aardse harte AAN ONS wys:

Deu 8:1-2 Al die gebooie wat ek jou vandag beveel, moet julle sorgvuldig hou, dat julle mag lewe en vermenigvuldig, en dat julle mag inkom en die land in besit neem wat die HERE aan julle vaders met ‘n eed beloof het. 2 En jy moet dink aan die hele pad waarlangs die HERE jou God jou nou veertig jaar lank in die woestyn gelei het tot jou verootmoediging en beproewing, om te weet wat in jou hart is, of jy sy gebooie sal hou of nie.

Ons ken nie ons eie onkunde nie! God weet alles en Hy wys ons aardse harte aan ons sodat ons Hom kan leer ken!

God se geestelike vuur sal ons geestelike volmaak maak. Ja vuur verwoes nie net die vleeslike en sondige dinge in ons harte en lewe nie, dit maak ook skoon. Dit skep in ons ‘n rein hart:

Psa 51:8-12 Kyk, U het ‘n welgevalle aan waarheid in die binneste, en in die verborgene maak U aan my wysheid bekend. 9 Ontsondig my met hisop, dat ek kan rein wees; was my, dat ek witter kan wees as sneeu. 10 Laat my vreugde en blydskap hoor; laat die gebeente juig wat U verbrysel het. 11 Verberg u aangesig vir my sondes en delg uit al my ongeregtighede. 12 Skep vir my ‘n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my ‘n vaste gees.

Dit is waarna die goud, silwer en kosbare stene verwys wat ook deur die vuur moet gaan:

1Kor 3:11-12 Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus. 12 En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels…

Hierdie goud, silwer, kosbare stene is almal simbole van God se Woord. In ons aardsheid verdraai ons God se Woord en “versier” dit met valse leerstellings. In hierdie toestand dink ons ons doen reg en ons kan nie sien hoe verkeerd ons is nie. Dit doen ons wanneer ons geestelik hoereer met die vervalsde godsdiens in geestelike Babylon – die valse kerke – toe ons hoogmoedig was in ons eie geregtigheid (die “kleurige hoogtes” van ons eie harte):

Eseg 16:16-19 En jy het van jou klere geneem en vir jou kleurige hoogtes gemaak en op hulle gehoereer—dinge wat nie voorgekom het nie en nie moet wees nie. 17 Daarby het jy jou versiersels uit my goud en my silwer geneem wat Ek jou gegee het, en jy het vir jou beelde van manne gemaak en daarmee gehoereer. 18 En jy het jou veelkleurige klere geneem en dié beelde omhul; jy het ook my olie en my reukwerk voor hulle neergesit. 19 En my brood wat Ek jou gegee het—fynmeel en olie en heuning waarmee Ek jou gespysig het—dit het jy voor hulle neergesit as ‘n lieflike reuk; ja, so was dit, spreek die Here HERE.

Ons misbruik God se Woord vir ons voordeel en hoereer daarmee in ons hoogmoed. Die Woord van God is altyd rein, maar in ons sondige harte en denke word dit vuil gemaak. Daarom gaan God se Woord in ons sondige harte ook dan deur ‘n louteringsproses.

Psa 12:7 Die woorde van die HERE is rein woordesilwer wat gelouter is in ‘n smeltkroes in die aarde, gesuiwer sewe maal.

God sal almal op hul tyd bymekaar bring om deur hierdie “smeltkroes” te gaan. Net soos fisiese Israel in fisiese Jerusalem bymekaar moes kom waar God hulle van hul aardse werke (gesimboliseer deur “koper en tin en yster en lood”) moes suiwer, so sal aan ons almal ons eie “koper en tin en yster en lood” uitgewys word in ons dag van God se VURIGE oordeel.

Eseg 18-22 Mensekind, die huis van Israel het vir My skuim geword; hulle is almal koper en tin en yster en lood binne die smeltoond; silwerskuim het hulle geword. 19 Daarom, so sê die Here HERE: Omdat julle almal skuim geword het, kyk, daarom sal Ek julle binne-in Jerusalem bymekaarmaak. 20 Soos silwer en koper en yster en lood en tin binne-in ‘n smeltoond bymekaargemaak word om daarteen ‘n vuur aan te blaas en dit te smelt, so sal Ek julle bymekaarmaak in my toorn en in my grimmigheid en julle ingooi en smelt. 21 Ja, Ek sal julle versamel en met die vuur van my grimmigheid teen julle blaas, dat julle dáárin gesmelt kan word. 22 Soos silwer in die smeltoond gesmelt word, so sal julle dáárin gesmelt word; en julle sal weet dat Ek, die HERE, my grimmigheid oor julle uitgegiet het.

Mal 3:1-3 Kyk, Ek stuur my boodskapper wat die weg voor My uit sal baan; dan sal skielik na sy tempel kom die Here na wie julle soek, naamlik die Engel van die verbond, na wie julle ‘n begeerte het. Kyk, Hy kom, sê die HERE van die leërskare. 2 Maar wie kan die dag van sy koms verdra? En wie kan standhou as Hy verskyn? Want Hy sal wees soos die vuur van die smelter en soos die loog van die wassers. 3 En Hy sal sit: ‘n smelter en reiniger van silwer, en Hy sal die seuns van Levi reinig en hulle louter soos goud en soos silwer, sodat hulle aan die HERE in geregtigheid ‘n offer sal bring.

God belowe dat Hy ‘n perfekte werk sal doen in ons harte (“in die aarde”) – Hy sal Sy Woord in ons suiwer en ons reinig van ons eie geregtigheid en sonde!

Psa 12:7 Die woorde van die HERE is rein woorde, silwer wat gelouter is in ‘n smeltkroes in die aarde, gesuiwer sewe maal.

Maar waar geen hout (of stoppels, of hooi) meer is nie, hou die vuur op met sy reinigingswerk, alhoewel die vuur steeds dieselfde is:

Spr 26:20 Deur gebrek aan hout gaan die vuur dood, en as daar geen kwaadstoker is nie, bedaar die twis.

Almal wat gered word, word “deur Vuur heen” gered!!! Dit is doping met die vuur en met die gees van God!

Mat 3:11 Ek doop julle wel met water tot bekering; maar Hy wat ná my kom, is sterker as ek, wie se skoene ek nie waardig is om aan te dra nie. Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur.

1Kor 15:28 En wanneer alles aan Hom onderwerp is, dan sal ook die Seun self Hom onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal kan wees.

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.

1 Response to God se geestelike vuur sal ons geestelike volmaak maak!

  1. Terug pieng: Temas | "Is en Wat Was en Wat Kom" – die onbekende karakter van Jesus Christus en Sy Woord

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s