Ons aardse koningskap is TYDELIK (Deel 24)

Ons vleeslike aardse Adam is ons eerste koning wie God aanstel as ‘n tydelike heerser in ons lewe. Hierdie Adam in ons verteenwoordig alles wat ons aan die natuurlike lewe bind en oor ons heers. God het ‘n wet aan hierdie aardse Adam gegee, en hierdie wet skryf aan ons voor hoe ons moet leef terwyl ons in die vlees is. Maar ons kan net nie God se wet 100% gehoorsaam nie. Ons is “verkoop onder die sonde” want ons sien ‘n ander wet in ons vlees wat ons net wil laat sondig!

Rom 7:14-23 Want ons weet dat die wet geestelik is, maar ek is vleeslik, verkoop onder die sonde. 15 Want wat ek doen, weet ek nie; want wat ek wil, dit doen ek nie, maar wat ek haat, dit doen ek. 16 En as ek doen wat ek nie wil nie, dan stem ek die wet toe dat dit goed is. 17 Maar nou is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon. 18 Want ek weet dat in my, dit wil sê in my vlees, niks goeds woon nie; want om te wil, is by my aanwesig, maar om goed te doen, dit vind ek nie. 19 Want die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek. 20 Maar as ek doen wat ek nie wil nie, dan doen ek dit nie meer nie, maar die sonde wat in my woon. 21 Ek vind dus hierdie wet: as ek die goeie wil doen, is die kwaad by my aanwesig. 22 Want ek verlustig my in die wet van God na die innerlike mens; 23 maar ek sien ‘n ander wet in my lede wat stryd voer teen die wet van my gemoed en my gevange neem onder die wet van die sonde wat in my lede is.

Daar is dus twee wette, twee heersers, wat teen mekaar staan. Op ons eie tyd roep ons almal soos Paulus uit, wanneer ons ons eerste Adam se onvermoë om reg te leef net nie meer kan vat nie…

Rom 7:24 Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?

Ja, ons soek almal verlossing van hierdie aardse koning en sy heerskappy. God het wel so ‘n Verlosser aangestel…voor die grondlegging van die wêreld!

Rom 7:25 Ek dank God deur Jesus Christus, onse Here! 

1Pe 1:18-20 omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, 19 maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos, 20 wat wel vooruit geken is voor die grondlegging van die wêreld, maar in hierdie laaste tye geopenbaar is om julle ontwil,

Die twee wette en hul twee heersers is egter albei onder God se beheer want Hy werk ‘n pragtige plan deur albei:

Jak 4:12 Een is die Wetgewer, Hy wat mag het om te red en te verderf

Die EEN Wetgewer, God, skep ‘n wet wat “verderf” en ‘n wet wat “red”! Die eerste wet wat met sy koning heers oor die aarde, sal self “verderf” en verdwyn as die tweede wet, die nuwe verbond in gees, van krag word in ons lewens!

Heb 8:13 As Hy sê ‘n nuwe verbond, het Hy die eerste oud gemaak; en wat oud word en verouder, is naby die verdwyning.

God se verlossingsplan sluit in die eerste Adam deur wie ons kosbare lesse leer van God se nuwe skepping. Ons leer hoe om Lig te waardeer deur eers die donkerte te beleef:

Gen 1:1-5 In die begin het God die hemel en die aarde geskape. 2 En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters. 3 En God het gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig. 4 Toe sien God dat die lig goed was. En God het skeiding gemaak tussen die lig en die duisternis; 5 en God het die lig dag genoem, en die duisternis het Hy nag genoem. En dit was aand en dit was môre, die eerste dag.

Die “laaste Adam” is Jesus Christus met wie ons almal geklee sal word!

1Kor 15:45-49 So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees. 46 Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike. 47 Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel. 48 Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. 49 En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra.

Maar ons eerste koning gee nie sy troon af sonder ‘n stryd nie. Die vlees HAAT die gees en die twee “staan teenoor mekaar”:

Gal 5:17 want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie.

Rom 8:5-7 Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge. 6 Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede, 7 omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie.

Vlees sal nooit in God se geestelike koninkryk ingaan of daar regeer nie:

1Kor 15:50 Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.

Rom 8:8 En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie.

Saul, die eerste koning van Israel, was die tipe van ons eie eerste koning, ons vlees. God het die koningskap van Saul weggeneem a.g.v sy ongehoorsaamheid en rebellie – tiperend van ons vlees. God het Dawid in Saul se plek as koning gesalf. Dawid is die tipe van Jesus. Maar Saul het met allerhande truuks gekom om Dawid teen te staan. Hy het selfs op ‘n tyd sy dogter Merab aan Dawid beloof om sy haat vir Dawid te verberg agter ‘n valse liefde vir Dawid:

1Sa 18:17-18 Verder het Saul vir Dawid gesê: Hier is my oudste dogter Merab, haar sal ek aan jou as vrou gee; wees net vir my ‘n dapper man en voer die oorloë van die HERE. Want Saul het gedink: Laat my hand nie teen hom wees nie, maar laat die hand van die Filistyne teen hom wees. Maar Dawid het vir Saul gesê: Wie is ek, en wat is my familie, die geslag van my vader in Israel, dat ek ‘n skoonseun van die koning sou word?

Ons nuwe Koning is heel anders as ons eerste koning. Ons eerste koning soek menslike aansien en erkenning. Ons tweede Koning soek God se aansien en erkenning:

Joh 5:41 Eer neem Ek [Jesus en Sy ware volgelinge] van die mense nie aan nie.

Hand 5:29 …. Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense.

Die nuwe skepping is heel apart van die ou skepping. God het nie ‘n enekele sel nodig uit ons ou mense se lewe om ‘n nuwe skepping na vore te bring nie. Baie mense glo dat die nuwe skepping iets soortgelyks as die aardse skepping is. Nee, dit is TOTAAL anders:

2Kor 5:16-17 Ons ken dus van nou af niemand meer na die vlees nie; en al het ons ook Christus na die vlees geken, nou ken ons Hom tóg nie meer so nie. 17 Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.

Open 21:1-6 En ek het ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan; en die see was daar nie meer nie. 2 En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ‘n bruid wat vir haar man versier is. 3 En ek het ‘n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God. 4 En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan. 5 En Hy wat op die troon sit, het gesê: Kyk, Ek maak alles nuut. En Hy het aan my gesê: Skryf, want hierdie woorde is waaragtig en betroubaar. 6 En Hy het vir my gesê: Dit is verby! Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde. Aan die dorstige sal Ek gee uit die fontein van die water van die lewe, verniet.

Wel, Saul het nie eens sy woord gehou met Merab nie….die vlees is ‘n bedrieër en misleier:

1Sa 18:19 Maar teen die tyd dat Merab, die dogter van Saul, aan Dawid moes gegee word, is sy aan Adriël, die Meholatiet, as vrou gegee.

God het egter ‘n liefde vir Dawid geplaas in Migal, nog ‘n dogter van Saul:

1Sa 18:20a Maar Migal, die dogter van Saul, het Dawid liefgekry…..

Maar Saul het goedkeuring gegee vir hierdie verhouding met ‘n geheime bose motief!

1Sa 18:20b…..en toe hulle dit aan Saul meedeel, was die saak in sy oë reg. 1Sa 18:21 Want Saul het gedink: Ek sal haar aan hom gee, dat sy vir hom’n strik kan wees en dat die hand van die Filistyne teen hom kan wees. Daarom het Saul vir Dawid gesê: Vir die tweede keer kan jy vandag my skoonseun word!

Ons moet ons vlees vertrou as die mees onbetroubare vennoot wat ons ooit sal hê.

Jer 17:5 So sê die HERE: Vervloek is die man wat op die mens vertrou en vlees sy arm maak, terwyl sy hart van die HERE afwyk.

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s