Ons aardse koningskap is TYDELIK (Deel 25)

Die verhouding tussen Saul, die eerste koning van Israel, en Dawid, wat God as Saul se koninklike opvolger bo Saul verkies het, gee vir ons ‘n kykie in ons eie lewe wanneer ons hemelse Vader ons na Sy Christus trek:

Joh 6:44 Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag.

Jesus is die nuwe koning wat die Vader uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om ons eerste aardse koning, ons vlees met sy ydele verganklike lewenswandel, te vervang op die tyd soos Hy alleen bepaal:

1Pe 1:18-20 omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, 19 maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos, 20 wat wel vooruit geken is voor die grondlegging van die wêreld, maar in hierdie laaste tye geopenbaar is om julle ontwil.

1Kor 15:45-49 So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees. 46 Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike. 47 Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel. 48 Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. 49 En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra.

Wanneer hierdie tyd egter aanbreek as God Sy nuwe skepping in Christus in ons bring deur die proses van wedergeboorte, is ons ou mens so gevestig op “sy” troon en in sy weë, dat dit ‘n groot stryd in ons ontketen! Ons vlees klou vas! Selfs hulle wat dink dat hulle God se uitverkorenes of God se kinders is, word totaal ontnugter in hierdie stryd. Ons vlak van onkunde oor God se plan met die mens word ontbloot. Nikodémus, ‘n Joodse owerste in Jesus se dae op aarde, is ‘n tipe van ons eie eiewyse godsdienstige mens wat dink hy weet wat aangaan:

Joh 3:1-10 En daar was ‘n man uit die Fariseërs met die naam van Nikodémus, ‘n owerste van die Jode. 2 Hy het in die nag na Jesus gekom en vir Hom gesê: Rabbi, ons weet dat U ‘n leraar is wat van God gekom het, want niemand kan hierdie tekens doen wat U doen as God nie met hom is nie. 3 Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie. 4 Nikodémus sê vir Hom: Hoe kan ‘n mens as hy oud is, gebore word? Hy kan tog nie ‘n tweede keer in die skoot van sy moeder ingaan en gebore word nie? 5 Jesus antwoord: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie. 6 Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees. 7 Moenie jou verwonder dat Ek vir jou gesê het, julle moet weer gebore word nie. 8 Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is. 9 Nikodémus antwoord en sê vir Hom: Hoe kan hierdie dinge gebeur? 10 Jesus antwoord en sê vir hom: Jy is die leraar van Israel en jy weet hierdie dinge nie?.

Die stryd is tussen ons vlees en die gees van God, en ons behoort te weet wie die oorwinnaar gaan wees! Maar o wee, ons vlees sien kans om die stryd teen God aan te vat. Ons sien dit elke dag in onsself en ons is verbaas vir ons eie rammetjie-uitnek geaardheid!

Gal 5:17 want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie.

Ons vlees KAN net nie God gehoorsaam nie, want die vlees besit nie die vermoë om God te gehoorsaam nie. God het dit so gemaak:

Jer 18:4 En die voorwerp wat hy besig was om te maak, het misluk—soos dit gaan met klei in die hand van die pottebakker—maar hy het daaruit weer ‘n ander voorwerp gemaak soos dit in die oë van die pottebakker reg was om dit te maak.

Jes 63:17 HERE, waarom laat U ons wegdwaal van u weë? Waarom verhard U ons hart, sodat ons U nie vrees nie? Keer terug ter wille van u knegte, die stamme van u erfdeel!

Die vlees gaan nie ingee nie. Hy gaan veg tot die bittereinde! God maak ons vlees “hard” om nie Sy raad en opdragte te volg nie. Dit hang nie af van mens om gehoorsaam te wees of ongehoorsaam te wees nie!!!!

Rom 9:16-18 So hang dit dan nie af van die een wat wil of van die een wat loop nie, maar van God wat barmhartig is. 17 Want die Skrif sê aan Farao: Juis hiervoor het Ek jou laat optree, dat Ek in jou my krag kan toon en dat my Naam verkondig kan word op die hele aarde. 18 So is Hy dan barmhartig oor wie Hy wil en Hy verhard wie Hy wil.

Jer 10:23 Ek weet, o HERE, dat aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan ‘n man om te loop en sy voetstappe te rig nie.

Jes 63:17 HERE, waarom laat U ons wegdwaal van u weë? Waarom verhard U ons hart, sodat ons U nie vrees nie? Keer terug ter wille van u knegte, die stamme van u erfdeel!

God is voorwaar soewerein en Hy maak soos Hy goed dink en goed vind. Die probleem is dat ons nie kan sien hoe God se manier van optrede tot ons voordeel kan strek nie. Ons bly verloor! Ons natuurlike mens kan nie verstaan waarom God hierdie modus operandi met ons vlees gebruik nie! Ons vlees is gedoem! Daar is soveel pyn en lyding in en rondom ons elke dag en dit lyk of dit aanhou en aanhou en aanhou….Hoe kan dit God se plan wees?

1Kor 2:14 Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.

Wanneer God ons die geloof skenk om Sy algehele soewereiniteit oor ALLES in hierdie skepping te kan sien en te aanvaar, dan begin ons ook aanvaar dat God se wil ALTYD seëvier!

Rom 12:2 En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.

Maar dan is die stryd tussen ons ou mensdenke en die denke van die nuwe skepping tot ‘n nuwe vlak gevoer. Die ou mensdenke moet afgebreek word en die nuwe denke van Christus moet opgebou word.

Joh 3:30 Hy moet meer word, maar ek minder.

Die afbreek- en opbouproses is vol geestelike lesse – en wat ‘n werk van liefde is dit nie:

Efes 4:22-24 dat julle, wat die vorige lewenswandel betref die oue mens moet aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding te gronde gaan, 23 en dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed 24 en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid.

Saul se koningskap was besig om afgebreek te word, terwyl Dawid se rol as nuwe koning opgebou word. Hierdie proses het ook gemanifesteer in Saul se vrees en vyandigheid teenoor Dawid…

1Sa 18:28-30 Toe Saul sien en merk dat die HERE met Dawid was, en dat Migal, die dogter van Saul, hom liefhet, 29 het Saul nog meer bevrees geword vir Dawid, en Saul het Dawid se vyand geword al die dae. 30 En die vorste van die Filistyne het uitgetrek; en so dikwels as hulle uittrek, het Dawid meer voorspoed gehad as al die dienaars van Saul, sodat sy naam hooggeëerd was.

God het Dawid verhoog en Saul het eintlik teen God gestaan, nie teen Dawid nie. Hy kon dit egter nie sien nie, net soos ons in ons eie tyd van geestelike onkunde ook op die uiterlike dinge let eerder as die innerlike:

Rom 8:5-8 Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge. 6 Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede, 7 omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie. 8 En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie;

Saul se vrees, haat en vyandigheid teenoor Dawid het later openlik gemanifesteer. 

1Sa 19:1 Daarna het Saul met sy seun Jónatan en met al sy dienaars gespreek om Dawid dood te maak; maar Jónatan, die seun van Saul, het baie van Dawid gehou;

Haat is moord. Vlees haat gees. Ons ou mens haat Christus.

Kan jy die moordenaar in jouself sien?

1Jn 3:15 Elkeen wat sy broeder haat, is ‘n moordenaar; en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe as iets blywends in hom het nie.

Jónatan, Saul se seun, het egter ‘n goeie woord vir Dawid by sy pa gebring en sy pa se hart tydelik laat afsien van die opdrag om Dawid dood te maak:

1Sa 19:2-7 en Jónatan het dit aan Dawid meegedeel en gesê: My vader Saul soek geleentheid om jou dood te maak: pas dan nou môre vroeg op en hou jou verborge en steek jou weg. 3 Dan sal ek uitgaan en langs my vader gaan staan in die veld waar jy is, en ek sal met my vader oor jou spreek; en as ek iets sien, sal ek jou dit meedeel. 4 Jónatan het toe goed van Dawid gespreek by sy vader Saul en vir hom gesê: Laat die koning hom tog nie besondig aan sy dienaar Dawid nie, omdat hy nie teen u gesondig het nie, en omdat sy handelwyse u geheel ten goede kom: 5 hy het sy lewe gewaag en die Filistyn verslaan, en die HERE het aan die hele Israel ‘n groot oorwinning besorg. U het dit gesien en u was bly; waarom sal u dan aan onskuldige bloed u besondig deur Dawid sonder oorsaak dood te maak? 6 En Saul het na Jónatan geluister, en Saul het gesweer: So waar as die HERE leef, hy sal nie gedood word nie! 7 Daarop het Jónatan Dawid geroep, en Jónatan het al hierdie woorde aan hom meegedeel. En Jónatan het Dawid na Saul gebring, en hy was voor hom soos gister en eergister.

 

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s