ALLE goeie dinge kom na ALMAL wat daarvoor wag!

Dit is deel van God se een plan met die mens dat “vlees en bloed” die tydelike huisvesting van die “eerste mens Adam” sou wees – dit is die aardse skepsel wat “uit stof van die aarde” gemaak was met asem wat in sy neus geblaas was. Met hierdie twee bestandele het God ‘n aardse siel geskep wat net binne hierdie dimensie moet leef vir ‘n beperkte tydperk:

Gen 2:7 En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel [Hebreeus: “nephesh” = siel] geword.

Gen 3:19 In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.

Ons moet leer dat stof nie gees is nie. God het die mens nie eerste as ‘n geestelike wese geskep nie. Die mens is eers stof van die aarde. Dit is eers wanneer die stof terugkeer na die aarde dat die mens weer opgewek word in gees en dan word die nuwe skepping na vore gebring:

1Kor 15:40-44 En daar is hemelse liggame en aardse liggame; maar die heerlikheid van die hemelse is anders as dié van die aardse. 41 Anders is die heerlikheid van die son en anders die heerlikheid van die maan en anders die heerlikheid van die sterre; want die een ster verskil in heerlikheid van die ander ster. 42 So is ook die opstanding van die dode: daar word gesaai in verganklikheid, daar word opgewek in onverganklikheid; 43 daar word gesaai in oneer, daar word opgewek in heerlikheid; daar word gesaai in swakheid, daar word opgewek in krag. 44 ‘n Natuurlike liggaam word gesaai, ‘n geestelike liggaam word opgewek. Daar is ‘n natuurlike liggaam, en daar is ‘n geestelike liggaam.

Van stof….tot stof – dit is dieselfde lotsproses van alle aardse skepsels wie God van stof gemaak het en waarin asem is – hulle word gemaak van tydelike stof om dan weer na dieselfde stof terug te keer:

Gen 1:24 En God het gesê: Laat die aarde lewende wesens [Hebreeus: “nephesh” = siel] voortbring volgens hulle soorte: vee, kruipende diere en wilde diere van die aarde volgens hulle soorte. En dit was so.

Pred 3:18-21 Ek het in my hart gesê: Ter wille van die mensekinders gebeur dit, dat God hulle kan beproef, en dat hulle kan insien dat hulle in hulleself vee is. 19 Want die lot van die mensekinders is ook die lot van die veediere: hulle het een en dieselfde lot; soos die een sterwe, so sterwe die ander, en hulle almal het dieselfde asem, en ‘n voorkeur van die mens bo die veediere is daar nie; want alles is tevergeefs. 20 Alles gaan na een plek toe; alles is uit die stof, en alles keer na die stof terug. 21 Wie bespeur dat die asem van die mensekinders opgaan boontoe, en dat die asem van die veediere neerdaal ondertoe in die aarde?

Die mens het egter ‘n spesiale plek in God se plan. Die mens gaan nie in stof vir ewig bly nie! Nee God gaan die mens weer herskep in gees. Kyk hoe beskryf Jeremia die plan en proses van God om mens uiteindelik GEESTELIK en PERFEK te maak:

Jer 18:1-4 Die woord wat van die HERE tot Jeremia gekom het: 2 Maak jou klaar en gaan af na die huis van die pottebakker, en daar sal Ek jou my woorde laat hoor. 3 Toe het ek afgegaan na die huis van die pottebakker, en hy was juis besig om ‘n stuk werk op die skywe te maak. 4 En die voorwerp wat hy besig was om te maak, het misluk—soos dit gaan met klei in die hand van die pottebakker—maar hy het daaruit weer ‘n ander voorwerp gemaak soos dit in die oë van die pottebakker reg was om dit te maak.

Die eerste voorwerp was nie net uit stof gemaak nie, hy was ook naak gemaak. Die mens en sy vrou was naak geskep en hulle kon nie goed van kwaad onderskei nie!

Gen 2:25 En hulle was altwee naak, die mens en sy vrou, maar hulle het hul nie geskaam nie.

Naaktheid in ‘n geestelike sin is NIE ‘n goeie ding nie!!!

Jes 20:2-5 in dié tyd het die HERE deur die diens van Jesaja, die seun van Amos, gespreek en gesê: Gaan gord die haarmantel van jou heupe af los, en trek jou skoene van jou voete af. Hy het toe so gedoen en naak en kaalvoet geloop. 3 Daarop het die HERE gesê: Soos my kneg Jesaja naak en kaalvoet geloop het, drie jaar lank, as teken en sinnebeeld met betrekking tot Egipte en Kus, 4 so sal die koning van Assirië die gevangenes van Egipte en die ballinge van Kus wegdrywe, jonk en oud, naak en kaalvoet en ontbloot aan die agterdele—’n smaad vir Egipte. 5 En hulle sal verslae wees en beskaamd staan vanweë Kus, hulle toeverlaat, en vanweë Egipte, hulle trots.

Klaag 1:8 Jerusalem het swaar gesondig, daarom het sy ‘n voorwerp van afsku geword; almal wat haar geëer het, verag haar, omdat hulle haar naaktheid gesien het; sy self sug en het haar weggedraai.

Open 3:17-18 Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie. 18 Ek raai jou aan om van My te koop goud wat deur vuur gelouter is, sodat jy kan ryk word; en wit klere, dat jy jou kan aantrek en die skande van jou naaktheid nie openbaar word nie; en salf om jou oë te salf, sodat jy kan sien.

Naaktheid is soos dronkenskap want dit maak ons maklike prooi vir ‘n vyand in hierdie toestand:

Gen 9:20-21 En Noag het as landbouer ‘n wingerd begin plant. 21 Maar toe hy van die wyn gedrink het, het hy dronk geword en naak in sy tent gelê.

In Adam en Eva se naakte toestand was hulle ‘n maklike prooi vir die verleidelik en listige slang en hy kon hulle maklik oorrompel – soos deur God beplan.

Gen 3:1 Maar die slang was listiger as al die diere van die veld wat die HERE God gemaak het. En hy sê vir die vrou: Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie?

God het Adam en Eva doelbewus naak geskep sodat hulle kon leer en eerstehands ervaar hoe “ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak” die vlees is.

Mat 26:41 Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.

God het bepaal dat ons eerste die negatiewe en bose vleeslike dinge moet ervaar “onder die son”. Niks wat “goed” is kom na ons op ‘n skinkbord nie.  Dit is die les van die lewe! Geen goeie ouer gee sy of haar kinders alles wat hulle wil hê nie. Dit is inderdaad ook ‘n “moelike taak wat God aan die mensekinders gegee het om hulle daarmee te kwel”:

Pred 1:13-14 En ek het my hart daarop gerig om met wysheid te ondersoek en na te speur alles wat onder die hemel gebeur. Dit is ‘n moeilike taak wat God aan die mensekinders gegee het om hulle daarmee te kwel. 14 Ek het al die werke gesien wat onder die son gedoen word, en kyk, dit was alles tevergeefs en ‘n gejaag na wind.

God sal ons NIKS gee tensy Hy ons deur ‘n proses geneem het om dit wat ons uiteindelik sal ontvang van Hom, opreg sal waarder nie.

Luk 21:19 Deur julle volharding moet julle jul lewe in besit kry.

Lam 3:24-27 Die HERE is my deel, sê my siel, daarom sal ek op Hom hoop. 25 Tet. Goed is die HERE vir die wat op Hom hoop, vir die siel wat Hom soek. 26 Dit is goed om in stilheid te hoop op die hulp van die HERE. 27 Dit is goed vir ‘n man dat hy die juk in sy jeug dra.

Hand 14:22 en die siele van die dissipels versterk en hulle vermaan om in die geloof te bly deur te sê: Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan.

Open 15:8 En die tempel het vol rook geword uit die heerlikheid van God en uit sy krag, en niemand kon ingaan in die tempel voordat die sewe plae van die sewe engele voleindig was nie.

Ons natuurlike mens kan net nie God se geestelike dinge verstaan nie, en dit is wat ons almal op ons eie tyd uitvind, soos Adam en Eva ook moes doen!

1Kor 2:14 Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.

Alle aardse ‘lewende siele’ is gemaak om deur ‘n tydsame, maar beperkte doodsproses geneem te word, voordat ons almal “in Adam” geestelike lewe sou kry in die “laaste Adam”, Jesus Christus:

1Kor 15:22 Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word.

1Kor 15:45-49 So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees. 46 Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike. 47 Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel. 48 Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. 49 En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra.

‘n “Lewende siel” staan dus in kontras met die “lewendmakende gees” soos die dood in kontras staan teenoor die lewe.

Gal 5:17 want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie.

Om te sê dat die mens op sy eie stoom boos en onheilig kon word is om God te onthef van Sy posisie as die enigste Skepper van alles – ook die Skepper van onheil (dit wat onheilig is) en die goddelose:

Jes 45:5-7 Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; buiten My is daar geen God nie; Ek omgord jou, hoewel jy My nie geken het nie, 6 sodat hulle kan weet van die opgang van die son en van sy ondergang af dat daar buiten My geeneen is nie; Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; 7 wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen.

Spr 16:4 Alles het die HERE gemaak vir sy doel, ja, ook die goddelose vir die dag van onheil.

Jes 54:16 Kyk, Ék het die smid geskape wat die koolvuur aanblaas en ‘n wapen voortbring volgens sy ambag; ook het Ék die verderwer geskape om te verniel.

Ons eerste vader is die duiwel want ons almal doen wat hy aan ons voorhou, sonder teëstribbeling:

Joh 8:44 Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was ‘n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ‘n leuenaar is en die vader daarvan.

Om te sê ‘n mens bepaal sy eie pad en rig sy eie voetstappe, is om die Woord van God tot ‘n leuenaar te maak:

Spr 20:24 Die voetstappe van ‘n man hang van die HERE af: hoe sou ‘n mens dan sy weg verstaan?

Jer 10:23 Ek weet, o HERE, dat aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan ‘n man om te loop en sy voetstappe te rig nie.

Jes 63:17 HERE, waarom laat U ons wegdwaal van u weë? Waarom verhard U ons hart, sodat ons U nie vrees nie? Keer terug ter wille van u knegte, die stamme van u erfdeel!

Rom 9:16-18 So hang dit dan nie af van die een wat wil of van die een wat loop nie, maar van God wat barmhartig is. 17 Want die Skrif sê aan Farao: Juis hiervoor het Ek jou laat optree, dat Ek in jou my krag kan toon en dat my Naam verkondig kan word op die hele aarde. 18 So is Hy dan barmhartig oor wie Hy wil en Hy verhard wie Hy wil.

Ons almal word dus eers in vlees geskep, in sonde en dood deur God, en ons leef binne hierdie doodsdomein. Om te sê day die mens op sy eie stoom weereens tot God kan kom is ‘n skokkende leuen:

Joh 6:44 Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag.

Die Vader trek ons na Christus en Christus kom bevry ons uit die aardse gevangenis om die ware lewe in Hom te ervaar:

Joh 8:36 As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees.

1Jn 3:14 Ons weet dat ons oorgegaan het uit die dood in die lewe…

Luk 4:14-21 En Jesus het in die krag van die Gees na Galiléa teruggekeer, en daar het ‘n gerug aangaande Hom deur die hele omtrek uitgegaan; 15 en Hy het in hulle sinagoges geleer en is deur almal geprys. 16 Toe kom Hy in Násaret waar Hy opgevoed was; en soos Hy gewoond was, gaan Hy op die sabbatdag in die sinagoge en staan op om te lees. 17 En die boek van die profeet Jesaja is aan Hom oorhandig; en toe Hy die boek oopmaak, kry Hy die plek waar geskrywe is: 18 Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te bring. Hy het My gestuur om die wat verbryseld van hart is, te genees; 19 om aan gevangenes vrylating te verkondig en aan blindes herstel van gesig; om die wat gebroke is, in vryheid weg te stuur; om die aangename jaar van die Here aan te kondig. 20 En nadat Hy die boek toegemaak en aan die dienaar teruggegee het, gaan Hy sit, en die oë van almal in die sinagoge was op Hom gevestig. 21 Toe begin Hy vir hulle te sê: Vandag is hierdie Skrif in julle ore vervul.

Jesus moes deur dieselfde proses gaan toe Hy ook tydelik in vlees kom woon het om aan ons hierdie nuwe lewe te kom skenk deur Sy eie dood en opstanding! Die vlees is geestelik gekoppel aan “die armes”, “die wat verbryseld [is] van hart”, die “gevangenes”, die “blindes”, “die wat gebroke is”. Die vlees is “swak”, en daar is niks goed in ons vlees nie. God het dit so geskep want die vlees is eerste onderhewig aan die aardse wet van God waardeur sonde en dood werksaam is.,

Mat 26:41 Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.

Rom 7:18-21 Want ek weet dat in my, dit wil sê in my vlees, niks goeds woon nie; want om te wil, is by my aanwesig, maar om goed te doen, dit vind ek nie. 19 Want die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek. 20 Maar as ek doen wat ek nie wil nie, dan doen ek dit nie meer nie, maar die sonde wat in my woon. 21 Ek vind dus hierdie wet: as ek die goeie wil doen, is die kwaad by my aanwesig. 

Ons kry alleenlik verlossing van die vlees, en “die liggaam van hierdie dood”,  en al sy kettings deur die nuwe wet van die gees in Christus:

Rom 7:24-25 Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood? 25 Ek dank God deur Jesus Christus, onse Here! (7:26) So dien ek self dan wel met die gemoed die wet van God, maar met die vlees die wet van die sonde.

Dood word dus gekoppel aan die natuurlike mens in vlees met sy aardse denke:

Rom 8:6-8 Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede, 7 omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie. 8 En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie.

Hierdie dood sal uiteindelik vernietig word wanneer dit sy taak voltooi het, volgens God se tyd en plan:

1Kor 15:26 Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood.

Open 21:1-4 En ek het ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan; en die see was daar nie meer nie. 2 En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ‘n bruid wat vir haar man versier is. 3 En ek het ‘n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God. 4 En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.

Ware Lewe is in die gees van die Vader en ons sal almal daardie Lewe ontvang wanneer Christus ons uit die dood opwek – vir sommige nou en die res kom later:

Rom 8:2 Want die wet van die Gees van die lewe in Christus Jesus het my vrygemaak van die wet van die sonde en die dood.

1Kor 15:22-28 Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word; maar elkeen in sy eie orde:

  • as eersteling Christus,
  • daarna die wat aan Christus behoort by sy koms.
  • daarna kom die einde [DIE RES],

wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het. Want Hy moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het. Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood. Want Hy het alles aan sy voete onderwerp, maar wanneer Hy sê dat alles onderwerp is, is dit duidelik dat Hy uitgesonder is wat alles aan Hom onderwerp het. En wanneer alles aan Hom onderwerp is, dan sal ook die Seun self Hom onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal kan wees.

 

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s