2Kor 10:12 Want ons waag dit nie om ons te reken of te vergelyk met sommige van die wat hulleself aanbeveel nie. Maar omdat hulle hul met hulself meet en met hulself vergelyk, is hulle onverstandig.
Om vergelykings te maak tussen mense is een van die mees natuurlike dinge, en ook een van die mees onverstandige dinge om te doen, en ons almal word op baie tye in ons lewens hiermee gevang.
As daar ‘n kompetisie of wedloop is, sal daar altyd ‘n wenner en verloorder wees.
Dit is hoe die natuurlike mens in ons die lewe sien – ‘n kompetisie met ander om ons.
Ons natuurlike mens kan nie aanvaar dat hy gemaak is OM TE VERLOOR! Hy weet nie dat hy soos ‘n redelose dier in ‘n vangnet is wat hom sal vernietig – volgens God se plan!
2Pe 2:12 Maar hulle sal, omdat hulle belaster wat hulle nie ken nie, soos redelose diere wat die natuur volg, gebore om gevang en vernietig te word, in hulle verdorwenheid te gronde gaan
In die proses van vergelyking met ander mense weet ons nie dat ons eintlik teen God se keuses en orde rebelleer nie. Ja, ons almal sal op ‘n tyd moet erken hoe hierdie verloorder in ons, die natuurlike mens, God belaster deurdat ons Sy keuses en unieke gawes in elkeen bevraagteken, in ons tyd van onkunde en duisternis:
Job 22:10-11 Daarom is daar vangnette rondom jou en maak die vrees jou skielik skrik. 11 Of sien jy die duisternis nie en die oorvloed van waters wat jou bedek?
Koning Saul is die tipe van ons natuurlike mens wat oor ons heers as die eerste koning van ons aardse wil. Saul het letterlik uitgestaan bo almal…
1Sa 9:1-2 En daar was ‘n man van Benjamin met die naam van Kis, die seun van Abíël, die seun van Seror, die seun van Begorat, die seun van Afíag, ‘n Benjaminiet, ‘n vermoënde man. 2 En hy het ‘n seun gehad met die naam van Saul, ‘n jongman en mooi gebou, ja, daar was onder die kinders van Israel geeneen mooier as hy nie: van sy skouers af boontoe was hy hoër as die hele volk.
Ja, die Skrifte is so geskryf om ons te laat sien hoe selfs die jong Saul met ander vergelyk word. Woorde soos “mooier” en “hoër as die hele volk” gee ons duidelike aanduidings van vergelykings. God praat soms op ons aardse vlak vir verskeie redes. Een rede is om ons te vang in Sy vangnette wat volgens ons aardse denke opgestel word (ons aardse drekgode) om ons daarmee te verblind om nie die doel te sien waarom Hy sekere dinge in ons lewe bring nie.
Pred 1:13 En ek het my hart daarop gerig om met wysheid te ondersoek en na te speur alles wat onder die hemel gebeur. Dit is ‘n moeilike taak wat God aan die mensekinders gegee het om hulle daarmee te kwel.
Hier is so ‘n voorbeeld uit die Ou Testament hoe God Israel verlei en verblind het deur hul eie “drekgode” teen hulle te gebruik (hul hoë en trotse denke):
Eseg 14:1-5 Daarop het manne uit die oudstes van Israel na my gekom en voor my gaan sit. 2 Toe het die woord van die HERE tot my gekom en gesê: 3 Mensekind, hierdie manne het hulle drekgode in hulle hart opgeneem en die struikelblok tot hulle ongeregtigheid voor hulle aangesig neergesit—sou Ek My dan werklik deur hulle laat raadpleeg? 4 Daarom, spreek met hulle en sê vir hulle: So spreek die Here HERE: Elke man uit die huis van Israel wat sy drekgode in sy hart opneem en die struikelblok tot sy ongeregtigheid voor sy aangesig neersit en na die profeet toe kom—Ek, die HERE, sal hom daarvolgens, volgens die menigte van sy drekgode, antwoord gee; 5 sodat Ek die huis van Israel in hulle hart kan gryp, omdat hulle almal deur hul drekgode hul van My afgewend het.
God sê openlik dat Hy Israel (en dus ook alle mense) verlei deur die valse geeste wat Hy deur valse leiers en valse profete na hulle stuur!!!
Eseg 14:9 En as die profeet hom laat verlei om ‘n woord te spreek—Ek, die HERE, het dié profeet verlei, en Ek sal my hand teen hom uitstrek en hom verdelg uit die midde van my volk Israel.
Psa 18:27 by die reine rein; maar by die valse betoon U Uself verkeerd.
Hierdie is ‘n harde pil om te sluk vir ons natuurlike mens wat God se werke en metodes net nie kan verstaan of aanvaar nie.
1Kor 2:14 Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.
Koning Saul se rebellie teen God se keuse om Dawid in sy plek te laat heers, het gekom deur ‘n bose gees wat God gestuur het:
1Sa 16:13-15 Samuel neem toe die horing met olie en salf hom [Dawid] te midde van sy broers, en die Gees van die HERE het van dié dag af en verder oor Dawid vaardig geword. En Samuel het klaargemaak en na Rama gegaan. 14 Maar die Gees van die HERE het van Saul gewyk, en ‘n bose gees, deur die HERE gestuur, het hom verskrik. 15 Toe sê die dienaars van Saul vir hom: Kyk tog, ‘n bose gees van God verskrik u.
ALLE geeste is onderdanig aan God, “die Vader van die geeste”:
Heb 12:9 Verder, ons het ons vaders na die vlees as kastyders gehad, en ons het vir hulle ontsag gehad; moet ons nie veel meer aan die Vader van die geeste onderworpe wees en lewe nie?
Bose geeste laat mense optree soos God dit wil hê – selfs om hulself te vergelyk met ander, wat onverstandig is!
2Kor 10:12 Want ons waag dit nie om ons te reken of te vergelyk met sommige van die wat hulleself aanbeveel nie. Maar omdat hulle hul met hulself meet en met hulself vergelyk, is hulle onverstandig.
Saul se rebellie beeld uit ons rebellie teen God se keuse om ons eerste Adam net ‘n tydelike heerskappy te gee wat dan vervang gaan word deur die heerskappy van Jesus!
Heb 2:6-10 maar iemand het êrens getuig en gesê: Wat is die mens, dat U aan hom dink, of die mensekind, dat U hom besoek? 7 U het hom ‘n weinig minder as die engele gemaak; met heerlikheid en eer het U hom gekroon en hom oor die werke van u hande aangestel. 8 Alle dinge het U onder sy voete gestel. Want in die onderwerping van alle dinge aan hom het Hy niks uitgesonder wat aan hom nie onderworpe is nie. Maar nou sien ons nog nie dat alle dinge aan hom onderwerp is nie; 9 maar ons sien Hom, naamlik Jesus, wat vir ‘n kort tydjie minder as die engele gemaak is, vanweë die lyde van die dood met heerlikheid en eer gekroon, sodat Hy deur die genade van God vir elkeen die dood sou smaak. 10 Want dit het Hom betaam, ter wille van wie alle dinge en deur wie alle dinge is, as Hy baie kinders na die heerlikheid wou bring, om die bewerker van hulle saligheid deur lyde te volmaak.
Ons eerste koning word van nature gelei deur die gees “in die wêreld” IN ONS – vol selfsugtige welluste en trots:
1Jn 2:16 Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld.
Kyk hoe die Skrifte dit uitgewys hoe DIESELFDE gees van die wêreld alreeds IN ADAM EN EVA geopereer het VOORDAT hulle aan die verbode boom se vrugte gevat of geëet het:
Gen 3:6 Toe sien die vrou dat die boom goed was om van te eet [“die begeerlikheid van die vlees”] en dat hy ‘n lus was vir die oë [“die begeerlikheid van die oë”], ja, ‘n boom wat ‘n mens kan begeer om verstand te verkry [“die grootsheid van die lewe”]; en sy neem van sy vrugte en eet en gee ook aan haar man by haar, en hy het geëet.
Alles “in die wêreld” was reeds In Adam en Eva voor hulle geëet het van die verbode vrugte! Hulle was dus nie geestelik perfek soos baie valse leraars propageer nie. Die Skrifte is duidelik dat Adam en Eva “in sonde” voortgebring was, en misluk het “in die hand van die Pottebakker” soos Dawid, Jeremia, Paulus, onder andere ook saam getuig!
Psa 51:7 Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.
Jer 18:4 En die voorwerp wat hy besig was om te maak, het misluk—soos dit gaan met klei in die hand van die pottebakker—maar hy het daaruit weer ‘n ander voorwerp gemaak soos dit in die oë van die pottebakker reg was om dit te maak.
Rom 5:12 Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het.
Rom 8:20 Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het
Kyk wat groei alles uit hierdie drie hoofstrome (die begeerlikheid van die vlees, en die begeerlikheid van die oë, en die grootsheid van die lewe) van die gees “in die wêreld” IN ons. Herken jy dit in jouself, of is dit in die ander mense?
Gal 5:19-21 En die werke van die vlees is openbaar, naamlik owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid; 20 afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap; 21 afguns, moord, dronkenskap, brassery en dergelike dinge, waarvan ek julle vooraf sê, soos ek al vroeër gesê het, dat die wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërwe nie.
Hier is dit wat voortvloei uit die nuwe mens IN ons – as Hy daar woon:
Gal 5:22-23 Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing. 23 Teen sulke dinge is die wet nie.
Geen vergelykings nie – geen wet – geen wedywering nie! Jy en ek staan en leef voor God, en ons wedloop is teen ons eie ou mens van sonde! Ons kan net ons ou mens oorwin deur Jesus, ons Leidsman en die Voleinder van die geloof!
Heb 12:1-2 Daarom dan, terwyl ons so ‘n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê, 2 die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het.
Jesus het alles begin en Jesus sal ALLES perfek maak – IN ALMAL!!!!! Lees self!
Open 1:8 Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde, sê die Here, wat is en wat was en wat kom, die Almagtige.
Jes 45:5-7 Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; buiten My is daar geen God nie; Ek omgord jou, hoewel jy My nie geken het nie, 6 sodat hulle kan weet van die opgang van die son en van sy ondergang af dat daar buiten My geeneen is nie; Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; 7 wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen.
1Kor 15:22-28 Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word; 23 maar elkeen in sy eie orde: as eersteling Christus, daarna die wat aan Christus behoort by sy koms. 24 Daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het. 25 Want Hy moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het. 26 Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood. 27 Want Hy het alles aan sy voete onderwerp, maar wanneer Hy sê dat alles onderwerp is, is dit duidelik dat Hy uitgesonder is wat alles aan Hom onderwerp het. 28 En wanneer alles aan Hom onderwerp is, dan sal ook die Seun self Hom onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal kan wees.