Ons aardse koningskap is TYDELIK (Deel 32)

Die stam van Juda was deur God uitverkies om die septer van koningskap tussen die 12 stamme van Israel te dra:

Gen 49:8-12 Juda, jy is dit! Jou sal jou broers loof. Jou hand sal op die nek van jou vyande wees; voor jou sal die seuns van jou vader hulle neerbuig. 9 Juda is ‘n jong leeu; van die roof af het jy opgeklim, my seun. Hy buig hom, hy gaan lê soos ‘n leeu en soos ‘n leeuin; wie sal hom opjaag? 10 Die septer sal van Juda nie wyk nie, nóg die veldheerstaf tussen sy voete uit totdat Silo kom; en aan Hom sal die volke gehoorsaam wees. 11 Hy maak sy jong esel vas aan die wingerdstok en die vul van sy eselin aan die edelste wynstok; Hy was sy kleed in wyn en sy gewaad in druiwebloed. 12 Hy is donkerder van oë as wyn en witter van tande as melk.

Maar die eerste koning van Israel was uit die stam van Benjamin:

1Sa 9:1-2 En daar was ‘n man van Benjamin met die naam van Kis, die seun van Abíël, die seun van Seror, die seun van Begorat, die seun van Afíag, ‘n Benjaminiet, ‘n vermoënde man. 2 En hy het ‘n seun gehad met die naam van Saul, ‘n jongman en mooi gebou, ja, daar was onder die kinders van Israel geeneen mooier as hy nie: van sy skouers af boontoe was hy hoër as die hele volk.

Die volk van Israel en hul leiers het gevra vir ‘n koning “soos by al die nasies”:

1Sa 8:4-5 Toe kom al die oudstes van Israel bymekaar, en hulle gaan na Samuel in Rama 5 en sê vir hom: Kyk, u is oud, en u seuns wandel nie in u weë nie; stel nou ‘n koning oor ons aan om ons te rig soos by al die nasies.

God het alles “aangewys” want Hy gee aan ons die begeertes om volgens ons eie harte te vra:

1Sa 10:17-21 En Samuel het die volk na die HERE in Mispa byeengeroep 18 en aan die kinders van Israel gesê: So spreek die HERE, die God van Israel: Ek het Israel uit Egipte laat optrek en julle gered uit die hand van die Egiptenaars en uit die hand van al die koninkryke wat julle verdruk het. 19 Maar julle verwerp vandag julle God wat julle uit al jul onheile en node verlos het, en sê: Nee, maar jy moet ‘n koning oor ons aanstel. Stel julle dan nou op voor die aangesig van die HERE volgens julle stamme en volgens julle geslagte. 20 Toe Samuel dan al die stamme van Israel laat nader kom het, is die stam van Benjamin aangewys; 21 en toe hy die stam van Benjamin volgens sy geslagte laat nader kom het, is die geslag van Matri aangewys; verder is Saul, die seun van Kis, aangewys. En hulle het hom gesoek, maar hy was nie te vinde nie.

God het die eerste koning van Israel uit die stam van Benjamin “aangewys”. Hoekom nie die stam van Juda nie? God se werkswyse is nie verstaanbaar vir ons natuurlike denke nie:

1Kor 2:14 Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.

God het Israel opgesit met ‘n koning wat Hy geweet het nie die mas gaan opkom nie. Dit was so duidelik soos daglig as hulle hul Skrifte nageslaan het. Jakob se woorde vir Juda was vasgestel deur God om aan Israel die ware koningslyn te wys. Maar die vlees met sy wêreldgees word gelei deur selfsug en selfvoldaanheid en word dan juis verblind deur sy trots en welluste.

1Jn 2:16 Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld.

Van nature belaster die vlees vir God omdat dit God en Sy geestelike dinge nie ken nie:

Rom 8:6-8 Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede, 7 omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie. 8 En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie;

Die vlees word so deur God opgestel om gevang te word en om harde maar belangrike lesse te leer:

2Pe 2:12 Maar hulle sal, omdat hulle belaster wat hulle nie ken nie, soos redelose diere wat die natuur volg, gebore om gevang en vernietig te word, in hulle verdorwenheid te gronde gaan

Koning Saul, die eerste koning van Israel, se lewe was gekenmerk deur eienaardige optredes wat sy tydgenote verstom het. Selfs vandag nog as ons Saul se storie in die Skrifte lees kan ons net ons kop skud. Maar ons moet altyd onthou dat alles wat geskryf is in die Skrifte op onsself van toepassing is! Dit is wat Jesus deur hierdie volgende woorde ook wou sê aan ons almal wat in ons natuurlike vleeslike denke net soos Satan God se teenstanders is en God versoek!

Luk 4:4 Maar Jesus antwoord en sê vir hom [die duiwel en vir ons]: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God.

Ons kan ook sien dat alles wat van fisiese Israel neergeskryf is in die Skrifte, neergeskryf is vir ‘n baie belangrike doel…

1Kor 10:11 Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het.

So, die hele Skrifte gaan eintlik oor onsself, as ons oë gegee is om dit te sien. Ons hele boek is neergeskryf lank voor ons geskep was en ons hele storie word openlik weggesteek en is verseël met “sewe seëls”:

Psa 139:16 U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.

Open 5:1 En ek het in die regterhand van Hom wat op die troon sit, ‘n boek gesien, van binne en van buite beskrywe en met sewe seëls goed verseël.

Niemand anders as Jesus Christus self kom maak die boek van ons eie lewe vir ons oop nie:

Open 5:2-5 En ek het ‘n sterk engel gesien wat met ‘n groot stem uitroep: Wie is waardig om die boek oop te maak en sy seëls te breek? 3 En niemand in die hemel of op die aarde of onder die aarde kon die boek oopmaak of daarin kyk nie. 4 En ek het baie geween, omdat daar niemand waardig bevind is om die boek oop te maak en te lees of daarin te kyk nie. 5 Toe sê een van die ouderlinge vir my: Moenie ween nie; kyk, die Leeu wat uit die stam van Juda is, die wortel van Dawid, het oorwin om die boek oop te maak en sy sewe seëls te breek.

Maar Hy staan “in die middel van die troon en die vier lewende wesens en in die middel van die ouderlinge” as ons Hom kan sien….

Open 5:6 En ek het gesien, en kyk, in die middel van die troon en die vier lewende wesens en in die midde van die ouderlinge staan daar ‘n Lam asof Hy geslag is, met sewe horings en sewe oë, wat die sewe Geeste van God is wat uitgestuur is oor die hele aarde.

Hy staan as ‘n geslagde Lam “IN DIE MIDDEL” hierdie skepsels wat Hy as troon en instrumente gebruik . Wat hierdie woord wil sê is dat die Lam IN en DEUR Sy uitverkorenes leef en werk – hulle wie Hom aanbid in gees en waarheid. Hulle is almal eenstemmig

Open 5:7-10 Hy het gekom en die boek geneem uit die regterhand van Hom wat op die troon sit; 8 en toe Hy die boek neem, val die vier lewende wesens en die vier en twintig ouderlinge voor die Lam neer, elkeen met siters en goue skale vol reukwerk, wat die gebede van die heiliges is. 9 Toe sing hulle ‘n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, 10 en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers.

Volgens hul eie belydenis is hierdie die priesters en konings deur God uitverkies uit elke stam en taal en volk en nasie. Hulle het hul eie kruis opgeneem (en is soos die Lam “geslag”) om die nuwe lewe in Christus deelagtig te word:

Open 20:4 En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee; en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God, en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie; en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank.

Mat 10:38-39 En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie. 39 Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind.

Hierdie volgelinge van Christus het almal eers gewandel “volgens die loop van hierdie wêreld…”

Efes 2:1-6 En julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes 2 waarin julle tevore gewandel het volgens die loop van hierdie wêreld, volgens die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk, 3 onder wie ons almal ook vroeër gewandel het in die begeerlikhede van ons vlees toe ons die wil van die vlees en van die sinne gedoen het; en ons was van nature kinders van die toorn net soos ook die ander. 4 Maar God, wat ryk is in barmhartigheid, het ons deur sy grote liefde waarmee Hy ons liefgehad het, 5 ook toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus—uit genade is julle gered— 6 en saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus.

Ons almal loop eers “volgens die loop van hierdie wêreld” en is soos koning Saul, voordat die nuwe koning, Dawid, oorneem. Dawid, wie uit die stam van Juda was, is die tipe van Christus se heerskappy in ons lewe.

Open 5:5 Toe sê een van die ouderlinge vir my: Moenie ween nie; kyk, die Leeu wat uit die stam van Juda is, die wortel van Dawid, het oorwin om die boek oop te maak en sy sewe seëls te breek.

Psa 78:68-72 maar die stam van Juda uitverkies, die berg Sion wat Hy liefhet. 69 En Hy het sy heiligdom soos hemelhoogtes gebou, soos die aarde wat Hy vir ewig gegrondves het. 70 En Hy het sy kneg Dawid uitverkies en hom van die skaapkrale af geneem. 71 Agter die lammerooie het Hy hom gaan weghaal, om Jakob, sy volk, op te pas en Israel, sy erfdeel. 72 En hy het hulle opgepas na die opregtheid van sy hart en hulle gelei met die verstandige oorleg van sy hande.

In ons tyd onder ons eerste koning, die vlees en bloede mens (ons “eerste mens Adam”  – 1Kor 15:45), tree ons soos Saul op. Ons is van die verkeerde stam – die verkeerde Adam. Ons sal nie regeer in vlees nie. Ons sal nie oorwinning en heerskappy hê oor die vlees as ons in hierdie vlees wil bly en aan aardse dinge vaskleef nie:

1Kor 15:50 Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.

Rom 8:8 En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie.

1Kor 1:26-29 Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; 27 maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; 28 en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, 29 sodat geen vlees voor Hom sou roem nie.

In Christus word ons oorwinnaars en ons sal regeer!

Sag 9:9 Verheug jou grootliks, o dogter van Sion! Juig, o dogter van Jerusalem! Kyk, jou Koning kom na jou; regverdig en ‘n oorwinnaar is Hy; nederig en Hy ry op ‘n esel—op ‘n jong esel, die vul van ‘n eselin.

Open 6:2 En ek het gesien, en kyk, daar was ‘n wit perd. En hy wat daarop sit, het ‘n boog; en aan hom is ‘n kroon gegee, en hy het uitgegaan as ‘n oorwinnaar en om te oorwin.

Open 19:1-16 En ná hierdie dinge het ek iets soos ‘n groot stem van ‘n groot menigte in die hemel gehoor wat sê: Halleluja, die heil en die heerlikheid en die eer en die krag aan die Here onse God! 2 Want sy oordele is waaragtig en regverdig; want Hy het die groot hoer  [ons vlees en alle vlees wat teen God staan met al hul mensgemaakte organisasies en valse gelowe] geoordeel wat die aarde met haar hoerery verderf het, en Hy het die bloed van sy diensknegte op haar gewreek. 3 En vir die tweede maal het hulle gesê: Halleluja! En haar rook gaan op tot in alle ewigheid. 4 En die vier en twintig ouderlinge en die vier lewende wesens het neergeval en God aanbid wat op die troon sit, en gesê: Amen, Halleluja! 5 En ‘n stem het uit die troon uitgegaan en gesê: Prys onse God, al sy diensknegte, en julle wat Hom vrees, klein en groot! 6 En ek het iets gehoor soos die stem van ‘n groot menigte en soos die geluid van baie waters en soos die geluid van sterk donderslae wat sê: Halleluja! want die Here God, die Almagtige, het die koningskap aanvaar. 7 Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak. 8 En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges. 9 Toe sê hy vir my: Skryf salig is die wat genooi is na die bruilofsmaal van die Lam. En hy sê vir my: Dit is die waaragtige woorde van God. 10 En ek het voor sy voete neergeval om hom te aanbid; maar hy het vir my gesê: Moenie! Ek is ‘n mededienskneg van jou en van jou broeders wat die getuienis van Jesus het. Aanbid God. Want die getuienis van Jesus is die gees van die profesie. 11 Toe het ek die hemel geopend gesien; en daar was ‘n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid. 12 En sy oë was soos ‘n vuurvlam, en op sy hoof was baie krone; en Hy het ‘n Naam wat geskrywe is, wat niemand ken nie, behalwe Hy self. 13 En Hy was bekleed met ‘n kleed wat in bloed gedoop was, en sy Naam is: Die Woord van God. 14 En die leërs in die hemel het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne. 15 En uit sy mond gaan daar ‘n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met ‘n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige. 16 En Hy dra op sy kleed en op sy heup die Naam wat geskrywe is: Die Koning van die konings en die Here van die here.

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s