Saul, die eerste koning van Israel, is die geestelike tipe van ons eie eerste koning, die vlees en bloed mens wat geskep is vanuit die stof van die aarde:
Gen 2:7 En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword.
Saul was gegee as koning aan Israel deur God nadat die volk God gevra het vir ‘n koning, “soos by al die nasies”.
1Sa 8:4-9 Toe kom al die oudstes van Israel bymekaar, en hulle gaan na Samuel in Rama 5 en sê vir hom: Kyk, u is oud, en u seuns wandel nie in u weë nie; stel nou ‘n koning oor ons aan om ons te rig soos by al die nasies. 6 Maar die woord was verkeerd in die oë van Samuel toe hulle gesê het: Gee ons ‘n koning om ons te rig, en Samuel het tot die HERE gebid. 7 Toe sê die HERE vir Samuel: Luister na die volk in alles wat hulle aan jou sê, want nie jou het hulle verwerp nie, maar My het hulle verwerp om nie koning oor hulle te wees nie. 8 Soos al die werke wat hulle gedoen het, van dié dag af dat Ek hulle uit Egipte laat optrek het tot vandag toe, dat hulle My verlaat en ander gode gedien het—so doen hulle ook met jou. 9 Luister dan nou na hulle: jy moet hulle net ernstig waarsku en hulle die reg van die koning meedeel wat oor hulle sal regeer.
Soos Adam en Eva, kan ons aardse mens nie God se opdragte volg nie – ons volg ons eie idees en oortuigings. Vlees en bloed is van nature swak en ons volg die bose sonder om teë te stribbel – alles volgens die “hand” van die Skepper (Jer 18:1-5; Rom 8:20). Ons wil eerstens die vlees tevrede stel en net soos Adam en Eva, volg ons ons welluste en trotse harte:
Gen 3:1-6 Maar die slang was listiger as al die diere van die veld wat die HERE God gemaak het. En hy sê vir die vrou: Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie? 2 En die vrou antwoord die slang: Van die vrugte van die bome in die tuin mag ons eet, 3 maar van die vrugte van die boom wat in die middel van die tuin is, het God gesê: Julle mag daarvan nie eet nie en dit nie aanroer nie, anders sal julle sterwe. 4 Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie; 5 maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken. 6 Toe sien die vrou dat die boom goed was om van te eet en dat hy ‘n lus was vir die oë, ja, ‘n boom wat ‘n mens kan begeer om verstand te verkry; en sy neem van sy vrugte en eet en gee ook aan haar man by haar, en hy het geëet.
Adam en Eva se harte was bedrieglik en verdorwe nog voor hulle van die verbode boom se vrugte geëet het:
Jer 17:9 Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?
Ons eie vlees kan nie en wil nie God as koning erken en volg nie. Israel se vraag na ‘n koning “soos by die ander nasies” beeld ons eie harte se drang na selfbeheer uit. Maar hierdie ‘beheer’ is slegs ‘n kragtige delusie wat God gestuur het waardeur ons dan ook glo dat ons ‘n sogenaamde ‘vrye’ wil het waarmee ons kan maak en breek.
2Th 2:11 En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo,
Ons aanbid die mens en sy prestasies. Ons eie vlees mislei ons en ons kan niks daaraan doen om dit te keer nie. Ons is elke dag onder sy oorweldigende verleidinge vanaf ons geboorte. Hierdie volgende woorde is nie verniet so geskryf nie – ons val almal 100% in hierdie strik van die vlees, soos God dit beplan het:
2Th 2:3 Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom….
Met die koms van die waarheid in ons lewe word hierdie “mens van sonde” belig as die “seun van verderf”….
2Th 2:3-4 Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf 4 die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is.
Hierdie “mens van sonde” mislei ons solank ons in die donkerte leef – totdat die Lig van Christus, die ware koning en Sy koninkryk in ons kom.
2Th 2:8 en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak.
Die vernietiging van hierdie “seun van verderf” is die grootste skok wat alle aardse konings sal beleef. Maar in sy tyd van heerskappy is hierdie “mens van sonde” onder God se dwaling wat verhoed dat ons kan sien wat regtig aangaan in ons lewe en die lewe van ander mense om ons:
2Th 2:11 En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo,
2Th 2:6-7 En nou, julle weet wat hom teëhou, sodat hy op sy tyd geopenbaar kan word. 7 Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is.
In ons tyd onder die invloed van God se kragtige dwaling raadpleeg ons ons eie idees en oortuiginge – ons is totaal verlief op onsself en ons manier van dinge doen:
Spr 28:26 Wie op sy eie hart vertrou, hy is ‘n dwaas…..
Spr 12:15 Die weg van ‘n dwaas is reg in sy eie oë….
Ons soek en aanvaar dus ons eie raad. Koning Saul het bekend geword vir hierdie eienskap. Hoor wat sê Samuel vir Saul toe Saul juis sy eie raad en planne as meer belangrik geag het as God se opdragte:
1Sa 15:23 Want wederstrewigheid is ‘n sonde van waarsêery, en eiesinnigheid is afgodery en beeldediens. Omdat jy die woord van die HERE verwerp het, het Hy jou as koning verwerp.
Wederstrewigheid is ‘n sonde van waarsêery! Eiesinnigheid is afgodery en beeldediens. As ons eerlik is dan sal ons almal erken dat ons al hierdie sondes self gedoen het – nie een keer nie, maar dwarsdeur ons hele lewe. Kom ons lees weer hoe ons almal mislei word deur ons eie aardse ‘beeld’ en afgod, die “mens van sonde”, as hy aan ons geopenbaar word:
2Th 2:3-4 Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf 4 die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is.
Wel ons is almal skuldig aan waarsêery, afgodery en beeldediens. Ons het presies gedoen wat God verbied het:
Deu 18:9-13 As jy kom in die land wat die HERE jou God jou sal gee, moet jy nie leer om volgens die gruwels van daardie nasies te doen nie. 10 Daar mag niemand by jou gevind word wat sy seun of sy dogter deur die vuur laat deurgaan—wat met waarsêery, goëlery of met verklaring van voortekens of towery omgaan nie, 11 of wat met besweringe omgaan, of wat ‘n gees van ‘n afgestorwene vra of ‘n gees wat waarsê, of wat die dooies raadpleeg nie. 12 Want elkeen wat hierdie dinge doen, is vir die HERE ‘n gruwel; en om hierdie gruwels ontwil verdryf die HERE jou God hulle voor jou uit. 13 Opreg moet jy wees met die HERE jou God.
Al hierdie sondes is gekoppel aan mekaar – waarsêery, goëlery, verklaring van voortekens, towery, besweringe, die omgaan met ‘n gees van ‘n afgestorwene, die omgaan met ‘n gees wat waarsê, en ons raadpleeg ook die dooies. Luister na die volgende woorde van Paulus. Onthou Paulus praat hier met gelowiges in Efese…en met ons wat hierdie woorde glo as God se Woorde aan ons:
Efes 2:1-3 En JULLE het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes 2 waarin JULLE tevore gewandel het volgens die loop van hierdie wêreld, volgens die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk, 3 onder wie ONS almal ook vroeër gewandel het in die begeerlikhede van ONS vlees toe ONS die wil van die vlees en van die sinne gedoen het; en ONS was van nature kinders van die toorn net soos ook die ander.
As jy sê dat jy nie almal die dinge doen of gedoen het nie, dan is jy geestelik blind en jy sê God se woorde oor die mens se sondige toestand is nie op jou van toepassing nie. Dan is jy soos Saul wat wette maak vir ander en nie weet dat hy self God se wette en selfs sy eie wette oortree nie. In so ‘n toestand hoor mens nie die woord van God nie – ons geestelike ore is styftoe. So was dit ook met Saul, veral toe Samuel, die profeet, sterf en God self ook nie met Saul gekommunikeer het nie:
1Sa 28:3-6 En Samuel het gesterwe, en hulle het oor hom gerouklaag, die hele Israel, en hom begrawe in Rama, naamlik in sy stad. En Saul het die dodebesweerders en die waarsêers uit die land verwyder. 4 Daarop het die Filistyne bymekaargekom en ingetrek en laer opgeslaan in Sunem. En Saul het die hele Israel versamel, en hulle het laer opgeslaan op Gilbóa. 5 Toe Saul die leër van die Filistyne sien, het hy bevrees geword, en sy hart het baie gebewe. 6 En Saul het die HERE geraadpleeg, maar die HERE het hom nie geantwoord nie—nie deur drome en nie deur die Urim en nie deur die profete nie.
Saul het die dodebesweerders en die waarsêers uit die land verwyder, maar hy het self ‘n dodebesweerster geraadpleeg in sy tyd van vrees en geestelike afval:
1Sa 28:5-9 Toe Saul die leër van die Filistyne sien, het hy bevrees geword, en sy hart het baie gebewe. 6 En Saul het die HERE geraadpleeg, maar die HERE het hom nie geantwoord nie—nie deur drome en nie deur die Urim en nie deur die profete nie. 7 En Saul sê aan sy dienaars: Soek julle vir my ‘n vrou wat ‘n dodebesweerster is, dat ek na haar kan gaan en haar raadpleeg. En sy dienaars sê vir hom: Daar is ‘n vrou, ‘n dodebesweerster, in Endor. 8 Daarop het Saul hom onkenbaar gemaak en ander klere aangetrek en weggegaan, hy en twee manne saam met hom. En toe hulle in die nag by die vrou aankom, sê hy: Voorspel tog vir my deur die gees van ‘n afgestorwene en laat vir my opkom die een wat ek jou sal noem.
‘n Onherkenbare Saul wou hê dat die dodebesweerster moes ‘n voorspelling maak deur die gees van ‘n afgestorwene, naamlik Samuel.
1Sa 28:9-11 Maar die vrou sê vir hom: Jy weet tog self wat Saul gedoen het; hoe hy die dodebesweerders en waarsêers uit die land uitgeroei het. Waarom stel jy dan ‘n val vir my op om my dood te maak? 10 Toe sweer Saul vir haar by die HERE en sê: So waar as die HERE leef, geen straf sal jou ter wille hiervan tref nie! 11 En die vrou vra: Wie moet ek vir jou laat opkom? En hy sê: Laat Samuel vir my opkom.
Die volgende gebeure skep groot probleme vir die natuurlike denke omdat geestelike dinge nie verstaan kan word deur ons natuurlike denke nie (1Kor 2:14):
1Sa 28:12-19 Maar toe die vrou Samuel sien, skreeu sy hardop, en die vrou het met Saul gespreek en gesê: Waarom het u my bedrieg? Want u is Saul self. 13 En die koning antwoord haar: Wees nie bevrees nie; maar wat sien jy? En die vrou sê vir Saul: Ek sien ‘n bonatuurlike wese uit die aarde opkom. 14 Hy vra haar toe: Hoe is sy voorkoms? En sy antwoord: ‘n Ou man kom op met ‘n mantel om. Toe Saul begryp dat dit Samuel is, buig hy met sy aangesig na die aarde toe en val neer. 15 En Samuel sê vir Saul: Waarom verontrus jy my deur my te laat opkom? En Saul antwoord: Ek is baie benoud, want die Filistyne voer teen my oorlog, en God het van my gewyk en antwoord my nie langer deur die diens van die profete en ook nie deur drome nie; daarom het ek u geroep om my bekend te maak wat ek moet doen. 16 En Samuel sê: Maar waarom raadpleeg jy my terwyl die HERE van jou gewyk en jou vyand geword het? 17 Die HERE het dan vir Homself gedoen soos Hy deur my diens gespreek het, en die HERE het die koningskap uit jou hand geskeur en dit aan jou naaste, aan Dawid, gegee. 18 Omdat jy nie na die stem van die HERE geluister en die gloed van sy toorn teen Amalek nie uitgevoer het nie, daarom het die HERE jou vandag hierdie ding aangedoen. 19 En die HERE sal Israel ook saam met jou in die hand van die Filistyne gee, en môre sal jy met jou seuns by my wees; ook die leër van Israel sal die HERE in die hand van die Filistyne gee.
Ons moet ‘n paar dinge eers in hul plek sit en die storie van Saul se besoek aan hierdie dodebesweerster sal duidelik word. Kyk eers wat die vrou vir die steeds onherkenbare Saul vra:
En die vrou vra: Wie moet ek vir jou laat opkom?
Kyk na Saul se antwoord:
Laat Samuel vir my opkom.
Saul het dus aan haar die nodige informasie gegee wat sy nou kon gebruik om hom tevrede te stel. So werk ‘n waarsêergees. Hierdie gees kry informasie op baie subtiele maniere van hulle wie hierdie tipe mense raadpleeg. Hierdie bedrieërs gebruik dan die informasie om die hoorders se ore te streel. Klink dit bekend?
2Ti 4:3-4 want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, 4 en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.
Ja, dit is veral mense wat hul voordoen as Christelike leraars en profete is bedrieglike arbeiders. Vra tog net aan jouself waar jy die maklikste bedrieg sal word sonder dat jy enige onraad bemerk?
2Kor 11:13-14 Want sulke mense is valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulleself verander in apostels van Christus. 14 En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ‘n engel van die lig.
Paulus se waarskuwing aan die leiers in Efese is vandag net so van krag, indien nie meer nie:
Hand 20:28-30 Gee dan ag op julleself en op die hele kudde waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het om as herders die gemeente van God te versorg, wat Hy deur sy eie bloed verkry het. 29 Want ek weet dit, dat ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie. 30 Ja, uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan.
Israel se leiers was deur God gewaarsku dat Hy self hulle sou verlei as hulle na valse profete (of profetesse) sou raadpleeg. So verwoord die profeet Esegiël hierdie waarskuwing:
Eseg 14:1-5 Daarop het manne uit die oudstes van Israel na my gekom en voor my gaan sit. 2 Toe het die woord van die HERE tot my gekom en gesê: 3 Mensekind, hierdie manne het hulle drekgode in hulle hart opgeneem en die struikelblok tot hulle ongeregtigheid voor hulle aangesig neergesit—sou Ek My dan werklik deur hulle laat raadpleeg? 4 Daarom, spreek met hulle en sê vir hulle: So spreek die Here HERE: Elke man uit die huis van Israel wat sy drekgode in sy hart opneem en die struikelblok tot sy ongeregtigheid voor sy aangesig neersit en na die profeet toe kom—Ek, die HERE, sal hom daarvolgens, volgens die menigte van sy drekgode, antwoord gee; 5 sodat Ek die huis van Israel in hulle hart kan gryp, omdat hulle almal deur hul drekgode hul van My afgewend het.
Hier in koning Saul se geval vind ons een van die praktiese voorbeelde hoe God mense antwoord volgens hul eie harte se denke. Hierdie dodebesweerster en Saul was albei deur God se kragtige dwaling verstrik.
2Th 2:11 En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo,
Die krag van die dwaling is iets wat ons natuurlike mens opeet soos soetkoek. Ons aardse mens is baie swak en dit is totaal afhanklik van die vyf sintuie. As ons natuurlike mens iets kan sien, hoor , voel, proe en ruik, dan is dit eg, dit is waarheid en dit is die werklikheid. Maar dit is nie. Selfs wonders en tekens in die Here se Naam is geen waarborg van waarheid, geestelike insig of ‘n heilige lewenswandel nie! Om die waarheid te sê, dit kan net die teenoorgestelde wees – ons is gewaarku deur Jesus self!
Mat 7:20-23 So sal julle hulle dan aan hul vrugte ken. 21 Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. 22 Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? 23 En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!
Fisiese tekens en wonders in die Here se naam is alles deel van God se kragtige dwaling waarmee ons natuurlike mens verstrik en verblind word om nie die waarheid te kan sien, en die geestelike dinge van God en Sy koninkryk te kan ervaar nie.
Luk 17:20-21 En toe Hy deur die Fariseërs gevra is wanneer die koninkryk van God sal kom, het Hy hulle geantwoord en gesê: Die koninkryk van God kom nie met sigbare tekens nie. 21 En hulle sal nie sê: Kyk hier! of: Kyk daar! nie; want die koninkryk van God is binne-in julle.
Die Here het Saul en die dodebesweerster presies geantwoord volgens hul eie bedrieglike en verdorwe hart se oortuigings en wat hulle aardse sintuie wou ervaar.
Eseg 14:9 En as die profeet hom laat verlei om ‘n woord te spreek—Ek, die HERE, het dié profeet verlei, en Ek sal my hand teen hom uitstrek en hom verdelg uit die midde van my volk Israel.
God inderdaad verlei mense volgens wat hulle wil glo en ervaar:
Psa 18:26 (18:27) by die reine rein; maar by die valse betoon U Uself verkeerd.
Saul kon nie die persoon sien wat, volgens die vrou, uit die dode opgestaan het – sy vrae “wat sien jy?” en “hoe is sy voorkoms?” verraai sy liggelowigheid! Saul in sy domastrantheid het die woorde van hierdie dodebesweerster as waarheid aanvaar! Die Skrifte beskryf haar woorde aan Saul.
1Sa 28:12-14 Maar toe die vrou Samuel sien, skreeu sy hardop, en die vrou het met Saul gespreek en gesê: Waarom het u my bedrieg? Want u is Saul self. 13 En die koning antwoord haar: Wees nie bevrees nie; maar wat sien jy? En die vrou sê vir Saul: Ek sien ‘n bonatuurlike wese uit die aarde opkom. 14 Hy vra haar toe: Hoe is sy voorkoms? En sy antwoord: ‘n Ou man kom op met ‘n mantel om. Toe Saul begryp dat dit Samuel is, buig hy met sy aangesig na die aarde toe en val neer.
Wat sy gesien het was ook volgens God se dwaling opgestel en sy kon selfs uitvind dat dit Saul is wat haar kom besoek het – teen sy eie gebod! Saul se ‘begrip’ was ook gebaseer op die dwaling wat die vrou geglo het. Saul se aangesig was na die aarde gedraai en hy kon die woorde hoor van ‘n valse bose gees wat in Samuel se naam met hom praat. As ons weet dat alles geeste aan God gehoorsaam is, dan sal ons ook weet waarom hierdie bose gees God se woorde aan Saul kon bring (lees maar gerus weer Job 1 en 2 noukeurig en sien hoe God met Satan self werk, sodat ons kan weet dat nie een gees opereer onafhanklik van God se totale beheer en heerskappy nie):
Heb 12:9 Verder, ons het ons vaders na die vlees as kastyders gehad, en ons het vir hulle ontsag gehad; moet ons nie veel meer aan die Vader van die geeste onderworpe wees en lewe nie?
God bring nou aan koning Saul die woorde wat Saul nie wou hoor nie – alles kom deur ‘n bose gees wat onder die naam van Samuel opereer volgens God se voorskrifte:
1Sa 28:15-19 En Samuel sê vir Saul: Waarom verontrus jy my deur my te laat opkom? En Saul antwoord: Ek is baie benoud, want die Filistyne voer teen my oorlog, en God het van my gewyk en antwoord my nie langer deur die diens van die profete en ook nie deur drome nie; daarom het ek u geroep om my bekend te maak wat ek moet doen. 16 En Samuel sê: Maar waarom raadpleeg jy my terwyl die HERE van jou gewyk en jou vyand geword het? 17 Die HERE het dan vir Homself gedoen soos Hy deur my diens gespreek het, en die HERE het die koningskap uit jou hand geskeur en dit aan jou naaste, aan Dawid, gegee. 18 Omdat jy nie na die stem van die HERE geluister en die gloed van sy toorn teen Amalek nie uitgevoer het nie, daarom het die HERE jou vandag hierdie ding aangedoen. 19 En die HERE sal Israel ook saam met jou in die hand van die Filistyne gee, en môre sal jy met jou seuns by my wees; ook die leër van Israel sal die HERE in die hand van die Filistyne gee.
Ja, God gebruik ook die bose en kwaaddoeners vir Sy doel:
Spr 16:4 Alles het die HERE gemaak vir sy doel, ja, ook die goddelose vir die dag van onheil.
Jes 54:16 Kyk, Ék het die smid geskape wat die koolvuur aanblaas en ‘n wapen voortbring volgens sy ambag; ook het Ék die verderwer geskape om te verniel.
Psa 17:13 KJV Arise, O LORD, disappoint him, cast him down: deliver my soul from the wicked, which is thy sword:
Die ware Samuel was dood en hier is die waarheid volgens die Skrifte oor alle dooie mense:
Pred 9:5-6 Want die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie, en hulle het geen loon meer nie, want hulle nagedagtenis word vergeet. 6 Hulle liefde sowel as hulle haat, ook hulle naywer, het lankal verdwyn, en hulle het vir ewig geen deel meer aan alles wat gebeur onder die son nie.
Dooie mense kan net aan ons “verskyn” en met ons “praat” as God hulle na ons bring deur ‘n visioen (‘n tipe droomgesig). Kyk na hierdie voorbeeld:
Mat 17:1-9 En ná ses dae het Jesus vir Petrus en Jakobus en Johannes, sy broer, saamgeneem en hulle op ‘n hoë berg in die eensaamheid gebring. 2 En Hy het voor hulle van gedaante verander, en sy aangesig het geblink soos die son, en sy klere het wit geword soos die lig. 3 En kyk, daar verskyn aan hulle Moses en Elía in gesprek met Hom. 4 Toe begin Petrus vir Jesus te sê: Here, dit is goed dat ons hier is; as U wil, laat ons hier drie hutte maak: vir U een en vir Moses een en een vir Elía. 5 Terwyl hy nog spreek, oordek ‘n helderligte wolk hulle meteens en daar sê ‘n stem uit die wolk: Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het. Luister na Hom! 6 En toe die dissipels dit hoor, het hulle op hul aangesig geval en was baie bevrees. 7 En Jesus het nader gekom en hulle aangeraak en gesê: Staan op en moenie vrees nie. 8 Toe slaan hulle hul oë op en sien niemand meer nie, behalwe Jesus alleen. 9 En onderwyl hulle van die berg afklim, het Jesus hulle bevel gegee en gesê: Julle moet vir niemand iets van die gesig sê voordat die Seun van die mens uit die dode opgestaan het nie.
Moses en Elía was nie fisies daar nie, maar Jesus sê duidelik dat dit net ‘n “gesig” was. Jesus, Petrus, Jakobus en Johannes het dieselfde “gesig” gedeel en nie een van hulle het ooit gepreek dat dooie mense lewe nie. God se Woord en Sy diensknegte is eenstemmig oor die waarheid soos dit voorkom in die hele Skrifte. Jesus het nog nooit Sy dissipels valshede geleer nie:
Psa 119:160 Die hele inhoud van u woord is waarheid, en al u regverdige verordeninge is tot in ewigheid.
Joh 17:17 Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid.
Maar as ons deur Godse kragtige dwaling verlei word, soos koning Saul, dan leef ons nie in die waarheid nie:
2Th 2:10-12 …met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie. 11 En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo, 12 sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid.
Saul se lot was beklink. Hy sou binnekort self na die doderyk gaan en van niks weet wat na hom op die aarde gebeur het nie. Hy sou nooit weer deel hê aan enigiets wat “onder die son” gebeur nie. Dit is die toestand van alle dooie mense!