Ons aardse koningskap is TYDELIK (Deel 34)

Koning Saul se einde het ten einde laas aangebreek:

1Sa 31:1-6 Terwyl die Filistyne teen Israel veg, het die manne van Israel vir die Filistyne weggevlug, en gesneuweldes het op die gebergte Gilbóa gelê. 2 En die Filistyne het Saul en sy seuns agternagesit, en die Filistyne het Jónatan en Abinádab en Malkisúa, die seuns van Saul, gedood. 3 Toe die geveg dan swaar word teen Saul, en die manne, die boogskutters, hom aantref, het hy gebewe van angs vir die skutters. 4 En Saul het aan sy wapendraer gesê: Trek jou swaard uit en deurboor my daarmee, anders kom hierdie onbesnedenes en deurboor my en dryf die spot met my. Maar sy wapendraer wou nie, omdat hy baie bevrees was. Daarop neem Saul die swaard en val daarin. 5 Toe sy wapendraer sien dat Saul dood was, het hy self ook in sy swaard geval en saam met hom gesterf. 6 So het dan Saul en sy drie seuns en sy wapendraer, ook al sy manne op dieselfde dag almal saam gesterwe.

In hierdie woorde is daar baie geestelike lesse te leer, en ons gaan kortliks na ‘n paar verwys in die volgende artikels.

Eerstens wil ons kyk na die tydperk van Saul se heerskappy. Koning Saul, die eerste koning van Israel, het 40 jaar oor Israel regeer:

Hand 13:21 ….en God het aan hulle gegee Saul, die seun van Kis, ‘n man uit die stam van Benjamin, veertig jaar lank.

In geestelike terme verteenwoordig die getal 40 ons tydperk waar ons onder die heerskappy van ons eie koning, ons vlees en bloed mens, moet staan – soos deur God bepaal. Hierdie tyd in vlees, ons tyd “onder die hemel”, is ‘n “moeilike taak” volgens die Skrifte. Dit is ‘n tyd van kwellinge en beproewinge:

Pred 1:13 En ek het my hart daarop gerig om met wysheid te ondersoek en na te speur alles wat onder die hemel gebeur. Dit is ‘n moeilike taak wat God aan die mensekinders gegee het om hulle daarmee te kwel.

Dit is die tydperk van die heerskappy van ons “eerste mens Adam”, alles onder God se totale beheer! Dit is die tydperk waar ons die beeld van die “aardse” dra voordat ons “die beeld van die hemelse dra”.

1Kor 15:45-49 So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees. 46 Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike. 47 Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel. 48 Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. 49 En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra.

Die samestelling van die getal 40 is baie insiggewend. Onder andere word die getal 40 saamgestel uit die getal 4 wat vermenigvuldig met die getal 10 en hierdie verbintenis bring die negatiewe toepassing van die getal 40 na vore. In geestelike terme verwys die getal ‘vier’ na hoe God alles tot ‘n geheel saambind, terwyl die getal ‘tien’ geestelik koppel met alles wat die vlees as belangrik beskou en wat dit wil doen om God tevrede te stel.

Open 13:1 (12:18) En ek het op die sand van die see gaan staan. (13:1) En ek het ‘n dier uit die see sien opkom met sewe koppe en tien horings, en op sy horings tien krone en op sy koppe ‘n naam van godslastering.

Wie is hierdie dier?

Open 13:18 Hier kom die wysheid te pas. Wie die verstand het, laat hom die getal van die dier bereken, want dit is die getal van ‘n mens; en sy getal is ses honderd ses en sestig.

Pred 3:18 Ek het in my hart gesê: Ter wille van die mensekinders gebeur dit, dat God hulle kan beproef, en dat hulle kan insien dat hulle in hulleself vee is.

Hierdie “dier” is die “mens van sonde” wat op God se troon sit en God laster:

2Th 2:3-4 Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf 4 die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is.

Die tien horings en tien krone op die hoof van hierdie “dier” laster God omdat die mens glo dat hy regtig heers, en kan maak en breek soos hy wil, deur sy sogenaamde ‘vrye’ wil. Ons vlees glo ook dat hy God kan behaag. Maar dit is ‘n infame leuen en totale onsin wat ons almal sal uitvind op die regte tyd, soos deur God bepaal:

1Kor 1:26-30 Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; 27 maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; 28 en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, 29 sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. 30 Maar deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing.

Rom 8:8 En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie.

1Kor 2:14 Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.

Die vlees poog altyd om God se geestelike standaarde te bereik, maar faal geheel en al in die proses. Een goeie voorbeeld hiervan is die tien gebooie van die wet van Moses:

Jak 2:10 Want wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, het aan almal skuldig geword.

Die vleeslike wette was nooit veronderstel om ons as mens voor God te regverdig nie. Ons probleem lê nie by die uiterlike behoudenis nie, hoe mooi en reg dit ook al is. Ons probleem is ons hart. Dit is wat Adam en Eva uitgevind het. Dit is wat Saul uitgevind het. Dit is wat die volk van Israel moes uitvind.

Jer 18:1-6 Die woord wat van die HERE tot Jeremia gekom het: 2 Maak jou klaar en gaan af na die huis van die pottebakker, en daar sal Ek jou my woorde laat hoor. 3 Toe het ek afgegaan na die huis van die pottebakker, en hy was juis besig om ‘n stuk werk op die skywe te maak. 4 En die voorwerp wat hy besig was om te maak, het misluk—soos dit gaan met klei in die hand van die pottebakker—maar hy het daaruit weer ‘n ander voorwerp gemaak soos dit in die oë van die pottebakker reg was om dit te maak. 5 Toe het die woord van die HERE tot my gekom en gesê: 6 Sal Ek nie soos hierdie pottebakker met julle kan maak nie, o huis van Israel? spreek die HERE. Kyk, soos klei in die hand van die pottebakker, so is julle in my hand, o huis van Israel!

Dit is wat ons almal moet uitvind. Daar is ‘n groot probleem met die natuurlike mens en God het dit doelbewus so geskep.

Rom 8:20 Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het.

As enigeen dink dat hy almal (die getal vier) die tien gebooie onder Moses se wet kan hou, en ook alle menslike wette, dan is daar nog steeds ‘n groot probleem – ons is almal skuldig aan die geestelike wet van God. As ons dit kan sien, dan beweeg ons na die positiewe toepassing van die getal 40.

Rom 7:21-25 Ek vind dus hierdie wet: as ek die goeie wil doen, is die kwaad by my aanwesig. 22 Want ek verlustig my in die wet van God na die innerlike mens; 23 maar ek sien ‘n ander wet in my lede wat stryd voer teen die wet van my gemoed en my gevange neem onder die wet van die sonde wat in my lede is. 24 Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood? 25 Ek dank God deur Jesus Christus, onse Here! (7:26) So dien ek self dan wel met die gemoed die wet van God, maar met die vlees die wet van die sonde.

Rom 8:1-8 Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees. 2 Want die wet van die Gees van die lewe in Christus Jesus het my vrygemaak van die wet van die sonde en die dood. 3 Want God het wat vir die wet onmoontlik was, omdat dit kragteloos was deur die vlees deur sy eie Seun in die gelykheid van die sondige vlees te stuur, en dit ter wille van die sonde, die sonde veroordeel in die vlees, 4 sodat die reg van die wet vervul kon word in ons wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees. 5 Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge. 6 Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede, 7 omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie. 8 En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie;

Die wet van die gees deur Christus Jesus maak ons vry van die onmoontlike verwagtinge van die wet van die vlees. Ons kan nooit God se geestelike koninkryk beërf deur aardse of fisiese dinge nie. Die aardse moet vloei vanuit die geestelike, nie andersom nie.

Heb 11:1-3 Die geloof dan is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie. 2 Want daardeur het die mense van die ou tyd getuienis ontvang. 3 Deur die geloof verstaan ons dat die wêreld deur die woord van God toeberei is, sodat die dinge wat gesien word, nie ontstaan het uit sienlike dinge nie.

Ons aardse goeie werke moet kom uit die geestelike werke van God:

Fil 2:12-13 Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam gewees het, nie in my teenwoordigheid alleen nie, maar baie meer nou in my afwesigheid, werk julle eie heil uit met vrees en bewing; 13 want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.

Adam en Eva was nie perfek nie en die bewys is opgeteken voor almal se oë en in almal se persoonlike lewens. Die aardse mens kan nie God se wet hou nie. Saul se tydperk as koning dui op die negatiewe toepassing van die getal 40 omdat hy die verwerpte gesalfde koning van God was. Dit is wat die vlees is. Vlees en bloed was nog nooit veronderstel om oor of in God se geestelike koninkryk te heers nie:

1Kor 15:50 Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.

Dit die geestelike mens, Jesus Christus, wat God se ideale koning is – ‘n man na God se hart. Die getal 40 was dan ook die tydperk van koning Dawid se heerskappy wat juis vir ons gegee was as voorbeeld en geestelike tipe van Jesus se tydperk van heerskappy in ons lewe wat volg op ons aardse koning se heerskappy:

1Ki 2:11 En die dae wat Dawid oor Israel geregeer het, was veertig jaar; in Hebron het hy sewe jaar geregeer, en in Jerusalem het hy drie en dertig jaar geregeer.

Hierdie positiewe toepassing van die getal 40 word dan ook verkry deur die vermenigvuldiging van die getalle 5 en 8. Die getal 5 bring die genade van God na ons deur geloof. God het vyf offers in die ou verbond daargestel as tipes van hoe ons sal kan verstaan hoe ons deur die proses geneem word om God se denke en Sy geestelike beeld deelagtig te word:

  • die brandoffer (lees veral Levitikus  1)
  • die spysoffer (lees veral Levitikus 2)
  • die dankoffer (lees veral Levitikus 3)
  • die sondoffer (lees veral Levitikus 4 en 5)
  • die skuldoffer (lees veral Levitikus 5 to 7)

Dit is slegs deur “welgevallige” offers dat ons die tempel van God kan binnegaan, deur God se oordeelsproses waartydens ons daagliks sterf:

Gal 2:20 Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.

Mat 10:38-39 En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie. 39 Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind.

1Kor 15:31 Ek sterf dag vir dag, broeders, so waar as ek op julle roem in Christus Jesus, onse Here.

Open 15:8 En die tempel het vol rook geword uit die heerlikheid van God en uit sy krag, en niemand kon ingaan in die tempel voordat die sewe plae van die sewe engele voleindig was nie.

Die getal ‘vyf’ bring hierdie waarheid na ons dat God die lewe van Christus aan ons skenk “deur die geloof” sodat ons slegs in die werke van die Seun van God in ons kan vertrou tot saligheid!

Efes 2:8-10 Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; 9 nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie. 10 Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.

Ons word “uit genade…deur die geloof” gered van ons vlees en sy houvas op ons sodat ons “goeie werke”, die vrug van die gees, kan voortbring:

Tit 2:11-12 Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn 12 en leer [Grieks: “paideuō”] ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe,

Gal 5:22 Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.

Die getal 8 verwys geestelike na die innerlike besnydenis van die hart tot die nuwe lewe van Christus (die nuwe week). Deur die dood van die ou mens, die ou koning van die vlees, word die nuwe koning gevestig!!!

 Lev 12:3 En op die agtste dag moet hy aan die vlees van sy voorhuid besny word.

Lev 14:23 Hy moet hulle dan op die agtste dag ná sy reiniging na die priester bring by die ingang van die tent van samekoms voor die aangesig van die HERE.

Rom 2:28-29 Want nie hy is ‘n Jood wat dit in die openbaar is nie, en nie dít is besnydenis wat dit in die openbaar in die vlees is nie; 29 maar hy is ‘n Jood wat dit in die verborgene is, en besnydenis is dié van die hart, in die gees, nie na die letter nie. Sy lof is nie uit mense nie, maar uit God.

Fil 3:3 Want óns is die besnydenis, ons wat God in die Gees dien en in Christus Jesus roem en nie op die vlees vertrou nie;

Open 17:11 En die dier wat was en nie is nie, is self ook die agtste, en hy behoort by die sewe en gaan na die verderf.

Lees gerus ons kort studies oor hierdie getalle by hierdie skakels:

https://4windkoinonia.wordpress.com/2016/09/20/die-geestelike-betekenis-van-syfergetalle-8/

https://4windkoinonia.wordpress.com/2016/09/07/die-geestelike-betekenis-van-syfergetalle-5/

https://4windkoinonia.wordpress.com/2016/09/02/die-geestelike-betekenis-van-syfergetalle-4/

https://4windkoinonia.wordpress.com/2016/09/29/die-geestelike-betekenis-van-syfergetalle-10/

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s