Ons aardse koningskap is TYDELIK (Deel 36)

By iemand se afsterwe is daar by die geliefdes en kennisse baie hartseer en verdriet. Hulle wil dan aan mooi dinge dink van die persoon, en wil woorde hoor van opbouing en troos. Maar daar is ook altyd ander mense wat nie so naby aan die persoon was nie, wat ook dinge dink en praat oor die afgestorwene vanuit hulle onderskeie perspektiewe. Alles het maar sy plek en so leef ons saam met mense, en neem ons ook afskeid van mense. Ons almal loop die aardse doodspad en mens tree mensliewend op teenoor ander sover as moontlik:

Rom 12:18 as dit moontlik is, sover as dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.

Tog het baie mense probleme met ander mense en dan wag sommige tot net voor die dood om dinge uit te praat. Vir ander is die tyd na die dood beter om dinge kwyt te raak wat gepla het. Ons almal sal hierdie dinge beleef een of ander tyd. Ons eie aardse mens is nie perfek nie en tog praat ons so graag oor ander se gebreke en tekortkominge.

Koning Saul is een van die Bybel se geestelike tipes van ons eie aardse mens, die eerste Adam, vir wie God “gekroon” het en oor die werke van Sy hande aangestel het:

 Heb 2:6-8 maar iemand het êrens getuig en gesê: Wat is die mens, dat U aan hom dink, of die mensekind, dat U hom besoek? 7 U het hom ‘n weinig minder as die engele gemaak; met heerlikheid en eer het U hom gekroon en hom oor die werke van u hande aangestel. 8 Alle dinge het U onder sy voete gestel. Want in die onderwerping van alle dinge aan hom het Hy niks uitgesonder wat aan hom nie onderworpe is nie. Maar nou sien ons nog nie dat alle dinge aan hom onderwerp is nie;

Saul het 40 jaar oor Israel geheers en toe gesterf. Wat sal mens nou sê by koning Saul se afsterwe? Daar is wel ‘n hele paar dinge wat ons kan sê van Saul alhoewel ons hom nie persoonlik geken het nie. As ons oë gegee word om dit te kan sien, sal ons ook weet dat Saul se lewe reflekteer eintlik ons eie lewe in vlees. Die Skrifte is dan juis geskryf sodat ons kan kommentaar lewer oor die mense wat daarin genoem word. Hier is die rede:

Luk 4:4 Maar Jesus antwoord en sê vir hom: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God.

Ja! Ons lewe word totaal uitgebeeld in die hele Skrif – ook in elke persoon se lewe wat daarin genoem word. Dit alles is direk op ons van toepassing het – as ons dit kan sien:

1Kor 10:11 Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het.

Ons het in hierdie reeks ‘n hele paar dinge uit Saul se lewe uitgehaal wat ons baie help met ons eie lewe. Maar ons kan ook baie dinge leer oor wat neergeskryf was oor Saul se dood.

1Sa 31:1-6 Terwyl die Filistyne teen Israel veg, het die manne van Israel vir die Filistyne weggevlug, en gesneuweldes het op die gebergte Gilbóa gelê. 2 En die Filistyne het Saul en sy seuns agternagesit, en die Filistyne het Jónatan en Abinádab en Malkisúa, die seuns van Saul, gedood. 3 Toe die geveg dan swaar word teen Saul, en die manne, die boogskutters, hom aantref, het hy gebewe van angs vir die skutters. 4 En Saul het aan sy wapendraer gesê: Trek jou swaard uit en deurboor my daarmee, anders kom hierdie onbesnedenes en deurboor my en dryf die spot met my. Maar sy wapendraer wou nie, omdat hy baie bevrees was. Daarop neem Saul die swaard en val daarin. 5 Toe sy wapendraer sien dat Saul dood was, het hy self ook in sy swaard geval en saam met hom gesterf. 6 So het dan Saul en sy drie seuns en sy wapendraer, ook al sy manne op dieselfde dag almal saam gesterwe.

Saul was die eerste koning van Israel, maar God het hom verwerp as koning omdat hy nie in God se weë gewandel het nie. Dit is die storie van ons eie vleeslike lewe. Ons wil so graag ‘reg’ lewe, maar ons faal aanhoudend. Van die eerste dinge wat ons hier lees is die aspek van vrees in Saul se lewe, maar veral by sy dood.

1Sam 31:3 Toe die geveg dan swaar word teen Saul, en die manne, die boogskutters, hom aantref, het hy gebewe van angs vir die skutters.

Saul was gevul deur angs want hy kon sien dat die oomblik van sy dood gekom het. Saul se lewe was gekenmerk deur vrees. Kyk wat doen Saul nadat hy uitgewys was om as koning op te tree in Israel:

1Sa 10:20-23 Toe Samuel dan al die stamme van Israel laat nader kom het, is die stam van Benjamin aangewys; 21 en toe hy die stam van Benjamin volgens sy geslagte laat nader kom het, is die geslag van Matri aangewys; verder is Saul, die seun van Kis, aangewys. En hulle het hom gesoek, maar hy was nie te vinde nie. 22 En hulle het die HERE verder geraadpleeg: Het nog iemand hierheen gekom? En die HERE sê: Kyk, hy het tussen die pakgoed weggekruip. 23 Daarop het hulle geloop en hom daarvandaan gebring; en toe hy tussen die mense gaan staan, was hy van sy skouers af boontoe hoër as die hele volk.

Saul is soos ons wat dink dat ons belangrik is omdat ons (volgens ons trotsheid en in ons eie oë) uitstaan bo ander. Ons is dan kwansuis skaam as God ons uitwys, volgens ons eie drekgod van trots (Eseg 14:1-9). Dan begin ons vrees omdat ons weet ons sal moet uithaal en wys! Ons begeerlikhede van die vlees (deur ons oë en eie grootsheid) is die gees van die wêreld in ons:

1Jn 2:16 Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe —is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld.

Saul het sy vyande gevrees en hierdie vrees van Saul was oorgedra aan sy soldate en die hele volk van Israel:

1Sa 13:5-7 En die Filistyne het bymekaargekom om teen Israel te veg: drie duisend strydwaens en ses duisend perderuiters en voetgangers soos die sand wat op die seestrand is in menigte; en hulle het opgetrek en laer opgeslaan by Migmas, oos van Bet-Awen. 6 Toe die manne van Israel sien dat hulle in die nood is—want die volk was in die noute gedruk—het die volk weggekruip in die spelonke en in die doringbosse en in die rotse en in die grotte en in die kuile. 7 En die Hebreërs het die Jordaan deurgetrek na die land Gad en Gílead; maar Saul was nog in Gilgal met al die manskappe wat bewende agter hom aan gegaan het.

1Sa 28:5 Toe Saul die leër van die Filistyne sien, het hy bevrees geword, en sy hart het baie gebewe.

Ons aardse mens is ‘n bangbroek van nature. Hy doen hom voor by die mense as vol bravade, maar by die eerste vorm van teenstand begin ons bewe en terugdeins. As God ons lewe oopmaak, ons boek open, deur Sy oordeel, dan word ons aardse koning, ons groot mens, ons ryk mens, ons owerste, ons slawe, en ons vrymens ontbloot en ons soek skuiling waar geen skuiling is nie. So beskryf Johannes daardie tye wanneer ons ou mens uitgewys word vir wat hy werklik is deur God se oordeel:

Open 6:12-17 En ek het gesien toe Hy die sesde seël oopgemaak het, en kyk, daar was ‘n groot aardbewing; en die son het swart geword soos ‘n harige sak, en die maan het geword soos bloed; 13 en die sterre van die hemel het op die aarde geval, soos ‘n vyeboom wat deur ‘n groot wind geskud word, sy navye laat afval; 14 en die hemel het weggewyk soos ‘n boek wat toegerol word, en al die berge en eilande is uit hulle plekke versit; 15 en die konings van die aarde en die grotes en die rykes en die owerstes oor duisend en die magtiges en al die slawe en al die vrymense het hulle weggesteek in die spelonke en in die rotse van die berge, 16 en vir die berge en die rotse gesê: Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; 17 want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?

Saul se vrees dat hy manskappe sou verloor het hom gedryf om teen God se orde op te tree. Omdat Saul geweet het dat hy gesondig het teen God het Saul se vrees hom laat vinger wys na ander mense eerder as na homself:

1Sa 13:8-12 En hy het sewe dae lank gewag, tot die tyd wat Samuel bepaal het; maar toe Samuel nie na Gilgal kom nie en die manskappe van hom af verstrooid raak, 9 het Saul gesê: Bring na my die brandoffer en die dankoffers; en hy het die brandoffer geoffer. 10 En toe hy net gereed was om die brandoffer te bring, kom Samuel meteens daar aan; en Saul het uitgegaan hom tegemoet om hom te groet. 11 Daarop vra Samuel: Wat het jy gedoen? En Saul sê: Ek het gesien dat die manskappe verstrooid raak van my af; en toe u nie kom op die afgesproke tyd nie, terwyl die Filistyne in Migmas bymekaarkom,  12 het ek gesê: Nou sal die Filistyne na my toe aftrek in Gilgal, en ek het die aangesig van die HERE nie om genade gesmeek nie; daarom het ek myself sterk gehou en die brandoffer gebring.

Hoe bekend klink Saul se woorde…”daarom het ek myself sterk gehou en die brandoffer gebring”. Ons verag God se keuses oor wie Hy aanstel as leiers. Ons self wil manipuleer en kontroleer. Jesus se eie apostels was ontbloot toe hulle gedink het dat die koninkryk van God is daar vir hulle persoonlike ambisies:

Mar 10:35-45 En Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedéüs, het na Hom gekom en gesê: Meester, ons wil hê dat U vir ons moet doen wat ons U ook al mag vra. 36 En Hy sê vir hulle: Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen? 37 En hulle antwoord Hom: Gee aan ons dat ons mag sit in u heerlikheid, een aan u regter— en een aan u linkerhand. 38 Maar Jesus sê vir hulle: Julle weet nie wat julle vra nie. Kan julle die beker drink wat Ek drink, en gedoop word met die doop waarmee Ek gedoop word? 39 En hulle antwoord Hom: Ons kan. Maar Jesus sê vir hulle: Dis waar, die beker wat Ek drink, sal julle drink, en met die doop waarmee Ek gedoop word, sal julle gedoop word; 40 maar om te sit aan my regter— en aan my linkerhand, berus nie by My om te gee nie, maar dit is vir hulle vir wie dit berei is. 41 En toe die tien dit hoor, begin hulle verontwaardig te word oor Jakobus en Johannes. 42 Maar Jesus het hulle na Hom geroep en vir hulle gesê: Julle weet dat die wat gereken word as owerstes van die nasies, oor hulle heers, en dat hulle groot manne oor hulle gesag uitoefen; 43 maar so moet dit onder julle nie wees nie, maar elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees. 44 En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet almal se dienskneg wees. 45 Want die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie.

Saul se vrees vir mense het hom altyd na mense laat luister eerder as na God se opdragte. Sy vrees vir mense en hulle opinies het Saul dus afvallig gemaak van die weg van God:

1Sa 15:17-21 En Samuel sê: Is jy, hoewel jy klein was in jou eie oë, nie tog die hoof van die stamme van Israel nie? En die HERE het jou as koning oor Israel gesalf. 18 En die HERE het jou op die pad gestuur en gesê: Gaan heen en tref die sondaars, die Amalekiete, met die banvloek en veg teen hulle totdat hulle vernietig is. 19 Waarom het jy dan nie na die stem van die HERE geluister nie en op die buit afgestorm en gedoen wat verkeerd is in die oë van die HERE? 20 Toe sê Saul vir Samuel: Ek het na die stem van die HERE geluister en gegaan op die pad waar die HERE my op gestuur het, en Agag, die koning van Amalek, gebring; maar die Amalekiete het ek met die banvloek getref. 21 Maar die manskappe het van die buit kleinvee en beeste geneem, die beste van die bangoed, om aan die HERE u God in Gilgal te offer.

1Sa 15:24 Toe sê Saul vir Samuel: Ek het gesondig, omdat ek die bevel van die HERE en u woorde oortree het, want ek was bevrees vir die manskappe en het na hulle geluister.

Ons aardse mens wil gesien, gehoor, erken word. Ons soek die eer van mense – ‘n naam vir onsself by mense:

Gen 11:4 En hulle sê: Kom, laat ons vir ons ‘n stad bou en ‘n toring waarvan die spits tot aan die hemel reik; en laat ons vir ons ‘n naam maak, sodat ons nie oor die hele aarde verstrooid raak nie.

Joh 5:44 Hoe kan julle glo wat van mekaar eer aanneem, en die eer wat van die enige God kom, soek julle nie?

Saul se vrees het gestaan tussen sy geloof in God en sy waagmoed om op te tree teen die vyand.

1Sa 14:1-2 En op ‘n dag het Jónatan, die seun van Saul, aan die dienaar wat sy wapens dra, gesê: Kom, ons gaan oor na die wagpos van die Filistyne wat daar oorkant is. Maar aan sy vader het hy dit nie te kenne gegee nie. 2 En Saul het gesit op die grens van Gíbea onder die granaatboom wat by Migron staan; en die manskappe by hom was omtrent ses honderd man.

Vrees lei mens tot besluiteloosheid. Die aardse mens is ‘n dubbelhartige mens:

Jak 1:8 ….‘n dubbelhartige man [is] onbestendig in al sy weë.

Saul se vrees het hom oopgemaak vir die intimiderende woorde van die vyand en dit het Saul en die volk oortuig om nie op te tree nie:

1Sa 17:11 Toe Saul en die hele Israel hierdie woorde van die Filistyn [Goliat] hoor, was hulle verskrik en baie bevrees.

Vrees het Saul se lewe baie negatief geaffekteer, soos dit ook ons lewens affekteer.

Spr 29:25 Die vrees vir die mens span ‘n strik; maar hy wat op die HERE vertrou, sal beskut word.

Vrees is ‘n bose gees wat oor ons natuurlike mens regeer volgens God se voorskrif, soos uitgebeeld in Saul se lewe:

1Sa 16:15 Toe sê die dienaars van Saul vir hom: Kyk tog, ‘n bose gees van God verskrik [Hebreeus: “bâ‛athu” – boesem vrees in] u:

Ons sal in die volgende artikel verder praat oor hierdie aspek van vrees en hoe dit positief toegepas word in ons lewe.

 

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s