Eks 3:13 Hierop het Moses tot God gespreek: Maar as ek by die kinders van Israel kom en aan hulle sê: Die God van julle vaders het my na julle gestuur, en hulle my vra: Hoe is sy naam? —wat moet ek hulle antwoord?
Dit is ‘n baie goeie vraag waarmee ons almal op ‘n sekere tyd gekonfronteer word.
Hoe is Sy naam?
Wie is die God wat ek op hierdie tydstip van my lewe aanbid?
Ons het al so baie mense gehoor wie na ons kom en sê dat hulle in die “naam” van God kom, maar hulle sê nie watter God nie. Ja-nee, mense het sommer baie “sogenaamde gode” wat hulle aanbid en mense kom na ons en wil baie graag praat van hulle god en hul diens aan hierdie god. Hulle neem aan dat ons weet van watter god hulle praat asof almal een en dieselfde God aanbid. Nee, ons almal aanbid nie dieselfde God nie en ons moet baie seker maak van watter God gepraat word voor ons deelneem in sulke gesprekke.
1Kor 8:5 Want al is daar ook sogenaamde gode, of dit in die hemel en of dit op die aarde is—soos daar baie gode en baie here is—
Die EEN ware God het Homself aan ons geopenbaar deur die EEN ware Heer wie Hy gestuur het na ons.
1Kor 8:6 tog is daar vir ons maar een God, die Vader uit wie alles is, en ons tot Hom, en een Here Jesus Christus deur wie alles is, en ons deur Hom.
Die een ware God, die Vader, kan net geken word deur die een ware Heer, Jesus Christus:
Joh 14:6 Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.
As iemand vir die een ware Here, Jesus Christus, nie ken of aanvaar nie, dan is dit heel maklik om te weet dat die persoon ‘n ander god aanbid.
Maar die probleem kom as die persoon sê dat hy of sy “Jesus” volg. Dan is daar ‘n paar dinge wat elkeen moet weet want die verleiding is baie meer subtiel en ons almal val eers vir die valse “Jesus” voor ons die ware Een kan sien en ken. Ons almal ken eers ‘n “Jesus” volgens ons vleeslike oortuiginge (“na die vlees”), voordat ons die ware Jesus in gees ken:
2Kor 5:16 Ons ken dus van nou af niemand meer na die vlees nie; en al het ons ook Christus na die vlees geken, nou ken ons Hom tóg nie meer so nie.
Ons moet kennis neem dat die Skrifte ons baie duidelik waarsku dat daar Jesus’e is wat “na die vlees” opereer, en hulle is baie, hulle is oortuigend, en hulle is populêr. Jesus het self gesê dat dit die nommer een verleiding is – baie gaan kom “onder my Naam”:
Mat 24:4-5 En Jesus antwoord en sê vir hulle: Pas op dat niemand julle mislei nie. 5 Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei.
Die Christendom is nommer een godsdiens in die wêreld en dit is belangrik om op te let uit Jesus se woorde in Mattheus 24. Baie mense volg Jesus “na die vlees” en sê hulle is Christen. Die “na die vlees”-volgelinge van Jesus is 100% oortuig dat hulle op die regte pad is.
Mat 13:1-3 En op daardie dag het Jesus uit die huis uitgegaan en by die see gaan sit. 2 En groot menigtes het by Hom vergader, sodat Hy in ‘n skuit geklim en gaan sit het. En die hele skare het op die strand gestaan. 3 En Hy het baie dinge deur gelykenisse tot hulle gespreek….
Mat 13:10-11 En die dissipels het gekom en vir Hom gesê: Waarom spreek U tot hulle deur gelykenisse? 11 Toe antwoord Hy en sê vir hulle: Omdat dit aan julle gegee is om die verborgenhede van die koninkryk van die hemele te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie.
Jesus openbaar Homself aan die massas deur aardse gelykenisse en sodoende word hulle verblind om op aardse dinge te konsentreer en nie die ware Jesus en Sy geestelike koninkryk te kan sien nie. Skokkend? Nee, God het ‘n plan waarvolgens Hy uiteindelik ALMAL in gees sal red.
Joh 4:21-24 Jesus sê vir haar [die vrou by die put van Jakob]: Vrou, glo My, daar kom ‘n uur wanneer julle nie op hierdie berg en ook nie in Jerusalem die Vader sal aanbid nie. 22 Julle aanbid wat julle nie weet nie; ons aanbid wat ons weet, want die saligheid is uit die Jode. 23 Maar daar kom ‘n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid. 24 God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.
Maar hoe sal ek persoonlik weet dat ek die valse Christus volg? Niemand kan op hul eie uitvind nie. Net die Vader openbaar Jesus aan hulle vir wie “die uur” gekom het om Jesus in gees te kan sien en aanbid:
Open 1:1-3 Die openbaring van Jesus Christus wat God Hom gegee het om aan sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur, en wat Hy deur die sending van sy engel aan sy dienskneg Johannes te kenne gegee het, 2 wat getuig het van die woord van God en die getuienis van Jesus Christus alles wat hy gesien het. 3 Salig is hy wat die woorde van die profesie lees, en die wat dit hoor en bewaar wat daarin geskrywe is, want die tyd is naby.
Die Vader werk DEUR die ware Christus en wys ons hoe lyk die valse Jesus teenoor die ware Jesus. Daar is geen ander metode nie. Hier is die proses kortliks:
Heb 9:27-28 En net soos die mense bestem is om een maal te sterwe en daarna die oordeel, 28 so sal Christus ook, nadat Hy een maal geoffer is om die sondes van baie weg te neem, vir die tweede maal sonder sonde verskyn aan die wat Hom verwag tot saligheid.
Die ware Jesus sal ons eerstens bewusmaak van ons dooie geestelike toestand terwyl ons gedink het dat ons lewe. Hierdie ontwakening kom slegs deur Sy oordeel as Hy aan ons verskyn “sonder sonde”. Dit is nie na die vlees nie, maar in gees en waarheid! Ons moet ons persoonlike Patmos-ervaring met die ware Jesus beleef, net soos Johannes in die boek van Openbaring beskryf….
Open 1:9-11 Ek, Johannes, julle broeder en deelgenoot in die verdrukking en in die koninkryk en lydsaamheid van Jesus Christus, was op die eiland wat Patmos genoem word, ter wille van die woord van God en om die getuienis van Jesus Christus. 10 Ek was in die Gees op die dag van die Here, en ek het agter my ‘n groot stem gehoor, soos van ‘n basuin, wat sê: 11 Ek is die Alfa en die Oméga, die eerste en die laaste, en skryf wat jy sien in ‘n boek….
Dit is wanneer ons vir die eerste keer “die stem” van die ware Herder kan hoor:
Joh 10:1-5 Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie nie by die deur in die skaapstal ingaan nie, maar van ‘n ander kant af inklim, hy is ‘n dief en ‘n rower. 2 Maar hy wat by die deur ingaan, is ‘n herder van die skape. 3 Vir hom maak die deurwagter oop, en die skape luister na sy stem; en hy roep sy eie skape by hulle naam en lei hulle uit. 4 En wanneer hy sy eie skape uitgebring het, loop hy voor hulle uit; en die skape volg hom, omdat hulle sy stem ken. 5 Hulle sal ‘n vreemde nooit volg nie, maar van hom wegvlug, omdat hulle die stem van die vreemdes nie ken nie.
“….Hy roep sy eie skape by hulle naam”.
Daar is dit! Die ware Herder ken elke skaap intiem en by hul naam! Dit praat van geestelike intimiteit. Kyk wat doen die ware Herder.
“….wanneer Hy sy eie skape uitgebring het, loop Hy voor hulle uit; en die skape volg hom, omdat hulle Sy stem ken.”
Hy stap voor! Hy is die voorbeeld! Sy skape doen soos Hy doen! Dit is nie net van praat nie – dit is alles te make met ons dade.
Mat 7:26-27 En elkeen wat na hierdie woorde van My luister en dit nie doen nie, sal vergelyk word met ‘n dwase man wat sy huis op die sand gebou het. 27 En die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm en dit het geval, en sy val was groot.
Kyk waar eindig die praters wat baie mooi dinge doen “in U naam” maar nie deur Hom geken was nie:
Mat 7:22-23 Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? 23 En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!
Hulle het nie Sy STEM geken nie! Dit gaan alles or die kennis van Sy stem! Maar wat is die “stem”. Sy stem is Sy Woord – die “hele Skrif” is gees en waarheid:
2Ti 3:16 Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid,
Joh 6:63 Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.
Die “hele Skrif” gee die inhoud van wat die hele waarheid is:
Psa 119:160 Die hele inhoud van u woord is waarheid, en al u regverdige verordeninge is tot in ewigheid.
In hierdie reeks sal ons kyk na die “hele Skrif” soos dit voorkom in die Bybel, en hoe ons die stem van die ware Herder kan hoor.