‘…met die gees van God vervul…’

Efes 5:18 Moenie dronk word van wyn nie—daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul.

Alle simbole in die Skrifte is gekoppel aan of ‘n negatiewe of ‘n positiewe toepassing. Die betrokke toepassing loop saam met ons eie tyd onder die heerskappy van die eerste Adam, ons vlees, of die heerskappy onder die laaste Adam, Jesus Christus. Ons ervaar dus eerste die negatiewe toepassing voordat ons die positiewe toepassing ervaar:

1Kor 15:45-49 So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees. 46 Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike. 47 Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel. 48 Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. 49 En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra.

Wyn is ‘n Skrifsimbool wat ook gebruik word om beide die negatiewe en positiewe denke, oortuigings en leefstyle van ons almal op verskeie tydperke in ons lewens uit te beeld. Ons almal sal op ons Godgegewe tyd deur albei hierdie wyne in ons lewe vervul word. Hier is die eerste keer dat wyn in die Skrifte gebruik word:

Gen 9:20-21 En Noag het as landbouer ‘n wingerd begin plant. 21 Maar toe hy van die wyn gedrink het, het hy dronk geword en naak in sy tent gelê.

‘n Oorvloed van aardse dinge bring losbandigheid, en dit ontbloot ons aardse naaktheid. Ons almal is eers gekoppel aan die aardse hoer met haar valse ideologieë en denkpatrone, hetsy deur godsdiens of aardse filosofieë:

Open 17:1-5 En een van die sewe engele met die sewe skale het gekom en met my gespreek en vir my gesê: Kom hierheen, ek sal jou toon die oordeel van die groot hoer wat op die baie waters sit, 2 met wie die konings van die aarde gehoereer het, en die bewoners van die aarde het dronk geword van die wyn van haar hoerery. 3 En hy het my in die gees weggevoer na ‘n woestyn, en ek het ‘n vrou sien sit op ‘n skarlakenrooi dier, vol godslasterlike name, met sewe koppe en tien horings. 4 En die vrou was bekleed met purper en skarlaken en versierd met goud en kosbare stene en pêrels, en sy het in haar hand ‘n goue beker gehad, vol gruwels en die onreinheid van haar hoerery; 5 en op haar voorhoof was ‘n naam geskrywe: Verborgenheid, die groot Babilon, die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde.

Om met die geestelike wyn van God vervul te word, is om met Sy gees en Sy geestelike denke vervul te word wat dan die wêreldgees en sy aardse denke in ons verwyder – die twee gaan nie saam nie:

Mat 9:17 ‘n Mens gooi ook nie nuwe wyn in ou leersakke nie; anders bars die sakke en die wyn loop uit en die sakke vergaan. Maar ‘n mens gooi nuwe wyn in nuwe sakke en altwee bly behoue.

Maar om met die gees van God vervul te word, is vir baie mense onduidelik omdat daar so baie valse dinge in die verband gepreek word. Een van die grootste dwalinge wat gepreek word kom voor onder die sogenaamde ‘spreking in ander tale’ wat veral onder die dekmantel van ‘n valse pinkstergees gepreek word. Miljoene mense word op sleeptou geneem agter ‘n hoogs emosionele belewenis wat gepaardgaan met ‘n uitspreek van klanke (brabbeltaal) wat nêrens in die Skrifte bewys kan word nie. As God sê dat Sy ware kerk in ‘n “vreemde tong” sal spreek, dan het dit niks te doen met wat in sommige kringe verkoop word nie:

Jes 28:9-11 Vir wie wil hy dan kennis leer, en vir wie wil hy die openbaring verstaanbaar maak? Vir die wat van die melk gespeen, wat van die moederborste weggeneem is? 10 Want dit is gebod op gebod, gebod op gebod, reël op reël, reël op reël, hier ‘n bietjie, daar ‘n bietjie. 11 Ja, Hy sal deur lippe wat hakkel, en deur ‘n vreemde tong met hierdie volk spreek.

Die teks sê baie duidelik dat God se “vreemde tong” verbind is aan hulle aan wie God Sy “kennis leer” en “die openbaring verstaanbaar maak”. Hierdie kennis en openbaring is vreemd vir die ongelowige toehoorders, derhalwe word dit ‘n “vreemde tong” genoem. Kyk wat gebeur met hulle wat hierdie “tong” (taal) van God nie kan verstaan nie omdat God hulle aan ongeloof oorgegee het:

Jes 28:12-17 Hy wat aan hulle gesê het: Dit is die rus, gee rus aan die vermoeides, en dit is die verkwikking. Maar hulle wou nie luister nie. 13 Daarom sal die woord van die HERE vir hulle wees gebod op gebod, gebod op gebod, reël op reël, reël op reël, hier ‘n bietjie, daar ‘n bietjie, sodat hulle kan heengaan en agteruit struikel en verbreek en verstrik en gevang word. 14 Daarom, hoor die woord van die HERE, julle spotters, heersers oor hierdie volk wat in Jerusalem is! 15 Omdat julle sê: Ons het ‘n verbond met die dood gesluit, en met die doderyk het ons ‘n verdrag aangegaan; as die golwende gésel deurtrek, sal hy na ons nie kom nie; want ons het die leuen ons skuilplek gemaak en ons in bedrog weggesteek— 16 daarom, so sê die Here HERE: Kyk, Ek lê in Sion ‘n grondsteen, ‘n beproefde steen, ‘n kosbare hoeksteen wat vas gegrondves is; hy wat glo, sal nie haastig wees nie. 17 En Ek sal die reg tot ‘n riglyn maak, en die geregtigheid tot ‘n skietlood; en die hael sal die leuendak wegruk en die water die skuilplek wegspoel.

Dieselfde Woord van God is vir sommige ‘n openbaring en vir ander ‘n struikelblok (‘n obstruksie). God gebruik Sy Woord om beide donkerte en lig te skep, vir Sy doel:

Gen 1:1-4 In die begin het God die hemel en die aarde geskape. 2 En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters. 3 En God het gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig. 4 Toe sien God dat die lig goed was. En God het skeiding gemaak tussen die lig en die duisternis.

Jes 45:7 wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen.

Dieselfde woorde in die Skrifte het dus twee opponerende effekte in mense. Hier is ‘n gelykenis wat dit vir ons sê:

Eks 14:19-20 En die Engel van God wat voor die leër van Israel uit getrek het, het daar weggegaan en agter hulle aan getrek. En die wolkkolom het ook voor hulle weggetrek en agter hulle gaan staan; 20 so het dit dan tussen die leër van die Egiptenaars en die leër van Israel in gekom. En die wolk was daar met die duisternis, en dit het die nag verlig, sodat die een nie naby die ander gekom het die hele nag deur nie.

Hierdie Steen in geestelike Sion, Jesus Christus, en Sy ware leer word verwerp deur die leiers van mense, en die mense wat hierdie leiers volg, is self geestelik blind en doof.

Mat 15:14 Laat hulle staan; hulle is blinde leiers van blindes. En as ‘n blinde ‘n ander blinde lei, sal altwee in die sloot val.

Die “blinde leiers” en hul “blinde” volgelinge kan nie God se geestelike taal verstaan nie, en dit word deur God self bepaal:

Rom 11:8-10 Soos geskrywe is: God het hulle gegee ‘n gees van diepe slaap, oë om nie te sien nie en ore om nie te hoor nie, tot vandag toe. 9 En Dawid sê: Laat hulle tafel vir hulle wees ‘n vangnet en ‘n strik en ‘n struikelblok en ‘n vergelding. 10 Laat hulle oë duister word om nie te sien nie, en buig hulle rug vir altyd krom.

Alle leerstellings waarop ons geloof gebou word, moet in en op die Skrif gebaseer wees. Anders word ons mislei, en ons word deur ‘n leuengees, wat God stuur, op ‘n dwaalpad gehou:

2Th 2:11 En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo,

Hier is ‘n Skrifteks wat vir baie mense in onkunde hou want hulle kan eenvoudig nie God se taal “LEES” nie. Hulle kan ook nie sien wat die gees van God vir ons NOU is nie, en hoe geestelike lewe NOU vir ons beskikbaar is nie.

Joh 6:63 Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die WOORDE wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.

Die gees van God en Sy lewe kom NOU na ons deur geloof in die Woorde van God!

Efes 1:12-14 sodat ons kan wees tot lof van sy heerlikheid, ons wat reeds tevore op Christus gehoop het, 13 in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte, 14 wat die onderpand is van ons erfdeel om sy eiendom te verlos tot lof van sy heerlikheid.

Daardie gees van God groei in ons soos ons in Sy Woord groei:

Kol 1:9-10 Daarom hou ons ook nie op nie, van die dag af dat ons dit gehoor het, om vir julle te bid en te vra dat julle vervul mag word met die kennis van sy wil in alle wysheid en geestelike insig, 10 sodat julle waardiglik voor die Here mag wandel om Hom in alles te behaag en julle in elke goeie werk vrug mag dra en in die kennis van God mag groei.

Joh 17:3 En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het.

ALLE geestelike kennis van God, die Vader (die enige waaragtige God), en Sy Seun, Jesus Christus, kom net deur die Skrifte! Daar is ‘n kennis wat aards is en ons oppof, maar daar is ‘n kennis wat in liefde gebaseer is:

1Kor 8:1-3 En met betrekking tot die offervleis aan die afgode weet ons dat ons almal kennis het. Die kennis maak opgeblase, maar die liefde stig. 2 As iemand meen dat hy enige kennis het, weet hy nog niks soos ‘n mens behoort te weet nie. 3 Maar as iemand God liefhet, dié word deur Hom geken.

As ons wil weet wat dit behels om met die gees van God vervul te word, moet ons ALLEENLIK na die Skrifte gaan en versigtig LEES, dit HOOR, en dit DOEN:

Open 1:3 Salig is hy wat die woorde van die profesie lees, en die wat dit hoor en bewaar wat daarin geskrywe is, want die tyd is naby.

God alleen bepaal of Hy aan ons Sy Woord openbaar waardeur Hy aan ons Sy geloof en insig gee om te verstaan wat voor ons oë geskryf is – sodat ons daardeur kan leef.

Open 1:1-2 Die openbaring van Jesus Christus wat God Hom gegee het om aan sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur, en wat Hy deur die sending van sy engel aan sy dienskneg Johannes te kenne gegee het, 2 wat getuig het van die woord van God en die getuienis van Jesus Christus alles wat hy gesien het.

Baie mense lees dieselfde Woorde in die Bybel en kan net nie sien wat daar staan nie, soos deur God alleen bepaal.

Mat 13:14-16 En aan hulle word die profesie van Jesaja vervul wat sê: Met die gehoor sal julle hoor en glad nie verstaan nie, en julle sal kyk en kyk, en glad nie sien nie. 15 Want die hart van hierdie volk het stomp geword, en met die ore het hulle beswaarlik gehoor; en hul oë het hulle toegesluit, sodat hulle nie miskien met die oë sou sien en met die ore hoor en met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie. 16 Maar julle oë is gelukkig, omdat hulle sien; en julle ore, omdat hulle hoor.

Ons moet nie op mense se woorde of op ons eie denke en ervaringe staatmaak nie, maar net op die Woord van God. Hier is wat die Skrifte sê oor die eerste vervulling van God se gees in gelowiges, en uit hierdie gebeurtenis leer ons so baie hoe ons deelagtig word aan God se gees en reeds NOU Sy Geestelike Taal kan praat en verstaan:

Handelinge 2:1-12 En toe die dag van die pinksterfees aangebreek het, was hulle almal eendragtig bymekaar. 2 En daar kom skielik uit die hemel ‘n geluid soos van ‘n geweldige rukwind, en dit het die hele huis gevul waar hulle gesit het. 3 Toe is deur hulle tonge gesien soos van vuur, wat hulleself verdeel en op elkeen van hulle gaan sit. 4 En hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het begin spreek in ander tale, soos die Gees aan hulle gegee het om uit te spreek. 5 En daar het in Jerusalem Jode gewoon, godsdienstige manne, uit elke nasie wat onder die hemel is. 6 En toe hierdie geluid kom, het die menigte saamgestroom en was in die war, want elkeen het gehoor hoe hulle in sy eie taal spreek; 7 en hulle was almal verbaas en verwonderd en sê vir mekaar: Is almal wat daar spreek, dan nie Galileërs nie? 8 En hoe hoor ons hulle, elkeen in ons eie taal waarin ons gebore is? 9 Parthers en Meders en Elamiete en die inwoners van Mesopotámië, Judéa en Kappadócië, Pontus en Asië, 10 Frigië en Pamfílië, Egipte en die streke van Líbië by Ciréne, en Romeine wat hier vertoef, Jode en Jodegenote, 11 Kretense en Arabiere—ons hoor hulle in ons eie taal oor die groot dade van God spreek. 12 En hulle was almal verbaas en radeloos en sê die een vir die ander: Wat kan dit tog wees?

Die tale wat gespreek was, was eerstens BEKENDE TALE.

“En daar het in Jerusalem Jode gewoon, godsdienstige manne, uit elke nasie wat onder die hemel is. En toe hierdie geluid kom, het die menigte saamgestroom en was in die war, WANT ELKEEN HET GEHOOR HOE HULLE IN SY EIE TAAL SPREEK…”

Die mense wat daar was wat van ander lande was en ander tale kon praat, kon verstaan wat die dissipels gepraat het!!! Of hulle dit aanvaar het wat gespreek was, is ‘n ander saak. Die feit wat eerstens hier na vore kom, is dat die tale ‘vreemde tale’ was soos sommige valse leraars verkondig nie.

Die tweede feit wat hier uitstaan is dat die dissipels wat in hierdie bekende tale gepraat het, nie die tale geleer het nie – dit was die wonderwerk.

“….[die toehoorders] was almal verbaas en verwonderd en sê vir mekaar: Is almal wat daar spreek, dan nie Galileërs nie?”

Maar WAT die dissipels almal gesê het was die groot en belangrike klem wat ons almal moet raaksien…

“….ons hoor hulle in ons eie taal oor die groot dade van God spreek”.

Daar is dit wat elkeen sê wat in die geesteliek taal van God praat…tot vandag toe! Almal wat in die nuwe geestelike taal van God praat, praat oor die groot dade van God”. As hierdie boodskap nie gehoor word nie, dan is dit ‘n valse taal wat gespreek word en die spreker wil aandag op homself of op haarself trek. God moet verheerlik word wanneer daar in ‘n ENIGE BEKENDE taal gepraat word in die samekomste van gelowiges. ‘Vreemde tale’ is vreemd aan God en die Skrifte! ‘n Bekende taal is die TAAL VAN DIE SKRIF:

2Ti 3:16-17 Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, 17 sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.

TOEHOORDERS moet altyd dieselfde boodskap kry wanneer hulle in die samekoms van gelowiges kom – dat God en Sy werke verheerlik word ten alle tye.

Rom 15:5-6 En mag die God van lydsaamheid en bemoediging aan julle gee om eensgesind onder mekaar te wees ooreenkomstig die wil van Christus Jesus, 6 sodat julle die God en Vader van onse Here Jesus Christus eendragtiglik uit een mond kan verheerlik.

Daarom word die gelowige eerder aangemoedig om te profeteer, dit is om in verstaanbare taal te praat, as om in tale te praat waar niemand verstaan wat jy sê nie.

1Kor 14:5-9 Ek wens dat julle almal in tale spreek, maar nog liewer dat julle profeteer. Want hy wat profeteer, is groter as hy wat in tale spreek, of hy moet dit uitlê, sodat die gemeente stigting kan ontvang. 6 Maar nou, broeders, as ek na julle kom en in tale spreek, tot watter nut sal ek vir julle wees as ek nie met julle spreek òf deur ‘n openbaring, òf deur kennis, òf deur profesie, òf deur lering nie? 7 Net soos met lewelose dinge wat ‘n klank gee, ‘n fluit of ‘n siter, as hulle nie ‘n onderskeid in toon laat hoor nie, hoe sal ‘n mens weet wat op die fluit of siter gespeel word? 8 Want as die basuin ook ‘n onduidelike klank gee, wie sal klaarmaak vir die oorlog? 9 Net so julle ook, as julle met die tong geen verstaanbare woord uitbring nie, hoe sal ‘n mens weet wat gespreek word? Want julle sal wees soos mense wat in die wind praat.

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s