God is inderdaad die Skepper van ALLES!

Hoe het die kwaad (die bose / die duisternis / dit wat onheilig is) totstand gekom? Die Skrifte sê God het dit geskep. God sê duidelik dat Hy ALLEEN die oorsaak is van ALLES in Sy skepping:

Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; buiten My is daar geen God nie; Ek omgord jou, hoewel jy My nie geken het nie, sodat hulle kan weet van die opgang van die son en van sy ondergang af dat daar buiten My geeneen is nie; Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen. Jes 45:5-7

“Al hierdie dinge” is immers ALLES. God het alles wat Hy geskep het “baie goed” geskep vir die doel wat Hy dit wil gebruik:

Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en—dit was baie goed. En dit was aand en dit was môre, die sesde dag. Gen 1:31

Alles het die HERE gemaak vir sy doel, ja, ook die goddelose vir die dag van onheil. Spr 16:4

“….al hierdie dinge…” en “alles” wat die Here gemaak het was “baie goed” vir God se doel met dit! Dit sluit tog immers ook in die aarde wat “woes en leeg” was op dag een en ook die duisternis wat Hy geskep het op dieselfde dag:

En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters. Gen 1:2

Sommige ongelowiges sê dat daar ‘n gaping van duisende of selfs miljoene jare is tussen vers 1 en vers 2 van Genesis 1. Hulle sê dit om hulle talle valse leerstellings daar in te pas, byvoorbeeld dat God nie die Skepper van alles is nie, en dat die kwaad die skepping van Satan was:

Gen 1:1 In die begin het God die hemel en die aarde geskape.

Gen 1:2 En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters.

Hierdie afvalliges glo dat die aarde perfek was in vers 1, en dit het toe deur ‘n vervalproses gegaan om in vers 2 woes, leeg en vol duisternis te wees. Hulle kan nie God as Skepper van ALLES aanvaar nie want dit is baie moeilik vir ons natuurlike denke om God so te sien. Maar God steur Hom nou nie eintlik baie aan menslike opinies oor wie Hy is of wat Hy doen nie. Die mens word duidelik gewaarsku om nie God en Sy skeppinge te verwar nie:

Wee hulle wat sleg goed noem en goed sleg, wat die duisternis lig maak en die lig duisternis, wat bitter soet maak en soet bitter. Jes 5:20 

Omdat God die bose geskep het en elke dag 100% in beheer is van elke boosheid in die skepping, maak dit egter nie God boos nie. God is HEILIG en REIN, maar Hy alleen kan boosheid skep en ook gebruik vir Sy doel:

Alles het die HERE gemaak vir sy doel, ja, ook die goddelose vir die dag van onheil. Spr 16:4

Kyk, Ék het die smid geskape wat die koolvuur aanblaas en ‘n wapen voortbring volgens sy ambag; ook het Ék die verderwer geskape om te verniel. Jes 54:16

God se besluite hang dus nie af van wat die skepsels se opinie van Hom en wat Hy vir hierdie skepping in gedagte het nie. God word nie beweeg of van koers gebring deur skepsels se doen en late nie, veral nie die mens nie.

So hang dit dan nie af van die een wat wil of van die een wat loop nie, maar van God wat barmhartig is. Rom 9:16

Selfs regerings en elke hooggeplaasde persoon, so boos soos hulle soms is in baie gevalle in die mens se geskiedenis, is hulle nog steeds God se keuses, en Hy maak AL die besluite wat hierdie regeerders dan moet uitvoer (of hulle Hom erken of nie):

Die koning se hart is in die hand van die HERE soos waterstrome: Hy lei dit waarheen Hy wil. Spr 21:1

Want die Skrif sê aan Farao: Juis hiervoor het Ek jou laat optree, dat Ek in jou my krag kan toon en dat my Naam verkondig kan word op die hele aarde. So is Hy dan barmhartig oor wie Hy wil en Hy verhard wie Hy wil. Rom 9:15-18

Op ‘n besluit van die bodes berus die bevel, en ‘n woord van die heiliges is die saak, met die bedoeling dat die lewendes kan erken dat die Allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens en dit gee aan wie Hy wil, en die nederige onder die mense daaroor aanstel. Dan 4:17

God DIKTEER ALLES en vir die natuurlike mens wat glo hy is in  besit van ‘n “vrye” wil, is dit totaal onaanvaarbaar om God se te sien! In ons geestelike blindheid sê ons dat God nie ‘n vrye wil het nie. M.a.w. Hy kan nie maak soos Hy wil nie – Hy moet wag op ons wilsbesluit. In  ons hoogmoedige trotse toestand glo ons dat God aan ons ‘n “vrye” wil gegee het en dat ons dan God se uitkomste met hierdie skepping kan beïnvloed. Dit is die groot verleiding wat in almal se natuurlike denke heers vanaf hulle geboorte en daardie koning klim nie van sy troon sonder ‘n GROOT geveg nie.

En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo. 2Th 2:11

Was Adam en Eva dan reeds geneig tot die boosheid toe hulle geskep was? JA, dit is so duidelik soos daglig dat God alles geweet het wat hulle sou doen, en God het ook reeds Jesus as geestelike Verlosser aangestel nog voordat Adam en Eva geskep was:

omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos, wat wel vooruit geken is VOOR die grondlegging van die wêreld, maar in hierdie laaste tye geopenbaar is om julle ontwil, 1Pe 1:18-20

 wat ons gered en geroep het met ‘n heilige roeping, nie volgens ons werke nie, maar volgens sy eie voorneme en genade wat ons van ewigheid af in Christus Jesus geskenk is. 2Ti 1:9

Om die probleem met mens se verkeerde siening van die skepping verder te bewys, weet ons ook dat ons op ons eie tyd geglo het dat die dorings en die distels eers geskep was nadat Adam en Eva ongehoorsaam was aan God. Nee, alles was geskep in ses dae, insluitend die distels en dorings wat eers later sigbaar was vir Adam en Eva:

Want in ses dae het die HERE die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, en op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het die HERE die sabbatdag geseën en dit geheilig. Eks 20:11

En aan die mens het Hy gesê: Omdat jy geluister het na die stem van jou vrou en van die boom geëet het waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie—vervloek is die aarde om jou ontwil; met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe. Ook sal dit vir jou dorings en distels voortbring; en jy sal die plante van die veld eet. Gen 3:17-18

Adam en Eva, en ons almal, vind eers later uit dat die aarde van die begin af vervloek was. Die aarde is ‘n geestelike konsep wat die teenstelling van God se perfekte geestelike skepping uitbeeld. Die hemel (God se geestelike dinge) word altyd teenoor die aarde gestel in die Skrifte – nie hemel teenoor hel soos die afvalliges verkondig nie.

In die begin het God die hemel en die aarde geskape. Gen 1:1

As God sê dat ons nie ons skatte op die aarde bymekaar moet maak nie, sal Hy dan self so ‘n fout maak deur Sy skatte op die aarde te vergader om hier te bly vir ewig? Nee, die aardse mens is net ‘n stap in die proses om mens in Sy ewebeeld te maak. God se vrede rus nie op die aarde of in aardse dinge nie:

 En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters. Gen 1:2

Moenie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie. Mat 6:19 

Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard. Mat 10:34 

En uit die aarde het ek ‘n ander dier sien opkom, en hy het twee horings gehad net soos ‘n lam en het gepraat soos ‘n draak. 12 En hy oefen al die mag van die eerste dier uit voor sy oë, en hy maak dat die aarde en die wat daarop woon, die eerste dier aanbid, waarvan die dodelike wond genees is. 13 Hy doen ook groot tekens, sodat hy selfs vuur uit die hemel laat neerdaal op die aarde voor die oë van die mense. 14 En hy verlei die bewoners van die aarde deur die tekens wat hom gegee is om voor die oë van die dier te doen, deur aan die bewoners van die aarde te sê dat hulle ‘n beeld moet maak vir die dier wat die swaardwond ontvang en lewendig geword het. Open 13:11-14

As ons die geloof gegee word om te aanvaar dat God ALLES in ses dae geskep het, dan sal ons aanvaar dat ALLES reeds daar was, maar baie dinge het nog nie gemanifesteer tot op hul bepaalde tyd nie.

Alles het sy bepaalde uur, en vir elke saak onder die hemel is daar ‘n tyd: ‘n tyd om gebore te word en ‘n tyd om te sterwe, ‘n tyd om te plant en ‘n tyd om uit te roei wat geplant is, ‘n tyd om dood te maak en ‘n tyd om gesond te maak, ‘n tyd om af te breek en ‘n tyd om op te bou, ‘n tyd om te ween en ‘n tyd om te lag, ‘n tyd om te weeklaag en ‘n tyd om van vreugde rond te spring, ‘n tyd om klippe weg te gooi en ‘n tyd om klippe bymekaar te maak, ‘n tyd om te omhels en ‘n tyd om ver te wees van omhelsing, ‘n tyd om te soek en ‘n tyd om verlore te laat gaan, ‘n tyd om te bewaar en ‘n tyd om weg te gooi, ‘n tyd om te skeur en ‘n tyd om aanmekaar te werk, ‘n tyd om te swyg en ‘n tyd om te spreek, ‘n tyd om lief te hê en ‘n tyd om te haat, ‘n tyd vir oorlog en ‘n tyd vir vrede. Pred 3:1-8

Die plantlewe was op die derde dag geskep in hul volheid, ook die dorings en die dissels, alhoewel dit nog nie uitgespruit het nie:

En God het gesê: Laat die aarde voortbring grasspruitjies, plante wat saad gee en bome wat, volgens hulle soorte, vrugte dra, waarin hulle saad is, op die aarde. En dit was so. Die aarde het voortgebring grasspruitjies, plante wat saad gee volgens hulle soorte en bome wat vrugte dra, waarin hulle saad is, volgens hulle soorte. Toe sien God dat dit goed was. En dit was aand en dit was môre, die derde dag. Gen 1:11-13

Ook sal dit [die aarde] vir jou dorings en distels voortbring; en jy sal die plante van die veld eet. Gen 3:18

Alles kom dus neer op die idee dat ons eers dink dat ons goed is voordat ons uitvind hoe boos ons is. Ons eie harte is bedrieglik “bo alle dinge”, en ons het eers geen kennis van ons eie boosheid nie:

Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken? Jer 17:9

Ons dink eers ons is beter as ander mense, maar deur God se genade en barmhartigheid kom eers agterna agter hoe naak onsself is – net soos Adam en Eva agterna moes uitvind:

Toe gaan altwee se oë oop, en hulle word gewaar dat hulle naak is; en hulle het vyeblare aanmekaargewerk en vir hulle skorte gemaak. Gen 3:7

Dorings en distels en alles in hierdie skepping was geskep in ‘n toestand van “nietigheid” en “verganklikheid”, van die begin af:

Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het in die hoop dat ook die skepping self vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God. Rom 8:20-21

Verganklikheid is wat alles in hierdie fisiese skepping onderwerp was van die begin af, ook die mens! Die mens was van die stof van hierdie “verganklikheid” en “nietigheid” gemaak:

En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword. Gen 2:7

God het doelbewus die mens nie van gees gemaak nie, maar van die verganklike stof en dit is waarna die mens sou terugkeer. Die mens van stof sou tog immers nooit in die verganklike toestand vir altyd kon leef nie – dit is tog heel logies?

In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer. Gen 3:19

God het dus in Sy alwetenheid bepaal dat die mens sou eet van die boom wat hierdie kennis bevat, want die mens moes op die harde manier leer dat hy NIE vir ewig sal lewe in vlees nie. Hoe het God dit bepaal? God het aan die mens ‘n gebod gegee wat die mens nie kon weerstaan nie:

En die HERE God het aan die mens bevel gegee en gesê: Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe. Gen 2:16-17

Deur hierdie bevel of wet van God het Adam en Eva juis uitgevind wat hulle take op aarde sal wees en dat hulle nietig was:

Aan die vrou het Hy gesê: Ek sal grootliks vermeerder jou moeite en jou swangerskap; met smart sal jy kinders baar; en na jou man sal jou begeerte wees, en hy sal oor jou heers. En aan die mens het Hy gesê: Omdat jy geluister het na die stem van jou vrou en van die boom geëet het waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie—vervloek is die aarde om jou ontwil; met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe. Ook sal dit vir jou dorings en distels voortbring; en jy sal die plante van die veld eet. In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer. En die mens het sy vrou Eva genoem, omdat sy moeder geword het van alles wat lewe. Gen 3:16-20

Deur God se gebod vind ons uit dat ons nie God se geregtigheid en perfeksie in ons vleeslikheid kan behaal nie. God se standaard is perfektheid en dit is wat die vleeslike mens NIE is nie, en nog NOOIT was vanaf sy skepping. Ons vind dus uit deur die gebod hoe sondig en onperfek ons is, en dit is wat God ons wil laat besef:

aangesien uit die werke van die wet geen vlees voor Hom geregverdig sal word nie, want deur die wet is die kennis van sonde. Rom 3:20

Paulus beaam hierdie doelwitte van die wet van God:

Wat sal ons dan sê? Is die wet sonde? Nee, stellig nie! Inteendeel, ek sou die sonde nie anders as deur die wet geken het nie; want ek sou ook die begeerlikheid nie geken het nie as die wet nie gesê het: Jy mag nie begeer nie. Rom 7:7

Die mens is nietig en sondig gemaak deur die hand van die Pottebakker:

Die woord wat van die HERE tot Jeremia gekom het: Maak jou klaar en gaan af na die huis van die pottebakker, en daar sal Ek jou my woorde laat hoor. Toe het ek afgegaan na die huis van die pottebakker, en hy was juis besig om ‘n stuk werk op die skywe te maak. En die voorwerp wat hy besig was om te maak, het misluk—soos dit gaan met klei in die hand van die pottebakker—maar hy het daaruit weer ‘n ander voorwerp gemaak soos dit in die oë van die pottebakker reg was om dit te maak. Toe het die woord van die HERE tot my gekom en gesê: Sal Ek nie soos hierdie pottebakker met julle kan maak nie, o huis van Israel? spreek die HERE. Kyk, soos klei in die hand van die pottebakker, so is julle in my hand, o huis van Israel! Jer 18:1-6

God, die groot Pottebakker, gaan uit die eerste “pot” ‘n nuwe “pot” maak wat anders is as die eerste. Dit is ook wat Jesus aan Nikodémus gesê het:

En daar was ‘n man uit die Fariseërs met die naam van Nikodémus, ‘n owerste van die Jode. Hy het in die nag na Jesus gekom en vir Hom gesê: Rabbi, ons weet dat U ‘n leraar is wat van God gekom het, want niemand kan hierdie tekens doen wat U doen as God nie met hom is nie. Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie. Nikodémus sê vir Hom: Hoe kan ‘n mens as hy oud is, gebore word? Hy kan tog nie ‘n tweede keer in die skoot van sy moeder ingaan en gebore word nie? Jesus antwoord: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie. Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees. Moenie jou verwonder dat Ek vir jou gesê het, julle moet weer gebore word nie. Joh 3:1-7

Vlees is NIE gees nie – Jesus maak dit baie duidelik. Vlees en bloed was nog nooit in God se geestelike perfektheid nie. Daar moet ‘n wedergeboorte plaasvind en dan eers sal elkeen wat nou in vlees geskep was, opgewek word en weer geskep word in gees om God in perfektheid te kan ken. Hier gee Paulus ‘n pragtige verduideliking hoe die proses om soos God te wees in gees vir elkeen in Adam sal plaasvind:

En daar is hemelse liggame en aardse liggame; maar die heerlikheid van die hemelse is anders as dié van die aardse. Anders is die heerlikheid van die son en anders die heerlikheid van die maan en anders die heerlikheid van die sterre; want die een ster verskil in heerlikheid van die ander ster. So is ook die opstanding van die dode: daar word gesaai in verganklikheid, daar word opgewek in onverganklikheid; daar word gesaai in oneer, daar word opgewek in heerlikheid; daar word gesaai in swakheid, daar word opgewek in krag. ‘n Natuurlike liggaam word gesaai, ‘n geestelike liggaam word opgewek. Daar is ‘n natuurlike liggaam, en daar is ‘n geestelike liggaam. So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees. Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike. Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel. Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra. Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie. 1Kor 15:40-50

Voordat Adam of Eva aan die boom geraak het was hulle reeds SONDIG! Kyk net wat het alles in Eva se kop aangegaan nog voor Sy aan die boom geraak het – net so was Adam ook want Eva was uit Adam:

Gen 3:6 Toe sien die vrou dat die boom goed was om van te eet en dat hy ‘n lus was vir die oë, ja, ‘n boom wat ‘n mens kan begeer om verstand te verkry; en sy neem van sy vrugte en eet en gee ook aan haar man by haar, en hy het geëet.

Die mens se wese is dus van die begin gevul met begeertes wat teen God se bevel gaan – alles onder God se toesig!!!

Laat niemand, as hy in versoeking kom, sê: Ek word deur God versoek nie. Want God kan deur die kwaad nie versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie. Maar elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word. Daarna, as die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde; en as die sonde tot volle ontwikkeling gekom het, bring dit die dood voort. Jak 1:13-15

HERE, waarom laat U ons wegdwaal van u weë? Waarom verhard U ons hart, sodat ons U nie vrees nie? Keer terug ter wille van u knegte, die stamme van u erfdeel! Jes 63:17

Daar is dit weer – dit is God wat Adam en Eva, en almal van ons laat afdwaal van Sy weë en dit is HY wat ons harte verhard. Nou kom die vraag….waarom vind HY dan fout? Paulus gee die antwoord en weereens word die antwoord verwerp deur die ongelowige natuurlike mens in ons almal:

So hang dit dan nie af van die een wat wil of van die een wat loop nie, maar van God wat barmhartig is. Want die Skrif sê aan Farao: Juis hiervoor het Ek jou laat optree, dat Ek in jou my krag kan toon en dat my Naam verkondig kan word op die hele aarde. So is Hy dan barmhartig oor wie Hy wil en Hy verhard wie Hy wil. Jy sal dan vir my sê: Waarom verwyt Hy dan nog, want wie het sy wil weerstaan? Maar tog, o mens, wie is jy wat teen God antwoord? Die maaksel kan tog nie vir die maker sê: Waarom het u my so gemaak nie? Of het die pottebakker nie mag oor die klei, om uit dieselfde klomp die een voorwerp tot eer en die ander tot oneer te maak nie? Rom 9:16-21

Die eerste Adam in ons almal is die voorwerp “tot oneer” wat God verwerp en God sal hom totaal vernietig. Maar uit die vernietingsproses word die nuwe “voorwerp tot eer” gemaak, die geestelike skepping tot God se perfeksie!!!

PRYS GOD VIR SY VOLMAAKTE PLAN MET ELKEEN VAN ONS!!!

 

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s