Dit is baie belangrik om te weet dat die Skrifte primêr geestelik van aard is:
Joh 6:63 Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.
Die natuurlike mens neem die geestelike dinge van God nie aan nie….
1Kor 2:14 Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid,
Ons moet dit weet as waarheid, anders raak ons verstrengel. Die natuurlike mens neem die geestelike dinge van God nie aan nie. God het dit onmoontlik gemaak vir enige natuurlike mens om Sy geestelike dinge te verstaan:
1Kor 2:14 Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.
Nou hoe praat God dan met ons? Hy begin met ons praat deur aardse dinge verstaanbaar te maak. Wat beteken dit? Ons leer eers aardse dinge ken as kind, deur dinge waar te neem deur ons vyf sintuie, en dan leer ons as kind en jongeling om later betekenisse aan hierdie aardse dinge en aardse ervaringe te heg. Hier is een so ‘n voorbeeld wat Adam moes deurgaan om sy wêreld te leer ken:
Gen 2:19 En die HERE God het uit die aarde geformeer al die diere van die veld en al die voëls van die hemel en hulle na die mens gebring om te sien hoe hy hulle sou noem. En net soos die mens al die lewende wesens genoem het, so moes hulle naam wees.
Ons moet nie net leer van ons aardse omgewing nie, maar hierdie benoeming of naamgewing wat Adam hier onderwerp was, is hoe ons almal leer om ook interne betekenis te ontwikkel. Dit is hierdie betekenisse wat dan opgeneem word in ons op ‘n geestelike vlak wat as ons abstrakte denke manifesteer. Ons sien dus nou hoe interne betekenisgewing ontwikkel word as die mens fisiese dinge met geestelike konsepte kan verbind. God het dus Sy “onsigbare dinge”, dit is geestelike dinge, aan ons bekendgestel deur hierdie proses waar ons aardse dinge BETEKENIS kan gee. Dit gaan dus oor die konsep van “betekenis” wat ‘n geestelike werk in ons denke is. God se geestelike werke kan dus inderdaad “van die skepping van die wêreld af” gesien word en niemand staan dus verontskuldig nie:
Rom 1:20 Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie.
Hierdie teks weerspreek dus geensins 1Korinthiërs 2 vers 14 nie. Om natuurlike dinge met geestelike dinge te kan verbind is die eerste stap om te kan verstaan dat alles in die natuurlike wêreld geskep was om ons dieper geestelike betekenisse te leer. Die klem is weereens is op die betekenis en nie op die aardse ding nie. Aardse dinge dien slegs as skaduwees of rigtingwysers na die werklike geestelike betekenis, wat dan verder geneem moet word na die geestelike realiteit, Christus Jesus en Sy Vader:
Joh 14:5-7 Thomas sê vir Hom: Here, ons weet nie waar U gaan nie, en hoe kan ons die weg ken? 6 Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. 7 As julle My geken het, sou julle my Vader ook geken het, en van nou af ken julle Hom en het julle Hom gesien.
Baie mens haak vas by, of die aardse voorwerp, of by die betekenis, en dink dat hulle AL God se dieper geestelike dinge op daardie vlakke kan ken. As dit waar sou wees het hierdie volgende tekste wat 1Korinthiërs 2 vers 14 voorafgaan geen waarde nie:
1Kor 2:9-13 maar soos geskrywe is: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet. 10 Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God. 11 Want wie van die mense weet wat in ‘n mens is, behalwe die gees van die mens wat in hom is? So weet ook niemand wat in God is nie, behalwe die Gees van God. 12 Ons het ewenwel nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die Gees wat uit God is, sodat ons kan weet wat God ons uit genade geskenk het. 13 Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk.
Die woorde “wat in die hart (die denke) van die mens nie opgekom het nie” sê tog duidelik dat God se geestelike dinge baie dieper weggesteek word as die aardse vlak of aan ons betekenisgewing van daardie aardse vlak!!!
Spr 25:2 Dit is die eer van God om ‘n saak te verberg, maar die eer van konings om ‘n saak na te speur.
God se geestelike insigte en realiteite is dus nie afhanklik van ons persoonlike natuurlike waarnemingsvermoë, of ons abstrakte beskrywing en betekenisgewing van daardie natuurlike dinge rondom ons nie. Dink maar aan hoe blinde of dowe mense kan glo in God en Hom ervaar, en hoe sal gewone vissermanne se kennis van God en Sy werke groot teoloë laat verwonder:
Hand 4:13 En toe hulle [die owerstes van die volk en die ouderlinge van Israel] en die vrymoedigheid van Petrus en Johannes sien en verstaan dat hulle ongeleerde en eenvoudige manne was, was hulle verwonderd en het hulle as metgeselle van Jesus herken.
Ons aanvanklike onvolwasse geestelike ervaringe berus dus eerstens op wat ons kry uit aardse dinge en aardse betekenisse. God se gees leer egter ons om verby hierdie aardse dinge te kan kyk en nog dieper te delf:
1Kor 2:13 Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk.
Die woorde “nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie” maak alles soveel duideliker. Menslike wysheid is aards en dit het die vermoë om ons te laat kompeteer met ander oor ons verskeie vlakke van kennis.
Jak 3:15-16 Dít is nie die wysheid wat van bo kom nie, maar is aards, natuurlik, duiwels; 16 want waar afguns en selfsug is, daar is wanorde en allerhande gemene dade.
Kan meer kennis van aardse dinge ons meer geestelike insig bring? Oordeel self:
1Kor 8:1-3 En met betrekking tot die offervleis aan die afgode weet ons dat ons almal kennis het. Die kennis maak opgeblase, maar die liefde stig. 2 As iemand meen dat hy enige kennis het, weet hy nog niks soos ‘n mens behoort te weet nie. 3 Maar as iemand God liefhet, dié word deur Hom geken.
Die liefde vir God word hier in die verse in 1Korinthiërs 8 direk geopponeer deur kennis van aardse dinge (offervleis aan die afgode in hierdie geval) . God se liefde maak ons nie “opgeblase” nie. Dit werk op heel ander vlakke as wat aardse kennis werk.
1Kor 13:4-7 Die [Goddelike] liefde is lankmoedig en vriendelik; die liefde is nie jaloers nie; die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie, 5 handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie, 6 is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly saam met die waarheid. 7 Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.
Maar dit is nou maar een maal so dat mense baie maak van aardse kennis en almal word gemeet aan jou aardse vlak. Hoe hoër jou stand in die aardse samelewing en hoe beter jou aardse kwalifikasies, hoe hoër is jou profiel. Dit is die maatstaaf vir belangrikheid, en selfs van geestelike insig. Maar die Vader, die enigste ware beoordelaar van alles, doen dinge heel anders:
1Kor 1:26-29 Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; 27 maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; 28 en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, 29 sodat geen vlees voor Hom sou roem nie.
Ware geestelike insig en volwassenheid het ‘n heel ander maatstaaf in God se oë as in mens se oë. Om te bly by aardse dinge en betekenisvorming van ons natuurlike denke is wat aansluit by die “eerste beginsels van die woorde van God“:
Heb 5:12-14 Want hoewel julle vanweë die tyd leraars behoort te wees, het julle weer nodig dat ‘n mens julle die eerste beginsels van die woorde van God moet leer, en julle het weer behoefte aan melk en nie aan vaste spys nie. 13 Want elkeen wat melk gebruik, is onervare in die woord van geregtigheid, omdat hy ‘n kind is. 14 Maar vaste spys is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei. Heb 6:1-2 Daarom moet ons nie bly by die begin van die prediking aangaande Christus nie, maar na die volmaaktheid voortgaan sonder om weer die fondament te lê van die bekering uit dooie werke en van die geloof in God, 2 van die leer van die doop en van die handoplegging en van die opstanding van die dode en van die ewige oordeel.
Die bestrawing is duidelik dat ons “na die volmaaktheid [moet] voortgaan sonder om weer die fondament te lê”. Aardse kennis en abstrakte betekenisgewing is soos melk vir die baba en jongelinge:
1Kor 13:11 Toe ek ‘n kind was, het ek gepraat soos ‘n kind, gedink soos ‘n kind, geredeneer soos ‘n kind…
Paulus en die hele Skrif sien alle aardse kennis met hul gepaardgaande betekenisvlakke as drek en skade. Paulus, en almal wat tot volwassenheid groei in geestelike dinge, sien eerder die “uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus”, as prioriteit. Dit is die dieper geestelike dinge van God wat die aardse oog nie gesien het, en die aardse oor nie gehoor het, en in die aardse denke van mense nie gevorm is deur al die aardse sintuie nie. Die “uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus” is wat die gees van God ons leer:
Fil 3:8 Ja waarlik, ek [Paulus] ag ook alles [sy aardse kennis en kwalifikasies] skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry
As ons dus die geestelike dinge van God kan verstaan, deur geestelike met geestelike te vergelyk, en IN onsself kan toepas en dit uitleef, dan klou ons nie weer vas aan die fisiese dinge nie. Dit is wat GEESTELIKE BEVRYDING inderdaad beteken.