Die eenvoudigheid en reinheid van God

Eenvoudigheid is ‘n geheim wat die mens in sy trotsheid totaal mis. Die natuurlike mens wil altyd sy eie roem bewerkstellig en sy naam vestig , maar in die proses word sy naaktheid eintlik uitgebeeld. Ons wil altyd ons eie stede en torings bou (“tot aan die hemel”), gedryf deur ons natuurlike welluste en trots:

Gen 11:1-4  En die hele aarde het dieselfde taal gehad en een en dieselfde woorde.  (2)  En toe hulle wegtrek na die ooste, vind hulle ‘n laagte in die land Sínear; en daar het hulle gaan woon.  (3)  Daarop sê hulle vir mekaar: Kom laat ons stene vorm en dit goed brand. Hulle gebruik toe die bakstene vir bousteen en die lymgrond vir klei.  (4)  En hulle sê: Kom, laat ons vir ons ‘n stad bou en ‘n toring waarvan die spits tot aan die hemel reik; en laat ons vir ons ‘n naam maak, sodat ons nie oor die hele aarde verstrooid raak nie.

Welluste en trots is “alles wat in die wêreld is” want dit omskryf alle aardse menslike aktiwiteite. Dwarsdeur die mens se geskiedenis word hierdie aardse liefde van die mens geopenbaar:

1Jo 2:15-17  Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie.  (16)  Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld.  (17)  En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.

Die natuurlike mens is verstrengel binne hierdie aardse kompleksiteite, en op sy eie kan hy niks daaraan doen nie. God het die mens “uit die stof van die aarde” geskep en hom in hierdie aardse omgewing geplaas vir ‘n baie goeie rede.

Gen 2:7-9  En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword.  (8)  Ook het die HERE God ‘n tuin geplant in Eden, in die Ooste, en daar aan die mens wat Hy geformeer het, ‘n plek gegee.  (9)  En die HERE God het allerhande bome uit die grond laat uitspruit, begeerlik om te sien en goed om van te eet; ook die boom van die lewe in die middel van die tuin, en die boom van die kennis van goed en kwaad.

Die mens was omring deur “allerhande bome” wat uit dieselfde grond voortgebring was. Let mooi op dat hierdie bome was “begeerlik om te sien en goed om van te eet”. Die mens het egter nie die vermoë gehad om die boom van lewe te begeer en van dit te eet nie. Hier is die rede waarom die mens nie die “Boom van die lewe”, wat ‘n tipe was van Jesus Christus, begeer het nie en waarom die mens nie van nature van die boom sal eet nie:

Jes 53:1-2  Wie het geglo wat aan ons verkondig is? En aan wie is die arm van die HERE geopenbaar?  (2)  Hy tog het soos ‘n loot voor sy aangesig opgespruit en soos ‘n wortel uit droë grond. Hy het geen gestalte of heerlikheid gehad, dat ons Hom sou aansien nie, en geen voorkoms, dat ons Hom sou begeer nie.

Die Boom van die Lewe het nie ‘n “gestalte of heerlikheid” dat die natuurlike mens Hom sal aansien nie, want Hy het nie die voorkoms wat mense begeer om te wees nie. Nee, Jesus en Sy geestelike dinge is nie wat die aardse mens begeer nie. Die aardse mens soek sy eie eer en voorspoed.

Gen 11:4  En hulle sê: Kom, laat ons vir ons ‘n stad bou en ‘n toring waarvan die spits tot aan die hemel reik; en laat ons vir ons ‘n naam maak, sodat ons nie oor die hele aarde verstrooid raak nie.

Die natuurlike mens haat God se eenvoudigheid en Sy reinheid, en die mens verag ook hulle wat kom in hierdie eenvoudigheid:

Jes 53:3  Hy was verag en deur die mense verlaat, ‘n man van smarte en bekend met krankheid; ja, soos een vir wie ‘n mens sy gelaat verberg; Hy was verag en ons het Hom nie geag nie.

Maar God het die wêreld en hul aantreklike wyshede net waar Hy hulle wil hê.

1Kor 1:19-22  want daar is geskrywe: Ek sal die wysheid van die wyse mense vernietig en die verstand van die verstandige mense tot niet maak.  (20)  Waar bly die wyse? Waar bly die skrifgeleerde? Waar die redetwister van hierdie eeu? Het God nie die wysheid van hierdie wêreld dwaas gemaak nie?  (21)  Want aangesien in die wysheid van God die wêreld deur die wysheid God nie geken het nie, het dit God behaag om deur die dwaasheid van die prediking die wat glo, te red;  (22)  want die Jode vra ‘n teken en die Grieke soek wysheid,

God openbaar Homself nou net aan hulle wat deur die wêreld verag word:

1Ko 1:24-29  maar vir die wat geroep is, Jode sowel as Grieke: Christus, die krag van God en die wysheid van God.  (25)  Want wat dwaas is by God, is wyser as die mense; en wat swak is by God, is sterker as die mense.  (26)  Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie;  (27)  maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam;  (28)  en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak,  (29)  sodat geen vlees voor Hom sou roem nie.

God werk in eenvoudigheid en reinheid. Eenvoudigheid en reinheid is veral ook die les wat alle Nuwe Testamentiese apostels, profete, evangeliste, herders en leraars preek en die kerk van Christus daarmee toerus:

Efs 4:11-12  En Hy het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars,  (12)  om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus,

Die kerk van Christus word toegerus met God se gawes en karakter deur Sy eenvoudigheid en reinheid – nie met menslike roem en onreinheid nie:

1Ko 5:6-8  Julle roem is nie mooi nie. Weet julle nie dat ‘n bietjie suurdeeg die hele deeg suur maak nie?  (7)  Suiwer dan die ou suurdeeg uit, sodat julle ‘n nuwe deeg kan wees—soos julle inderdaad ongesuurd is—want ook ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus.  (8)  Laat ons dan feesvier, nie met die ou suurdeeg of met die suurdeeg van ondeug en boosheid nie, maar met die ongesuurde brode van reinheid en waarheid.

Dit is dan ook wat Paulus in al sy preke aan al die gemeentes, en veral aan die Korinthiërs, probeer oordra het – om God is reinheid en eenvoudigheid te dien – NIE in vleeslike en aardse wysheid nie:

2Ko 1:12-14 Want ons roem is dit: die getuienis van ons gewete dat ons in eenvoudigheid en reinheid van God, nie in vleeslike wysheid nie, maar in die genade van God in die wêreld verkeer het, en veral by julle. 13 Want ons skryf aan julle niks anders as wat julle lees of ook verstaan nie, en ek hoop dat julle dit ook tot die einde toe sal verstaan, 14 soos julle ook gedeeltelik van ons verstaan het dat ons julle roem is, net soos julle ook ons roem is in die dag van die Here Jesus.

Hoe ons saamleef met ons mede-gelowiges, en met ons medemens, moet voor God aanvaarbaar wees. Dit is wat Paulus ook hier wil uitwys – sy gewete is skoon voor God. Hierdie woorde van Paulus kom te midde van allerhande valse stories wat Paulus se mede broers en susters in die gemeente in Korinte oor hom versprei het.

Mens is van nature baie lief om alles te kompliseer en hulself in ‘n warboel in te laat wat niks goed vir hulself na vore gaan bring nie. Hulle word hoogdrawend en wil ander oortuig van ‘n verhewendheid wat hulle selfbeeld en ego streel. Die mense wat God in die geskiedenis gebruik het vir Sy goeie werke, het altyd een ding in gemeen gehad: naamlik, eenvoudigheid en reinheid van gewete. Hulle was op die einde van die dag nederig en het nie meer gedink van hulself “as wat ‘n mens behoort te dink nie”, maar dit het ‘n prys gekos:

Rom 12:3  Want deur die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen wat onder julle is, dat hy nie van homself meer moet dink as wat ‘n mens behoort te dink nie; maar dat hy daaraan moet dink om besadig te wees na die maat van geloof soos God dit aan elkeen toebedeel het.

Maar die mens wat nie hierdie dinge ken nie, soek altyd die fout by ander, en nie by hulself nie. Ons almal is op ons eie tyd hierdie Fariseër….

Luk 18:11  En die Fariseër het gaan staan en by homself so gebid: o God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is nie—rowers, onregverdiges, egbrekers, of ook soos hierdie tollenaar nie.

As ons in die Skrifte kyk, dan vind ons baie voorbeelde van mense wat God gebruik het wie hierdie kwaliteite van eenvoudigheid en reinheid uitgestal het. Maar dit het net gekom en ontwikkel deur ‘n langdurige pynlike proses. God se keuse is nie soos mens se keuse nie – vleeslike mense hou nie van God se keuses en Sy manier van doen nie:

Rom 8:5-7  Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge.  (6)  Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede,  (7)  omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie.

Die vlees en sy denke is nooit dieselfde as die gees van God se denke nie, en God se manier van optrede is nooit hoe die vlees sal optree nie:

Jes 55:8-9 Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die HERE. 9 Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes.

Een voorbeeld van God se nederigheid en eenvoud was uitgebeeld in die laaste jare van Moses. Dit was nie aanvanklik so in Moses se lewe nie. Moses was nog voor sy geboorte God se keuse vir ‘n groot taak. Moses se ouers was uit die stam van Levi, wat later die priesterstam sou word. Moses se jong lewe wys uit hoe God hom beskerm het en geseën het met fisiese gawes:

Núm 26:59 En die naam van Amram se vrou was Jogébed, die dogter van Levi wat vir Levi in Egipte gebore is; en vir Amram het sy gebaar: Aäron en Moses en Mirjam, hulle suster.

Hnd 7:20-22 In dié tyd is Moses gebore, en hy was wonderlik mooi. Drie maande lank is hy in die huis van sy vader versorg; 21 en toe hy weggegooi is, het Farao se dogter hom opgeneem en hom as haar seun grootgemaak. 22 En Moses is opgelei in al die wysheid van die Egiptenaars en was magtig in woorde en dade.

Moses het geweet dat hy vir ‘n groot taak geroep was, maar toe gebeur dinge nie soos hy dit uitgewerk het nie:

Hnd 7:23-25 En nadat hy die ouderdom van veertig jaar bereik het, het dit in sy hart opgekom om sy broers, die kinders van Israel, te besoek; 24 en toe hy sien dat iemand onreg aangedoen word, het hy hom verdedig en die man wat mishandel was, gewreek deur die Egiptenaar te verslaan. 25 En hy het gedink dat sy broers sou verstaan dat God hulle deur sy hand redding sou gee; maar hulle het dit nie verstaan nie.

Ons grootste teenstanders kom uit ons eie geledere, en Jesus maak dit baie duidelik aan almal wat Hom wil volg:

Mat 10:34-36  Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard.  (35)  Want Ek het gekom om tweedrag te verwek tussen ‘n man en sy vader, en tussen ‘n dogter en haar moeder, en ‘n skoondogter en haar skoonmoeder.  (36)  En ‘n mens se huisgenote sal sy vyande wees.

Dink maar aan Josef en sy broers se dade teenoor hom, net omdat sy vader hom meer lief gehad het – weereens ‘n uitbeelding dat die hemelse Vader se keuse nie deur mense aanvaar word nie:

Gen 37:4  Toe sy [Josef] broers sien dat hulle vader hom meer as al sy broers liefhet, het hulle hom gehaat en kon nie vriendelik met hom praat nie.

Moses het aanvanklik sy taak en werkswyse heeltemal misverstaan, soos altyd gebeur net almal God se ware leiers. Die teenstanders is dan ook altyd reg om ons foute uit die verlede aan ons uit te wys, veral hulle wat in meer intieme verhoudings met ons geleef het. Jesus se eie broers het tydens sy aardse lewe nie in Hom geglo nie, want hulle was meer gefokus op Sy aardsheid:

Joh 7:1-5  En daarna het Jesus in Galiléa rondgegaan, want Hy wou nie in Judéa rondgaan nie, omdat die Jode probeer het om Hom dood te maak.  (2)  En die fees van die Jode, die huttefees, was naby.  (3)  Sy broers het toe vir Hom gesê: Vertrek hiervandaan en gaan na Judéa, sodat u dissipels ook u werke kan sien wat U doen.  (4)  Want niemand doen iets in die geheim en soek tegelykertyd om in iedereen se mond te wees nie. As U hierdie dinge doen, vertoon Uself aan die wêreld.  (5)  Want ook sy broers het nie in Hom geglo nie.

Misverstande en miskommunikasie is dus altyd deel van menswees. Moses se vleeslike denke het hom gelei in sy persoonlike subjektiewe idee van sy posisie en werkswyse. Moses se eie denke was verkeerd. Moses moes hierdie lewensles op die harde manier leer, soos ons almal ook doen. Ons aardse hart is bedrieglik:

Jer 17:9  Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?

Moses moes vlug vir sy lewe toe hy uitvind dat selfs sy eie mense heel anders van hom dink, en dat hulle sy sondes geken het, en dit onthou, en altyd teen hom gaan gooi. Van die paleis in Egipte moes Moses in die woestyne oorleef:

Hnd 7:26-29 En die volgende dag het hy by hulle verskyn terwyl hulle besig was om te veg, en hy het by hulle aangedring om vrede te maak en gesê: Manne, julle is broers; waarom doen julle mekaar onreg aan? 27 Maar hy wat sy naaste onreg aangedoen het, het hom afgestoot en gesê: Wie het jou as ‘n owerste en regter oor ons aangestel? 28 Jy wil my tog nie doodmaak soos jy gister die Egiptenaar doodgemaak het nie? 29 En Moses het op hierdie woord gevlug en ‘n bywoner geword in die land Mídian, waar hy die vader van twee seuns geword het.

‘n Profeet word nie deur sy eie mense geëer nie, en in sy eie land word hy op grond van sy aardse optredes geevalueer. Selfs Jesus moes ook hierdie vernedering ervaar. Hy het geweet wat om te verwag, soos elke ware profeet van God ook weet:

Luk 4:22-24 En almal het vir Hom [Jesus] getuienis gegee en was verwonderd oor die aangename woorde wat uit sy mond kom; en hulle sê: Is Hy nie die seun van Josef nie? 23 En Hy antwoord hulle: Julle sal My ongetwyfeld hierdie spreekwoord toevoeg: Geneesheer, genees uself! Alles wat ons hoor wat in Kapérnaüm gebeur het, doen dit hier in u vaderstad ook. 24 En Hy sê: Voorwaar Ek sê vir julle, geen profeet is aangenaam in sy vaderland nie.

Moses moes vir die volgende 40 jaar diep besin oor alles, en dit was God wat uiteindelik Moses se taak en die werkswyse aan hom moes verduidelik. Dit neem maar baie lank vir ons om uit te vind dat onse manier van dinge sien en doen, is nie God se manier van sien en doen nie. Moses moes sy eie idees en handelinge los, en die fisiese uittrek van die skoene beeld dit vir ons uit:

Hnd 7:33 Toe sê die Here vir hom: Trek die skoene van jou voete af, want die plek waarop jy staan, is heilige grond.

God rig ons denke en ons voetstappe van begin tot einde.

Spr 16:1  Die planne van die hart is van die mens, maar die antwoord van die tong kom van die HERE.

Psa 139:1-4  Vir die musiekleier. ‘n Psalm van Dawid. HERE, U deurgrond en ken my.  (2)  U ken my sit en my opstaan; U verstaan van ver my gedagte.  (3)  U deurvors my gaan en my lê, en U is met al my weë goed bekend.  (4)  Want daar is nog geen woord op my tong nie—of U, HERE, U ken dit geheel en al.

Ons almal vind dit eers later uit as God ons oë oopmaak vir hierdie waarheid, en dan roep ons uit soos Jeremia…

Jer 10:23 Ek weet, o HERE, dat aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan ‘n man om te loop en sy voetstappe te rig nie.

Ons leer op die harde manier dat God alles rig en bewerkstellig. Ons kan dan Hom in al ons weë herken – die goed en die kwaad:

Spr 3:5-8 Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. 6 Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelykmaak. 7 Wees nie wys in jou eie oë nie; vrees die HERE, en wyk af van die kwaad; 8 dit sal genesing wees vir jou liggaam en verkwikking vir jou gebeente.

Moses wys ons waarom God net in nederigheid en eenvoud gedien kan word. Moses moes by die wêreld van sy skoonpa, Jetro, en by kleinvee in die woestyn, gaan leer hoe om God in al sy weë te erken:

Eks 3:1 En Moses het die kleinvee opgepas van sy skoonvader Jetro, die priester van Mídian. En toe hy die kleinvee agter die woestyn gedryf het, kom hy by die berg van God, by Horeb.

God het Moses geroep toe hy 80 jaar oud was! Hoor nou Moses se woorde na 40 jaar van vernedering. Luister nou na die man wat vir die eerste 40 jaar van sy lewe grootgeword het in Egipt se paleise, en opgelei was in al die wysheid van die wêreld, en magtig was in woorde en dade in sy jare in Egipte.

Eks 4:10 Toe sê Moses aan die HERE: Ag, Here, ek is nie ‘n man van woorde nie—van gister of van eergister of vandat U met u kneg gespreek het nie; want ek is swaar van mond en swaar van tong.

God het nou die enigste krag in Moses se lewe geword – sy vleeslike trots en aardse welluste was gebreek. Kyk wat sê die Skrifte oor die nuwe Moses…

Núm 12:3 Maar die man Moses was baie sagmoedig, meer as al die mense op die aardbodem.

 

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s