Ons eie kruis is God se genade om ons te verlos van ons ellendige ou mens!

Die Skriftuurlike “genade van God” is verander tot ‘n lewe van ongebondheid (losbandigheid) deur “sekere goddelose mense” wat ‘n goedkoop evangelie aanbied, want hulle wil hul kerke vol hê vir persoonlike gewin. Maar in die proses verloën hulle die een ware God en die Here Jesus Christus:

Jud 1:4 Want sekere mense het ingesluip wat lank tevore al opgeskryf is vir hierdie oordeel, goddelose mense wat die genade van onse God verander in ongebondenheid, en die enigste Heerser, God, en onse Here Jesus Christus verloën.

Hier is die ware betekenis van God se genade en hoe elkeen God se nuwe lewe deelagtig word:

Tit 2:11-12 Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn 12 en leer  [Grieks: paideuō] ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe.

Die woord “leer” is vertaal vanaf dieselfde oorspronklike Griekse woord (“paideuō”) in die volgende vers:

Heb 12:6 want die Here tugtig [Grieks: paideuō] hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem.

God se genade is Sy TUGTINGSPROSES! Dit is ‘n pynlike kastyding van ons vlees, sy aardse denke en dade. Genade is dus nie om net ‘n nuwe blaai om te blaai nie, maar om al die ou blaaie uit te wis deur God se vurige oordeel! Dit is hoe God altyd met ons sonde deel. Hy vergewe ons al ons sonde deur dit uit te wis met Sy VUUR tydens sy oordeel:

1Kor 3:13-18 elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. 14 As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; 15 as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen. 16 Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie? 17 As iemand die tempel van God skend, sal God hom skend; want die tempel van God is heilig, en dit is julle. 18 Laat niemand homself mislei nie: as iemand meen dat hy wys is onder julle in hierdie wêreld, laat hom dwaas word, sodat hy wys kan word;

God inderdaad laat ons “skade ly” deur ons sonde en ons sondige lewenswyse (werke van vlees) van ons te verwyder deur Sy tugtiging! Daar is geen ander metode wat God aan ons in die Skrifte van Genesis tot Openbaring gee nie.

Psa 103:12 So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons.

Jes 43:25 Ek, Ek is dit wat jou oortredinge uitdelg om My ontwil, en aan jou sondes dink Ek nie.

Daar is ‘n ernstige waarskuwings in God se Woord teen hulle wat ander mislei, en ook aan hulle wat die misleidings glo.

Mat 18:6-9 maar elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, laat struikel, dit is vir hom beter dat ‘n meulsteen aan sy nek gehang word en hy wegsink in die diepte van die see. 7 Wee die wêreld weens die struikelblokke! Want dit is noodsaaklik dat daar struikelblokke kom, maar wee die mens deur wie die struikelblok kom. 8 En as jou hand of jou voet jou laat struikel, kap dit af en gooi dit weg van jou af; dit is vir jou beter om in die lewe in te gaan, kreupel of vermink, as om twee hande of voete te hê en in die ewige vuur gewerp te word. 9 En as jou oog jou laat struikel, ruk dit uit en werp dit weg van jou af. Dit is vir jou beter om met een oog in die lewe in te gaan, as om twee oë te hê en in die helse vuur gewerp te word.

Die vuur in hierdie verse is geestelik:

Jer 5:14 Daarom, so sê die HERE, die God van die leërskare: Omdat julle hierdie woord spreek, kyk, Ek maak my woorde in jou mond ‘n vuur en hierdie volk hout, en dit sal hulle verteer.

God se Woord is die vuur wat Hy in Sy oordeel gebruik om ons harte (ons denke) reg te bring.

Joh 12:48-50  Wie My verwerp en my woorde nie aanneem nie, het een wat hom oordeel: die woord wat Ek gespreek het, dit sal hom oordeel in die laaste dag.  (49)  Want Ek het nie uit Myself gespreek nie; maar die Vader wat My gestuur het, Hy het My ‘n gebod gegee wat Ek moet sê en wat Ek moet spreek.  (50)  En Ek weet dat sy gebod die ewige lewe is. Wat Ek dan spreek—net soos die Vader vir My gesê het, so spreek Ek.

Ons aarde en ons hemele moet gesuiwer en vervang word deur die nuwe aarde en nuwe hemel en dit kom alles deur Sy Woord.

Rom 12:2 En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.

Opn 21:1  En ek het ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan; en die see was daar nie meer nie.

Die ou aarde en sy ou hemele is gevul met “die see” / “die wêreldvloed” wat duister is en God ken nie:

Gen 1:1-2  In die begin het God die hemel en die aarde geskape.  (2)  En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters.

Ons ou denke en aardse dade word deur God se Woord, Sy LIG, uitgewys en mettertyd uitgewis:

Gen 1:3  En God het gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig.

Joh 1:1-5  In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.  (2)  Hy was in die begin by God.  (3)  Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.  (4)  In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense.  (5)  En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie.

2Ts 2:8  en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak,

Ons ou aarde en ons ou hemele word gesuiwer van die suurdeeg (sonde en sondige gedagtes) deur God se Woord.

1Kor 5:7-8 Suiwer dan die ou suurdeeg uit, sodat julle ‘n nuwe deeg kan wees—soos julle inderdaad ongesuurd is—want ook ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus. 8 Laat ons dan feesvier, nie met die ou suurdeeg of met die suurdeeg van ondeug en boosheid nie, maar met die ongesuurde brode van reinheid en waarheid.

Dit bring hartseer vir ons ou mens, maar groot vreugde en vrede vir die nuwe mens in ons!

Jak 4:7-10 Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug. 8 Nader tot God, en Hy sal tot julle nader. Reinig die hande, julle sondaars, en suiwer die harte, julle dubbelhartiges! 9 Weeklaag, treur en ween. Laat julle gelag in treurigheid verander word en julle blydskap in bedruktheid. 10 Verneder julle voor die Here, en Hy sal julle verhoog.

God se oordeel is die EEN belangrike metode wat God gebruik om aan elkeen Sy geregtigheid te leer. Daar is geen ander manier nie:

Jes 26:9 Met my siel begeer ek u in die nag; ook met my gees in my binneste soek ek U; want as u oordele op die aarde is, leer die inwoners van die wêreld geregtigheid.

Selfs ons goeie werke in die vlees moet uitgewys en verwoes word, want dit is eintlik ‘n besoedelde kleed wat net nie kwalifiseer vir ingang in God se heilige koninkryk nie:

Jes 64:6 En ons het almal geword soos ‘n onreine, en al ons geregtighedesoos ‘n besoedelde kleed; en ons het almal verdor soos blare, en ons ongeregtighede het ons weggevoer soos die wind.

God se genade bring Sy oordeel om ons te verlos van alle sonde en misleidings van die vlees, en dit is ‘n pynlike proses!

1Kor 11:32 Maar as ons geoordeel word, word ons deur die Here getugtig, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel mag word nie.

Hierdie belangrike oordeel kom eerste op die uitverkore kerk van Christus wat nou voor Christus se oordeels-troon staan:

1Pe 4:17 Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is?

DIESELFDE oordeel kom later op die res wat nou ongehoorsaam is aan die evangelie van God.

Prd 9:2 Alles is gelyk vir almal: een en dieselfde lot is daar vir die regverdige en die goddelose, vir die goeie en die reine en die onreine, en vir hom wat offer en vir hom wat nie offer nie, die goeie ewe goed as die sondaar, vir hom wat sweer ewe goed as vir hom wat bang is vir ‘n eed.

Opn 20:11-15 En ek het ‘n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie. 12 En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ‘n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke. 13 En die see het die dode gegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dode gegee wat daarin was; en hulle is geoordeel, elkeen volgens sy werke. 14 En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood. 15 En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp.

ALMAL kom deur DIESELFDE sonde en deur DIESELFDE oordeel:

Rom 14:10-12  Maar jy, waarom oordeel jy jou broeder? Of jy ook, waarom verag jy jou broeder? Want ons sal almal voor die regterstoel [Grieks: bēma] van Christus gestel word.  (11)  Want daar is geskrywe: So waaragtig as Ek leef, sê die Here, voor My sal elke knie buig, en elke tong sal God bely.  (12)  So sal elkeen van ons dan vir homself aan God rekenskap gee.

Mat 7:1-2  Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie.  (2)  Want met die oordeel waarmee julle oordeel, sal julle geoordeel word; en met die maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word.

Sommige beweer dat die sogenaamde “bēma” of regterstoel van God is verskillend vir die gelowige en die ongelowige. Is ons ALMAL nie eers ONGELOWIG, net soos ander, voor ons gelowig word nie? Is die volgende woorde van Paulus dan verniet geskryf as hy die gemeente in Efese (en ons) waarsku om nie soos dwase te redeneer nie:

Efs 2:1-3  En julle [gelowiges] het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes  (2)  waarin julle [gelowiges] tevore gewandel het volgens die loop van hierdie wêreld, volgens die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk,  (3)  onder wie ons almal [gelowiges ook!!!!] ook vroeër gewandel het in die begeerlikhede van ons vlees toe ons die wil van die vlees en van die sinne gedoen het; en ons [gelowiges] was van nature kinders van die toorn net soos ook die ander.

Ons almal is eers ongelowig en het “net soos die ander” geleef. Dit is die Vader wat ons na Jesus TREK en aan ons GELOOF SKENK – onverdienstelik!!!

Efs 2:4-10  Maar God, wat ryk is in barmhartigheid, het ons deur sy grote liefde waarmee Hy ons liefgehad het,  (5)  ook toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus—uit genade is julle gered—  (6)  en saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus,  (7)  sodat Hy in die eeue wat kom, kan betoon die uitnemende rykdom van sy genade in goedertierenheid oor ons in Christus Jesus.  (8)  Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God;  (9)  nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.  (10)  Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.

Joh 6:44  Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag.

“Uit genade is julle gered” is ‘n pynlike erkenning dat Jesus se dood op die kruis was vir ALLE sonde – ALMAL se sondes. Dit is korrek – niemand is uitgesluit nie. Ons kry Sy redding “uit genade” op die tyd soos deur God bepaal. Almal word op “die regte tyd” met God versoen deur Jesus Christus – SONDER VERDIENSTE!!!!!

1Jo 2:1-2 My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het ‘n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige. 2 En Hy is ‘n versoening vir ons sondes, en nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld.

1Ti 4:9-10 Dit is ‘n betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word; 10 want hiervoor arbei ons ook en word ons gesmaad, omdat ons gehoop het op die lewende God wat ‘n behouder is van alle mense, insonderheid van die gelowiges.

1Ti 2:3-6 Want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser, 4 wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom. 5 Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus, 6 wat Homself gegee het as ‘n losprys vir almal, as die getuienis op die regte tyd,

Meeste mense mis of die boodskap van die redding van ALLE mense deur God se genadige oordeel, of hulle gaan aan die anderkant af en sê dat Jesus se dood ons vrystel van die ons eie kruis en die oordeel van God.

Neem asseblief kennis: Jesus se dood en verlossing, is vir ALMAL, en ALMAL sal hul eie kruis moet opneem en Hom volg “op die regte tyd”.

Mat 10:38-39 En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie. 39 Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind.

Die onvolwasse kerk in Korinte het ook die valse leer geglo dat Jesus alleen moes sterf en hulle kon dan net voortgaan in hul onkunde oor die hele proses van sterf vir hul eie sonde. Wat beteken dit om jou ‘eie kruis’ op te neem? Ons moet gelykvormig word aan Sy dood. Ons kan dit egter nie op ons eie doen nie! Jesus is waaragtig lewend en Hy lewe daadwerklik in elkeen wat hierdie volgende woorde kan glo en uitleef….

Gal 2:20 Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.

Die volgende woorde van Paulus is eerder ‘n liefdevolle BESTRAWWING as wat dit ‘n kompliment was:

1Kor 2:2 want ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde.

Paulus het geweet dat hierdie babas in Christus nog net hierdie een deel van die waarheid van die kruis gehoor en geglo het. Ja, Jesus se dood op die kruis was vir hulle sonde.

1Kor 15:1-3  Broeders, ek maak julle die evangelie bekend wat ek aan julle verkondig het, wat julle ook aangeneem het, waarin julle ook staan,  (2)  waardeur julle ook gered word as julle daaraan vashou op die wyse waarop ek dit aan julle verkondig het, of julle moet tevergeefs geglo het.  (3)  Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte;

Hulle het egter nog nie gegroei om te sien dat hulle ook moes sterf nie. Hulle het vasgehou aan die beginsel van geloof (“die eerste plek” / “die begin van die prediking aangaande Christus”) in wat Hy vir hulle gedoen het, en dat hulle niks verder moes doen nie. Dit is ook wat die gelowiges deur die brief aan die Hebreërs moes leer:

Heb 6:1-2  Daarom moet ons nie bly by die begin van die prediking aangaande Christus nie, maar na die volmaaktheid voortgaan sonder om weer die fondament te lê van die bekering uit dooie werke en van die geloof in God,  (2)  van die leer van die doop en van die handoplegging en van die opstanding van die dode en van die ewige oordeel.

Baie “bly” by die eerste beginsels van die geloof in Christus want hulle glo Jesus het alles “volbring” toe Hy die woorde sê:

Joh 19:30  En toe Jesus die asyn geneem het, sê Hy: Dit is volbring! En Hy het sy hoof gebuig en die gees gegee.

Ja, dit was volbring vir Hom en Sy taak op aarde was verby. Maar as dit al was wat Jesus kom doen het, dan is ons verlore. Jesus se opstanding het op daardie stadium nog voorgelê en sonder daardie gebeurtenis was alles ON-VOLBRING!

1Kor 15:16-18  Want as die dode nie opgewek word nie, dan is Christus ook nie opgewek nie;  (17)  en as Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof nutteloos, dan is julle nog in julle sondes;  (18)  dan is ook die wat in Christus ontslaap het, verlore.

As Hy dan ook net opgestaan het uit die graf, en nou met Sy hande gevou sit, dan was Sy taak ook steeds ON-VOLBRING.

1Kor 15:19-22  As ons net vir hierdie lewe op Christus hoop, dan is ons die ellendigste van alle mense.  (20)  Maar nou, Christus is opgewek uit die dode; Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het.  (21)  Want aangesien die dood deur ‘n mens is, is die opstanding van die dode ook deur ‘n mens.  (22)  Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word;

Jesus se taak in “almal in Adam” is nog ver van volbring. Kyk mooi wanneer en hoe Hy en Sy Vader, en ons sal weet dat Jesus Christus se taak 100% voltooi is:

1Kor 15:22-28  Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word;  (23)  maar elkeen in sy eie orde: as eersteling Christus, daarna die wat aan Christus behoort by sy koms.  (24)  Daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het.  (25)  Want Hy moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het.  (26)  Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood.  (27)  Want Hy het alles aan sy voete onderwerp, maar wanneer Hy sê dat alles onderwerp is, is dit duidelik dat Hy uitgesonder is wat alles aan Hom onderwerp het.  (28)  En wanneer alles aan Hom onderwerp is, dan sal ook die Seun self Hom onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal kan wees.

Daar is die hele proses verduidelik en kyk hoe eindig ALLES:

En wanneer alles aan Hom onderwerp is, dan sal ook die Seun self Hom onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal kan wees.

“ALMAL in Adam” sal ALMAL deur Christus lewend gemaak word in gees!!!

Nee, Jesus sit nie hande gevou op ‘n plek daar ver nie. Nee, Hy is aktief betrokke by elke ding wat in die skepping gebeur – van begin tot einde:

Kol 1:15-20  Hy [Jesus] is die Beeld van die onsienlike God, die Eersgeborene van die hele skepping;  (16)  want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte—alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape.  (17)  En Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand.  (18)  En Hy is die Hoof van die liggaam, naamlik die gemeente; Hy wat die begin is, die Eersgeborene uit die dode, sodat Hy in alles die eerste kan wees.  (19)  Want dit het die Vader behaag dat in Hom die ganse volheid sou woon  (20)  en dat Hy deur Hom alles met Homself sou versoen nadat Hy vrede gemaak het deur die bloed van sy kruis—ek sê deur Hom—die dinge op die aarde sowel as die dinge in die hemele.

Efs 1:7-10  In Hom [Jesus] het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade,  (8)  wat Hy oorvloedig aan ons bewys het in alle wysheid en verstand,  (9)  deurdat Hy aan ons die verborgenheid van sy wil bekend gemaak het na sy welbehae wat Hy in Homself voorgeneem het,  (10)  om die volheid van die tye te reël, met die doel om alle dinge wat in die hemele sowel as wat op die aarde is, onder een hoof in Christus te verenig—

Kan mens die woorde lees en dan sê ‘nee, dit is nie alles nie’? Nee, God gee aan Sy uitverkorenes nou die geloof om te glo dat “alles” regtig ALLES beteken. Jesus en Sy Vader “werk” ALLES perfek vir Hul doel – “tot nou toe”!

Joh 5:17  En Jesus het hulle geantwoord: My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook.

Jesus en Sy Vader “werk alles” volgens Sy wil PERFEK – alles gebeur op tyd en volgens God se EEN plan!

Prd 3:1  Alles het sy bepaalde uur, en vir elke saak onder die hemel is daar ‘n tyd:

Jesus en die Vader WOON en WERK in ons om ons te help om met ons eie lewe in die sondige vlees – om te sterf vir ons eie vleeslike en wêreldbegeertes :

Joh 14:22-24  Judas, nie die Iskáriot nie, sê vir Hom: Here, hoe is dit dat U aan ons U sal openbaar en nie aan die wêreld nie?  (23)  Jesus antwoord en sê vir hom: As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak.  (24)  Hy wat My nie liefhet nie, bewaar my woorde nie; en die woord wat julle hoor, is nie myne nie, maar is van die Vader wat My gestuur het.

Heb 2:17-18  Daarom moes Hy in alle opsigte aan sy broeders gelyk word, sodat Hy ‘n barmhartige en getroue hoëpriester kon wees in die dinge wat in betrekking tot God staan, om die sondes van die volk te versoen.  (18)  Want deurdat Hy self onder versoeking gely het, kan Hy dié help wat versoek word.

Die Vader en Jesus werk in ons om die lewe in sonde tot in einde te bring vir elkeen wat in ‘n “liggaam van die sonde” gebore was. Paulus sê aan die Romeinse gelowiges hierdie belangrike woorde:

Rom 6:5-7 Want as ons met Hom saamgegroei het deur die gelykvormigheid aan sy dood, sal ons dit tog ook wees deur dié aan sy opstanding; 6 aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie. 7 Want hy wat gesterf het, is geregverdig van die sonde.

Daar is dit so duidelik soos daglig vir hulle wat dit kan lees met gelowige oë. Mense wat hierdie woorde nie glo nie, het vir hulle ‘n valse leraar of valse leraars iewers gekry en betaal selfs hierdie valse leraar(s) om daardie woorde van God te verdraai.

2Kor 2:17  Want ons is nie soos baie wat handel dryf met die woord van God nie; maar as opregtheid, maar as uit God, in die teenwoordigheid van God, spreek ons in Christus.

As ons egter die waarheid liefhet, sal ons weet dat ons self aan Jesus se dood GELYKVORMIG moet word. Kom ons herhaal Jesus se eie woorde:

Mat 10:38-39 En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie. 39 Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind.

God se genade plaas ons op ‘n kruis! God se genade maak ons GELYKVORMIG met Jesus in alles, ook die kruis! Die kruis is die krag van God in ons lewe want dit verlos ons van die ou mens!!!

1Kor 1:18 Want die woord van die kruis is wel dwaasheid vir die wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God;

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.

1 Response to Ons eie kruis is God se genade om ons te verlos van ons ellendige ou mens!

  1. Terug pieng: Temas | "Is en Wat Was en Wat Kom" – die onbekende karakter van Jesus Christus en Sy Woord

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s