Die sogenaamde ‘onvergeeflike sonde’ is godslasterlik!

Baie glo dat hulle die sogenaamde ‘onvergeeflike sonde’ gepleeg het teen die gees van God. Eerstens moet ons net duidelikheid kry dat daar nêrens in die Skrifte so ‘n sonde genoem word as ‘n ‘onvergeeflike sonde’ nie.

Dit is onskriftuurlik!

God vergeef ALLE sondes.

Kom ons kyk in die Skrifte wat Jesus presies gesê het oor die sonde teen die heilige gees van God. Lees asseblief noukeurig en biddend:

Mat 12:24-32  Maar toe die Fariseërs dit hoor, sê hulle: Hy [Jesus] dryf die duiwels nie anders uit as deur Beëlsebul, die owerste van die duiwels, nie.  25  Maar Jesus het hulle gedagtes geken en vir hulle gesê: Elke koninkryk wat teen homself verdeeld is, word verwoes; en elke stad of huis wat teen homself verdeeld is, sal nie bly staan nie.  26  En as die Satan die Satan uitdryf, dan is hy teen homself verdeeld. Hoe sal sy koninkryk dan bly staan?  27  En as Ek deur Beëlsebul die duiwels uitdryf, deur wie dryf julle seuns hulle uit? Daarom sal hulle jul regters wees.  28  Maar as Ek deur die Gees van God die duiwels uitdryf, dan het die koninkryk van God by julle gekom. 29  Of hoe kan iemand in die huis van ‘n sterk man ingaan en sy goed roof, as hy nie eers die sterk man geboei het nie? En dan sal hy sy huis beroof.  30  Hy wat nie met My is nie, is teen My; en hy wat nie saam met My versamel nie, verstrooi.  31  Daarom sê Ek vir julle: Elke sonde en lastering sal die mense vergewe word, maar die lastering teen die Gees sal die mense nie vergewe word nie.  32  En elkeen wat ‘n woord spreek teen die Seun van die mens, dit sal hom vergewe word; maar elkeen wat spreek teen die Heilige Gees, dit sal hom nie vergewe word nie, in hierdie eeu nie en ook in die toekomende nie. 

Jesus was in vlees (“die Seun van die mens”) toe Hy die bogenoemde woorde aan die Fariseers gesê het:

Joh 1:14  En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid. 

Fil 2:6-8  Hy [Jesus], wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie,  7  maar het Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword;  8  en in gedaante gevind as ‘n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.

Hierdie Fariseërs het in hul geestelike onkunde teen die gees van God gelaster omdat hulle nie Jesus se Woorde kon verstaan nie. Omdat baie nie kan sien wie of wat die gees van God is nie, laster hulle in hul onkunde. Maar onkunde is nie ‘n verweer in die reg nie, soos ons ook uit ons aardse regstelsels sien. Alle wette wat op ‘n land se wetboeke staan, is op almal van toepassing – of hulle daarvan weet of nie. Onkunde bied geen verontskuldiging nie. As jy die land se wette oortree, is jy skuldig. So ook is dit met die wet van God. God het die tyd van onkunde oorgesien en wil hê dat almal moet weet dat Hy elkeen gaan oordeel deur Sy Woord:

Hand 17:30-31  God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer,  31  omdat Hy ‘n dag bepaal het waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur ‘n Man wat Hy aangestel het, en Hy het hiervan aan almal sekerheid gegee deur Hom uit die dode op te wek.

Joh 12:48 Wie My verwerp en my woorde nie aanneem nie, het een wat hom oordeel: die woord wat Ek gespreek het, dit sal hom oordeel in die laaste dag.

Die Jesus wat in die vlees was het gesterf en God het Hom uit die dode opgewek. Hy sal elkeen oordeel deur Sy Woord en Hy sê baie duidelik hoe ons Sy Woord moet sien:

Joh 6:63  Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.

As ons nie kan sien dat Sy WOORD gees is nie, is ons in die posisie waar ons skuldig is aan die lastering van die gees van God:

Open 13:6  En hy [die dier wat uit die see opkom en wat op die land wandel – die verhewe eiegeregtige godsdienstige mens] het sy mond oopgemaak om te laster teen God, om sy Naam en sy tabernakel en die wat in die hemel woon, te laster.

Om God se Woord te ontken as gees, en dit dan te verdraai deur valse leringe daarin te lees en te verkondig, is hoe ons God se gees belaster. God se Woord is die inwonende gees van die Vader wat in ons kom leef.

Joh 14:23-24  Jesus antwoord en sê vir hom: As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak.  (24)  Hy wat My nie liefhet nie, bewaar my woorde nie; en die woord wat julle hoor, is nie myne nie, maar is van die Vader wat My gestuur het.

Om dit te ontken, belaster ons die gees van God en kyk net wie doen dit:

1Jn 4:1-3  Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan.  2  Hieraan ken julle die Gees van God: elke gees wat bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het, is uit God;  3  en elke gees wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie, is nie uit God nie; en dit is die gees van die Antichris waarvan julle gehoor het dat hy kom, en hy is nou al in die wêreld.

So word die antichris uitgeken. Hy ontken God se gees wat in die vlees kom. Hy ontken Jesus, en hy ontken hulle in wie Jesus en die Vader woon. Dit is dieselfde dier wat uit die see opkom – hy sit in God se tempel, en baie min kan hierdie antichris sien wat sê dat die gees van God nie in vlees kan woon deur Sy Woord nie:

2Th 2:2-3 om nie gou julle verstand te verloor of verskrik te word nie—deur gees of deur woord of deur brief wat van ons afkomstig sou wees—asof die dag van Christus al daar is. 3 Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf.

Jesus het dieselfde gees van die Vader aan sy volgelinge belowe en die gees is nou reeds “in belofte” in elkeen wat glo. Die gees van die Vader woon in ons (wat glo in Jesus) deur “die woord van die waarheid”:

Efs 1:13-14  in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte,  (14)  wat die onderpand is van ons erfdeel om sy eiendom te verlos tot lof van sy heerlikheid.

Jesus en Sy Vader is wel gees en woon as “onderpand” in hulle wat Sy Woord kan glo en doen:

Mat 28:20  En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen.

Joh 14:3  En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.

Joh 14:23  Jesus antwoord en sê vir hom: As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak. 

Efes 2:22  in wie julle ook saam opgebou word tot ‘n woning van God in die Gees.

Terug by die sonde teen die heilige gees van God.

Daar is ‘n hemelsbreë verskil tussen die betekenisse van die woorde “nie” en “nooit” en elkeen met net ‘n bietjie taalvaardigheid sal dit erken. Dan sal die woorde van Jesus ook meer betekenis hê oor wanneer diegene wat wel teen God se gees gelaster het ook vergifnis ontvang. Kyk of die woord ‘nooit’ in die volgende vers voorkom:

Matt 12:32  En elkeen wat ‘n woord spreek teen die Seun van die mens, dit sal hom vergewe word; maar elkeen wat spreek teen die Heilige Gees, dit sal hom nie vergewe word nie, in hierdie eeu [Grieks: “aion” = ‘n vasgestelde tydperk] nie en ook in die toekomende nie. 

Wel daar staan dit. Nie in “hierdie eeu” nie (hierdie huidige fisiese tydperk / eon), en ook nie in die “toekomende” eeu nie (die geestelike tydperk wat nog kom).

As ons kan sien dat God twee tye of “eeue” vir elke mens gee waarin Hy met elkeen werk, sal ons ook weet dat almal wel NA die tweede “eeu” vergifnis sal ontvang omdat hulle dan almal God se gees sal ontvang en gered word van hulle vleeslikheid. God sal inderdaad “alles in almal” wees, vir die wat hierdie woorde kan glo:

1Kor 15:22-28  Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word [daar is die twee “eeue” – die “eerste Adam”-tydperk en die “laaste Adam”-tydperk  – 1Kor 15:45];  23  maar elkeen in sy eie orde: as eersteling Christus, daarna die wat aan Christus behoort by sy koms.  24  Daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het.  25  Want Hy moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het.  26  Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood.  27  Want Hy het alles aan sy voete onderwerp, maar wanneer Hy sê dat alles onderwerp is, is dit duidelik dat Hy uitgesonder is wat alles aan Hom onderwerp het.  28  En wanneer alles aan Hom onderwerp is, dan sal ook die Seun self Hom onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal kan wees. [NADAT alles onderwerp is….na die tweede “eeu” van die lewendmakende gees van Christus se werk voltooi is]

Nadat elke “vlek of rimpel” (alle sondes en dood) uit almal verwyder is, sal die lewe van die gees van God aan almal gegee word….sodat die volgende woorde in vervulling sal tree…..

Fil 2:10-11  sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is,  11  en elke tongsou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader. 

1Kor 12:3  Daarom maak ek julle bekend dat niemand wat deur die Gees van God spreek, Jesus ‘n vervloeking noem nie; en niemand kan sê dat Jesus die Here is nie, behalwe deur die Heilige Gees.

God inderdaad vergewe ALLE sondes!

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s