God se woorde is baie belangrik vir ons almal, want dit bepaal alles in ons lewe – of ons dit weet of nie weet nie:
Mat 4:4 Maar Hy antwoord en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.
God se Woorde kom deur twee kanale na ons: deur die twee ‘Adams’ – die “eerste Adam” (ons tyd in vlees) en die “laaste Adam” (die tydperk van Jesus Christus).
1Kor 15:45 So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees.
Ons beleef eers al die woorde van God wat op die “eerste mens, Adam” van toepassing is, en daarna beleef ons al die woorde wat op die “laaste Adam” van toepasing is:
1Kor 15:46 Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike.
As God ons die geloof skenk om die volgende woorde van God te kan aanneem, dan sal ons sien hoekom daar twee ‘Adams’ is, want hulle altwee het betrekking op ons persoonlik. Tussen hierdie twee ‘Adams’ kom almal God se woorde in vervulling in ons:
Klg 3:38 Gaan uit die mond van die Allerhoogste nie kwaad sowel as goed nie?
Jes 45:5-7 Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; buiten My is daar geen God nie; Ek omgord jou, hoewel jy My nie geken het nie, (6) sodat hulle kan weet van die opgang van die son en van sy ondergang af dat daar buiten My geeneen is nie; Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; (7) wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen.
Job 2:9-10 Toe sê sy vrou vir hom: Volhard jy nog in jou vroomheid? Seën God, en sterf! (10) Maar hy antwoord haar: Soos ‘n dwaas praat, praat jy! Die goeie sou ons van God aanneem, en nie ook die slegte aanneem nie? By dit alles het Job nie gesondig met sy lippe nie.
Die eerste mens Adam is die “mens van sonde”, die “seun van verderf” wat misluk in die hand van die Pottebakker, en die kwaad wat kom “uit die mond van die Allerhoogste” is op hierdie vleeslike Adam van toepassing!
Jer 18:1-4a Die woord wat van die HERE tot Jeremia gekom het: (2) Maak jou klaar en gaan af na die huis van die pottebakker, en daar sal Ek jou my woorde laat hoor. (3) Toe het ek afgegaan na die huis van die pottebakker, en hy was juis besig om ‘n stuk werk op die skywe te maak. (4) En die voorwerp wat hy besig was om te maak, het misluk—soos dit gaan met klei in die hand van die pottebakker—
2Ts 2:3-4 Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf (4) die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is.
Al die woorde uit die mond van God wat die “goed” en die “reg” laat plaasvind, is op die laaste geestelike Adam. Jesus Christus, van toepassing:
Jer 18:4b ….maar hy het daaruit weer ‘n ander voorwerp gemaak soos dit in die oë van die pottebakker reg was om dit te maak.
Daarom moet ons sorgvuldig luister na AL die woorde van God en nie daarvan weglaat of byvoeg nie…
Deu 12:28 Luister sorgvuldig na al hierdie woorde wat ek jou beveel, dat dit met jou en jou kinders ná jou goed kan gaan tot in ewigheid, as jy doen wat goed en reg is in die oë van die HERE jou God.
Deu 12:32 Alles wat ek julle beveel, dit moet julle sorgvuldig hou; jy mag daar niks byvoeg en daar niks van weglaat nie.
Kyk wat gebeur as ons byvoeg of weglaat van God se woorde…Dit is ‘n baie ernstige waarskuwing…lees noukeurig!
Opn 22:18-19 Want ek betuig aan elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boek [Openbaring en ook die hele Bybel] hoor: As iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is. (19) En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is.
Ons eie vleeslike Adam doen alles wat “die kwaad” omskryf, en al die woorde van God wat “die kwaad” uitspreek is wat hierdie eerste Adam bedink en doen – dit alles eindig in dood.
Rom 5:12 Daarom, soos deur een mens [die eerste vlees en bloed Adam] die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het.
Kyk waaraan maak die eerste vleeslike Adam homself aan skuldig:
Gal 5:19-21 En die werke van die vlees is openbaar, naamlik owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid; (20) afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap; (21) afguns, moord, dronkenskap, brassery en dergelike dinge, waarvan ek julle vooraf sê, soos ek al vroeër gesê het, dat die wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërwe nie.
“….die wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërwe nie” is ook soos volg neergeskryf vir ons:
1Kor 15:50 Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.
Die laaste Adam, Jesus Christus, doen net wat “die goed” omskryf in God se Woord – daardie woorde bring die ware lewe en vrede:
Rom 8:5-6 Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge. (6) Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede.
Rom 5:15-19 Maar dit is met die misdaad nie soos met die genadegawe nie; want as deur die misdaad van die één baie gesterf het, veel meer het die genade van God en die gawe deur die genade van die een mens, Jesus Christus, vir baie oorvloedig geword. (16) En nie soos deur één wat gesondig het, is die gawe nie; want die oordeel was uit één tot veroordeling, maar die genadegawe is uit baie misdade tot vryspraak. (17) Want as ten gevolge van die misdaad van die één die dood geheers het deur die één, veel meer sal hulle wat die oorvloed van die genade en van die gawe van die geregtigheid ontvang, in die lewe heers deur die Één, Jesus Christus. (18) Daarom dan, net soos dit deur een misdaad vir alle mense tot veroordeling gekom het, so ook is dit deur een daad van geregtigheid vir alle mense tot regverdigmaking van die lewe. (19) Want soos deur die ongehoorsaamheid van die een mens baie tot sondaars gestel is, so sal ook deur die gehoorsaamheid van die Één baie tot regverdiges gestel word.
Kyk wat kom na vore deur die laaste Adam in ons:
Gal 5:22 Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.
Almal sal aan albei ‘Adams’ deelneem. Albei is God se skeppings vir hierdie doel: om die kwaad, die sonde en die dood (eerste), en dan die goed, die verlossing, die lewe (daarna) in vervulling te bring:
1Kor 15:22 Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word.
1Kor 15:49 En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra.