Ons almal leef van elke woord uit God se mond…
Mat 4:4 Maar Hy antwoord en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.
In ons tyd van onkunde en blindheid is ons totaal onbewus dat ons eintlik net doen wat God reeds in ons individuele ‘boeke’ geskryf het, voor ons geboorte:
Psa 139:16 U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.
“Alles” was reeds bepaal om te gebeur presies op tyd – elke sekonde van elke dag van ons hele lewe was haarfyn uitgewerk:
Prd 3:1 Alles het sy bepaalde uur, en vir elke saak onder die hemel is daar ‘n tyd:
As Jesus vir Sy eerste aardse volgelinge sê dat hulle “NIKS” sonder Hom kan doen nie, dan is hierdie waarheid te groot om te begryp vir hulle aardse denke op daardie stadium, en ook vir ons in ons tyd van onkunde:
Joh 15:5-6 Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie. (6) As iemand in My nie bly nie, word hy uitgewerp soos die loot en verdroog, en hulle maak dit bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand.
Die woord “niks” is baie dieper as wat ons op die oog af kan besef. Dit sluit ook in die slegte dinge wat hulle sou doen, soos om Hom te verraai en te verloën. Judas het ook hierdie woorde gehoor en Hy kon niks doen om sy taak te verhoed nie. Judas se vurige oordeel was op hande!
Luk 22:21-22 Maar kyk, die hand van hom wat My verraai, is by My aan tafel. (22) Die Seun van die mens gaan wel heen volgens wat bepaal is, maar wee daardie man deur wie Hy verraai word!
Mat 26:25 En Judas, wat Hom sou verraai, antwoord en sê: Is dit miskien ek, Rabbi? Hy antwoord hom: Jy het dit gesê.
Petrus het ook die woorde gehoor dat hulle niks kan doen sonder Jesus nie, maar hy het ook gedink dat hy kan iets anders doen as wat reeds bepaal was deur God. Petrus se vurige oordeel was op hande!
Mat 26:33-34 Daarop antwoord Petrus en sê vir Hom: Al sal almal ook aanstoot aan U neem, ek sal nooit aanstoot neem nie. (34) Jesus sê vir hom: Voorwaar Ek sê vir jou, in hierdie nag, voordat die haan gekraai het, sal jy My drie maal verloën.
Al die dissipels van Jesus het die woorde gehoor dat hulle niks kan doen sonder Jesus nie, maar hulle het almal nie noukeurig geluister nie. Hulle almal se vurige oordeel was op hande! Hulle almal sou Jesus verlaat en hul eie lewe probeer red. Hulle sou elkeen, soos Judas en Petrus, hul hande sit aan die liggaam van Jesus, en elkeen sou ook hul hande op die beker plaas om die bloed (die lewe) van Jesus te stort:
Mar 14:22-23 En terwyl hulle eet, neem Jesus brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan hulle en sê: Neem, eet, dit is my liggaam. (23) Toe neem Hy die beker, en nadat Hy gedank het, gee Hy dit aan hulle, en hulle het almal daaruit gedrink.
Hulle almal het Jesus verlaat en van Hom gevlug:
Mar 14:50 Toe het almal Hom verlaat en gevlug.
Mat 26:56b …..Toe het al die dissipels Hom verlaat en gevlug.
Ons almal is deel van hierdie woorde.
Maar om dit te kan glo en te erken dat hierdie woorde op ons individueel betrekking het, is nie vir almal beskore in hierdie leeftyd nie. Ons kan in ons tyd van blindheid nie sien dat alle denke wat ons dink, en alle dade wat ons doen, deur God vooruit bepaal was om te gebeur, op God se bepaalde tyd!
Psa 139:1-10 Vir die musiekleier. ‘n Psalm van Dawid. HERE, U deurgrond en ken my. (2) U ken my sit en my opstaan; U verstaan van ver my gedagte. (3) U deurvors my gaan en my lê, en U is met al my weë goed bekend. (4) Want daar is nog geen woord op my tong nie—of U, HERE, U ken dit geheel en al. (5) U sluit my in van agter en van voor, en U lê u hand op my. (6) Om dit te begryp, is te wonderbaar vir my, te hoog: ek kan daar nie by nie. (7) Waar sou ek heengaan van u Gees en waarheen vlug van u aangesig? (8) Klim ek op na die hemel, U is daar; en maak ek die doderyk my bed, kyk, U is daar! (9) Neem ek die vleuels van die dageraad, gaan ek by die uiteinde van die see woon, (10) ook daar sou u hand my lei en u regterhand my vashou.
Aan die een kant maak ons ‘n groot ophef van ons aaklige sondes wat soooo groot is dat God dan kwansuis nie dit kan vergewe nie. Aan die ander kant wil ons weer onsself so beskryf dat ons is nie so sleg is soos die ander mense nie. Al twee hierdie posisies dui aan dat ons nie sorgvuldig luister na al die woorde van God nie –
Deu 12:28 Luister sorgvuldig na al hierdie woorde wat ek jou beveel, dat dit met jou en jou kinders ná jou goed kan gaan tot in ewigheid, as jy doen wat goed en reg is in die oë van die HERE jou God.
Ons voeg by die woorde van God (want ons kan nie sien hoe dinge in ons lewe gebeur nie), of ons laat God se woorde weg uit ons lewe (ons sê dat dit nie op ons van toepassing is nie):
Deu 12:32 Alles wat ek julle beveel, dit moet julle sorgvuldig hou; jy mag daar niks byvoeg en daar niks van weglaat nie.
Net kortliks oor God se vermoë om sondes te vergewe: God ken ons, en Hy weet alles van ons nog voordat Hy ons geskep het. Hy is werklik instaat om alle sondes van almal te vergewe – vir Sy ontwil! God is heilig en Hy het regtig ook nie die tyd om aan ons ou sondes te dink nie!
Jes 43:25 Ek, Ek is dit wat jou oortredinge uitdelg om My ontwil, en aan jou sondes dink Ek nie.
God is ook nie so dom soos ons wat ander mense se sondes onthou nie. Daarom gee Hy ons die goeie raad:
Luk 17:3 Pas op vir julleself. En as jou broeder teen jou sondig, bestraf hom; en as hy berou kry, vergewe hom.
Hier is ons grootste probleem:
“Pas op vir julleself.”
As ons weet…
- dat net God regtig die enigste ware God is,
- dat Hy alleen oor alles en almal regeer deur Jesus Christus,
- dat Hy almal se ‘boeke’ geskryf het en dat almal net kan dink en doen wat God bepaal het,
…dan sal ons ‘oppas vir onsself‘ en in nederigheid en vol ontferming teenoor mekaar leef.
Efs 4:31-32 Alle bitterheid en woede en toorn en geskreeu en lastering moet van julle verwyder word, saam met alle boosheid. (32) Maar wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar; vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het.
Maar nee, ons natuurlike mens klou vas aan sy eie korrupte idees en valse geloof in ‘n sogenaamde ‘vrye’ wil. Ons aardse mens klou vas aan die idees wat ons beter maak as ander. Ons kom selfs skaamteloos voor God en waai ‘n stink besoedelde kleed voor Hom en dan dink ons Hy is beindruk met ons:
Jes 64:6 En ons het almal geword soos ‘n onreine, en al ons geregtighede soos ‘n besoedelde kleed; en ons het almal verdor soos blare, en ons ongeregtighede het ons weggevoer soos die wind.
Ons kom spog voor God met ons welwillendheid, terwyl ons blind is vir ons eie onbetroubaarheid:
Spr 20:6 Baie mense roem hulle eie welwillendheid, maar wie vind ‘n betroubare man?
Ons eie skrifgeleerde, Fariseër en geveinsde mens (in ons) sif die “muggies” in ander mense uit, terwyl ons so maklik die “kamele” heel insluk (in ons):
Mat 23:23-24 Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle gee tiendes van kruisement en anys en koljander, en die swaarste van die wet laat julle ná: die reg en die barmhartigheid en die trou. Hierdie dinge behoort julle te doen sonder om die ander na te laat. (24) Blinde leiers, julle wat die muggie uitsif, maar die kameel insluk!
O ja, “die mens van sonde” in ons sien die balk nooit in sy eie(-geregtige) oog nie, maar in ander se oë.
Mat 7:3-5 En waarom sien jy die splinter in die oog van jou broeder, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie? (4) Of hoe sal jy vir jou broeder sê: Laat my toe om die splinter uit jou oog uit te haal, en kyk, in jou eie oog is die balk! (5) Geveinsde, haal eers die balk uit jou oog uit, en dan sal jy goed sien om die splinter uit die oog van jou broeder uit te haal.
2Ts 2:3-4 Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf (4) die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is.
Ons hoogmoed laat ons skaamteloos kom voor God in hierdie gewaad van eiegeregtigheid, en dan kom skinder ons nog by God oor ander mense se sondes en hul slegte optredes!!! Verbeel jou! Ons weet dan nie dat God net ons gebede verhoor as ons na onsself kyk! Onthou die woorde: “Pas op vir julleself.”
Jes 58:9 Dan sal jy roep, en die HERE sal antwoord; jy sal skreeu om hulp, en Hy sal sê: Hier is Ek! As jy van jou verwyder die verdrukking, die uitsteek van die vinger en die leuenagtige woord,
“Luister sorgvuldig” na al die woorde, want ons beleef eerste die woorde van hierdie hoogmoedige Fariseër (in ons), voor ons op ons eie bors kan slaan en vir God vir Sy barmhartigheid smeek:
Luk 18:10-14 Twee manne het na die tempel opgegaan om te bid, die een ‘n Fariseër en die ander ‘n tollenaar. (11) En die Fariseër het gaan staan en by homself so gebid: o God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is nie—rowers, onregverdiges, egbrekers, of ook soos hierdie tollenaar nie. (12) Ek vas twee keer in die week, ek gee tiendes van alles wat ek verkry. (13) En die tollenaar het ver weg gestaan en wou selfs nie sy oë na die hemel ophef nie, maar het op sy bors geslaan en gesê: o God, wees my, sondaar, genadig! (14) Ek sê vir julle, hierdie laaste een het geregverdig na sy huis gegaan eerder as die eerste een; want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, en hy wat homself verneder, sal verhoog word.
Ons beleef eerste die woorde wat van toepassing is op die eerste fisiese Adam.
Gen 2:7 En die HERE God het die mens [die eerste Adam] geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword.
Ons is gemaak om te verdor – van die begin af. Die fisiese Adam, soos die hele fisiese skepping, was “aan die nietigheid onderworpe” van die begin af. Dit het nie so geword op sigself nie!
Rom 8:20 Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het.
Vlees is soos gras….alles is van stof (tydelik en nietig)!
1Pe 1:24 Want alle vlees is soos gras, en al die heerlikheid van die mens soos ‘n blom van die gras. Die gras verdor en sy blom val af,
Die “heerlikheid van die mens” wat Petrus van praat (dit is Adam in sy beste aardse beeld – sy “Sunday best”) is soos ‘n blom wat verdor. En tog hou ons vas aan die tydelike blom. Sy skoonheid en aantreklikheid bekoor ons aardse drange. Ons is dolverlief op onsself, en almal wat van ons hou is ons vriende. Alles gaan maar net oor onsself van begin tot einde. Ons natuurlike mens Adam hou van nietige dinge – ons hou daarvan om die stof en die gras te bewonder – veral as dit blink en groen lyk.
Maar dit is ‘n onheil!
Prd 6:1-2 Daar is ‘n onheil wat ek gesien het onder die son, en wat swaar druk op die mensdom: (2) ‘n Man aan wie God rykdom en skatte en eer gee, sodat hom niks ontbreek van alles wat hy kan begeer nie, maar God stel hom nie in staat om daarvan te geniet nie, want ‘n vreemde geniet dit; dit is vergeefse moeite en ‘n bitter lyding.
Selfs ons goeie werke in vlees kan nie God beindruk nie, want die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie (Rom 8:8). Die Skepperhand het dit so bepaal:
Jer 18:1-6 Die woord wat van die HERE tot Jeremia gekom het: (2) Maak jou klaar en gaan af na die huis van die pottebakker, en daar sal Ek jou my woorde laat hoor. (3) Toe het ek afgegaan na die huis van die pottebakker, en hy was juis besig om ‘n stuk werk op die skywe te maak. (4) En die voorwerp wat hy besig was om te maak, het misluk—soos dit gaan met klei in die hand van die pottebakker—maar hy het daaruit weer ‘n ander voorwerp gemaak soos dit in die oë van die pottebakker reg was om dit te maak. (5) Toe het die woord van die HERE tot my gekom en gesê: (6) Sal Ek nie soos hierdie pottebakker met julle kan maak nie, o huis van Israel? spreek die HERE. Kyk, soos klei in die hand van die pottebakker, so is julle in my hand, o huis van Israel!
As God dit met Israel doen, dan wil Hy aan ons almal ‘n boodskap gee. Dit is God se hand wat elke aardse “voorwerp”, ook die mens, laat misluk! Maar daar is ‘n wonderlike rede vir die mislukking. Dit is juis deur die proses van mislukking dat die NUWE voorwerp gemaak word! Die eerste aardse skepping is dus ‘n kardinale bestanddeel van die nuwe skepping.
“…maar hy het daaruit weer ‘n ander voorwerp gemaak soos dit in die oë van die pottebakker reg was om dit te maak.”
Alle vlees was gedoem tot mislukking vanaf die begin – so was dit geskryf deur God voor Hy enigiets geskep het in hierdie tydelike skepping (Ps 139:16). Ja, alles in hierdie fisiese skepping was bepaal, deur God, om tydelik te wees.
Rom 8:20 Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het.
Alles word gebruik vir ‘n doel. Alles wat betrekking het op die eerste Adam het ‘n dieper doel. Adam en Eva was byvoorbeeld naak geskep, en baie mense dink dit is hoe ons moet wees – naak. Nee, dit is nie hoe ons daarna moet kyk nie.
Gen 2:21-25 Toe het die HERE God ‘n diepe slaap op die mens laat val; en terwyl hy slaap, het Hy een van sy ribbebene geneem en die plek daarvan met vlees toegemaak. (22) En die HERE God bou die rib wat Hy van die mens geneem het, tot ‘n vrou en bring haar na die mens. (23) Toe sê die mens: Dit is nou eindelik been van my gebeente en vlees van my vlees. Sy sal mannin genoem word, want sy is uit die man geneem. (24) Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees. (25) En hulle was altwee naak, die mens en sy vrou, maar hulle het hul nie geskaam nie.
Naaktheid is gekoppel aan ‘n sondige toestand, afsku, veragting en skande in die Skrifte! Luister sorgvuldig….
Klg 1:8 Get. Jerusalem het swaar gesondig, daarom het sy ‘n voorwerp van afsku geword; almal wat haar geëer het, verag haar, omdat hulle haar naaktheid gesien het; sy self sug en het haar weggedraai.
Nah 3:5 Kyk, Ek het dit teen jou, spreek die HERE van die leërskare, en Ek sal jou slippe optel oor jou aangesig en nasies jou naaktheid laat sien en koninkryke jou skande.
Adam en Eva se tyd van naaktheid is verwysend na ons eie tyd van onkunde oor ons sondige toestand, net soos hulle onkundig was oor hulle ware toestand. Ons is dan ook onbewus van God se doel met hierdie nietige toestand van die mens:
Gen 2:25 En hulle [Adam en Eva] was altwee naak, die mens en sy vrou, maar hulle het hul nie geskaam nie.
Adam en Eva was naak en hulle het dit nie eens agtergekom nie. Ons kan nie ons eie sondige toestand sien nie!
Joh 9:1-3 En toe Hy verbygaan, sien Hy ‘n man wat blind was van sy geboorte af. (2) En sy dissipels vra Hom en sê: Rabbi, wie het gesondig, hierdie man of sy ouers, dat hy blind gebore is? (3) Jesus antwoord: Hy het nie gesondig nie, en sy ouers ook nie; maar die werke van God moet in hom openbaar word.
“Luister sorgvuldig” na wat hier gesê word in Johannes 9: Jesus sê dat die blindheid van hierdie man is om “die werke van God” te openbaar. God is die Skepper van alles – goed en kwaad:
Jes 45:5-7 Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; buiten My is daar geen God nie; Ek omgord jou, hoewel jy My nie geken het nie, (6) sodat hulle kan weet van die opgang van die son en van sy ondergang af dat daar buiten My geeneen is nie; Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; (7) wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen.
Die man se blindheid, ons eie blindheid, en Adam en Eva se naaktheid, het alles te doen met “die werke van God”. Hier is die woorde wat God gesê het oor Sy werke van blindheid, onder ondere, waarna ons sorgvuldig moet luister:
Eks 4:10-11 Toe sê Moses aan die HERE: Ag, Here, ek is nie ‘n man van woorde nie—van gister of van eergister of vandat U met u kneg gespreek het nie; want ek is swaar van mond en swaar van tong. (11) En die HERE antwoord hom: Wie het vir die mens die mond gemaak, of wie maak stom of doof, of siende of blind? Is dit nie Ek, die HERE, nie?
Stomheid, doofheid, blindheid…naaktheid…alles is “die werke van God”! God maak geen verskoning nie. Hy het die mens so gemaak! God skep dit alles vir ‘n doel. As ons verder kan sien dat fisiese gestremdhede geensins spesifieke sondes in iemand se lewe uitbeeld nie, dan beweeg ons nader aan die waarheid oor wat hier gesê word in Johannes 9. Dan luister ons sorgvuldig na God se woorde. Die storie in Johannes 9, soos al die woorde van die Skrifte, verwys na ons persoonlik. Dit verwys na ons eie geestelike blindheid van ons geboorte. Dit verwys na Adam en Eva se geestelike blindheid by hul skepping. Die fisiese skepping is inderdaad “die werke van God”, maar die doel is om aan ons ‘n geestelike boodskap van God se geestelike werke in onsself, en die mensdom oor die algemeen, oor te dra:
Rom 1:20 Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie;
Adam en Eva was fisies naak, maar dit was ‘n refleksie van hul geestelike toestand! Ons moet noukeurig lees en dit alles ook op onsself toepas.
Dit opsigself is reeds nie vir baie beskore om te sien nie.
Dit word egter nie makliker om agter die skerms te sien nie.
Die aardse dinge is nie net vir baie ‘n skerm wat die waarheid van hulle weerhou nie, maar tydelike voorspoed in aardse dinge word deur baie verkeerd gelees. Ons almal behoort op ‘n tyd in ons lewens aan die gemeente van die Laodicense! Luister sorgvuldig…
Opn 3:14-17 En skryf aan die engel van die gemeente van die Laodicense: Dít sê die Amen, die getroue en waaragtige Getuie, die begin van die skepping van God: (15) Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm! (16) Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug. (17) Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie.
ALLE fisiese aardse mense is van die begin tot die einde van hul aardse lewe, “ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak”. Ons moet nie die aardse vooruitgang en suksesse se bluf glo nie. Vooruitgang en suksesse hier op aarde is nie opsigself verkeerd nie. Maar al het ons die mooiste aardse dinge, en al is ons aardse naaktheid bedek met pragtige klere, moet ons altyd weet dat dit nog steeds nie die onheilige toestand van die vlees kan wegsteek of verander nie:
Prd 6:1-2 Daar is ‘n onheil wat ek gesien het onder die son, en wat swaar druk op die mensdom: (2) ‘n Man aan wie God rykdom en skatte en eer gee, sodat hom niks ontbreek van alles wat hy kan begeer nie, maar God stel hom nie in staat om daarvan te geniet nie, want ‘n vreemde geniet dit; dit is vergeefse moeite en ‘n bitter lyding.
Ons natuurlike mens wil altyd die aardse blink kant bo hou. Ons moet net onthou dat mooi grafte nie die inhoud lewendig of rein maak nie:
Mat 23:27-28 Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle is net soos gewitte grafte wat van buite wel fraai lyk, maar van binne vol doodsbene en allerhande onreinheid is. (28) So lyk julle ook van buite vir die mense wel regverdig, maar van binne is julle vol geveinsdheid en ongeregtigheid.
Die vlees het nie ‘n blink en fraai kant in God se oë nie – al sê ons aardse denke ook so.
Jer 17:9 Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?
Toe Adam en Eva hul naaktheid ontdek, het hulle, soos ons almal doen, hul eie pogings aangewend om die naaktheid te bedek:
Gen 3:7 Toe gaan altwee se oë oop, en hulle word gewaar dat hulle naak is; en hulle het vyeblare [Hebreeus: ‘âleh’] aanmekaargewerk en vir hulle skorte gemaak.
Vyeblare is die simbool vir ons eiegeregtigheid.
Jes 64:6 En ons het almal geword soos ‘n onreine, en al ons geregtighede soos ‘n besoedelde kleed; en ons het almal verdor soos blare, [Hebreeus: ‘âleh’] en ons ongeregtighede het ons weggevoer soos die wind.
In ons tyd van geestelike blindheid kan ons, net soos Adam en Eva, nie sien dat God alleen die perfekte bedekking vir ons geestelike naaktheid voorsien het nie. Hierdie perfekte dekking is Jesus Christus. Hy was reeds lank “voor die grondlegging van die wêreld” aangestel om die taak te verrig op die tyd nadat ons ons eie vleeslike naaktheid kan sien en ook besef dat ons eie pogings om dit te bedek ydel is:
1Pe 1:18-20 omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, (19) maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos, (20) wat wel vooruit geken is voor die grondlegging van die wêreld, maar in hierdie laaste tye geopenbaar is om julle ontwil,
Alle verganklike dinge is tiperend van ons eie “vyeblare” wat ons dan gebruik om ons goed te laat lyk – tydelik. Selfs die beste dinge in vlees, voorgestel deur aardse “silwer of goud” in die vers in 1Petrus 1 vers 18, is nog steeds “vyeblare”. God het die perfekte bedekking reeds “voor die grondlegging van die wêreld” in plek gestel omdat Hy geweet het Adam en Eva, en almal van ons, hierdie bedekking later sal kry om in God se geestelike koninkryk in te gaan. Vlees en bloed het nooit, en sal nooit, die geestelike standaard van God bereik nie:
1Kor 15:50 Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.
Ons beste pogings in die vlees mis God se standaard totaal. Dit is wat die konsep van sonde beteken – om God se standaard / God se doel, te mis:
Rig 20:15-16 En die kinders van Benjamin uit die stede is op dié dag getel ses en twintig duisend man wat die swaard uittrek, behalwe die inwoners van Gíbea wat getel is: sewe honderd uitgesoekte manne. (16) Uit al hierdie manskappe was daar sewe honderd uitgesoekte manne wat links was; hulle almal het met ‘n klip op ‘n haar geslinger sonder om te mis [Hebreeus: ‘châṭâ’].
Vlees is ‘châṭâ’ – vlees is sonde! Dit mis God se geestelike standaard ten volle. God is gees!
Joh 4:24 God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.
Vlees is nie gees nie, en vlees ken nie waarheid nie. God alleen beheer albei!
Gal 5:17 want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie.
Rom 8:5-8 Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge. (6) Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede, (7) omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie. (8) En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie.